Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Padvalk sit sy blou ligte af ná 46 jaar
Julian Jansen gesels met Kenny Africa

Toe die konvooi verkeersmotors in 1965 pie-pô-pie-pô en met flitsende blou ligte die Overbergse dorpie Genadendal binnery, het die tienjarige Kenny Africa gewéét hy wil verkeersman word.

Kenny Africa (65), uittredende verkeershoof van die Wes-Kaap. Foto: Edrea du Toit

Omdat hy ’n droom gehad het waarvoor hy bereid was om namens homself en ook ander bruin verkeerskonstabels te veg, het hy veel meer as dít reggekry en vernuftig rondom die struikelblokke in die pad geslalom om tien jaar gelede verkeershoof in die Wes-Kaap te word.

Nou is hy aan die einde van dié pad – oor 12 dae tree hy ná 46 diensjare af.

Oor die jare het hy topprestasies behaal, gesogte erkennings en pryse ingeryg, die paaie veiliger gemaak en help sorg dat bruin verkeersbeamptes op gelyke voet kon diens lewer.

Bokse met amper vyf dekades se notaboekies gaan saam na sy aftreehuis in die Strand, waar hy nog sy outobiografie wil skryf: oor die eerste bruin verkeersbeampte wat die klas 1-promosie-erkenning ontvang het, die eerste wat tot senior verkeersbeampte bevorder is (1976), die eerste bruin verkeershoof in die provinsie (1997), adjunk- provinsiale verkeershoof (2001), verkeershoof op George (2008) en toe in 2010 die grote: provinsiale verkeershoof.

As ék ’n verkeersman kan word, kan ek ’n verskil aan die sterftesyfer maak.

Dit was ’n lang pad met prag-uitsigte, maar ook opdraandes.

Africa, jongste van 11 kinders, was maar twee jaar oud toe sy pa, Henry, oorlede is. Ma Wilhelmina moes inspring om huiswerk in Seepunt te doen en het haar kinders net maandeinde gesien. Swaar tye vir haar kroos. Ná skool is suiker op snytjies brood gegooi en vinnig onder die lopende kraan gedruk. Middagete.

Dit was hoog-apartheid.

Africa wou prokureur of aanklaer word, “iets doen aan die ongeregtighede teen bruin en swart mense” en sommer ook omdat die Morawiese gemeente se predikant sonder verhoor vir lank toegesluit is.

Maar die verkeersmanne se spieëlblink skoene en daai groot blink ster het hom oortuig: “As ék ’n verkeersman kan word, kan ek ’n verskil aan die sterftesyfer op paaie maak.”

Boetedoening is in aftrede my voorland – ek het my gesin ook baie afgeskeep, sê Kenny Africa aan sy vrou, Trudy. Foto: Edrea du Toit

Sy aansoek om opgelei te word, is keer op keer afgekeur. Elke keer het die telegram gelui: Jammer, te laat.

Toe gooi hy sy tandeborsel en waslap in ’n plastieksakkie en ryloop die 140 km na die provinsiale verkeersdepartement se kantoor in Alfredstraat, Kaapstad. Toe hulle eis dat hy eers sy poniestert afsny, het hy geweier totdat hy bevestiging kry dat hy as student aanvaar is.

Toe kom hy in en sit af na die kollege in Ottery – oor hy kon standpunt inneem, het die verkeersmense agterna gesê.

Toe hy in Desember 1974, met apartheid in hoogbloei, aansluit by provinsiale verkeer in Worcester, het wit verkeersbeamptes blou uniform gedra en hul bruin eweknieë vaal hemde, swart dasse en donker broeke, soms ook kortbroek, met vaal kouse.

Bruin beamptes het nie verwarmers in hul motors gehad nie en die ou motors geërf as hul wit kollegas nuwe motors kry.

Hulle is ook verbied om wit oortreders te dagvaar of in hegtenis te neem.

Africa was teleurgesteld en het opsluit ’n bedankingsbrief geskryf.

Sy kollega Kiepie Cupido het dit gelees en opgeskeur: “Affie, ons moet die battle fight,” het hy gesê.

En was dit ’n battle . . . soos toe Africa kort daarna ’n bekende boer in die Breedevallei aftrek.

Kenny Africa in 1976.

“Ek moes ‘Oubaas’ en ‘Ounooi’. Ek was net gatvol. Toe skryf ek weer ’n bedankingsbrief,” sê Africa.

Cupido het geweier: “Ek skeur dié brief op, want jý gaan nog eendag verkeershoof van die Kaapprovinsie word.”

Met die wind van agter het Africa besluit hy gaan sy standaarde verhoog en sy teikens vir boetes, motordiefstal en inhegtenisnemings nóg hoër maak.

In 1976 word hy die eerste “kleurling” wat tot toesighouer bevorder word.

Op, op, op . . .

Hy is na Beaufort-Wes verplaas – waar sy rang van sy skouers gehaal en aan hom gesê is: “ ’n Kleurling sal dit nie hier dra nie.”

Dit was asof hy afgetrek word vir spoed terwyl hy binne die wetlike spoedgrens ry . . .

Africa sê hy moes toe “bandiete” wat tuinwerk doen, oppas.

“Ek het besef ek’s op moeilike terrein, maar besluit om nie te gaan lê nie.

“Ek’t my werkure na 14 uur opgestoot, en ’n sesde sintuig vir gesteelde voertuie en versteekte dwelms ontwikkel. Vragmotorbestuurders, motoriste kon nie vir my lieg nie.”

Hy het homself weer en weer bewys.

In 1984 het hy in vier verskillende voorvalle moordenaars op die N1 help vastrek. In een voorval het ses skollies langs die hoofpad tussen die bosse gesit en kos op ’n oop vuur gaarmaak in ’n AMC Classic-pot.

Hulle het vroeër by ’n barmhartige oom ’n saamrygeleentheid gekry en hom toe vermoor en nakend langs die pad gelaat.

Daar was jaagtogte deur die Du Toitskloofpas – waar hy in 1979 self ’n baba moes vang! – en op ’n keer moes hy ’n motor waarin ’n baie siek man was, oor dieselfde pas begelei.

“Ons het die omie drie keer amper in die pas verloor. Hy het oorleef en my later kom opklop, ’n stel Parker-penne gegee.”

In 2001 het die rampe wat hy daagliks op die paaie sien ontvou het, tuisgekom: Africa se oudste seun is saam met vier ander dood in ’n trompop botsing met ’n vragmotor in Paarden­eiland, Kaapstad.

“Henry se dood het ’n groot leemte in ons gesin gelaat.”

Die groot man bly ’n ruk stil.

“Ek het die ongelykheid in provinsiale verkeer met my hele wese beveg. Ons kon uiteindelik beter vergoeding, behuising, salarisse vir bruin verkeersbeamptes beding. Te midde van al dié bakleiery is ek soms deur bestuur as ’n ‘regte moeilikheidmaker’ beskryf.

“Ek het geen haat oor die verlede nie. Hulle het ons eintlik ’n helse guns gedoen, ons vegters gemaak.

“Maar soms moes jy alleen veg.”

Met ’n graad in padverkeer en munisipale polisiebestuur (cum laude) aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie is hy in 2006 as deeltydse dosent daar aangestel.

In 2016 oorhandig die destydse minister van vervoer, Dipuo Peters, die prys vir beste manlike werknemer in vervoer in Suid-Afrika aan Africa.

Daar was ’n rits ander erkennings ook. Tot die einde toe het niks na sy kop gegaan nie.

Die afgelope week was Africa soos altyd teen 05:00 soggens al op kantoor.

Julian Jansen

Dan gesels hy op sy WhatsApp-groep vir die media, iets wat hom baie geliefd gemaak het.

“My instruksies aan radiobeheer is ek wil die eerste persoon wees wat van ’n ongeluk weet. As ek nie weet nie, kán ek nie kommentaar vir die media gee nie.”

Hy hoop op ’n opvolger wat ’n vegter is, soos hy, want so baie is op die spel.

“Sedert 2012 tot vanjaar het die provinsie altesaam R180 miljoen se dwelms gekonfiskeer. Ons versterk die polisie se hand.”

Hy dink ver terug na waar die pad begin het.

Africa is vol heimwee oor Paasnaweke op Genadendal, toe die groepe soos die Invaders, Rockets en The Flames in die Vanguard-saal gespeel het.

Ook die reuk van piesangs uit sy ma se sak toe sy vanuit die Kaap by die bushalte afgeklim het.

Africa en sy vrou, Trudy, het verlede jaar nes geskop in die Strand om nader aan hul drie kleinkinders te wees.

Sy kop staan politiek toe of dalk weer dosent wees, maar vir nou eers rustig wees.

“Ek dink ek het orraait gedoen,” sê die lang man met die spierwit snor.

Meer oor:  Kenny Africa  |  Verkeersman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.