Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Kalmer: ‘Die strooimeisie het die bruid geword’

Johannesburg, geliefde myndorp en stad van migrante, is ’n karakter uit eie reg in Harry Kalmer se boeke. Jo Prins het met hom daaroor gesels.

Harry Kalmer praat oor A Thousand Tales of Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

As die stad Johannesburg ’n ambassadeur moes gekies het, sou biograwe soos Clive Chipkin, David Goldblatt en Charles van Onselen waarskynlik goeie keuses gewees het.

En as dié stad, so vreemd Europees soos wat dit klink, ’n hofdigter- of skrywer moes gekies het, sou Harry Kalmer ’n goeie keuse gewees het.

Om te sê Kalmer het ’n bemoeienis met Johannesburg onderspeel dalk die manier waarop hy met die stad in gesprek tree: Hy’s in die derms van die dier, hy loop deur die niere . . . anderkant uit.

Nee, Johannesburg, geliefde myndorp en stad van migrante, is ’n karakter uit eie reg in Harry se boeke. En ’n Duisend stories oor Johannesburg (Queillerie) is niks minder nie as ’n ode aan die stad.

Dis ’n vreemde toedrag van sake vir Harry, want sedert hy die boek die eerste keer in Afrikaans geskryf het, het hy al so gewoond geraak daaraan om op die kortlys van dié of daai prys te beland.

Ek vang Harry in die middel van ’n mal week in Exclusive Books in Killarney Mall. Sedert hy die Sunday Times se Barry Ronge-prys vir fiksie met die vertaling van sy boek, A Thousand Tales of Johannesburg (Penguin) gewen het, klink dit of hy van die een onderhoud na die ander hol.

Dis ’n vreemde toedrag van sake vir Harry, want sedert hy die boek die eerste keer in Afrikaans geskryf het, het hy al so gewoond geraak daaraan om op die kortlys van dié of daai prys te beland.

En toe vertaal hy die boek . . . en hier sit ons nou.

Die strooimeisie het die bruid geword.

“Ja, dis lekker om daai tipe erkenning te kry en die geld is natuurlik baie welkom,” sê Harry gelate. Die prysgeld was niks minder nie as R100 000.

Maar ja, sê hy, hy het later opgehou om na die onthale vir die kortlyste te gaan “en seker ’n paar mense lekker die moer in gemaak”.

Vertaling ’n lang, pynlike proses

“My stuff is hier,” sê Harry Kalmer oor Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

En dié Afrikaanse boek oor Johannesburg? In watter stadium besluit ’n mens die boek moet vertaal word?

“Vroeg 2009, miskien 2010, het ek tydens African Short Story Day in die destydse Boekehuis daaruit voorgelees en net besef die mense verstaan dit nie.

“Mense kon die ritme verstaan, maar andersins nie veel nie. Vreeslik baie mense het my toe kom vra of ek die boek nie in Engels gaan vertaal nie.”

Harry het toe gewoon begin vertaal en toe het hy Melt Myburgh van Penguin Random House SA op die bekendstelling van ’n vriend se boek “raakgedrink”.

Die voorwaarde vir die boek was dat Harry ’n besonder goeie redigeerder moet hê en dié het hy in Michael Titlestad gekry.

“Dit was ’n baie lang proses . . . ’n pynlike, lang proses.

Harry se verhaal is dié van uitgewekenes en terugkerendes met die politiek van die land en dié stad as voortdurende 'backdrop'.

“In Engels het ek nie die literêre vermoë of ervaring wat ek in Afrikaans het nie. So ek het maar net my kop neergesit en vertaal.

“Maar ek dink ek is ’n eenvoudige skrywer, my taal is nogal gestroop, en dít het dit op ’n manier makliker gemaak.”

Dan lag Harry oor sy koffie en sê hy het rêrig maar net “vir die snacks en die wyn” na Sunday Times se prystoekenning toe gegaan. “Ek het geen hoop gehad nie.”

Op die flapteks van die Afrikaanse weergawe van Harry se boek staan: “Die verhaal begin dalk buite ’n konsentrasiekamp in Turffontein.

“Miskien op ’n Sondagoggend in Mei 2008 met ’n koelbloedige moord. Heel moontlik een-en-veertig jaar vantevore wanneer twee jong mense die stad moet verlaat omdat hul liefde onwettig is . . . ”

En in ’n stadium, hier aan die begin van die boek, sê een karakter: “Mag die stad waarheen jy terugkeer, mooier wees as die stad waarvan jy droom.”

Harry se verhaal is dié van uitgewekenes en terugkerendes met die politiek van die land en dié stad as voortdurende backdrop.

Johannesburg ’n gemaakte stad

Ek vra Harry oor dié bemoeienis, dié dat hy die stad as doek inspan om sy teks op te verf.

“Ag, dis maar net die plek waar ek bly,” sê Harry en laat dit klink na die gewoonste ding op aarde.

“Daar is ’n wonderlike reël uit een van Lorrie Moore se kortverhale waarin sy sê sy bly in Amerika ‘because this is where my stuff is’. En mý stuff is hier. Ek is te lui om op te pak.

“Ek het al in ander plekke gebly, Kreta, suide van Italië, Londen, maar my stuff is hier.”

Vir Harry Kalmer was die werk van Clive Chipkin onder meer ’n groot invloed. Foto: Felix Dlangamandla

Harry sê die einste pas ontslape Goldblatt het op ’n keer gesê hy hou nie juis baie van Johannesburg nie, maar hy mis dit as hy weg is.

“Maar ek hou van Joburg. Nog altyd.

“Ek is baie jonk weg New York toe agter teater aan en toe ek daar kom, besef ek teater in Joburg is so goed soos enigiets in New York – en ’n deel van my dink nog steeds so.”

Harry, wat sy brood en botter in die advertensiebedryf maak en onder meer kopieskryf doseer, sê mense saam met wie hy gewerk en gementor het en wat van hier af kom, is wérklik goed.

Joburg het soort van uit die grond uit opgestaan.

“Suid-Afrika is nogal ’n special plek – ons het baie skills. My seun is in die IT-bedryf en dis dieselle storie, hulle is migrants omdat hulle skill sets so goed is.”

Dié “migrante” bring ons weer terug na die niere van Johannesburg, en Harry lag en sê: “Ja, dis daai ou cliché. Joburg is die grootste stad sonder water.

“Joburg het soort van uit die grond uit opgestaan. As jy karakters uit die boek neem: Hulle maak bakstene uit klei uit, uit die Braamfonteinspruit uit.

“Hulle bou huise, hulle haal goeters uit die grond uit. Hulle bou geboue, hulle sit goeters op die aarde.

“Johannesburg is ’n gemáákte stad.”

Johannesburg se ‘civic memory’

As die stad Johannesburg self ’n hoofkarakter in Harry se boek is, dan is argitektuur en natuurlik die argitektuur van die stad spesifiek ook ’n belangrike “karakter”.

Dit is juis wat die vlees-en-bloed hoofkarakter, Zweig van Niekerk, ná jare in die buiteland na Suid-Afrika en na die stad terugbring: Hy is genooi om ’n toespraak oor sy argitektoniese nalatenskap te kom gee.

“Ek dink die boek is gevorm deur ander boeke. Ek hóú van argitektuur en Chipkin se boek (Johannesburg Style – Architecture & Society 1880s - 1960s) is ’n groot invloed op my.”

Harry sê dat hy en sy vrou, Sanpat, in die 80’s in ’n huis in Yeoville gebly het en dat die argitektuur van die omgewing ’n blywende indruk gemaak het.

’n Jong kunstenaar het vir my kom sê hulle behoort vir mense soos ek ’n pensioen te gee, want ek is die 'civic memory' van Johannesburg.

“Ek dink daar was ’n moment gewees baie jare gelede toe ek self nog geteken het. Ek het my dogtertjie altyd gaan aflaai by St. James in Belgravia – en Belgravia, waar die boek afspeel, is ’n baie interessante ruimte.

“Dis ’n suburb wat grens aan ’n plakkerskamp – létterlik. En baie van die geboue is nog Victoriaans en daai lyne was seker maar ’n trigger.”

Harry sê hy onthou gewoon goed. In detail.

“Met die bekendstelling van Chipkin se tweede boek het ’n jong kunstenaar vir my kom sê hulle behoort vir mense soos ek ’n pensioen te gee, want ek is die civic memory van Johannesburg.

“So, ek het ’n sterk memory. As jy kyk na van my ander werk soos Vlieger is dit baie sterk geïnformeer deur Johannesburg en sy geboue. So ja, daar is ’n onderbewustelike skakel.”

Die boek is só visueel, sê ek vir Harry, dink hy daar sit ’n rolprent in?

“Hopelik nie,” sê Harry en lag. “Dit was die finale prys wat ek nie gewen het nie, die MWeb-rolprentprys.

“Nee, dis te ongelinieerd, dis ’n roman. Ek dink nie ’n mens kan dit werklik in enige ander medium doen nie.

“Ek dink die storie is maar baie boring… hierdie ou wat sukkel om sy tweede digbundel te publiseer en hierdie ou wat huis toe kom om sy roots te herontdek.

“Dis almal maar ’n bietjie cliché’s, maar die boek het dit als soort van bymekaargetrek.”

Maar dalk is die vreemdste ding van Harry se boek iets wat eintlik agterweë gebly het: Die feit dat dit vir hom eintlik oor Afrikaans in Johannesburg gaan.

En dat hy nou dié jongste prys met ’n Engelse vertaling gewen het . . .

Meer oor:  Jo Prins  |  Johannesburg  |  Skryf  |  Vertaling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.