SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Profiele
Julian Melck: ’n Boer wonder oor sy familieplaas

Julian Melck, die eienaar van een van die Kaap se oudste familieplase, praat met Murray La Vita oor tradisies wat moet aanpas en die vooruitsig van grondonteiening.

Julian Melck voor die historiese ou opstal op Kersefontein. Foto: Jaco Marais

Ons is in die eetkamer van die Kaaps-Hollandse huis op die ou Melck-familieplaas Kersefontein aan die oewer van die Bergrivier in die Sandveld naby Hopefield.

Julian Melck (64) sit aan die hoof van ’n lang mahoniehouttafel waar mense soos die Kaapse goewerneur Lord Charles Somerset waarskynlik ook onthaal is tydens sy besoek aan die plaas.

Nes die res van die huis adem ook dié elegante vertrek met sy geelhoutvloere en Persiese mat geskiedenis en tradisie. Op ’n tafel agter Julian is groot Chinese vase; ou gravures van beroemde perde en hul ruiters spreek van die plaas se verlede as een van die ou Kaap se belangrikste perdestoeterye; ’n opgestopte leeukop wat deur Julian se oupagrootjie geskiet is, vertel die verhaal van ’n tyd toe die wêreld wild en ongetem was.

Die vertrek het ’n besonderse reuk, onder meer weens die feit dat daar steeds ná al die jare kerse in die pragtige kandelaber bo die tafel aangesteek word.

Julian wys na ou kaarte waarop Kersefontein verskyn. Foto: Jaco Marais

Julian is ’n sjarmante man wat tegelyk afgerond én ongekunsteld is – boer sowel as heer. Hy is lenig en het treffende blou oë, en aan sy gelaat is dit duidelik dat hy gereeld in die son kom – dit is immers ’n stuk aarde van 6 000 ha waar daar met graan, Herefordbeeste en merinoskape geboer word.

As bykomende bron van inkomste het Julian van die buitegeboue in gastehuise omskep en ontvang hy gereeld mense van regoor die wêreld hier. Die plaas is ook ’n gewilde bestemming vir rolprent- en advertensiemense wat dikwels hier kom verfilm. Dele van die rolprent Moffie is byvoorbeeld onlangs hier geskiet.

Geskiedenis van ’n plaas

Die Kaaps-Hollandse opstal op Kersefontein is ’n nasionale gedenkwaardigheid. Foto: Jaco Marais

Kersefontein is op 13 Augustus 1770 deur Julian se Pruisiese voorsaat Martin Melck gekoop. Hy het in 1746 in die Kaap aangekom en mettertyd onder meer die plase Elsenburg en De Driesprong (later Muratie en sedert die jare tagtig weer ’n Melck-plaas) besit. Benewens ’n wynkontrak het dié stamvader ’n vleiskontrak van die VOC bekom.

“Hy het toe ’n groot plaas nodig gehad vir beeste en toe het hy in 1746 dié plaas gekoop uit die boedel van Johannes Kruywagen, wat sedert 1723 hier geboer het. Ek is die agtste geslag Melck wat Kersefontein besit en daarop boer. Die eerste en tweede geslag het nie hier gewoon nie; hulle het op Stellenbosch gewoon. Melck nommer drie het hier kom woon. Hy was getroud met Anna Jacoba van Reenen en was definitief in 1812 al hier.”

‘Hy het soos ’n boer gepraat’

Regstreekse getuienis voor die Zondo-kommissie oor die Vrede-suiwelprojek van Estina waarna hy oor die radio geluister het, het Julian ontroer.

“Daardie swart melkboere wie se geld gesteel is . . . Daai swart man wat daar gepraat het, het soos ’n boer gepraat: ‘Ek is lief vir koeie; dit was ’n geleentheid om die boerdery uit te brei en dit is van ons af weggeneem.’

“Dit maak my so moerig. Ek is bevoorreg en gelukkig – ek het baie koeie in vergelyking met daardie man. Om sy vyf koeie weg te neem en vir hom 50 koeie te belowe . . .

“En hy het gepráát; jy kon hoor hy was emosioneel. Iemand het, ek dink in Daily Maverick, geskryf dit is een van die grootste sondes van staatskaping.”

In die voorkamer staan ’n manjifieke kas wat deur die befaamde Kaapse argitek Louis Michel Thibault ontwerp is. Dié bruidskat het die jong Van Reenen-vrou van haar pa ontvang.

“Hy was ’n baie vooruitstrewende man en hý is die een wat met die perdetelery begin het.”

Dit is dan ook deur die perdetelery dat die Melcks noue bande met die Engelse bewindhebbers aan die Kaap gesmee het. Perde wat die Engelse by die Melcks gekoop het, is byvoorbeeld in die Krim-oorlog gebruik.

In die loop van die gesprek word dit duidelik hoe die ou Kaapse families aan mekaar verwant is: Die Melcks, die Van Reenens, die Mosterts, die bekende ou Darling- en Weskusfamilie Duckitt, die Cloetes, en die Myburghs, om ’n paar op te noem.

“Ek het jou mos daai grap vertel van Hannes [Myburgh van Meerlust]. Melck nommer vier is getroud met ’n mej. Myburgh van Meerlust, en Hannes sê altyd: ‘Ja, dit is goed so, want deur daai huwelik is die room toegevoeg tot die Melck.”

Hy lag uitbundig, wat sy jong Australiese beeshond Pepe opgewonde na ’n Persiese tapyt laat hap.

‘Behou die beste’

In die voorkamer vol kunswerke en antieke Kaapse meubels. Foto: Jaco Marais

Ek pols Julian oor die waarde van tradisie.

“Johannes Degenaar [Stellenbosse hoogleraar en filosoof] het vir my staatsfilosofie gegee en een van sy gunsteling-leuses was die woorde van Sokrates: ‘An unexamined life is not worth living.’ In dieselfde asem wil ek sê: An unexamined tradition is not worth living.

“So, jy kyk na tradisie en jy behou die beste, en dit wat nie meer werk of nie meer haalbaar is nie, moet jy laat vaar. En dít is moeilik, want sentiment kan common sense vertroebel.

“Ek het seker min laat vaar. En in daardie opsig is ek baie bevoorreg. ’n Tradisie en leefwyse van ’n plek soos dié is net haalbaar as jy goeie, lojale personeel het.

“Die feit dat ek drie keer ’n dag eet aan hierdie tafel, dat ek die tradisies van my ouers handhaaf in daai opsig, is omdat my personeel sáám op daai skip is en dit vir my haalbaar maak.

“Maar, die strenger toepassing van daai tradisie – die politiek, die wet, die veranderende samelewing waarin die wit man nie meer die heerser is nie – het ook ’n invloed.

“So, dit is eie besluit en die omgewing waarin jy woon en die land waarin jy woon, wat óók ’n invloed het. En jy moet jouself daarby aanpas.”

Die Melcks is Maties

"Ek bóér; dis die enigste werk wat ek kan doen, is om te boer.” Foto: Jaco Marais

Buiten die tradisies van die plaas het Julian ook wat ander aspekte van sy lewe betref in Melck-voorsate se voetspore gevolg: Skoolopleiding aan Bishop’s (waar hy die geleentheid gehad het om musiek as vak te neem en ’n baie bedrewe orrelspeler te word wat later ook sy lisensiaat by die Royal Schools of Music verwerf het) en daarna Stellenbosch toe vir verdere studie.”

“Al die Melcks van vorige geslagte [sedert die jare dertig] en huidige geslagte . . . Ek ken nie één persoon wat die van Melck dra wat op die Universiteit van Kaapstad was nie. So, my neef-hulle van Muratie [wynplaas buite Stellenbosch] – Rijk en Anton – was ook op Stellenbosch. Ek het al gewonder of dit was as gevolg van die feit dat hulle uit ’n Engelssprekende agtergrond kom, maar die nuwe Suid-Afrika van die 1930’s, 1940’s en 1950’s was Afrikaansbeheer. Of was dit net omdat dit ’n goeie universiteit was?

“Ons het Stellenbosch toe gegaan om te leer Afrikaans praat; dis wat ons almal daar gedoen het.”

Hy het ’n LLB-graad behaal en sy klerkskap in Windhoek gaan doen, waarna hy saam met sy pa op Kersefontein kom boer het. In sy tyd in Windhoek het hy ook begin om hom as ’n vlieënier op te lei.

“Maar ek het toe ek op universiteit was al besluit ek wil boer. Ek het geweet ek gaan ’n plaas erf omdat my broer [wyle] Martin níks in boerdery belang gestel het nie, al moes hy as ouer broer die plaas geërf het.”

Die laaste Melck wat boer?

Die kas van Anna van Reenen wat deur Thibault ontwerp is. Foto: Jaco Marais

Julian het nooit getrou nie en het dus nie nasate nie.

“My neefs, my susterskinders, sal heel waarskynlik ná my die plaas oorneem. Hulle is nie Melcks nie, maar hulle kan hul vanne verander as ons nou tegnies wil raak.

“As hulle belang stel; as hulle wíl boer. Maar landbou is moeilik vir die huidige geslag – veral as jy ’n wit man is. En wie weet waar hulle gaan wees? Maar die gesprek is daar. Ons is as ’n familie baie geheg aan mekaar – ék, my neefs, my niggies, my susters . . . my oorlede broer . . . Ons is ’n baie vaste familie.”

Maar die moontlikheid bestaan dat die tradisie van ’n Melck wat op Kersefontein boer – die plaas sal volgende jaar 250 jaar in die besit van die familie Melck wees – gebreek kan word.

“Die ideaal is dat ek sou kinders gehad het, maar ek het nie, en, ja . . . Dis deel van die gesprek oor tradisie wat uitvoerbaar is en nié uitvoerbaar is nie.”

‘Dis die Coetzee-familieplaas’

Julian by die portret van Esau Coetzee. Foto: Jaco Marais

Op die werf kraai ’n haan. ’n Vrou kom uit die kombuis met die boodskap dat die stroperdrywers hier is om hom te sien. Die stropers het onklaar geraak en hulle het 6 km van die lande af na die werf toe gestap om hom daaroor te kom raadpleeg. Julian gaan praat met hulle en kom ná ’n rukkie terug.

“Ons wag nou vir die werktuigkundige . . . Die weer is nou lekker vir stroop en môre gaan dit reën. En reën op droë koringpitte . . . Hy spoel uit en dan sak die skepelgewig van die koringpit en dan sak die graad. En ons is al klaar op die onderste nerf as gevolg van die droë Augustus en September. Die pitte is nie groot en vet nie.”

Die vleuelklavier in die voorhuis waarop Julian graag speel. Foto: Jaco Marais

Op Kersefontein woon 30 mense.

“Ek is een. En dan het ek vyf mans wat saam met my boer en ses vroue wat die werf en die gastehuis behartig. So, ek het elf mense in my diens. Die ánder is tannies en oumas en natuurlik ’n paar skoolgaande kinders. Die bussie tel die kinders soggens hier by die hek op en neem hulle na die skool op Velddrif toe.

“Hulle is almal familie, die Coetzees, en is al ses geslagte op die plaas. Esau, van wie Terence McCaw die portret gedoen het wat hier binne hang, het vir my grootoupa, my oupa en my pa gewerk, en vir my leer perdry.”

Daar hang ook van verskeie ander werkers, mans en vroue, portrette.

“Esau se dogter Kleintjie was my en my susters en my broer se nanny gewees, en sy kleindogter Isabel is in die kombuis en sy agterkleindogter woon in Hopefield.

“Die grap op die Weskus, dit het ek een dag in Spar gehoor by Boy, ’n man wat hier op die plaas vir van die werkers bestuurslesse gegee het . . . Hy het vir my geterg en gesê: ‘Ja, mnr. Melck, ek wil jou darem een feit van die Weskus vertel, julle moenie dink Kersefontein is die Melck-familieplaas nie – dis die Coetzee-familieplaas!’ ” vertel Julian laggend.

‘Altyd iets nuuts’

Julian in die eetkamer op Kersefontein. Foto: Jaco Marais

Wanneer ek Julian vra of hy besorg is oor grondonteiening sonder vergoeding, antwoord hy met die Latynse uitdrukking ‘Ex Africa semper aliquid novi’.

“Ja, altyd iets nuuts uit Afrika. En dit is dalk hier ook die geval. Maar wie weet? Ek kan myself nie daaroor bekommer nie. Dis dalk nie mý probleem nie, maar die volgende geslag s’n.

“Ek kyk na die geskiedenis; ek kyk na vorige revolusies in Europa en Suid-Amerika en ander plekke waar plase net eenvoudig weggeneem is. Jy hoef nie eens na Afrika te kyk nie; daar word altyd gekyk na Kenia en Zimbabwe en so aan, maar jy kan na Europa kyk; jy kan na Rusland kyk.

“Maar as iemand hierdie plaas wegneem . . . Al wat ek weet, is ek sit dan sonder ’n werk en ’n huis. Ek bóér; dis die enigste werk wat ek kan doen, is om te boer. En die enigste plek waar ek het om te woon is hiér.

“Ek is bewús van die geskiedenis in die Oos-Kaap in die negentiende eeu en Zoeloeland en hier in die Kaap self in die agtiende eeu, maar ek het ook ’n werklikheid van my eie.”

Die dag toe die skeerders vlieg

Julian het ’n aanloopbaan en hy vlieg nog gereeld met ’n vriend van hom se vliegtuig. Hy vertel van die dag toe hy ’n span skaapskeerders vir ’n vliegrit geneem het.

“Die skeerspan was hierso. Ek het hulle deur die jare leer ken; hulle het van Lesotho af gekom. Toe sê die kaptein vir my hy sien hier is ’n vliegtuig. Toe sê ek vir hom: ‘Ek wil julle vat.’ Ek en my vriend, wat hier by my was en wie se Cessna-206-sessitplekvliegtuig dit was, het al gewonder hoe sou dit wees om iemand, wat nog nooit gevlieg het nie, te laat vlieg.

“Die kaptein het vir my gesê hy wil glad nie vlieg nie. Toe sê ek vir hom: ‘Maar gaan vra vir jou maters, dalk wil hulle, en môreoggend gesels ons weer.’

“Die volgende oggend toe sê hulle hulle wil álmal gaan – hulle was tien. Toe vat ek die eerste vyf en kom terug en vat die ander vyf. Dis ’n lieflike vlug – jy gaan met die Bergrivier af tot by Velddrif en dan gaan jy ’n bietjie oor die see en dan draai jy daar by St. Helenabaai en dan kom jy terug.

“Toe vra ek vir die kaptein: ‘So, wat het jy daarvan gedink?’ En toe sê hy: ‘My hele lewe lank het ek van die grond af opgekyk na voëls wat bo my vlieg. Vandág het ek afgekyk na voëls wat onder my vlieg.’”


Meer oor:  Maties  |  Velddrif  |  Stellenbosch  |  Hopefield  |  Boerdery  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.