Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Zapiro nie opgewonde oor Cyril

Hy het geen geloof in Cyril Ramaphosa of enige van die ander kandidate in die ANC se leierstryd nie, sê die spotprenttekenaar Zapiro (Jonathan Shapiro) aan Murray La Vita.

Die voorblad van Zapiro se jongste bundel spotprente. Foto: Jacana

Uit die titel van jou nuwe boek Hasta la Gupta, baby! lei ’n mens af dat jy die doen en late van die Gupta-familie as sentraal tot die Suid-Afrikaanse werklikheid beskou?

Ja. Die titel moet altyd een van die grootste gebeurtenisse of omstandighede van die voorafgaande jaar weerspieël. Ek soek altyd na daardie ding wat emblematies is van ’n belangrike deel van wat ons ervaar het. Ek doen dit nou al 22 jaar lank [hierdie jaarlikse bundel van sy spotprente], en ek hou baie daarvan.

Die spotprenttekenaar Jonathan Shapiro.

Wat hier gebeur het, is dat toe Pravin Gordhan vir die tweede keer deur Zuma afgedank is as minister van finansies, was dit ongelooflik. Dit was ondenkbaar dat dit kon gebeur ná wat met Nenegate gebeur het toe die ekonomie R500 miljard verloor het. Direk daarna het Gordhan aan parlementêre portefeuljekomitees deelgeneem en het ek die idee gekry van hom as die Zumanator . . . Arnold Schwarzenegger het mos altyd [in die Terminator-rolprente] gesê: “I’ll be back!” Bo aan die spotprent het gestaan: “He said he’ll be back” en dan bars hy by die portefeuljekomiteesitting in as die Zumanator wat sê: “Hasta la Gupta, baby!”

Waarop dit klem lê – dit sluit goed aan by Jacques Pauw se boek The President’s Keepers – is dat daar ’n misdadige netwerk rondom Zuma is. Met die Guptas gaan dit spesifiek oor staatskaping en die feit dat Zuma die funksies van die staat en die presidensie in die hande geplaas het van hierdie mense wat geen reg het om van enigiets amptelik deel te wees nie.

Daardie aspek van staatskaping maak dit uniek en anders as enige ander korrupsie. Om jou pelle toe te laat om ministers aan te stel wat hulle ter wille is en dit vir hulle moontlik maak om kontrakte te kry. Dit was die afgelope jare so ’n groot ding, en dan spesifiek ook vanjaar met die #GuptaLeaks.

’n Mens kan enersyds sê die wêreld waarin ons leef met mense soos die Guptas en Donald Trump en hul verbysterende gedrag bied ryke stof aan ’n spotprenttekenaar. Maar is dit nie in ’n sin ook ’n groter uitdaging nie?

Ja! Ek het 17 jaar gelede ’n spotprent geteken wat presies dít probeer uitbeeld: Ek wat op ’n terapeut se rusbank lê en redelik geskok en oorstuur lyk. Die terapeut vra vir my: “Hoe lank ervaar jy al hierdie gevoelens van nutteloosheid?” Ek sê dan: “Sedert verlede week toe die werklikheid vreemder geword het as enigiets wat ek kan opmaak.” Op die grond lê koerante met berigte oor van die vreemdste goed wat destyds gebeur het; dinge wat nou amper normaal lyk. Ek het dus al vir twee dekades hierdie gewaarwording, en dit het nou nog intenser geraak.

So, ja, die werklikheid het so vreemd geraak dat ten einde iets interessants te sê en nie jouself die heeltyd te herhaal nie, moet jy dinge so plooi dat jy ’n stap voor daardie werklikheid is, anders wys jy maar net wat almal reeds weet, en die malheid lyk nie so mal nie omdat ons dit die heeltyd beleef.

Jy het onlangs gesê ’n nuwe era het vir spotprenttekenaars soos jy aangebreek.

Wat die wyse waarop ons werk báie beïnvloed, is sosiale media en hoe spotprente en reaksies daarop kan rondvlieg. Aanvanklik toe spotprente digitaal toeganklik geword het, was dit ’n groot skuif. Maar meer onlangs het nóg ’n skuif plaasgevind en dit is die wyse waarop die trolle optree. Één spotprent kan skielik ’n héle loopbaan of mens definieer en selfs verwoes. Iemand kan iets uit konteks haal en daaraan hul eie konteks gee. In die eggokamers kan ’n spotprent dan so geplooi word dat dit lyk asof dit net één boodskap bevat. Wanneer dít gebeur, stroop dit die werk van nuanse en diepte.

Hoe reageer jy op hierdie uitdagings?

Ek het deur ’n paar baie moeilike tye gegaan, maar dit is nou verby. Ek het besef ek moet minder praat oor veral die spotprente en hulle vir hulself laat praat. Dit was ’n aanpassing, want ek is geneig om by sulke besprekings betrokke te raak. Dit het vir my nodig geword om die onderskeid te tref tussen emosionele intelligensie en selfsensuur.

Ek sal nie sensuur toepas op myself ten opsigte van die politieke aard van my boodskap nie, maar ek sál baie versigtig nadink oor of ’n metafoor wat ek tien jaar gelede met sukses sou gebruik het nou nog deug.

Ek sê steeds wat ek wil sê, maar gebruik dalk nou net ’n ander metafoor. Deesdae vra ek myself af of die politieke invloed van ’n spotprent so erg besoedel of aangetas sal word deur van die geraas daaromheen dat dit die wyse waarop die spotprent kommunikeer, belemmer.

Daar het dus ’n groei plaasgevind in jou denke en werk?

Tot ’n mate. Soos jy weet, is ek iemand wat ten gunste is van ’n genuanseerde benadering tot al hierdie dinge. Benewens groei is dit ek wat aanpas by iets waarvan ek nie hou nie.

Jy gaan nie jou rol as politieke kommentator afskaal nie?

Nee, maar ek gaan net soms minder praat.

Laaste gedagtes?

Wanneer ek groot omstredenheid en kritiek oor my werk beleef, is dit vir my belangrik om te dink dat my politieke ingesteldheid nie verander het nie; dat ek nog dieselfde mens is as wat ek was en my steeds met dieselfde kwessies bemoei as toe ek saam met baie ander mense in die media en die kunste en die burgerlike samelewing ’n aktivis was wat teen die apartheidsregime geveg het. ’n Mens sien nou van dieselfde soort euwels wat weer kop uitsteek . . . As jy byvoorbeeld na Marikana en Esidimeni kyk, sien jy ’n absolute minagting deur amptenare en owerhede vir gewone mense. Ook met polisiebrutaliteit. Of ’n klein elite wat hulself deur grypsug bevoordeel.

So ek dink vir solank as wat ek hierdie spotprente doen, sal ek probeer om dieselfde waardes na te streef as wat ek nog altyd gedoen het. Gelukkig is daar wonderlike mense onder ons. Mense soos Pravin Gordhan en Thuli Madonsela en Makhosi Khoza en al die mense in die burgerlike samelewing en die media, en na my mening ook nog mense in van die politieke partye.

Ek praat deesdae van fracturing, want ek het nie meer enige geloof in enigiemand – insluitend Cyril Ramaphosa – wat ’n ANC-presidentskandidaat is nie. Dis vir my nogal hartseer om dit te moet sê.

* Hasta la Gupta, baby! word deur Jacana uitgegee en kos R175.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Cyril Ramaphosa  |  Zapiro  |  Spotprente  |  Gupta-Familie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.