Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Inge Kühne gesels met Karen Meiring
Karen Meiring op sestig: kurator van die Afrikaanse kunste

Sommige mense tiek boksies, sê een van haar vriende. Maar nie Karen Meiring nie. Sy wórd dit wat sy doen. Sy was Cutt Glas. Sy was die KKNK. Die afgelope 12 jaar al ís sy kykNET.

Karen Meiring

Karen Meiring is so deel van die Afrikaanse kunste soos rock op die vlaktes, soos eersteklas-toneel in plattelandse skoolsale en, ja, soos die helder ligte in die sepie-ateljees.

Trek nou daardie kollig nouer tot waar dit alles begin het. Omdat haar ouers bankamptenare was, het hulle heelwat rondgetrek. Hier in haar vroeë hoërskooljare woon die gesin op Estcourt. Woensdagmiddae sluit die bank en dan ry hulle Durban toe waar pa Carl by die kunstesentrum sangklasse neem onder leiding van die Italiaanse Madame Davia.

Karen en Sanet, drie jaar jonger, sit op die trappies en luister na hul pa se lieflike sangstem. “Hy kon ’n top C net só sing,” onthou Karen.

Haar liefde vir die kunste het saam met daardie Italiaanse arias in haar hart kom sit. Haar eerste verhoog het sy met haar pa gedeel wanneer hulle saam gesing het op troues.

Carl het geduik én rugby gespeel vir die destydse Natal en sy twee dogters totaal begeester. Later jare sou Sanet tien jaar lank Springbok-hokkie speel.

Dis Karen. Altyd op pad na die son toe. Na lig en warmte toe.

En deur alles, altyd, was daar die bank. Ma Christine was ’n kassier en Carl sou later bankbestuurder word. “Ek het in die bank grootgeword. Ons het leer geld tel in die bank,” sê Karen. Kleintyd al ’n spaarboekie gehad, en toe sy universiteit toe is, het Carl haar gehelp om haar eerste aftreepolis te koop.

Koos Bekker, wat haar in 2009 as kanaalhoof van kykNET aangestel het, bestempel Karen as een van die beste TV-hoofde wat Suid-Afrika ooit geken het. Hy sê dié werk verg dat jy op verskeie asse kan presteer: kuns, politiek, tegnologie, verbruikersielkunde, geld.

Dis asof die samevloei van invloede uit haar huis uit, die aanvoeling vir kuns én sake, en die veggees van die sportveld Karen kleintyd al daarvoor toegerus het.

In 1979, ná matriek aan die Hoërskool Silverton in Pretoria, is sy Pukke toe.

“My ma het gesê: ‘Pak jou tas. Ons gaan Potchefstroom toe.’ Dalk was dit die CHO . . . chips, hamburgers en ontug,” onthou Karen die studentegrappie.

Karen se pa, Carl Meiring, in kostuum.

“Nie ek of my ma of my pa was al ooit in Potchefstroom nie. So ons ry, en dan kom ons by Klipdrift (Barkly-Wes) of iewers en dan sê ek: Is dit nou Potchefstroom? En ek dink, wat gaan ek swot? Oukei, ek kan sing – dít het ek geweet. Maar gaan ek nou musiek swot?”

Sy beland toe in ’n BA met dramavakke saam met mense soos Gerrit Schoonhoven, Hannes Muller, Deon Maas, Aletta Alberts en Janine Opperman, deesdae hoof van vermaak en realiteit by kykNET.

Ses keer per jaar is die dramastudente Johannesburg toe vir vertonings. Op een van dié uitstappies het pa Carl gesing in die opera Lucia di Lammermoor by die Johannesburgse Stadskouburg. Karen wou hom agter die verhoog gaan groet, maar hulle het mekaar misgeloop.

Op pad huis toe ná die laaste vertoning van Lucia di Lammermoor is hy dood. Sy motor het van die pad af gery. Op 42, nes haar oupa en haar oom.

“Daar was maar die gedagte dat hy ’n hartaanval gehad het. Dit was die grootste skok in my lewe. Die grootste seer in my lewe.”

Cutt Glas doen agtergrond vir Ralph Rabie.

Vir ’n lang tyd het sy geglo sy gaan ook nie ouer as 42 word nie. “Totdat my ma eendag vir my gesê het: ‘Karen, kom nou oor dit. Jy is ’n vrou. Hulle was al drie mans’. ”

Ná ’n honneurs en pas getroud met die akteur André-Jacques van der Merwe is Karen aangestel as assistent-verhoogbestuurder by Sukovs in Bloemfontein.

“Ons het sulke blou overalls gedra en jy maak net skoon. Jy maak koffie, jy was die koppies en jy was die vloere. Ek kon ’n manshemp stryk in minder as twee minute. Ek het famous mense se klere gewas. Ek kyk hulle vandag so, dan dink ek, ja, joune . . .”

In 1987 het Sukovs ’n operageselskap begin. “Hulle stel my toe sowaar aan as ’n alt!”

Van daar af het sy haar “opgewerk”, skerts sy. Tweede sopraan, toe sopraan en toe eerste sopraan.

Karen (voor) en May Abrahamse in Amahl and the Night Visitors.

Dit was soos ’n droom.

“Ek kon nie glo nie ek gaan sit nege-uur in die oggend met ’n boek vol musieknote voor my en ons begin sing . . . en so sing ons die hele dag.”

Daar was wonderlike produksies, van barok-operas tot komiese goed. Saam met Mimi, Gé, The Merry Widow met Dawie Couzyn. Judy Page. Hello Dolly en Mame. En hoofrolle – veral seunsrolle – soos in Amahl and the Night Visitors met May Abrahams van die Eoan-sangers in die rol van haar ma.

“En ek waitress saans. Ek kan nie onthou dat ek ooit net een ding gedoen het nie. Om ’n kombi te bestuur op toer het hulle ons R5 per dag ekstra betaal, dan bestuur ek maar.”

Teen 1990, met haar huwelik by sy einde, het Johannesburg geroep. Die geleentheid was Joseph and his Amazing Technicolor Dreamcoat saam met Alvon Collison en Ian von Memerty.

Karen het haar eie onderhandeling gedoen en toe die ink droog raak op die kontrak, is sy die bes betaalde engel in Joseph.

Saam met haar suster, Sanet.

Tweehonderd shows, myle op die bus, ure in die kleedkamers aan’t sing saam met die ander engele en iewers langs die pad is Cutt Glas gebore.

Hulle sou uiteindelik 20 jaar op die pad wees.

Karen, met haar kop vir besigheid, het vroeg al die groep begin bestuur. “Eers net die geldsake. En toe besef ek nou moet ek vir ons begin werk skep.”

Nie lank nie, toe het sy ander kunstenaars ook op haar boeke.

Een van hulle was haar ou studentemaat Ralph Rabie vir wie sy op die Puk ’n agtergrondsanger was.

Nou het Ralph die golf gery as Johannes Kerkorrel en Karen het hom – en sy toerkombi – vir ses jaar lank bestuur.

In die bussie het die bottel tequila dikwels uitgekom en ook twyfelagtige kruiekoekies waarvan Karen in haar onskuld te lekker geëet het.

“En ek besef nie dis nie gewone kruie nie. So ek het daardie toer redelik vrolik deurgemaak sonder dat ek geweet het hoekom.”

Toe die Nuwe Suid-Afrika einde 1994 sy sit kry, vra die dramaturg Pieter Fourie vir Karen om te kom help om ’n Afrikaanse kunstefees in Oudsthoorn te reël.

“Ek het so ’n tweedehandse BMW’tjie gehad en ek het pas ’n rekenaar gekry. Toe ry ek maar alleen met my eerste selfoon, so ’n baksteen, van selfoontoring tot selfoontoring. En ek kom in Oudtshoorn aan en daar begin ’n ongelooflike nuwe fase in my lewe.

“Daar was baie vrese in 1995. Dat Afrikaans van die televisie af gaan verdwyn. Die streeksrade het weggeval. En daar was hierdie gevoel by die KKNK kon ons Afrikaans vreesloos wees.

“Dit het die fees aan die een kant bagasie gegee. Dat dit gaan oor laertrek. Of soos Pieter-Dirk Uys daardie jare gesê het: ‘Laer as dit kan ons nie.’ Dit was moeilik om daardie persepsie af te skud. Maar vir ons het dit gegaan oor die kunste. Om die kunste te vier in Afrikaans.”

Voor die fees het hulle lorries gehuur en toneelstukke en musiekproduksies na 16 omliggende dorpe toe gevat, na gemeenskappe waar die kunste selde nog was.

“Ek onthou ek en (die skrywer/resensent) Barrie Hough het op ’n bakkie gestaan en gekyk hoe mense reageer, mense wat vir die eerste keer in hul lewens só iets sien. Barrie het gesník. Dit was ’n belewenis.”

Ná 14 jaar het Karen gevoel die fees het ander energie nodig. En sy ook.

Sy is Stellenbosch toe waar sy die Oude Libertas-teater bestuur het totdat sy drie jaar later die aanbod aanvaar het om kanaalhoof van kykNET te word.

Van televisie het sy min geweet. Van die korporatiewe wêreld nog minder.

Maar daar was genoeg vryheid sodat sy ook dié boksie haar eie kon maak.

“Ek is ’n saakgedrewe mens. Dit is vir my die mees volhoubare manier om dinge te doen. Met kykNET is die mandaat Afrikaans. Die eerste ding wat vir my belangrik was, was hier sit kykNET in die duurste pakket op DStv. En ek vra: hoe gaan ek dit toeganklik kry vir meer mense? Toe begin ons baklei vir ’n tweede kanaal op ’n goedkoper pakket.

“Daarmee saam gaan diversiteit. Ons moes inhoud skep vir meer Afrikaanse mense. Hoe maak ons Afrikaans groter? En dan kring dit uit.”

Dít is Karen se taalstryd, myle ver van die hofsake waarmee sekere Stellenbossers Afrikaans probeer staande hou.

“Ek glo daar is ’n plek vir almal. My manier van dink en doen verskil. Partykeer dink ek nie hulle verteenwoordig my nie,” sê sy. “Vir my is dit eerder ’n ding van skep: skep geleenthede, skep werk in Afrikaans.”

Toe kykNET & Kie bykom, moes daar inhoud geskep word vir die nuwe gehoor. Dit het gelei tot Suidooster en ’n noordelike gehoor is blootgestel aan hoe mense in die suide leef. En toe Arendsvlei, sê Karen.

Karen het ’n gut vir wat sal werk, sê dié wat haar ken.

“Ek dink ervaring het baie daarmee te doen. Om met Cutt Glass vir 20 jaar deur die land te toer en mense se reaksies te ervaar, leer jou waarvan mense gaan hou en waarvan nie.”

Sy het foute gemaak. Grotes. “Partykeer is al wat jy daaruit leer, om dit net nooit weer te doen nie. Maar ek kan nie sê ek leef met spyt nie.”

Wanneer dinge skeefloop, is dit Karen vir wie die kykers persoonlik takel, op sosiale media of in woedende briewe.

“Ja, dis moeilik. Aan die begin . . . jy trek dit jou persoonlik aan. Ek het al ’n e-pos gekry van iemand wat sê: ‘Ek haat jou, jou drek’. ’n E-pos!

“Daar is ongelooflike woede daar buite en partykeer maak jy dit net erger as jy mense aanvat. Ek wéét alles wat ons doen, doen ons met die regte bedoelings . . . om mense te vermaak, nie om hulle kwaad te maak nie.”

Dis nie net die kykers wat geniepsig is nie.

Toe die aktrise Shaleen Surtie-Richards onlangs platsak dood is, was daar aantygings dat die bedryf Suid-Afrika se kunstenaars in die steek laat. En, in die afwesigheid van kunsterade en die verval by die SABC, is kykNET en die feeste in talle mense se oë eintlik maar die bedryf.

“Dit hang af hoe jy daarna kyk. kyk­NET is deel van ’n gemeenskap. Dis ’n groot deel van die ekosisteem van die kunste en vermaak. Dis waarom ons nie net ’n TV-kanaal kan wees nie. Dis waarom ons betrokke is by die kunstefeeste en projekte skep soos die Silwerskermfees en die Fiëstas. Dis om werk te skep en om dit volhoubaar te hou.”

By Shaleen se begrafnis was daar ook kunstenaars wat kom dankie sê het vir al die werk, sê Karen.

Daar was al mense wat gesê het Karen sorg vir haar vriende.

“As mense nie ’n rol kry nie, dink hulle partykeer daar is ander redes daarvoor. Hulle dink nie hulle is moontlik net nie reg vir die rol nie. Hulle dink dis persoonlik.

“Toe ek by kykNET aankom, het Patricia van Rooyen, ons destydse uitvoerende hoof, gesê jy kan nie te naby kom aan vervaardigers of die kunstenaars nie. Altyd ’n armlengte.

“Dis die een ding waarna ek uitsien, om weer regtig te kuier saam met mense. Want dit kompliseer vriendskappe as jy beskou word as die een wat werk kan gee.

“Ek kan vir jou sê ek het bewondering en respek vir baie mense in die bedryf. Maar ek kan nie vir jou sê hulle is my vriende nie. Dis nogal eensaam, hoor. Seriously.

“En dan kry mense goed op grond van hul talente, en dan glo mense jou in elk geval nie . . .”

Nou het Covid-19 die kunste se voete onder hom uitgeslaan. Die feeste is toe, gehore bly by die huis.

“Kunstenaars is nie uniek in daardie opsig nie. Almal sukkel. Daar is baie mense in groot korporasies wat ook hul werk verloor het. Die voordeel wat kunstenaars het, is dat hulle kreatief en innoverend is.

“Die bedryf het nou gemobiliseer en nuwe instansies met gravitas is in die lewe geroep om die saak van die kunste en kunstenaars met die regering aan te vat.

“Partykeer moet ’n mens teruggaan na die mees basiese dinge toe om vir jouself werk te skep.

“Jak de Priester doen soirées by mense se huise. Met Cutt Glas het ons ook huiskonserte gehou. Vyf van ons vir 20 mense. Ons is ’n tarief betaal. Klein. Maar ons kon aan die lewe bly.”

Inge Kühne
Inge Kühne

Dis show business, sê sy, met die klem op business.

Karen het pas 60 geword, maar sy het genoeg planne om nóg ’n loopbaan te vul.

Een daarvan is Nuuseum, ’n aanlyn argief van die Afrikaanse skeppende werk en die media.

“As jy ’n brief wil soek wat Emily Hobhouse vir mev. Steyn geskryf het, dan sal jy dit daar kry. Alles op een plek. Film. Boeke. Briewe. Koerante. Dit moet ’n plek van wonder wees.”

Daar is ook ’n paar flieks in haar kop wat sy nog wil vervaardig. Miskien komedie.

En die droom wat sy kleintyd op die trappies buite die ateljee in Durban gedroom het, leef voort.

Terwyl sy by kykNET is, mag sy nie optree nie, nie sing nie.

“Maar kyk maar, eendag word ek weer ’n agtergrondsanger,” sê sy, en haar lag klink soos klokke wat lui.

Soos die Woordfees-baas, Saartjie Botha, dit stel: “Dis Karen. Altyd op pad na die son toe. Na lig en warmte toe.”

Meer oor:  Kyknet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.