Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Karen Zoid maak haar hart oop oor afgelope 20 jaar

Vanjaar is dit 20 jaar sedert Karen Zoid begin kopstamp het op “Afrikaners is plesierig” en die rockwêreld soos ’n atoombom getref het. Sy het aan Willemien Brümmer vertel hoe sy haar eie lewe moes red.

Karen Zoid voor ’n skildery deur Alex Hamilton in die voorportaal van Mothership Studios in die Swartlandse dorpie Philadelphia. Sy en haar vennoot en bestuurder Carien Loubser het dié Moederskip met sy rolprent-, televisie- en musiekateljees in 2017 laat bou waar hulle ’n veilige hawe vir jong talent wil wees, maar terselfdertyd ’n ruimteskip wat nuwe terreine ontgin. Foto: Marilie Loubser

“Daar is hierdie beautiful gedig dat niemand gaan kom om jou te red nie. Jy wag en wag in die see en die storm tot jy besef die enigste lewe wat jy kan red, is jou eie.”

Karen Zoid sit in die beheerkamer van Mothership Studios in Philadelphia en haar stem klink soos beleë rooiwyn.

Sy en haar vennoot en bestuurder Carien Loubser het dié smaakvol ingerigte Moederskip met sy rolprent-, televisie- en musiekateljees in 2017 laat bou waar hulle ’n veilige hawe vir jong talent wil wees, maar terselfdertyd ’n ruimteskip wat nuwe terreine ontgin.

Een van ’n reeks optredes wat vir vanjaar beplan word om Karen se 20 jaar in die musiekbedryf te vier.

Links van haar hang ’n reuseskildery (deur Alex Hamilton) van Kurt Cobain wat op 27 ’n gat deur sy eie kop geblaas het en voor haar is ’n versameling Saftas (die Suid-Afrikaanse toekennings vir film en televisie) vir onder meer haar gewilde geselsprogram Republiek van Zoid Afrika wat menige mindere kunstenaar groen van jaloesie sou maak.

Maar juis omdat Karen Louise Greeff reeds bitter vroeg in haar lewe op die moeilike manier kennis gemaak het met Mary Oliver se gedig “The Journey” is jaloesie nie een van haar karaktertrekke nie.

Sy’s innemend, nederig en mededeelsaam, maar sy’s ook rateltaai en ’n bittereinder. Dis dít wat gemaak het dat sy vanjaar (op 41) as die hardegat-koningin van rock ’n roll twee dekades in die musiekbedryf kan vier.

Almal onthou nog die kopstamper in die swart Voortrekkerkappie wat 20 jaar gelede die rock-wêreld soos ’n atoombom getref het met haar treffer “Afrikaners is plesierig”. Sy was die eerste rock chick in Afrikaans, die eerste sangeres wat durf skree het op ’n volkswysie en haar trefkrag was so sekuur dat sy aan ’n hele generasie wat keelvol was van vrolike, vroulike rymelary ’n naam gegee het.

‘My eie stoom’

Dis vanjaar Karen se 20ste jaar as professionele musikant – 20 jaar waarin sy nooit stoom verloor het of eens gedink het aan handdoek ingooi nie. Foto: Marilie Loubser

Haar sukses is deels toe te skryf daaraan dat sy haarself reeds baie vroeg in haar lewe moes begin red.

“Ek het grootgeword die dag toe my ma dood is toe ek nege jaar oud was.”

Sy sê dit byna saaklik, geklee in haar kenmerkende swart uitrusting hier waar ons sit langs die TV-ateljee waar die sesde reeks van Republiek van Zoid Afrika pas opgeneem is (dit begin op 16 April op kykNET). In die foyer sit haar 12-jarige seun Ben vir wie sy die roerende “As musiek begin speel” geskryf het.

Sy’s verbasend openhartig oor ’n lewe wat skouspelagtig uitmekaar begin val het in standerd vyf.

“Ek was so ’n groot teleurstelling my hele lewe lank vir almal. Dit was amper soos Peter Pan op ’n manier. Die verwagting was so laag. Ek het baie dwelms geneem en ek het probeer om myself dood te maak. Basies vandat ek 13 is, het die probleme begin. En toevallig is 13 nou my lucky number.”

Sy lag.

“Vir my was musiek baie meer as net. . .”

Karen: “Ek is dankbaar daarvoor dat ek verantwoordelikheid kon neem vir my eie lewe. Ek sou definitief nie gehad het wat ek vandag het nie – my eie stoom – as dit nie was vir hoe ek grootgeword het nie.”Foto: Antonia Steyn

Sy speel met ’n knoets van ’n ring aan haar linkerhand. “Ek het gewerk daaraan om van jongs af naam te maak omdat ek wou wys dat ek ’n lewe kon maak uit wie ek is. Vir my het dit nie daaroor gegaan om bekend te wees nie. Vir my het dit daaroor gegaan om ’n lewe te maak uit dit wat almal gesê het ek nie kan doen nie.”

Reeds vandat sy 16 jaar oud was, woon sy op haar eie en onderhou haarself: Sy bestuur ’n restaurant, sy maak in die strate van Melville musiek en sy verkoop saam met ’n vriendin leerbaadjies uit Bosnië en Herzegowina.

“Dit het obviously van die lyke afgekom van die mense wat dood is in die genocide. Ons het die baadjies in Braamfontein gekoop vir R40 elk en dan het ons dit reggemaak en teen R450 elk verkoop.”

Sy skaterlag en toe verdwyn die lag uit haar stem.

“Ek wens vir niemand die lewe toe wat ek gehad het nie, die gevaar waarin ek myself geplaas het nie – maar daar is iets daaromtrent wanneer jy in jou lewe besef jy is eintlik heeltemal alleen. Ek is dankbaar daarvoor dat ek verantwoordelikheid kon neem vir my eie lewe. Ek sou definitief nie gehad het wat ek vandag het nie – my eie stoom – as dit nie was vir hoe ek grootgeword het nie. Daar is iets ongelooflik kosbaars daaraan en dit is wat ek vandag vir my eie kind ook probeer leer – dat jy iets vir jouself moet maak.”

’n ‘Woedende’ vrou

Karen met haar Fender Telecaster genaamd Goldie.Foto: Antonia Steyn

Sy was nie ’n kitssukses soos deesdae se internetsensasies nie. Voor “Afrikaners is Plesierig” het sy reeds vir drie jaar ’n “semisuksesvolle” groep, Bad Weather, gehad. In 1999 kry Bad Weather die Groep van die Jaar-prys by die ondergrondse punk-rock-klub Abelarde Sanction en kort daarna neem sy haar eerste demo-album by haar held, die Battery 9-hoofsanger, Paul Riekert, se huis op.

Hierna begin haar solo-loopbaan as Karen Zoid met sy woede en weerloosheid wat veral die ouer geslag na hul Bybels laat gryp.

“Ek was die eerste vrou wat geskree het. Ek weet nie hoekom dit mense so gepla het nie. Ek het al baie ander goed intussen gedoen, maar dít was die een ding wat uitgestaan het vir die mense,” sê sy.

“Nou weet mense hopelik daai emosie is net een uit ’n spektrum van emosies wat ek wou oordra. Angry vrou was nie populêr vir Afrikaanse mense nie. Op ’n stadium moet elke vrou, elke dogtertjie daarmee vrede maak dat iemand jou ’n bitch of ’n slet gaan noem. Ek het gegaan vir bitch. Maar jy gaan ’n etiket kry, maak nie saak hoe nice jy is nie. Jy kan Liewe Jesus se heel mooiste kind wees.”

‘Ek moes in die spieël kyk’

Karen en Madiba in 2003 toe sy deelgeneem het aan die 46664-konsert in Groenpunt waarvoor hy gasheer gespeel het.

Ná haar eerste album Poles Apart en al die opslae, opskrifte, optredes, erkenning en pryse wat sou volg, is haar volgende groot deurbraak toe sy in 2008 die Sama-prys wen as beste vroulike kunstenaar.

Toevallig was dit ook een van die slegste jare van haar lewe. Sy was ’n nuwe ma, haar huwelik het uitmekaar begin val en haar sakeverhoudings het misluk.

“En ag, ek het vet en oud gevoel, hulle het vir my gesê ek is te oud vir MK (destyds ’n musiekkanaal op DStv), maar al my mansvriende was op MK. Vir ’n tydjie was dit so ’n bietjie van ek is nou nie meer cool nie en toe wen ek die Sama en ek het nie eens gegaan nie.”

Karen in 2003. Sy was die eerste rock chick wat in Afrikaans geskree het en ’n hele generasie is daarna na haar vernoem.

Sy knik geïrriteerd.

“Ek het my kind gehad in 2007 en in al die onderhoude vra hulle vir my hoe dit voel om ’n ma te wees en dis al waaroor ek die heeltyd moet praat en dis yes, ek ís ’n ma, maar ek het ook ’n nuwe album wat uitgekom het (haar vierde, Post Modern World).”

Sy aarsel.

“Dis nie dat ek nie trots was op my kind, lief was vir my kind, obsessed was met my kind nie. Dis net ek wou nie in die media wees omdat ek ’n kind se ma is nie. Ek wil in die media wees omdat ek ’n skrywer is, omdat ek ’n sangeres is, omdat ek ’n musikant is.”

Dis ook die jaar toe sy vir die eerste keer in ’n lang tyd in die spieël moes kyk.

“Ek moes vir myself in die spieël kyk en besef dat ek dalk ’n bietjie te groot vir my skoene geword het. Ek moes vir myself in die spieël kyk en besef ek het verkeerde besluite geneem, ek moes vir myself in die spieël kyk en besef daar is niks wat ek kan doen aan hoe ander mense my sien nie. Dit begin by hoe ek myself sien en die waarde wat ek aan myself heg.”

‘Toe vind ek jou’

Karen Zoid: “Op ’n stadium moet elke vrou, elke dogtertjie daarmee vrede maak dat iemand jou ’n bitch of ’n slet gaan noem. Ek het gegaan vir bitch.” Foto: Antonia Steyn

Toe sy daarna begin saamwerk met die enigmatiese Zimbabwiese kitaarspeler Louis Mhlanga begin ’n nuwe fase in haar loopbaan.

“Dit was hierdie konstante deel van kennis en liedjies en ons het mekaar só geïnspireer. En as jy dít doen, dan raak jy net beter. Jy raak beter met jou spel en jy raak beter met jou performance en hy dra jou en jy dra hom en julle vertrou mekaar en toe het ons net hierdie wonderlike tyd.”

Ander samewerkings volg met legendes soos Vusi Mahlasela, Zolani Mahola en Dorothy Masuka en in 2014 maak sy haar debuut as kletskoningin in Republiek van Zoid Afrika, waar sy aan die einde van elke program saam met van die gaste optree. Wanneer die note wegsterf is die liedjie onmiddellik beskikbaar op ITunes en ná afloop van die reeks is daar sommer ook ’n Republiek van Zoid Afrika-album.

Die 'grootste pluimpie' van haar loopbaan is egter toe Johnny Clegg kort voor sy dood as haar gas op 'Republiek van Zoid Afrika' verskyn.

Een van hierdie liedjies is “Toe vind ek jou”, saam met Francois van Coke, wat sedert 2015 al byna 10 miljoen keer gekyk is op YouTube.

Die “grootste pluimpie” van haar loopbaan is egter toe Johnny Clegg kort voor sy dood as haar gas op Republiek van Zoid Afrika verskyn.

Sy glimlag teer.

“Daar is iets daaraan – iemand wat so ’n legende is en so ervare is wat net so ’n kind is, ’n eternal child – en taai. Hy’t geweet sy tyd is min, maar hy was só gracious, so dankbaar vir die lewe. En so caring en gentle. Ons het al baie grand mense hier gehad – maar hierdie ou is die grootste naam van alle name in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis en hy praat met ons asof ons almal ewe oud is en saam die pad geloop het.”

Toe musiek begin speel

Karen op die omslag van haar bekroonde eerste album Poles Apart wat in 2002 verskyn het nadat sy die musiektoneel soos ’n atoombom met “Afrikaners is plesierig” getref het.

Die grootste hoogtepunt van haar loopbaan het sy vanjaar eers bereik – dat sy reeds 20 jaar lank ’n lewe uit musiek kon maak.

Dat sy nooit stoom verloor het nie en dat sy van die begin af besef het dit is ’n langtermynprojek.

“Dis nie iets wat ek ligtelik opneem nie en ek hoop ek gaan dit regkry om dit vir nóg 20 jaar te doen. Maar ek gaan freakingtry, want ek love dit! Die ding waarop ek die trotsste is, is dat as iemand my vra wat doen jy vir ’n lewe, dan kan ek skryf ‘musikant’.”

Sy staan op, ’n vrou met gravitas wat ’n stem kon gee aan die gat in haar hart.

“Dis die beste gevoel in die wêreld.”

* Op 8 Maart vanjaar vier Karen haar twee dekades in die musiekbedryf met “Karen Zoid 20 Years Pops” waar sy saam met die Kaapstad Filharmoniese Orkes by die Woordfees optree.

Meer oor:  Johnny Clegg  |  Karen Zoid  |  Melville  |  Braamfontein  |  Philadelphia  |  Afrikaans  |  Rock  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.