Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Kaap moet afstig omdat SA hom boelie en mishandel’

Die Damaskusoomblik waarin hy besef het hy moet hom vir die afstigting van die Wes-Kaap van die res van Suid-Afrika beywer, was in die NG Kerk in Wellington, sê Phil Craig aan Murray La Vita.

Phil Craig , een van die stigterslede van die Cape Independence Advocacy Group. Foto: Verskaf

“Ons in die Wes-Kaap is in ’n verhouding met die res van Suid-Afrika waarin ons mishandel word – hulle is soos ’n eggenoot wat boelie en domineer en glád nie belang stel in wat ons wil hê nie. Hoekom sal ons dan in die verhouding wil bly?”

Aan die woord is Phil Craig (50), een van die stigterslede van die Cape Independence Advocacy Group (CIAG).

Craig sê hy stel al die afgelope drie of vier jaar in die “onafhanklikheid van die Kaap” belang.

“Ek het altyd gedink dit sal die logiese teenvoeter wees vir die toenemende swart- of Afrika-nasionalisme in die res van Suid-Afrika. Dit het vir my gelyk asof dit natuurlikerwys sal gebeur dat hoe meer nasionalisties die ANC word, hoe meer gaan die Kaap rebelleer en nie vir sy eie ondergang wil stem nie.”

In die afgelope jaar het hy besef dinge “lyk nie baie goed” vir Suid-Afrika nie.

‘Damaskusoomblik’

Craig en sy gesin woon in die Bolandse dorp Wellington waar hy hom in 2004 gevestig het nadat hy uit Brittanje na Suid-Afrika geïmmigreer het.

“Ek het hier met ’n Afrikaanse vrou getrou en is nou stewig ingeburger in Suid-Afrika.”

Hy beskryf homself as ’n “reeksentrepreneur”.

“In Brittanje het ek ’n groot meubelmaatskappy gehad en hier in Suid-Afrika het ek ’n gastehuis en skoonheidspa begin. Deesdae verhuur ek ’n aantal eiendomme wat aan my behoort en ek werk as eiendomsagent vir ’n agentskap.”

Hy sê sy Damaskusoomblik was in die NG kerk op die dorp.

Ons kan nie net sit en kla oor die toekoms en hoe verskriklik dinge is en niks daaraan doen nie.

“Ek was teen die einde van verlede jaar en die eerste week van vanjaar in ’n kerkdiens hier en op albei geleenthede het die dominee gepreek oor die feit dat ons almal geroepe is om ’n doel in die lewe te hê en dat God bereid is om ons te help, maar dat Hy van ons verwag om uit die kerkbanke te kom en iets vir onsself te gaan doen.

“Ons kan nie net sit en kla oor die toekoms en hoe verskriklik dinge is en niks daaraan doen nie.

“Die eerste keer het dit werklik tot my gespreek en ek het huis toe gegaan en met my vrou daaroor gepraat. Die tweede keer – dit was ’n ander dominee, maar in dieselfde kerk – was ek absoluut seker van die boodskap.

“Ek het vir my vrou gesê: ‘Ons het die boodskap nou twee keer gekry en as ons hierop gaan reageer, gaan die reaksie nie noodwendig positief wees nie.’

“Ek het vir haar gevra hoe sy hieroor voel en sy het gesê ek moet dit doen. Ek het toe besluit ek gaan betrokke raak en het navorsing daaroor begin doen en met al die hoof- onafhanklikheidsgroepe in verbinding getree: Die Cape Party, CapeXit en die United Liberty Alliance (ULA).”

Reënboognasiedroom

Indien die CIAG sy sin kry, sal Kaapstad nie meer deel van Suid-Afrika wees nie. Foto: Bruce Sutherland

Hy het uiteindelik besluit hulle “is nie regtig die ideale tuiste” vir hom nie.

“Ek kon my waarskynlik die meeste met die Cape Party vereenselwig omdat hulle die mees inklusiewe en nierassige van die groepe is.

“Ek is lief vir die reënboognasiedroom . . . Dis nie ek wat die droom laat vaar het nie; dis Suid-Afrika wat dit gedoen het. Jy sal ook sien ons boodskap gaan baie oor alle Kapenaars; ons praat nooit oor wittes en bruines en swartes nie; tensy ons absoluut moet wanneer daardie gesprek aan ons opgedwing word.

“Ons mandaat is oor die mense van die Wes-Kaap – daar is 6 miljoen van ons. Ek sien ons almal saam; ons behoort nie deur ras verdeel te word nie. Ons wil nie onafhanklikheid hê ten einde onsself af te sonder nie – ons streef dit na ten einde ’n werklik nierassige land te hê. Maar ons moet ophou om deur die lens van ras na mekaar te kyk.

“So, die Cape Party het daardie standpunte gedeel, maar as strateeg het ek nie gedink politieke mag as sulks was die doelwit nie. Ek het ook gedink die Cape Party kan nie regtig ooit onafhanklikheid deur die stembus verkry nie.”

‘Dit is nie ek nie’

CapeXit en die ULA probeer hard om nierassig te wees, sê hy.

“Maar hulle het hierdie boodskap oor minderhede. Dis ’n regsargument, nie ’n morele ding nie. So, nou het jy hierdie dilemma . . . Hulle veg werklik vir nierassigheid, maar uiteindelik eis hulle onder internasionale reg minderheidsregte op grond van taal – Afrikaans.

“Ek verstaan dit en sal daarmee kan saamleef, maar dít is nie ek nie. Ek sien myself nie as deel van ’n minderheid nie. Ek sien myself as ’n persoon, as ’n burger, as ’n méns.

Ons wou iets hê wat waarlik nierassig is; wat gebou is om die gedeelde waardes van Wes-Kaapse burgers en om demokratiese regte as ’n kollektief.

“So, daarmee was ek nie heeltemal gemaklik nie. En ek het ook nie gedink dit is ’n boodskap wat ooit 50 plus 1 stemme in ’n referendum kan wen nie.”

Dít is hoekom daar uiteindelik besluit is om in Februarie vanjaar die Cape Independence Advocacy Group (CIAG) te stig.

“Ons wou iets hê wat waarlik nierassig is; wat gebou is om die gedeelde waardes van Wes-Kaapse burgers en om demokratiese regte as ’n kollektief.”

‘Streef na ander dinge’

’n Betoging op die Kaapse Vlakte teen geweld teen kinders. Foto: Argief

In die 26 jaar van postapartheid Suid-Afrika het die Wes-Kaap nog altyd anders as die res van die land gestem, sê Craig.

“Die ander agt provinsies het altyd in een rigting beweeg en die Wes-Kaap in ’n ander rigting. Dit maak nie saak wat ons kleur is nie, as ’n kollektief streef ons eenvoudig na ander dinge.

“Ons wil nie die ANC hê nie; ons wil nie sosialisme hê nie; ons wil nie rassisme hê nie; ons wil nie swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie hê nie . . . Al die dinge wat ons nie wil hê nie word aan ons opgedwing net omdat ons in hierdie verhouding met Suid-Afrika is.

Ál wat ons kry, is ’n politieke party wat ons nie wil hê nie, beleide wat ons nie wil hê nie, en gedrag wat ons nie wil hê nie.

“As jy die CIAG in een vraag wil opsom, dan is dit: Waarom is dit in die beste belang van die mense van die Wes-Kaap om in ’n verhouding met Suid-Afrika te wees? Vir ons is die antwoord dat daar hoegenaamd géén voordeel in is vir die mense van die Kaap om in hierdie verhouding te bly nie.

“Ál wat ons kry, is ’n politieke party wat ons nie wil hê nie, beleide wat ons nie wil hê nie, en gedrag wat ons nie wil hê nie, soos rassisme en alles wat daarmee gepaard gaan. Indien ons op ons eie was, sou ons net soveel beter daaraan toe wees.”

‘Nie regsgesind’

Hoe die CIAG van ander groepe verskil, is dat hulle opinies probeer verander eerder as om politieke mag te bekom, sê Craig.

“Ons strek oor politieke grense heen. In ons uitvoerende komitee is vyf mense en ek dink daardie vyf het almal vir verkillende partye gestem. Dis ironies wanneer mense sê ons is ’n regsgesinde organisasie, want daar is beslis geen politieke eenstemmigheid onder ons nie. Wat ons gemeen het, is dat ons almal meen die mense van die Wes-Kaap het die reg om hul eie regering te kies.

“En wanneer ons ’n onafhanklike Kaap kry, sal ons almal waarskynlik vir verskillende partye daarbinne stem, wat in orde is, want dít is waaroor demokrasie gaan.”

‘Grondwetroete nie oorweeg’

Prof. Pierre de Vos, ’n grondwetkenner, het onlangs in sy blog, Constitutionally Speaking, geskryf slegs die nasionale uitvoerende gesag en die parlement kan ’n afstigting bewerkstellig deur die Grondwet te wysig.

“Selfs as die premier van die Wes-Kaap ’n referendum uitvaardig (hy sal nie) en selfs as die meeste kiesers daarvoor stem om af te stig (hulle sal ook nie), sal die referendum steeds absoluut geen impak hê nie omdat die president en sy party nie wetlik verplig sal wees om aan die uitslag daarvan gehoor te gee nie,” skryf De Vos.

Craig sê in reaksie hierop ’n grondwet word nooit gebruik om onafhanklikheid te verkry nie.

“ ’n Grondwet is inherent ’n ooreenkoms tussen mense en hul staat. So, geen afskeiding het nog ooit deur ’n grondwet gebeur nie en geen onafhanklikheidsgroep beweer dat dit só sal gebeur nie.”

Internasionale erkenning

Wat ter sprake is, is “remediërende afskeiding”.

“Dít is ’n reg binne die internasionale reg ingevolge waarvan ’n land die ouerland verlaat met of sonder die toestemming van laasgenoemde – ironies genoeg tipies sonder die toestemming – en ander lande dan daardie staat erken.

“So, op een of ander tydstip kan die Wes-Kaap sê: ‘Ons maak onsself ’n onafhanklike land ongeag van wat Suid-Afrika daarvan dink’ en dan erken ander lande dit en begin om die gesag van die Wes-Kaapse regering te aanvaar eerder as dié van Suid-Afrika.”

Ons meen ons sal erkenning kry en ons het al begin om met lande daaroor te praat.

Hy verduidelik twee dinge moet “in plek wees” voordat afskeiding kan plaasvind.

“Daar moet ’n duidelike uitdrukking van die demokratiese wil van die mense wees – ’n meerderheid van die Wes-Kaap se inwoners moet dit steun. En dan moet daar internasionale erkenning wees.

“Ons meen ons sal erkenning kry en ons het al begin om met lande daaroor te praat; om hulle wys te maak van ons behoefte aan onafhanklikheid en op grond waarvan ons wil afskei.”

Hy wil nie in dié stadium enige van dié lande identifiseer nie.

Skending van regte

Ten einde remediërende afskeiding te kry moet ander lande glo jou menseregte is geskend.

“Hoe word die Wes-Kaap se regte deur Suid-Afrika geskend? Ons prokureur is tans besig om ’n lys voor te berei. Voorbeelde is eiendomsreg. Indien ’n land weier om eiendomsreg te erken, soos in die geval van grondonteiening sonder vergoeding, word dit as ’n skending van internasionale reg gesien. ’n Ander een is taal – indien taalregte nie beskerm word nie of daar teen ’n taal diskrimineer word.

“Die ander groot een, wat baie beduidend is met betrekking tot Suid-Afrika, is die veiligheid van landsburgers; wanneer die ouerstaat nie meer die burgers behoorlik beskerm nie. Uiteraard is ons misdaadstatistieke en onderbefondsing van die polisie in die Wes-Kaap hier ter sprake.”

indien die DA gekant sou wees teen onafhanklikheid, sal die party waarskynlik die Wes-Kaapse meerderheid verloor.

Dan is daar “politieke impotensie”.

“Dít is dat daar geen manier is waarop jy politieke selfbeskikking kan bereik deur die Grondwet nie – iets wat Pierre de Vos ironies genoeg moeite doen om in sy stuk aan te dui.

“In dié opsig kan ’n mens dan ook aandui Wes-Kapenaars stem oorwegend vir die DA – ’n party wat na alle waarskynlikheid nooit nasionaal aan die bewind gaan kom nie.”

‘DA-kiesers wil dit hê’

“As jy die CIAG in een vraag wil opsom, dan is dit: Waarom is dit in die beste belang van die mense van die Wes-Kaap om in ’n verhouding met Suid-Afrika te wees?” Foto: Verskaf

Volgens Craig toon ’n onlangse peiling wat deur Gareth van Onselen van Victory Research namens die CIAG uitgevoer is, dat 54% van Wes-Kaapse DA-kiesers nou ten gunste van volkome Wes-Kaapse onafhanklikheid is. Ook: indien die DA gekant sou wees teen onafhanklikheid, sal die party waarskynlik die Wes-Kaapse meerderheid verloor.

Hy sê in die peiling is ook bevind 65% van Wes-Kaapse DA-kiesers is ten gunste van ’n referendum oor onafhanklikheid.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het verlede week gesê om ’n referendum daaroor te hou is nié ’n opsie nie.

Craig sê daar is senior figure binne die DA met wie hy gereeld in verbinding is, wat ook ten gunste van onafhanklikheid is.

“Hulle is nog net nie gereed om dit openbaar te maak nie. Een LP het aan my gesê onafhanklikheid van die Kaap is die logiese uitkoms van ’n liberale benadering tot regering.

“Die persoon wou aanvanklik, soos baie ander mense in die DA, federalisme hê, maar het toe tot die besef gekom dit is eenvoudig nie haalbaar nie omdat dít deur die Grondwet moet gebeur en die ANC en die EFF daarteen gekant is.”

‘Op die heel hoogste vlakke’

Hy het “seker omtrent 20 mense in die DA” met wie hy tans praat.

“En wat aan my gesê word, is dat daar op voetsoolvlak wye steun vir onafhanklikheid is. Op die middelvlak is daar ook steun en word dit bespreek.

“Wanneer jy by die leierskap van die party kom, praat hulle nog net nie op die oomblik met mekaar daaroor nie, maar baie van hulle is besig om met óns te praat. Ek kan nie vir jou name gee nie, maar ek het al met mense op die heel hoogste vlakke gepraat.”

Uit die peiling het dit aan die lig gekom dat 70% van die mense wat voorstanders van onafhanklikheid is, is swart of bruin.

Afrikaanssprekende inwoners van die Wes-Kaap is glo geweldig ten gunste van onafhanklikheid. Maar die beskouing dat die CIAG ’n “wit ding is” is nie waar nie.

“Uit die peiling het dit aan die lig gekom dat 70% van die mense wat voorstanders van onafhanklikheid is, is swart of bruin.”

Dit is vir hom belangrik dat mense verstaan die CIAG “doen dit vir almal” – verál vir swart en bruin mense wat aan die kortste ent trek.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Capexit  |  Alan Winde  |  Pierre De Vos  |  Suid-Afrika  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.