Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Karen van Pretoria en die Dalai Lama

’n Afrikaanse vrou vertel aan Murray La Vita hoe sy dit reggekry het om die Dalai Lama na Botswana te laat kom vir belangrike gesprekke met Afrikaleiers.

Ngodup Dorjee en Karen Fitzgerald in haar kombuis in Pretoria waar sy die afgelope twee jaar baie van die beplanning vir die dialoog met die Dalai Lama gedoen het.

In Desember 2015 het Karen Fitzgerald in ’n parkeerterrein in Plettenbergbaai op haar selfoon ’n e-pos ontvang wat haar “amper ’n hartaanvalletjie gegee het”.

Dit was van ’n verteenwoordiger van die Dalai Lama en het gelui: “Hy sê ja.”

Waarvoor Sy Heiligheid ja gesê het, is haar voorstel dat hy Botswana besoek. Dit was vir haar soos om ’n kinderpartytjie te reël, sê die ondeunde Suid-Afrikaanse neurowetenskaplike oor die Dalai Lama se besoek in Augustus om in die openbaar gesprekke te kom voer met neurowetenskaplikes en humanitêre en spirituele leiers van Afrika soos Graça Machel.

Ek ontmoet Karen Fitzgerald op ’n aand waartydens die groot Kaapse storm woed. Saam met haar in die restaurant is Ngodup Dorjee wat sedert die begin van die jaar die Dalai Lama se verteenwoordiger in Suid-Afrika is.

Hoe het dit gebeur dat ’n Afrikaanse vrou van Pretoria gereël het dat die Tibettaanse geestelike leier na ons buurland toe kom?

“Dis ’n enkeling soos ek wat net geglo het wat kán gebeur. In 2003 het ek die heel eerste openbare kongres van die Mind and Life Institute tussen die Dalai Lama en Westerse neurowetenskaplikes by die Massachusetts Institute of Technology (MIT) bygewoon. Ek het net daar besluit: Ek wil daai verhoog hiér hê. Daai twee dae het my lewe verander. Dit het my herinner aan ’n gesprek tussen Breyten en Marthinus Versfeld in die Baxter in die 1980’s.”

Karen: “Ek stel belang in wat in die brein gebeur wanneer jy mediteer.”Foto: Magriet Theron

Mind and Life het in 1987 tot stand gekom ná ’n ontmoeting tussen die Dalai Lama, ’n prokureur en entrepreneur en ’n neurowetenskaplike. Die uitgangspunt is dat kontemplatiewe praktyke soos meditasie saam met die tradisionele instrumente van die wetenskap ingespan kan en behoort te word. Dít sal dan die wetenskap meer menslik maak, maar ook verseker dat bevindinge en insigte dieper en meer verreikend is.

“Wat ek daar gesien het, was ’n tipe sielkunde waaroor ek gedroom het. Dit was ’n tipe menslikheid waaroor ek gedroom het, want waaroor hulle gepraat het, was die resultate van studies oor hoe die breine lyk van mense met wie dit regtig goed gaan.

“In daai stadium het ek sielkunde geswot (sy was besig met ’n meestersgraad) en ek het alles geweet van wat kan verkeerd gaan in ’n brein en wat kan verkeerd gaan met mense. Maar niemand het ooit vir my gewys hoe lyk ’n Olimpiese atleet van menslikheid nie. So die paadjie was toe eenvoudig: Ek het teruggekom en ek het van voor af begin swot op 38.”

Vandag is sy ’n kontemplatiewe neurowetenskaplike wat binnekort haar doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad sal voltooi.

“Ek stel belang in wat in die brein gebeur wanneer jy mediteer. My drang om te wil wéét hoe werk ’n brein laat my dink aan die Dalai Lama wat as ’n jong seuntjie mal daaroor was om horlosies uitmekaar uit te haal, want hy wou weet hoe werk dit. Dis die een rede waarom ek ’n neurowetenskaplike wou word. Die ander rede is . . . jy weet as jy oor goedheid en compassion praat of jy praat oor hoe om jou aandag te verbeter, dan dink mense jy is ’n hippie wat deur ’n midlife crisis gaan.

“Maar as jy ’n neurowetenskaplike is met ’n doktorsgraad en jy doen contemplative neuroscience, menende jy kyk na breine wat besig is om te mediteer of die uitwerking daarvan, dan gaan daar sekere deure vir jou oop, want dan weet jy mos waarvan jy praat. So neurowetenskap het die deur geword tussen wetenskap en Boeddhisme en dit is deur die Dalai Lama oopgemaak. Húlle het al vir 2 500 jaar ’n stelsel van die mind, ’n moerse stelsel wat alles presies beskryf. Neurowetenskap is maar 150 jaar oud.”

‘Die heilige wil Afrika toe kom’

Karen het aan ’n plan begin dink om die Dalai Lama hierheen te bring.

“Ek het besef ek moet dit doen deur die vertroue van Mind and Life te wen en die manier om dit te doen, was om eerstens in 2014 ’n klein kongres saam met die Institute for Mindfulness in Suid-Afrika te reël. En toe nooi ek vier mense van Mind and Life.”

Mindfulness is ’n "sekulêre praktyk wat daarop toegespits is om die oomblik meer bewustelik, deernisvol en nuuskierig te benader sonder om in die verlede te verdrink of in die toekoms ingetregter te word". In Afrikaans word dit tans vertaal as aandagtigheid of bedagtheid.

Jy nooi tien vriende vir die kinders uit en jy koop die Coke en jy kry ’n springkasteel en dan het jy ’n kinderpartytjie. Dis nes ’n kinderpartytjie, maar vir 4 000 mense en nie vir 14 kinders nie.

“Toe die mense van Mind and Life ná die kongres in Stellenbosch vertrek, toe sê die een ou vir my: ‘Where is your map of Africa? Can you do this on a much bigger scale for His Holiness, because he wants to come?’

“Die res van die goed was toe eintlik redelik maklik, soos om ’n kinderpartytjie te reël,” sê sy met ’n vonkel in die oog.

“Einde 2014 het ek saam met Jakkie Cilliers van die Instituut vir Sekerheidstudies gesit en ons het ’n land geïdentifiseer, want ek het vir die Amerikaners gesê: Op één voorwaarde doen ek dit, dis nié in Suid-Afrika nie. Jy weet as hulle (die Suid-Afrikaanse regering) Tutu se versoek om die Dalai Lama toe te laat om die land te besoek, geweier het – ’n ou omie van 80 wat sy pêl nooi vir ’n birthday party - wat van mý, ek is nie eens iemand nie...Onthou jy toe hulle al die vorige Nobelpryswenners vir vrede Kaapstad toe sou nooi? Dít het ook deur die mat geval. So, wie de hel is Karen Fitzgerald wat die Dalai Lama Suid-Afrika toe wil bring? Ek kon dít nie doen nie. Dit sou nie werk nie. 

“Ek moes dus ’n ander land kry. Toe ons begin kyk na Botswana, het hulle aan al die vereistes voldoen. Aan die begin van 2015 kry ek ’n brief om te sê dis reg, pres. Ian Khama en sy hele kabinet het dit goedgekeur, op een voorwaarde: Die Dalai Lama is ’n gas van die Mind and Life Institute en nie die Botswana-regering nie.”

Die Dalai Lama se arts gee raad

Die Dalai Lama en emeritus aartsbiskop Desmond Tutu. Foto: Argief

Karen het ook in die besige jaar van 2014 in Duitsland met Barry Kerzin, die Dalai Lama se Westerse dokter wat jare gelede al ’n Boeddhis geword het, gepraat en vir hom gevra: “Hoe lyk die tipiese persoon wat op daai verhoog aan so ’n gesprek kan deelneem? Beskryf vir my daai profiel.

“Hy het my nogal gecoach en gehelp. Hy het my voorberei op die vaardighede van die Dalai Lama en die aard van daardie dialoë met hom. En dit het eintlik ook gelei tot die idee dat dié mense wat ons uit Afrika moet kies vir die dialoë onberispelike humanitarians en scholars moet wees. En hulle moet iets bring uit Afrika wat amper half gelykstaande is aan die hele aandagtigheidsbeweging uit Amerika of Tibettaanse meditasie, jy weet. Dit moet gelyk staan daaraan. En dit moet met tróts gelyk staan.

“Dit het toe al uit ’n paar intieme gesprekke met Boeddhistiese monnike en Mind and Life-mense aan die lig gekom dat die Dalai Lama oor Afrika gesê het, ál wat kortkom, is ’n trots. Mense van Afrika moet trots wees op hulleself en op wie hulle is.”

En ons doen dit al duisende jare lank in Afrika.

Daar is baie raakpunte tussen ubuntu en kontemplatiewe Boeddhisme, sê sy.

“Daai hele ding van interafhanklikheid – jy bestaan slegs as jy weet jy is deel van ’n stelsel of ‘ek ís deur jou’ – dít is ook die hele uitgangspunt van interafhanklikheid in Boeddhisme. En ons doen dit al duisende jare lank in Afrika.

“So met trots kan ons dit nou op die verhoog sit sonder om te sê: Ag, dis Afrika. Jy weet? Daardie neerhalende manier van kyk na Afrika en die navorsing uit Afrika. En hier het ons onberispelike scholars soos Graça Machel en Pumla Gobodo-Madikizela wat vanuit daardie oogpunt, vanuit daardie onderlinge verbintenis, dinge doen soos die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK – Gobodo-Madikizela is ’n sielkundige en akademikus wat ’n belangrike rol in die WVK gespeel het) wat eintlik so Boeddhisties is, dis net nie waar nie.”

Wat dus van 17 tot 19 Augustus op die kampus van die Universiteit van Botswana in Gaborone gaan gebeur, is ’n gesprek tussen humanitêre en spirituele leiers, akademici en helers uit Afrika en die Dalai Lama en internasionale neurowetenskaplikes oor veral ubuntu.

Hoewel die deelnemers aan die dialoog sulke merkwaardige mense is, is enigiemand welkom om dit by te woon – jy hoef nie ’n geleerde of ’n Boeddhis te wees nie, sê Karen.

“Mense smag daarna om te hoor hoe denkleiers, jonk en oud, praat oor een basiese menslike eienskap wat ons as mense laat oorleef het, naamlik goedheid. Dit is wat daar gaan gebeur en dit het nog nooit voorheen gebeur nie. Dit gaan geskiedkundig wees – dit gaan so groot wees.”

* Vir nader besonderhede oor die Botswana-dialoog en om plek daarvoor te bespreek, besoek https://botswanadialogue.org/

Die Dalai Lama se man in Pretoria

Die wêreld van die Dalai Lama, wat al sedert 1959 saam met sy volgelinge in ballingskap in Dharamsala in Indië woon, kom ’n bietjie nader aan jou wanneer jy na sy verteenwoordiger Ngodup Dorjee luister.

Hy is ’n hoflike, saggeaarde man wat baie glimlag. Dit is veral sy glimlag wat ’n mens aan die Dalai Lama laat dink. Van dié heilige het ’n mens immers die indruk dat daar amper altyd ’n onverstoorde glimlag oor sy gesig plooi.

Dorjee is in ballingskap gebore nadat die Volksrepubliek van China Tibet verower en in 1951 by China “ingelyf” het.

Die kantoor in Pretoria wat hy beman, is in 1997 gestig met die toestemming en seën van Nelson Mandela. Die welwillendheid wat daar destyds jeens die Dalai Lama en Tibet was, het egter getaan. Daarvan spreek die feit dat die Dalai Lama in onlangse jare twee keer toegang tot Suid-Afrika geweier is uit vrees vir diplomatieke spanning met China.

Hoewel Dorjee in Pretoria gesetel is, is dit sy verantwoordelikheid om ook in die res van Afrika steun te werf vir die Tibettaanse saak.

“Ten einde die Chinese na die onderhandelingstafel te bring, is dit noodsaaklik dat sterk internasionale druk moet opbou. Ons werk saam met Chinese afvalliges wat hulle vir demokrasie in China beywer. Maar dit is uiters noodsaaklik om internasionale steun te bou,” het hy in ’n vroeëre onderhoud gesê.

“Sedert 2011 is Sy Heiligheid nie meer die politieke leier van Tibet nie – hy het die politieke mag laat vaar. Hy spits hom nou toe op drie dinge: die bevordering van sekulêre etiek, religieuse harmonie en die kultuur van Tibet. So hy is nie meer by politieke bedrywighede betrokke nie.”

Toe hy daardie aankondiging gedoen het, het Tibettane gehuil.

“Maar hy het gesê eendag sal hy nie meer by ons wees nie. Hy het gesê: ‘Leef asof ek nie meer daar is nie. As daar ’n groot kwessie is, kan ek julle help en lei, maar julle moet leer om self besluite te neem, asof ek nie meer leef nie.’”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.