Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Kameroener maak indruk in liga

Die aanvanklike plan met sy aankoms in Suid-Afrika was om ’n kontrak met een van die sokkerklubs in die Noorde los te slaan, maar sowat ’n jaar later het Junior Awono van Kameroen die Stellenbosch-sokkerklub (SFC) gehelp om vir die Premierliga te kwalifiseer. Eunice Visagie vertel meer.

Junior Awono

Junior Awono (24) van Yaoundé in Kameroen het in Junie verlede jaar na Suid-Afrika gekom met die doel om sy familie ’n beter lewe te help gee.

As jongeling wou hy eintlik studeer, maar met sy natuurlike sokkertalent en die wete dat sy jonger boetie weens ’n gebrek nie kan sokker speel nie, al is dit sy groot liefde, het hy besluit om die kans te vat en te kyk of hy ’n bestaan uit sokker kan maak.

Die sokkerklubs Wits (Johannesburg) en Black Leopards (Polokwane) het hom die deur gewys. Dit is toe dat hy besluit om na Stellenbosch te kom waar die SFC ’n nuwe eienaar gekry het en die klub ’n nuwe groep spelers moet kies met Steve Barker as afrigter.

“Ek het dadelik geweet daar is iets besonders omtrent Junior. Ek het tydens daardie eerste oefensessie met hom in die groep ons nuwe uitvoerende hoof Rob Benadie gebel en hom gesê ek gee nie om hoe nie, maar Junior Awono moet ’n kontrak kry,” onthou Barker.

“Sedert ons bevordering gekry het na die Premierliga was ek nog redelik suksesvol daarin om my emosies te beheer. As ek oor Junior praat, raak dit egter moeilik. Hy is alles wat jy in ’n sokkerspeler wil hê. Hy is hardwerkend, gemotiveerd en ongelooflik toegewyd.

“Wat hom egter laat uitstaan is hoe onselfsugtig hy is. Hoe dit altyd oor die span, spanmaats en die mense om hom gaan.

“Ek sal nooit vergeet nie. In Desember, toe ons ’n paar weke met Kersfees en Nuwejaar afgehad het, het ek Junior gevra of hy wil huis toe gaan. Sy antwoord was: ‘Ek is hier om ’n taak te verrig . . . ek sal huis toe gaan as ons dit reggekry het.’ En dis nie asof hy nie sy familie gemis het nie. Dit is net hoe Junior is. Hy is ongelooflik gefokus en gedetermineerd,” vertel Barker.

By die klub se prysuitdeling vandeesmaand is Awono as die Spelers se Speler van die Jaar aangewys. Dit is ’n eerbewys waarvoor die spelers stem en dit gaan aan die speler wat in die oë van sy spanmaats die grootste invloed gehad het.

Om die trofee te kan huis toe bring en vir my familie in Kameroen te wys, laat my egter so emosioneel. Ek kan nou al sien hoe bly my mense gaan wees.

“Dis nooit maklik om spanmaats uit te sonder vir pryse nie. Om egter vir Junior te gestem het as die Spelers se Speler van die Jaar was nie te moeilik nie,” het sy spanmaat Lee Langeveldt gesê.

“Junior is iemand wat alles vir die mense om hom doen. Hy weet nie hoe om selfsugtig te wees nie! Hy speel elke oomblik vir sy spanmaats en familie.

“Hy leef ook nie vir homself nie. Hy is werklik lief vir sy familie, spanmaats, Stellenbosch en die sport sokker.

“Dis ’n voorreg om saam met hom te speel, maar nog beter om sy vriend te wees.”

Die span se kaptein, Jarrod Moroole, het bygevoeg: “Dat Junior al die pad van ’n ander land kom en ons hier in Suid-Afrika inspireer, is besonders. Hy inspireer my as kaptein.”

Awono is nie iemand vir baie woorde nie. Hy vra ook voor die onderhoud verskoning vir die feit dat sy Engels nie baie goed is nie, want Frans is sy eerste taal.

“Dis moeilik om woorde te kry om te beskryf wat die afgelope seisoen vir my beteken het. Daar is soveel mense wat ’n rol gespeel het om seker te maak ons drome word ’n realiteit. Die klubeienaars, die bestuur, my spanmaats en ons ondersteuners,” antwoord hy.

“Ek kan nou nog nie glo my spanmaats het vir my gestem nie. Daar is soveel ander spelers wat dit ook verdien het. Ek is dankbaar ek kon ’n bydrae lewer tot die klub se sukses.

“Om die trofee te kan huis toe bring en vir my familie in Kameroen te wys, laat my egter so emosioneel. Ek kan nou al sien hoe bly my mense gaan wees.

“Dit was nie maklik om die huis te verlaat en weg te wees van my familie nie. Maar dit is iets wat ek moet doen.

“Hier in Stellenbosch het ek nog ’n tuiste gevind. Die dorp is so mooi! En die mense wat nou my familie is, is spesiaal. Enige plek of klub wat ambisie het, is goed vir my . . . Stellenbosch het sommer baie daarvan.”

  • SFC het die 2018-’19-Nasionale Eersteliga gewen en daarmee outomatiese bevordering na die Premierliga gekry vir die 2019-’20-seisoen.
  • Visagie is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Profiel  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.