Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Jy en die dood drink koffie

Die dood is iets waaroor mense nie praat nie, wat vermy word en wat mense probeer “doodswyg”, het Tobie Wiese aan Murray La Vita gesê.

Tobie Wiese
Tobie Wiese, samesteller van die bundel 'Wreed én mooi is die dood – Verhale oor verlies, hunkering en heling'. Foto: Adrian de Kock

Die gesprek met Wiese (65) oor die “laaste lewensreis” vind in die laat herfs op ’n grys Kaapse oggend in ’n restaurant in Kaapstad plaas.

Die oud-joernalis, skrywer en samesteller en redigeerder van talle boeke, is geklee in ’n swart rolnektrui en ’n grys baadjie – onberispelik netjies met elk van sy silwer hare op hul plek.

Wreed én mooi is die dood – Verhale oor verlies, hunkering en heling, waarvan hy die samesteller is, het pas by Jonathan Ball Uitgewers die lig gesien.

Die bundel bevat die verhale van mense wat “geliefdes verloor het en ’n baie persoonlike ervaring gehad het” – aangrypende en ontroerende mededelings van mense soos Karin Brynard, Marita van der Vyfer, Kerneels Breytenbach, Dana Snyman, Valda Jansen, Heindrich Wyngaard en Antoinette Pienaar.

Maar die bundel “is ook meer as dit”. Dit bevat ook die “insigte van wyses” waarin daar byvoorbeeld besin word oor “begeleiding op die laaste lewensreis” en “raad vir rou en heling” aangebied word.

Weet maar net wat jy behóórt te weet, en dít is dat ons almal sterflik en bróós is. Ons is tydelik hier en ons is nie so in beheer as wat ons graag wil glo nie.
Tobie Wiese

Voordat ons oor Wreed én mooi is die dood begin praat, deel Wiese met my iets wat hy beleef het ’n aantal maande voordat hy aan die bundel begin werk het.

“My oudste seun, Hannes, en sy meisie is in Julie 2017 in hul huis in Jonkershoek [buite Stellenbosch] aangeval . . .” Wiese raak bewoë en hou eers op praat. “Dit was amper of hy was dood. ’n Stukkie van sy kopbeen het afgebreek . . . Iemand het hom met ’n stok oor die kop geslaan en ’n stukkie daarvan het afgesplinter en tot teen die breinvlies gedruk . . . Gode sy dank . . . dank die Here, hy het toe geen breinskade opgedoen nie.

“Dit was baie traumaties en dit het by my die besef tuisgebring dit kan met mense baie na aan jou gebeur; dit kan met jóú gebeur . . . Dit kan iets heeltemal anders wees; dit kan ’n hartaanval wees, maar neem dit net ’n bietjie in ag – dít is wat ek vir myself gesê het.”

Die werk aan die bundel het dié besef nog sterker by hom tuisgebring.

“Toe is prostaatkanker by my gediagnoseer – gelukkig was dit in ’n vroeë stadium en is dit baie suksesvol behandel. Maar al hierdie dinge was sulke vlaggies wat opgaan en sê: Weet maar net wat jy behóórt te weet, en dít is dat ons almal sterflik en bróós is. Ons is tydelik hier en ons is nie so in beheer as wat ons graag wil glo nie.

“En dan wil ek dadelik net daarby sê: Uit hierdie werk met die medewerkers en veral ook die onderhoud wat ek gehad het met Peter Fox [’n sterwensbegeleier wat jare lank hoof van spirituele sorg by St. Luke’s Hospies in Kenilworth, Kaapstad, was] het dit vir my duidelik geword dit is goed en gesond om ’n gesonde doodsbesef te hê. Natuurlik moet ’n mens nie daarmee geobsedeer raak nie en dat dit ’n mens se fokus raak nie.”

’n Ligte hart

Tobie Wiese
Die voorblad van ' Wreed én mooi is die dood'.

Die weeg van die hart in die Egiptiese mitologie is iets waaraan hy baie dink.

“Dis die plek waar ek ook graag sal wil uitkom. Die hart van die dooie word op ’n skaal geweeg teen ’n veer, die veer van Ma’at. Ma’at is die omvattende begrip vir waarheid en geregtigheid en orde en harmonie en die hart is dan natuurlik simbolies van die gees van die mens. Die twee word dan teen mekaar opgeweeg om te bepaal wat van hierdie hart en hierdie mens word . . .

“Nou is die vraag natuurlik: Wat maak die hart lig? Ek wil antwoord deur ook te verwys na van die dinge wat Fox gesê het wat met so baie sterwende mense gewerk het.

“Ek dink dit is daardie wéte dat ’n mens ’n kongruente lewe lei – jy is nie volmaak nie, jy het jou sondes en jou tekortkominge, maar jy lei ’n kongruénte lewe; jy is teenoor ander soos wat jy teenoor jouself wil wees en jy is nie in die openbaar iets anders as wat jy privaat is nie . . . Ons almal dra maskers en ons almal sit ons beste voetjie voor.

“Dit gaan daaroor dat ’n mens se lewe gekoppel is aan gesonde waardes: eerlikheid, harmonie, vrede, naasteliefde, ensovoorts.”

’n Kliniese dood

Wiese praat oor hoe die mens oor die eeue in die Weste die dood beskou het.

“Namate die mag van dokters toegeneem het, het ook die aard van die dood verander; die begrip van ’n kliniese dood het sy verskyning gemaak. Die betekenis van die dood het nou verander na die uiteinde van ’n siektetoestand; dis nie meer gesien as ’n normále verloop nie – ’n organisme wat geleef het en noodwendig moet sterf nie.

 Wreed én mooi is die dood
“Wat sal dit help ons leef net al langer en langer, maar ons het nie noodwendig ’n sinvolle lewe nie?” Foto: Adrian de Kock

“Mettertyd het daar ’n gewéldige geloof in die tegnologie ontstaan en dit is natuurlik so dat die mediese wetenskap wondere verrig. Sterfte word eintlik nou amper beskou as ’n skande en ’n mislukking van medici.

“Daarom, onder meer, word mense uitgeskuif na ouetehuise en na siekeboë; hulle bly nie meer aan huis nie.”

Dokters sê dikwels vir terminale pasiënte: ‘Ons kan niks meer vir jou doen nie.’

“Maar dit is eintlik nie die volle waarheid nie, en dit is nou waar palliatiewe sorg ter sprake kom . . . waar mense net in hul laaste dae versorg word en daar probeer word om hul pyn te beperk en na hul behoeftes geluister. Daar word oor die algemeen nie vir terminale pasiënte gevra: ‘Wat is jóú behoeftes? Wat wil jý hê nie?’”

‘Ék doen dit aan haar’

Dit was by tye besonder moeilik om aan die bundel te werk.

“Byvoorbeeld . . . Karin Brynard se man [Rien van Gils] was in die stadium wat ons begin gesels het nog net sewe, agt maande vantevore oorlede. Sy was nog báie, báie rou daaroor.

Maar hierdie ding het my tog gehelp. dit het my verskroei, maar dit het my tog gehelp om ’n tree vorentoe te gee en om ’n entjie verder te stap op daardie pad.
Karin Brynard

“Ons ken mekaar goed; ons was kollegas by Insig en so aan. Toe ek nou die dag die moed bymekaar skraap en ons gaan drink koffie en ek sê vir haar waaroor dit gaan . . .

“Dit is geweldig moeilik, want hier vra jy nou vir iemand wat jy ken en vir wie jy omgee en wie se pyn en smart jy erkén . . . So op die ou end sit ons altwee daar en huil en dan onderneem sy om dit te doen en sy doen dit en dit is vir haar verskríklik swaar. Sy het in ’n stadium vir my gesê: ‘Die skryf van hierdie ding verskróéi my.’

“En op ’n manier weet ek ék as die samesteller dóén dit aan haar; dis ék wat nou die vermetelheid gehad het om haar te vra.

“Dit geld eintlik ál die bydraers. Ek meen vir Kerneels ook . . . En met Marita [van der Vyfer] kon ek nie eens oor ’n koppie tee sit en haar vra nie, want sy is daar anderkant [Frankryk], so ek het haar per e-pos gevra.

“Maar dan is daar ook weer ’n bietjie troos by waar Karin op die ou end sê: Maar hierdie ding het my tog gehelp. dit het my verskroei, maar dit het my tog gehelp om ’n tree vorentoe te gee en om ’n entjie verder te stap op daardie pad.”

Geen heling

’n Persoon “wie se kind selfdood gepleeg het”, het aan hom gesê daar is nie iets wat jy werklik genesing of selfs heling kan noem nie.

“En nou dat ek die gedig gelees het wat Kerneels [in sy essay “Verlossing”] aanhaal [“Grief” deur Gwen Flowers], verstaan ek dit baie beter.

“Ons het nog nie ’n woord vir daardie toestand nie; vir daardie plék waar jy aankom nie, want dit is nie werklik heling nie; ek dink nie dit is werklik genesing nie.

 Wreed én mooi is die dood
“Weet maar net wat jy behóórt te weet, en dít is dat ons almal sterflik en bróós is.” Foto: Adrian de Kock

“Ek is nou eintlik besig om mense aan te haal wat baie nader daaraan was as ek . . . My ouers is al dood – hulle was bejaard, so ’n mens het dit verwag op ’n manier – maar ek het tot nou toe niemand anders na aan my verloor nie. Ek wil hoegenaamd nie soos ’n ekspert klink nie, want ek ís dit nie.”

Die klimaat of tyd waarin die bundel verskyn, is interessant.

Dit is wanneer ons bewus is van ons eindigheid dat ons met die regte perspektief, ’n waarderende perspektief, kan kyk na wat ons nou reeds het.
Tobie Wiese

“Want eintlik is daar wêreldwyd ’n onderliggende vrees dat hierdie aarde soos ons dit ken aan die sterf is en dat die era wat ons beleef een is wat aan die verbygaan is.

“En baie mense beleef dit en ek dink miskien veral jonger mense ook wat dikwels baie meer groen leef en meer bewus is van groen sake en die toestand van die aarde, wat ook daarop dui daar is ’n onderliggende vrees dat ons die aarde kan doodmaak en ons is sekerlik besig om dit te doen.

“So, hopelik sal die boek uit daardie oogpunt ook met jonger mense resoneer.”

Dit is wanneer ons bewus is van ons eindigheid dat ons met die regte perspektief, ’n waarderende perspektief, kan kyk na wat ons nou reeds het.

“Léwe . . . om dit ten volle te geniet en dit verantwoordelik te geniet. Wat sal dit help ons leef net al langer en langer, maar ons het nie noodwendig ’n sinvolle lewe nie. Dit is miskien ’n belangrike ding wat hierdie onderonsie met die dood my geleer het, en dit is die belangrikheid daarvan om elke dag sinvol te leef.”

‘Dit raak laat’

Een van die boeiendste essays in Wreed én mooi is die dood  is  “Die dood is ’n palindroom” deur Wiese se seun Merwe.

Hy het ’n honneursgraad in Mandaryns met lof behaal en ’n geruime tyd in China as taalpraktisyn gewerk waarna hy na Suid-Afrika teruggekeer het en as skeepsagent in Kaapstad begin werk het en “die korporatiewe leer begin klim” het. Op 27 het hy besluit om ’n paramedikus te word.

 Wreed én mooi is die dood
“So, hopelik sal die boek uit daardie oogpunt ook met jonger mense resoneer.” Foto: Adrian de Kock

“Om mense te help, uiteraard, maar ook om die vervreemding van die dood te oorbrug,” skryf hy.

Hy eindig die essay met die gedagte dat die dood “soos ’n vreemdeling [is] wat jy by jou huis innooi”. Daar volg ’n denkbeeldige gesprek tussen ’n persoon en die dood.

“Wanneer die laaste koffie op is en die skemer deur die vensters insluip, staan jy dalk op en skimp dat dit laat raak. Hy [die dood] bedank jou vir jou gasvryheid, stap saam met jou voordeur toe. Toe julle groet, vra hy wanneer julle mekaar weer kan sien.”

Meer oor:  Tobie Wiese  |  Karin Brynard  |  Genadedood  |  Dood  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.