Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
June van Merch en die demoon van roem

Die aktrise June van Merch praat met Murray La Vita oor “die liggaam wat koebaai sê”; ’n wêreld waarin vroue “niks is nie”, en die gevaar van roem.

June van Merch gedurende die onderhoud in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

June kom die Kaapse restaurant binne soos ’n opgewonde labrador wat nou net in die see geswem het. Sy straal ’n groot energie uit; iets soos haastigheid: vinnige bewegings, vinnige sinne. Sy is ’n woelwater met ’n bos silwer hare wat haar gesig soos ’n stralekrans omraam.

Die gesprek begin by haar “draadlooswerk”.

Stoom is die ding se naam en hy is nou om kwart-voor-drie in die middae op RSG. Dis amper soos die ou dae se Geheim van Nantes; jy weet, dis dieselfde trant – 56 episodes. Anton Treurnich het geskryf. Wie is almal daarin? Ek, Waldi Schultz, Roeline Daneel, Zenobia Kloppers – lekker jongmense.

“Dis héérlik. Dis fantasties. Ek speel die rol van Ruth Williams, sy’s die algemene bestuurder van food and beverages op die hele trein. So dit speel af op ’n trein en dan word dit ’n spy mystery . . . Daar is ’n wa wat sonder die medewete van die treinbestuur aan die trein gehaak word.

“Dis lékker! Daar is aksie ook – die oorspring van die een wa na die ander wa.”

Sy het nie voorheen baie radiowerk gedoen nie.

“Nee, die aksente was mos verkeerd. En toe kom die aksente op [raak Kaapse aksente in aanvraag], en toe kan ek mos nou gaan. Hoewel, ek is nie van die Kaap nie; ek moes Kaaps aanleer want ek is van Ladismith en Mosselbaai; so ek praat Mosselbaaise aksente.

“Ja, hoe’t ek gemaak? Ek het eers Stellenbosch-Afrikaans gepraat: Geartikuleerd en alles reg, en toe begin ek toneelspeel en daar was een ou, Ivan Abrahams, en hy was van Elsies, en Ivan het toe nou die taal gegooi en op dié manier het ek dit aangeleer.

So die oorklankingswêreld was mos maar vir die skredes [wit mense].

“En toe’t die radio ons nou nodig gehad om spesifiek só te praat. En nou is dit so beautiful; dis gelyk, so jy speel net.

“Ek het ’n ander reeks gedoen – Katryn: Vrou van die Richtersveld van Jan Huisamen, wat Johan Botha toe verwerk het as ’n radiodrama. Dit het gegaan oor ’n vrou in die Richtersveld wat . . . sy’s ook gebore van gemengde rassighede. Die tema is gemengde rassighede plús nou natuurlik die onregverdigheid van die sisteem.

“Baie nice, man! Die mense van die Noord-Kaap het geluister; ek het skoon famous geraak onder almal! Ek is so oulik. So die draadloos is besig met exciting dinge.

“Ja, in die ou dae was dit mos nou maar ’n storie; ons kon nie speel nie. Ek het mos Maggie in Glaskasteel gespeel en daar is ek toe nou saam met At Botha en ek sê toe vir hom: ‘Jinne, ek wil so graag in die oorklankingswêreld inkom.’

“Toe sê hy vir my: ‘Néé, jou ê is te plát.’” Sy lag. “Daai tyd moes jy ’n ‘a’ gehad het; ‘a’ en ‘ô’ . . . So dis ‘pô’ . . . Ek kan dit nie doen nie. So die oorklankingswêreld was mos maar vir die skredes [wit mense].”

’n ‘Welsyntipe’

June as die minister van welsyn in Gangsters. Foto: Verskaf

Ons praat oor Gangsters wat op die Suidoosterfees opgevoer word en waarin sy die rol van die minister van welsyn vertolk.

“Kyk, dr. Ben de Haeck het dit geskryf en drie jaar terug het Martiens [Marthinus Basson] dit toe nou gerevive, maar hy gebruik toe nou studente van Stellenbosch se universiteit en die enigste seniors is ek en Basil Appollis en Stian Bam.

“Dis eintlik dieselfde omstandigheid as jou outydse gangsters wat die mense beskerm het. Hulle het nooit onskuldiges doodgemaak nie; net onder mekaar gebaklei.

Die hooftema is dat die gangster Joe Jesus doodgemaak word en dan word dit bewys dat hy onskuldig was.

“My rol is nie groot nie; ek speel so ’n welsyntipe. Die karakter is van die welsyn af en sy is regtig concerned oor haar gemeenskap, maar as gevolg van al die red tape en haar lojaliteit teenoor die party is haar hande gebind.

“So wat eintlik gebeur, is jy doen uiteindelik níks as gevolg van screwed-up lojaliteite, dit waarmee Cyril Ramaphosa ook nou sit.

“Daar is ongelooflik baie temas wat die ou man [haar mentor De Haeck] in ’n uur saamgevat het.”

Jy gee dit met liefde en hulle tel dit stil-stil op. Just by being; jy hoef nie eers te praat nie. Dis ongelooflik, ja.

Sy praat oor haar jonger mede-akteurs.

“Die meeste van hulle is 30 en onder. Dis tog mooi om te sien dat hulle die talente uitleef en dat hulle goed doen. Daai teaterdissipline en alles is in die jong mense; dis nie jou televisie-fly-by-nights nie.

“Hulle sê vir my almal Auntie June; so dis nou ’n nuwe trant. In die ou dae as jy in die akteurswêreld was, het jy mekaar op die naam genoem. In die drama-departement ook.

“Maar vir een of ander rede . . . Ek weet nie of dit te doene het met ’n . . . miskien is dit nodig dat daar ook maar respek in die kunste is. Miskien is dit die manier waarop die kinders aanvaar my ervaring is respek werd. En ek vat dit aan. En ek vat die rol van die verantwoordelikheid, want ek het ’n verantwoordelikheid teenoor hulle and I’ve got to live the example.

“Jy gee dit met liefde en hulle tel dit stil-stil op. Just by being; jy hoef nie eers te praat nie. Dis ongelooflik, ja.”

‘Toe sterf my ma’

“Jy leer van ouer mense hoe om oud te word.” Foto: Jaco Marais

Die kwessie van respek stuur die gesprek in die rigting van die reeks Die superste senior, waarvan June die aanbieder is en wat van middel-Mei af op televisie te sien sal wees.

“Dis ’n realiteitsreeks wat op Survivor gebaseer is. So dis basies ek wat as myself op ’n strand bly; dit speel af op Paternoster. Dan gaan ek oor die land om nou mense te kies. In so ’n ding is die leier mos gewoonlik hardcore; so die konvensie om die opwinding te skep is dat jy hardcore is. Maar die teenoorgestelde het gebeur; daar was respék.

“Die kompetisie was tough . . . Ek mean daai arme mense moes mekaar drá; hulle moes hardloop; hulle moes gaan vlaggies haal; hulle moes kettie skiet.

“Die ouderdomme wissel van 65 tot 75; so dis regtig seniors. En vir my as die fasiliteerder moes ek ’n balans kry; in ons samelewing word die oumense dikwels weggegooi; hulle word weggegooi.

Ja, Maria Mietha van Merch . . . ’n mooi sterk Noord-Kaapse vrou.

“Ek hoop daai boodskap kom deur tussen die kompetisie; dat ek daarin geslaag het om ’n respek vir die ouer mense te kweek.”

Sy het haar ma drie maande gelede “verloor”.

“In daai week wat ek dit geskiet het, toe’t my ma gesterf. Ek vermoed my ma het my in my dieptes in laat gaan dat ek kón nie mense bitch omdat hulle nou bietjie verloor het. Ek was koesterend, maar ek het nie my outoriteit verloor nie; die outoriteit was net ság.

“My ma was 88; ’n ongelooflike sterk vrou. In fact, dít was haar laaste woorde aan my: ‘My kind, Mammie is sterk.’ Jy sien, sy het geweet ek was bekommerd oor haar . . . Ja, Maria Mietha van Merch . . . ’n mooi sterk Noord-Kaapse vrou.”

Vrese

Junie is nou 57.

“Ek het toe ek net 50 geword het, vrese gehad oor oud word . . . Jy weet, toe my middelvinger begin styftrek het van die arthritis, toe dink ek: Oeps!” Sy strek haar hande voor haar uit; kyk na hulle. “Nou is al tien al effens besig om te gesels van al die suur. Maar dis fine. Ek vermoed my ma . . . Dit is wat vir my belangrik is van na jou ouer mens kyk – jy leer hoe om respekvol oud te word; jy leer van ouer mense hoe om oud te word.

“So die manier waarop mý ma verouder het met grasie en min kla en eer vir haar kinders en nie vir haar kinders wil benadeel nie en veeleisend wees nie – dít het vir my ’n heeltemal ander idee gegee van hoe om gracefully oud te word want ’n mens kan lelik raak en selfsugtig en high maintenance. Ja, en natuurlik as ’n mens nou negatief wil dink – dit is mos nou maar die ou liggaam wat koebaai sê; die liggaam wat gaan, en die aanvaarding daarvan.”

Min aandag

June in haar rol as aanbieder van Die Superste senior. Foto: Verskaf

In haar grootwordwêreld was “vroumense níks”.

“Die vrou of die meisie is altyd ondermyn; dis die broers wat belangrik is. Dis maar só. Ek dink in baie gemeenskappe, as ek kan veralgemeen, is dit die mán wat die plaas erf; nie die oudste vrou nie.

“So in my geval het ek nou met hierdie drie broers gesit en ék was die last born en ’n meisiekind. By implikasie beteken dit ek kry die laaste aandag. Húlle het al die voordele in die wêreld. Hulle kan gaan en dan moet ek beddens opmaak naweke want ek moet nou geskool word om eendag vir my man te sorg.

“So my aandag was mín. Toe dink ek – dis nou my teorie op hierdie 57-jarige ouderdom – f** dít! Ek maak myself f****n famous, lat die hele Áfrika na my kyk! Netso.

“Maar versigtig ook met daai aandag, nè, want onse fame beteken power and you can’t abuse it. Jy het ’n groot verantwoordelikheid teenoor die mense.

“Ek sit gister in die Waterfront op ’n bankie en ek sien twee vroue kyk vir my. Hulle draai toe om en die ouer dame, ’n Moslemvrou, vra of hulle ’n foto’tjie kan neem. Ek sê: ‘Natuurlik’.

“Die volgende oomblik kom daar ’n blanke man – for want of a better word – en hy vat my hand en hy sê sy vrou is hier. Sy kom toe nader en sê: ‘Ek wil nie jou privaatheid skend nie, maar dankie vir jou wonderlike talent.’”

Haar eie energie

“Daai podium is ’n groot verantwoordelikheid. Jy kan nie daarheen gaan as jy nie reg is nie, anders draai dit teen jou.” Foto: Jaco Marais

June praat sag wanneer sy die vrou se woorde in herinnering roep.

“So dis al sulke klein dingetjies wat jou jou verantwoordelikheid teenoor die mense laat besef . . . En daai idolise is ’n ander ding; dis ’n gevaarlike storie. Jy moet ground; jy moet gegrond bly, anderste is jy baie alleen op jou oudag.”

Hoe so?

“Omdat jy mense gebruik wat na jou toe kom om jouself te laat belangrik lyk. Die feit dat jy in die oog van die publiek is . . . Jou verantwoordelikheid is om jou innerlike lewe goed te hou – dis ’n gróót ding; dis moeilik om jou demons te face and to go within.

“Daai podium is ’n groot verantwoordelikheid. Jy kan nie daarheen gaan as jy nie reg is nie, anders draai dit téén jou. Jy gaan in ’n . . . Dis amper asof jy mense gebrúik, man.

Dit het my seker drie jaar gevat om daaroor te kom want dit was ’n groot demon in my.

“Ek het dit járe terug onbewustelik gedoen teenoor ’n vriendin en sy het my toe daarop attent gemaak dat ek besig is om haar te gebruik vir iets.

“Dit het my seker drie jaar gevat om daaroor te kom want dit was ’n groot demon in my. Dis hoekom ek so versigtig is daarvoor; dit was ’n gróót les.

“So ek gaan in met my éie energie. Ek gaan nie vir jou gebruik om vir my te laat belangrik voel nie.”

* Die Gangsters is op 24, 25 en 27 April op die planke op die Suidoosterfees. Besoek www.suidoosterfees.co.za om meer besonderhede.

* Die superste senior begin op 16 Mei op VIA (DStv-kanaal 147). Nuwe episodes word elke Donderdag om 19:30 uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 21:30.

Meer oor:  Suidoosterfees  |  June Van Merch  |  Afrikaans  |  Toneelspel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.