Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Karel Schoeman: Sy laaste dae en wense

Hy het besef dat hy in Karel Schoeman met iemand te doen gehad het wie se lewe en besluit om sy lewe te beëindig op ’n besondere wyse uniek was, skryf Willem Landman in dié verkorte uittreksel uit Wreed én mooi is die dood.

Dié foto van Karel Schoeman, een van die grootste Afrikaanse skrywers, is in 1973 geneem. Foto: Argief

Dit was Oujaarsaand 2016, ons uitgebreide gesin was met vakansie in Plettenbergbaai, toe ’n e-pos op my selfoon verskyn. Van die skrywer Karel Schoeman.

Ons het 39 jaar tevore in Pretoria ontmoet, pas nadat ek van my studies uit Oxford in Pretoria aangekom het om ’n pos by Unisa te aanvaar. Dit was ’n vriendskaplike kennismaking waarna ons nie weer kontak gehad het nie.

In die e-pos verduidelik hy dat hy my kontakbesonderhede op DignitySA se webwerf gevind het en vra my uit oor versterwing – om te vas tot die dood – waaroor hy in Nederlandse bronne gelees het.

En só begin ons gesprek – wat oor vier maande sou strek en dosyne e-posse en twee besoeke aan hom sou insluit – oor sy voorneme om sy lewe te beëindig.

Ek antwoord dat ek met vakansie is en oor sowat tien dae inligting sal stuur. Elf dae later herinner hy my aan my belofte en dat dié kwessie vir hom “van aansienlike belang is”. En só begin ons gesprek – wat oor vier maande sou strek en dosyne e-posse en twee besoeke aan hom sou insluit – oor sy voorneme om sy lewe te beëindig. Ek het hom van uitgebreide leesstof oor besluite ten opsigte van selfdood voorsien: etiese oorwegings, die regsposisie, ’n lewende testament en praktiese aspekte rakende verskillende metodes van selfdood.

Dieselfde dag skryf hy terug met ’n breedvoerige uiteensetting van sy situasie en som sy navraag só op: “Die vernaamste probleem is egter dat ek van so min beskikbare alternatiewe weet wat nie onaangenaam is vir sowel myself as die omgewing nie (in wie se swembad of plaasdam kan ek my gevolglik verdrink?)”

Ek het aangeneem dat dit ’n besluit was wat hy moontlik êrens in die toekoms sou uitvoer aangesien hy nie terminaal siek was of ondraaglike lyding verduur het nie. Hy het my egter duidelik laat verstaan dat nét die uitvoering van sy besluit ter sake was.

“Ek besef dat ek nog heelwat het om te gee (nie meer “baie” nie), maar dit is vir my noodsaaklik dat ek die besluit wat implisiet reeds lankal geneem is, betyds uitgevoer het – voordat ek, om maar net ’n voorbeeld te noem, wakker word en ontdek dat ek in die nag ’n beroerte gehad het en eensydig verlam, sprakeloos en inkontinent is (soos my eie moeder).” [14.01.2017]

’n ‘Voltooide lewe’

Een van die laaste foto’s wat van Karel Schoeman geneem is. Foto: Argief

Vir Schoeman het sy besluit gegaan oor oudword en oudwees, die aftakeling en verval van die liggaam en wat dit behels, die gepaardgaande angs en vervreemding van die wêreld; kortom, oor dit wat hy “ ’n voltooide lewe” genoem het. Ná ’n “gebroke en onrustige nag” skryf hy ’n paar dae later aangrypend oor dié gewaarwording.

“Toe ek jonger was, het dit my soms ontstel om die verre, ongefokusde blik van bejaardes te sien, hierdie aanduiding van die feit dat hulle nie verwerk wat rondom hulle gebeur of daarop reageer nie, maar weggeglip het uit ons kring en nie meer deel is van ons werklikheid nie; asof dit die enigste werklikheid sou wees wat bestaan.

“Vandag besef ek soms dat ek op dieselfde manier deur my oë kyk, dat ek nie verstaan wat met my gebeur of wat iemand vir my sê nie, en dat die feit my nie meer ontstel of selfs maar net hinder nie, en dat ek eenvoudig wag dat dinge gebeur en verbygaan, in die sekerheid dat ek geen deel meer daaraan het of, sover dit mý betref, hóéf te hê nie.” [17.01.2017]

Prof. Willem Landman wat Karel Schoeman in sy laaste dae bygestaan het. Foto: Adrian de Kock

Die reg op “selfbestemming” (lateraan het hy deurgaans van “selfbeskikking” gepraat) – die reg om ons eie keuses te kan maak – was vir hom die basiese beginsel waarop sy besluit berus het. Schoeman het moeite gedoen om seker te maak dat ek – en ook die breë publiek – goed begryp hoe hy tot sy besluit gekom het.

“Ek dink die meeste mense het instinkmatig simpatie met diegene wat hul lewe weens ondraaglike pyn ens. wil beëindig, selfs as hulle dit nie goedkeur nie; maar nes ek vasstel dat jonger mense nie verstaan wat dit beteken om oud te word of wees nie, verstaan hulle ook nie die lewendige angs vir die aftakeling en alles wat dit verder inhou . . . hulle kan (nog) nie die werklikheid van dit alles besef nie, soos hulle abstrak tog wel die werklikheid van pyn kan verstaan. Vandaar bv. jou bemoedigende wekroepe oor ‘dalk oor ’n hele paar jaar’ en ‘alles wat ek nog kan presteer’. Oor sulke dinge kan die betrokkene self die beste oordeel . . . en ek het jou reeds meermale meegedeel dat ek dit al sewe jaar oorweeg en nooit teruggekom het op my poging van meer as ’n jaar gelede nie.” [’n Verwysing na sy mislukte selfdoodpoging deur ’n oordosis fyngemaalde slaappille in te neem.]

En later dieselfde dag: “. . . pyn (bv. by iemand wat aan kanker doodgaan) kan bepaal en byna gemeet word; die pyn van aftakeling en verval nié.” [20.01.2017]

Genoegsame morele grond vir selfdood?

wreed en mooi is die lewe

In daardie stadium het Schoeman versterwing as metode tot selfdood gekies. Namate ek die logistiek met hom bespreek het, het hy later al meer vertwyfelinge ontwikkel.

Ondanks sy voorbehoude oor versterwing – veral die uitvoerbaarheid daarvan omdat dit noodwendig ander mense sou betrek, in moeilike posisies plaas of ontstel – het Schoeman besluit om tog daarmee voort te gaan. Ná my besoeke sou hy met potensiële betrokkenes oor die logistiek van die proses praat en persoonlike en finansiële reëlings tref. Sy prokureur sou hom besoek vir die ondertekening van ’n lewende testament, wat ek sterk aanbeveel het.

Ná ’n skrywe op 19 Februarie was hy vier weke lank doodstil. Ek het hom met rus gelaat, wetende dat hy die nodige reëlings probeer tref.

Meer as ’n maand later, op 21 Maart, laat hy weer van hom hoor: die probleme met sy beoogde versterwing is nie opgelos nie. ’n Private verpleegdiens het hom ingelig dat hulle hom nie kan bystaan nie: Hulle het nie genoegsame opleiding nie, dit kan negatiewe gevolge in die arbeidsomgewing hê en dit is “’n wrede proses” waaraan hulle aandadig sou wees. Boonop druis dit in teen die geloofsoortuigings van die onderneming se hoof, wat glo daar is “makliker maniere om selfdood te bewerk sonder om ander mense te betrek”.

’n Problematiese aspek van Schoeman se versoek om bystand met sy beplande selfdood was dat hy nóg terminaal siek was, nóg ondraaglike pyn verduur het. Die vraag was dus of ouderdom wat gepaardgaan met erge aftakeling van liggaam en gees én die afwesigheid van ’n terminale siekte of ondraaglike pyn, genoegsame morele grond vir selfdood is. En sou iemand moreel geregverdig wees om in sodanige omstandighede bystand te verleen?

’n Lewe van skryf, skryf, skryf . . . Enkele van die boeke wat Karel Schoeman geskryf het. Foto: Adrian de Kock

Reeds vroeg in ons korrespondensie het Schoeman ’n kritieke element van sy toestand – hier gekoppel aan ’n droom – onder my aandag gebring: “Ons korrespondensie vind plaas onder die oorkoepelende leuse ‘Slot van die dag’ sodat ek jou in die gebruiklike kompulsiewe drang tot verwoording ook wil meedeel dat ek heelnag, soos dit vir my gevoel het, gedroom het van wit velle papier met teks foutloos in dubbelspasiëring getik, waarop ek passasies gesoek het wat ek wou wysig of korrigeer: daar was niks anders as die wit papier nie, maar tog was dit nagmerrieagtig, en ek het onrustig geslaap.” [17.01.2017]

Toe reeds, maar veral in die maande daarna, het ek besef dat ek met iemand te doen het wie se lewe en besluit om selfdood te pleeg, op ’n besondere wyse uniek was. Vir bykans sestig jaar was sy lewe een van skryf, skryf, skryf. Sy lewe was feitlik geheel en al gestroop van wat vir die meeste van ons alledaags is: samesyn met familie en sosiale verkeer met vriende; kontak met die buitewêreld via die radio, televisie of koerante; sport of ’n stokperdjie; ontspanning oor naweke of tydens vakansies. Selfs sy besoeke aan Europese stede was nie vakansies nie, maar oorwegend geleenthede vir waarneming en verwoording. Juis dié kompulsiewe oorgawe aan verwoording het na my mening sy onvergelyklike produktiwiteit moontlik gemaak.

Tydens my besoek aan hom was dit byna ontstellend om te verneem hoe sy dag normaalweg verloop: Hy het sy bes probeer om sy rekenaar te vermy, maar telkens word hy na sy lessenaar teruggedryf waar hy ure lank werk totdat hy volslae uitgeput is en sy pad bed toe vind, waar die slaap hom dikwels ontwyk. Wanneer hy skryf was dit asof iets van sy liggaam en gees besit geneem het; iets wat deur hom gewerk het sodat hy as’t ware net as ’n “kanaal” gedien het.

’n Afgetakelde gees

Karel Schoeman gesels oor sy werk. Foto: Argief

Dié ontboeseming het my gehelp om te verstaan waarom Schoeman sy lewe as, in sy woord, voltooid beskou het. Gevolglik het ek goeie rede gehad om sy oordeel oor sy voortgesette lewe te aanvaar.

Hy was ’n hoogs bejaarde 77 en lewensmoeg. Sy liggaam was weliswaar nog nie geheel en al afgetakel nie, maar sy gees wel. Hy het verskeie gesondheidsprobleme gehad en het moeisaam, meestal met die hulp van ’n loopraam, beweeg. Hy het wel verlangse familie gehad – hoewel hy die teendeel beweer het – maar weinig, indien enige, kontak met hulle gehad. Die huishulpe en Marie Rheeder was waarskynlik die enigstes wat tussen hom en ’n volslae kluisenaarsbestaan gestaan het.

Dit was duidelik dat sy lewe, wat hom betref, afgehandel was en dat hy sy reg op selfbeskikking wou opeis deur ’n vrye keuse oor sy lewe uit te oefen en dit deur te voer. Daarmee sou hy aan die aftakeling weens ouderdom en die dwingelandy van voortdurende arbeid ontsnap voordat dit sy selfbeskikking en vrye keuse uitskakel.

Waarom vind ons dit goed om ’n medemens deur sy of haar hele lewe op allerlei maniere by te staan, maar dan hulp weier wanneer dit by die einde kom?

Wie was ek om hom te oordeel? Waarom sou andere kon verwag dat hy ’n verpligting het om te bly leef, veral indien hulle onvertroud met of onbetrokke was by sy omstandighede? Veral hy wat deur sy lang lewe onverpoos gewerk het en dosyne boeke en geskrifte gepubliseer het wat soveel mense se lewe mateloos verryk het en dit steeds doen.

Het Schoeman aan depressie gely? Dit is moontlik, maar depressie sluit nie summier rasionele denke uit nie, selfs nie in die geval van kliniese depressie nie. Hy het helder en beredeneerd gedink, soos sy e-posse ook duidelik toon.

Sommige mense reken dat selfdood moet geskied sonder bystand van ander; dat dit ’n volledig private saak moet wees, selfs al verkeer so iemand in terminale sterwensnood. Behalwe dat dit makliker gesê as gedaan is, is die vraag waarom ons dit goed vind om ’n medemens deur sy of haar hele lewe op allerlei maniere by te staan, maar dan hulp weier wanneer dit by die einde kom – onafwendbaar vir ons almal – wat vir sommige met oneindig meer lyding gepaardgaan.

Dit rym eenvoudig nie. Ons dien maklik pynmedikasie toe wat in talle gevalle die lewe verkort; eweneens is daar mense wat met goeie reg vra dat hul sterwenslyding kortgeknip word. Hulle het na my mening ’n sterk saak, want daar is geen wesenlike verskil nie.

’n Oorwoë wilsbesluit

Die probleem met Schoeman se versoek om bystand met selfdood was egter dat hy nóg terminaal siek was, nóg erge pyn verduur het. Ek was en is egter oortuig dat hy, met die hulp van al die inligting wat aan hom verskaf is én deur ons eerlike en openhartige gesprekke, ’n rasionele denkproses gevolg en ’n oorwoë wilsbesluit geneem het. Ek het hom nie onder druk geplaas of aangemoedig nie; hopelik het ek hom in staat gestel om die beste moontlike besluit vir hom te neem.

Kortom, ek het uiteindelik geen beswaar daarteen gehad om hom by te staan nie, al was en is dit nie deel van DignitySA se werksaamhede nie. Ek het dit in my persoonlike hoedanigheid gedoen omdat ek hom geken het en verstaan het waarom hy sy lewe as voltooi beskou het.

Teen hierdie agtergrond en wetende dat versterwing nie meer ’n opsie was nie – die uitweg wat hy so hoopvol aangegryp het, maar wat nou vir hom ’n doodloopstraat geword het – het ek op 6 April die volgende hulp aangebied: “Indien jy weer mag oorweeg om iets te gebruik eerder as versterwing, sal ek met X praat.”

X is ’n goeie kennis van my, ’n professionele persoon met wetenskaplike kundigheid oor middele wat ’n mens kan inneem om selfdood te pleeg, wat weet hoe om so ’n middel te bekom en wat in sy private hoedanigheid optree. Hy was bereid om Schoeman by te staan. Die middel sou onafhanklik van die vervaardiger deur ’n gerespekteerde professionele instansie gesertifiseer wees, iets waaroor Schoeman navraag gedoen het.

Op dieselfde dag antwoord Schoeman: “As X sou kan help soos deur jou voorgestel, sou dit vir my ’n groot verligting wees, waaroor ek opreg dankbaar sou wees. Kyk asb. wat jy kan doen!”

Die volgende dag het hy daarby aangesluit: “Nogmaals dankie. Jy het my nuwe hoop en moed gegee, juis toe die weiering van die verpleeginrigting my diep ongelukkig en huiwerig gemaak het oor die las wat ek op die orige lede van die “spannetjie” plaas. Al wat ek ten slotte sélf moet doen, is doodgaan.” [07.04. 2017]

Hierna het ek Schoeman en X per e-pos aan mekaar voorgestel, wat my deurgaans ingesluit het by hulle korrespondensie. Schoeman was byna kinderlik bly en dankbaar vir die vooruitsig om sy lewe af te sluit:

“Ek is self steeds nog verwonderd oor die manier waarop alles heeltemal onverwag en onvoorsien oor die afgelope week verander en verder ontwikkel het. Daar bestaan geen Toeval nie (om maar by hierdie naam te bly), dog elke onderskeie lewe het sy eie vasgelegde patroon, soos ’n Persiese tapyt (of dalk ’n Sotho-kombers?).

“Maar eintlik is die hele Lewe een gedurig volgehoue wonder, slegs sien en waardeer ons nie die feit nie. Ek kan maar net (verwonderd, soos ek sê) diep en innig dankbaar wees.

“Ek sit my hand op my mond en swyg, soos daar glo êrens in die OT staan. Gaan slaap nou asseblief tog. (Ek vermoed jy is met ’n rekenaartoetsbord in jou hande gebore.)” [12.04.2017]

Dit was tog veel eerder op hóm van toepassing! het ek gedink.

3 reise na Lesotho

Die boek wat Schoeman oor sy laaste reis na Lesotho geskryf het. Foto: Argief

In die maande voor sy dood het Schoeman drie reise na Lesotho – “in die tyd dat die Oos-Vrystaat en Lesotho op hul mooiste is” – onderneem. Veral die laaste reis wat ’n week voor sy dood voltooi is, was noukeurig beplan omdat die middel wat hy sou inneem op 25 April afgelewer sou word.

Op die bestemde dag het hy my laat weet: “Gemoedsrus volkome; my vernaamste en oorheersende gevoel een van dankbaarheid vir alles, en ’n sekere mate van reikhalsing na die koms van die koerier.”

Dieselfde dag skryf hy aan X: “It is close on two o’clock and I had just started an e-mail to you to enquire (not understanding the tracking process) when there was a knock on the door and the blessed consignment was delivered, to my great joy and relief. Thank you once again, and may you long remain able to provide aid to those in need of it, or better still, live to see a change in conditions which will make this procedure unnecessary. Alles wat goed is verder (which W. can translate for you).”

Hierna sou hy laaste reëlings tref en die April-langnaweek in afsondering en stilte deurbring. Selfs sy laaste aand in hierdie lewe het egter nie rustig verloop nie. Die volgende dag het hy die “volledige drieledige verslag” van sy besoeke aan Lesotho aan sy uitgewer gestuur. “Ek het dit om halfag gisteraand onder groot druk voltooi, en my toe summier bed toe begewe.”

Enkele ure voor sy dood op Werkersdag, Maandag 1 Mei, het Schoeman om 14:25 ’n laaste e-pos gestuur, waarskynlik die laaste woorde wat hy geskryf het: “Die afgelope week was besig, alhoewel ek beoog het dat dit stil sou wees, en vandag (vir my steeds Meidag en die begin van die lente) het ek dus ook J&M [Jemina en Mamohau] gevra om nie in die oggend te kom nie.

Emina Meko en Mamohau Lekulu, twee huishulpe wat vir Karel Schoeman gewerk het. Foto: Mlungisi Louw

“Daar is geen etensaflewerings of tuinmanne nie, my onmiddellike bure sien en hoor mens nooit en ontvang byna geen besoek nie, en die verkeer in die straat is traag en gedemp. Dit is ’n warm, stil herfsdag met blare oor die grasveld en bye en skoenlappers in die blou salvia, en ek het tot dusver nog met geen mens gepraat nie.

“(Wel vind ek terloops in die afgelope weke dat ek van tyd tot tyd hardop praat, in Nederlands, met ’n wese wat ek as “God” aanspreek, nog altyd met ’n hoofletter.)

“Hiermee het die tyd dus aangebreek om jou kumulatief te bedank vir al die hulp, bystand en inligting wat ek van jou mog ontvang, en bowenal die onverwagte uitkoms op die laaste oomblik, waarvoor ek opreg dankbaar is. Mag dit vir jou/julle nog lank moontlik bly om ander mense op hierdie manier te help, in elk geval solank die algemene situasie in Suid-Afrika ongewysig bly. En daarby ook ’n vreugdevolle en verrykende aftrede vir jou tussen die beklemmende bergerye van die Boland, met moontlik nog ’n aantal nuwe werksaamhede wat wag om ontdek te word.

“Met groete ewe goed aan X. (Terloops, ten spyte van sy blye optimisme is dit vir ’n bejaarde/verswakte glad nie so maklik om die metaaldoppie deur- of afgesny te kry nie.) Moenie moeite doen om hierop te reageer nie, want ek is van plan om my rekenaar nou simbolies af te skakel.”

‘Dit is die laaste wat ek sal sien’

Tydens ’n besoek aan Schoeman in sy woonstel in Bloemfontein het ’n merkwaardige ding gebeur, veral vir iemand wat so uiters privaat soos hy kon wees. Hy het gevra dat ek na sy slaapkamer gaan, op die bed gaan sit, die omgewing bekyk en aan hom terugrapporteer wat ek gesien het. Ek het aan sy versoek voldoen.

Op die spieëlkas oorkant die voetenent van sy bed het ’n Boeddhabeeldjie gestaan. Voor die venster regs was gordyne wat oopgetrek was en kantgordyne wat toegetrek was. Dié behangsels het in die wind gespeel, die lig het skadu- en ligstrepe teen die voue geskep. Deur die kantgordyn kon ’n mens die groen van bome en die blou van die Vrystaatse lug sien.

Hy het tevrede gelyk met my rapport en peinsend opgemerk: “Dit is die laaste wat ek sal sien. Die beeldjie en die venster met die kantgordyn . . . en die groen en blou daardeur.”

* Wreed én mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling is deur Tobie Wiese saamgestel en word deur Jonathan Ball uitgegee. Dit kos R270.

Meer oor:  Karel Schoeman  |  Bloemfontein  |  Lesotho  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.