Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'Wynbedryf kan tot niet gaan'

Die gevaar bestaan dat die wynbedryf, een van die “juwele in Suid-Afrika se kroon”, tot niet kan gaan, sê Emile Joubert aan Murray La Vita.

Emile Joubert in die Book Lounge in Kaapstad waar hy dikwels sit en skryf het aan die verhale in sy jongste bundel kortverhale. Foto: Jaco Marais
“Maar voorheen was ek versigtiger en stiller.” Foto: Jaco Marais

Wyn is van kindsbeen af ’n natuurlike en belangrike deel van Emile Joubert se lewe. Daarom dus dat dít (en ander lewensgenietinge soos kos en musiek en kuns) ook in sy fiksie figureer as deel van die lewens van karakters.

Die onderhoud met Emile, wie se derde bundel kortverhale, So byna blou, pas by Protea verskyn het, begin by die verwoestende uitwerking wat die Covid-19-pandemie en die regering se beperkinge op die wynbedryf het. Emile sit in sy kantoor op Stellenbosch in die hart van die wynland.

“Wat met die wynbedryf gebeur, is ’n ramp, ’n totale verwoesting . . . Hierdie vier maande van geen handel nie plus die situasie in die res van die wêreld met minder wynverkope en wynproduksie.

“Op die oomblik is die wynbedryf se grootste probleem die oorskot waarmee hulle sit. Wat doen jy as jy met hierdie moerse oorskot sit en daar is nog ’n oes op pad? Die wynbedryf staan nie stil nie. Die deure word nie gesluit en jy maak dit ná elf maande weer oop en haal die bottels uit nie.

“Wingerde moet gesnoei word, druiwe moet gepars word, boere moet betaal word vir die druiwe wat hulle lewer aan die kelders, en met ’n oorskot wyn gaan die ekonomiese realiteite eers volgende jaar en die jaar daarna gevoel word.

“So dit is maar nou eers ’n druppel aan die emmer van die totale ramp wat ons getref het. Niemand kan sien wat die langtermyngevolge is nie. Die wynbedryf as geheel gaan nou moet besluit: Wat maak ons nou met produsente wat reeds minder wyn van wynboere gaan inkoop weens hierdie oorskot en hoe gaan die situasie reggestel word?”

Suid-Afrika is nie alleen in die verknorsing nie.

“Maar in lande soos Frankryk word die produsente deur die regering gesubsidieer wat nie hier gebeur nie, so ek voorsien groot probleme in ons wynbedryf binne die volgende twee of drie jaar. So, dis tawwe tye en ons verkeer in ’n krisis.”

‘Wyn is image’

Die wynbedryf is een van die juwele in Suid-Afrika se kroon, sê hy.

“Ek dink nie die regering beskou dit altyd só nie – hulle verstaan dit glád nie. Die wynbedryf is grootliks verantwoordelik vir die goeie beeld wat Suid-Afrika nog in die buiteland oor het. Diegene wat wel nog ’n goeie beeld van Suid-Afrika het, beskou die wynbedryf en ons natuur as die groot pluspunte. Maar op die oomblik is daar die groot gevaar dat dit tot niet kan gaan.

“Tussen al hierdie ander goed wat ons beeld versleg, is die wynbedryf en wat hy verteenwoordig, ’n pronkstuk. So, hoe ons uit dié ding uit gaan kom, gaan baie bepaal hoe Suid-Afrika as ’n lánd hieruit gaan kom, want wyn is image.

“Anton Rupert se woorde was, die wynbedryf in Suid-Afrika maak staat op slegs drie dinge: beeld, beeld en beeld. En ons het ’n uitmúntende beeld en dít koop vir ons baie aansien in die wêreld.

“So, dit is vir my omtrent die grootste verlies van Covid . . . As ons wynbedryf verwoes word en daar is meer en meer werkloosheid en ons verloor ’n klomp handelsmerke en produsente, dan gaan dit die tipiese verwagte einde wees van nóg ’n Afrika-storie.”

Wat met die wynbedryf gebeur, is ’n ramp, sê Joubert. Foto: Argief

’n Wêreld vol wyn

Mense verwys nou en dan na hom as ’n wynfoendie, maar dit is “die grootste klomp onsin”.

“Ek het nie een letter agter my naam wat my as ’n wynkenner regverdig nie; dis net iets wat in my lewe ontstaan het, ook deur my ouers, Fritz en Maureen. Hulle het elke aand wyn gedrink. En as ’n kind daar in Londen [waar hul gesin vier jaar deurgebring het terwyl Fritz, Nasionale Pers se koerantverteenwoordiger was] het hulle dikwels seker die goedkoopste bottel wyn wat hulle kon kry, gegryp vir die aand.

“En dan was dit ’n Spaanse wyn en dan ’n Portugese wyn en dan ’n Franse of Italiaanse wyn. Goedkoop, man! ’n Paar pennies. Dan kyk jy na die etikette en dan sien jy: O, hierdie wyn word gemaak in die Roussillon-area van Frankryk, en daar is dit op ’n kaart. En die volgende aand kom daar nog ’n klomp daar aan en dis nou gemaak in Griekeland op die eiland Santorini.

“So, dit het my as kind al getickle dat wyn iets is wat regoor die wêreld gemaak word. Dit verteenwoordig ander kulture en ander plekke.”

Eerste Griekse slaai

Tydens die vier jaar in Londen was sy ouers besig om “hulself te vind in die wye wêreld”. Hulle het die wêreld vol gereis en Emile en sy sibbe is “saamgesleep op treine in tweede- en derdeklas-kompartemente”. As volwassene sou hy voortgaan met sy reise – veral na warm dele van die wêreld soos Portugal en Frankryk.

“Hoe ouer jy word . . . want tot en met jy 40 is, is die lewe mos nou maar net een groot vaart en brander en drang; en as jy meer nostalgies begin raak en terugkyk op die lewe dan was dit een hélse voorreg gewees.

“Ek het nou 57 geword en ek kan moeilik die naam onthou van die vrou wat ek by gister se grafiese-ontwerp-vergadering ontmoet het, maar ek kan presies onthou hoe my eerste regte Griekse slaai gesmaak het in 1971.

“Ons het nie geld gehad om vleis te eet in Griekeland nie. Ons het Griekse slaai en eiervrug geëet. Ek kan presies onthou waar dit was en hoe dit gesmaak het. So, ja, dit het deel van my geword.”

“Ek het ook my talle saudade-oomblikke.” Foto: Jaco Marais

Soveel belangstellings

Nadat Emile sy joernalistiek-honneursgraad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het hy vir Die Burger en Beeld in die kunsredaksie gewerk waar mense soos Kerneels Breytenbach, André le Roux en Zirk van den Berg ’n groot en vormende invloed op sy skryfwerk gehad het.

“Ek het Die Burger in 1995 verlaat en vir ’n openbare skakelmaatskappy gaan werk. Ons het een of twee wynkliënte gehad en toe ek aan hul projekte begin werk, het ek besef ek voel net gemaklik. My ouers was bevriend met bekende wynpersoonlikhede soos Danie de Wet, Nico Myburgh van Meerlust en Jan Boland Coetzee, so om in hierdie milieu myself te re-invent het vir my gemaklik gevoel.”

Hy het later sy eie skakelmaatskappy begin wat hoofsaaklik op die wynbedryf ingestel is.

“Daar is soveel goed waarin ek belang stel buite my: resepte [sy vrou is die kosskrywer Barbara Joubert]; plekke om te eet; mense om mee te gesels; om wyn te drink; om musiek te luister, om movies te kyk. Ek is bang ek mís iets. Ek hou net aan met soek. Dis soos ’n tog waarop ek is en ek wag net vir die volgende ding wat my gaan plat boul.

“Ek is sintuiglik op daai vlak; ek hou nie terug nie, wat miskien ’n slegte ding is. En wat die skrywery betref, is my grootste vrees om ’n leser te verveel. Van die persvrystellings wat ek skryf oor ’n nuwe wyn, tot ’n Van Alle Kante-rubriek tot ’n wynrubriek tot ’n kortverhaal.

“Ek is net so bang die blerrie leser raak verveeld omdat ék so ’n ongeduldige innemer van alles is – as ’n fliek of iets wat ek lees my verveel, raak ek sommer gefrustreerd en die moer in. So, ek dink baie aan die leser as ek skryf en ek dink hoe sal ek met daai leser praat en ’n storie vertel.”

‘Wat as?’

Wanneer ek Emile pols oor die ongewone – soms ontstellende – plots en wendings in sy stories, sê hy dit spruit dalk daaruit dat hy altyd situasies bevraagteken en wonder wat agter iets skuil.

“Waaroor gaan stories? Oor twee woorde, dink ek: Wat as? As jy vra: Wat as? kan jy vir jou ’n klomp temas daaraan hang wat vir jou eindelose ure voor ’n rekenaar kan laat deurbring as jy jou verbeelding laat gaan.”

Hy is nie wantrouig of paranoïes nie, dit is eerder ’n geval van nuuskierigheid.

“Ek hou daarvan om vérder te kyk en nie tevrede te wees met wat voor my is nie, maar te kyk of daar nie nóg iets agter daardie bult lê nie. Dis maar ’n kinderlike onrustigheid.”

“Ek glo daarin om goed met oorgawe en geesdrif te doen.” Foto: Jaco Marais

‘Saudade’-oomblikke

Emile is ’n groot aanhanger van Ernest Hemingway en Herman Charles Bosman. Hulle verskyn ook in een van sy boeiende kortverhale waarin die slot die leser heeltemal onkant betrap.

Hy onthou hoe hy in gr. 7 al bekoor is deur Bosman se skryfwerk.

“Jy próé daai donnerse biltong en jy rúik daai snuif van die omies in die Marico . . . So, dít, plus geesdrif. Ek probeer ook met geesdrif skryf, maar ek het ook my talle saudade-oomblikke.”

Die Portugese woord saudade verwys na melancholie of ’n nostalgiese hunkering na iets of iemand.

“Maar ek glo daarin om goed met oorgawe en geesdrif te doen. Daai goed kom totaal natuurlik as ek skryf. Dis nie uitgedink voor die tyd nie. Daai inkledingstukke – dis wie ek is en dis goed wat ek vir jou sal vertel as jy vir my ’n vraag vra. Dis nie mooi gestruktureer voor die tyd nie.”

Hy het nie geweet waarheen die verhale in sy bundel op pad is toe hy hulle begin skryf het nie.

“My joernalistieke agtergrond gee vir my die gereedskap om stories te kan inkleur. Dit is vir my soos ’n rush om te skryf. Daar is geen beter gevoel as wanneer jy ’n storie of ’n rubriek of ’n brief skryf en alles val net in plek in.

“Ja, dit is soms vir my soos ’n rush. Ek sou baie graag ’n rockster wou geword het of ’n akteur of soiets want ek hou daarvan om myself uit te druk . . . Ek sal baie graag mense wil vermaak, en die skrywery is maar vir my die enigste manier waarop ek kan probeer om dit te doen.”

‘Die lewe is ’n pad’

Die meeste van die dinge wat hy doen, doen hy voluit.

“Dis iets wat my getref het hier in my veertigs. Voor dit was ek nogal redelik Calvinisties in die opsig dat ek almal probeer tevrede stel het. Ek het hééltyd ’n wag voor my mond gehad. Baie mense sê vir my ek het nou glád nie ’n wag voor my mond nie, maar ek weet nie of dit waar is nie.

“Maar voorheen was ek versigtiger en stiller. Dis nie weens een of ander groot lewensopenbaring nie. Ek dink die lewe is ’n pad waarop ’n mens mettertyd meer selfvertroue kry omdat jy weet wat jou swakplekke is.

“Ek bedoel, ek het 20 jaar gelede nie geweet van al die swakplekke wat ek het nie en dit het my baie katvoet gemaak en onseker. Nóú weet ek presiés: Dít kán ek nie doen nie, dáárvoor moet ek oppas . . . dís my swakplek . . .

So, ek ken my plek – ek weet wat ek nié kan doen nie en ek weet wat ek kán doen.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Emile Joubert  |  Drankverbod  |  Wynboere  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Kroonjuweel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.