Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Kaunda: Afrika-reus met vele paradokse

Kenneth Kaunda se tyd op die wêreldverhoog word deur teenstellings gekenmerk. Tog meen Gavin Evans dat die geskiedenis hom as een van Afrika se grootste leiers sal onthou.

Kenneth Kaunda in 1991, die jaar waarin hy die veelparty-verkiesing in Zambië verloor het. Foto: AP

Die voormalige president van Zambië Kenneth Kaunda, wat Donderdag in die ouderdom van 97 in ’n hospitaal in Lusaka dood is, was die laaste van die reuse van Afrika-nasionalisme in die 20ste eeu.

Hy was ook een van die min wie se reputasie teen die einde steeds ongeskonde was. Maar, die reputasie van dié man, wat Zambië 27 jaar lank regeer het, word miskien meer as in die geval van sy tydgenote deur teenstellings omgeef.

Dié charismatiese president, wat geloof is omdat hy die tuig vreedsaam neergelê het nadat hy ’n verkiesing verloor het, was ook ’n outokraat wat ’n eenpartystaat gevestig het.

Hierdie pionier van “Afrika-sosialisme” was die man wat ’n aanbodkant-ooreenkoms met die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) beding het. Die nasionalistiese leier wat bekend was vir sy persoonlike eerlikheid het ook beplan om groot stukke landbougrond aan ’n Indiese ghoeroe te gee.

Die revolusionêre leier wat skuiling gebied het aan bevrydingsbewegings was ook die vriend van Amerikaanse presidente.

Hy het die beeld van ’n goedhartige monarg uitgestraal, ’n baie geliefde vader vir sy mense wat bekend was vir eienaardighede wat hom nog meer bemind gemaak het.

Ek het hom in 1989 ontmoet toe ek gehelp het om in Lusaka ’n konferensie te reël tussen ’n afvaardiging van 120 vooraanstaande wit Suid-Afrikaners en die destyds verbode en verbanne African National Congress, wat vir die bevryding van swart Suid-Afrikaners geveg het.

“KK”, soos hy bekend gestaan het, se trane het gerol toe hy gaste verwelkom het, onder wie die liberale parlementslid Helen Suzman, wat bekendheid verwerf het vir haar hardnekkige weerstand teen die apartheidsregering.

In daardie stadium was hy al ’n kwarteeu lank president en dit het gelyk asof hy ’n permanente lid van die klub van Suider-Afrika se top-politici sou bly.

En tog, soos dit later geblyk het, was hy besig met sy laaste ronde.

Hy het die beeld van ’n goedhartige monarg uitgestraal, ’n baie geliefde vader vir sy mense wat bekend was vir eienaardighede wat hom nog meer bemind gemaak het – sy safaripakke, die waai van wit sakdoeke, baldanse, die sing van sy eie liedjies terwyl hy fietsgery het en sy gehuil in die openbaar.

Maar daar was ook ’n harde kant aan die politieke persona van die man met die sterk persoonlikheid wat gehelp het om van Zambië drie dekades lank ’n belangrike speler in Afrika en die wêreld te maak.

Die vroeë jare

Kenneth Kaunda kom in 1964 in Londen aan waar samesprekings oor Zambië se onafhanklikheid gevoer is. Foto: Getty Images

Kenneth David Kaunda is op 24 Oktober 1924 in Chinsali in die noorde van Zambië gebore.

Soos so baie van sy geslag Afrika-bevrydingsleiers was hy lid van ’n middelklas-gesin wat deur sendelinge onderrig is. Hy was die baba tussen agt kinders. Sy pa was ’n Presbiteriaanse sendeling-onderwyser en sy ma was die eerste gekwalifiseerde swart onderwyseres in die land.

Hy het in sy ouers se voetspore gevolg, eers in Zambië (tóé Noord-Rhodesië), waar hy voor sy 21ste verjaardag ’n hoof-onderwyser geword het. Hy het ook onderrig gegee in Tanganjika (Tanzanië), waar hy ’n lewenslange bewonderaar geword het van die toekomstige president Julius Nyerere, wie se soort Afrika-sosialisme (Ujamaa) hy probeer toepas het.

Nadat hy teruggekeer het huis toe, het Kaunda ’n veldtog gevoer teen die Britse plan vir ’n federasie van Suid-Rhodesië, Noord-Rhodesië en Njassaland wat meer magte aan wit setlaars sou gee.

Hy het ’n voltydse politikus geword en sy tande in die politiek gesny deur vir die liberale lid van die wetgewende raad, sir Stewart Gore-Browne, te werk.

Kort daarna is hy as sekretaris-generaal van die Northern Rhodesian African National Congress tot twee maande tronkstraf met harde arbeid gevonnis vir die verspreiding van “subversiewe literatuur”.

In 1962, bemoedig deur Kaunda se pogings om die wit setlaars te paai, het die Britte ingestem tot selfregering, wat twee jaar later tot volle onafhanklikheid gelei het.

Ná sy vrylating het hy gebots met die organisasie se president, Harry Nkumbula, wat ’n meer versoenende houding teenoor koloniale heerskappy gehad het.

Kaunda het ’n wegbreekgroep, die Zambian African National Congress, gelei. Dit is dadelik verbied. Hy is vir nege maande tronk toe gestuur, wat net sy status verhoog het.

Die United National Independence Party (Unip), ’n nuwe beweging, het Kaunda as sy leier verkies nadat hy vrygelaat is.

Hy het gereis na Amerika, waar hy Martin Luther King ontmoet het. Geïnspireer deur King en Mohandas Gandhi het hy die “Cha-cha-cha”-veldtog van burgerlike ongehoorsaamheid geloods.

In 1962, bemoedig deur Kaunda se pogings om die wit setlaars te paai, het die Britte ingestem tot selfregering, wat twee jaar later tot volle onafhanklikheid gelei het.

Kaunda het die eerste Zambiese president geword nadat Unip die verkiesing gewen het.

Die uitdagings van onafhanklikheid

Kenneth Kaunda groet koningin Elizabeth van Brittanje toe sy in 1979 as deel van haar besoek aan vier Afrika-lande in Lusaka aangekom het. Links op die foto is prins Philip, die koningin se man, wat op 9 April vanjaar dood is. Foto: AP

Die een uitdaging vir die nuwe onafhanklike Zambiese staat het met die koloniale onderwysstelsel verband gehou.

Daar was geen universiteite nie en minder as ’n halwe persent van die leerlinge het hul laerskool-opleiding voltooi.

Kaunda het ’n beleid van gratis boeke en lae skoolgeld ingestel. In 1966 het hy die eerste kanselier van die nuwe Universiteit van Zambië geword. Verskeie ander universiteite en tersiêre onderwysinstellings het gevolg.

Lank nadat hy nie meer president was nie, is Kaunda steeds gul in baie van Afrika se hoofstede ontvang omdat hy bevrydingsbewegings toegelaat het om basisse in Lusaka te vestig.

Hy het saamgewerk met enigiemand wat belangstelling in Zambië getoon het.

Dit het aansienlike ekonomiese gevolge gehad vir Zambië, wat militêre aanvalle deur die Suid-Afrikaners en Rhodesiërs moes verduur.

Kaunda het terselfdertyd in 1975 saam met John Vorster, Suid-Afrika se onversetlike eerste minister, probeer om ’n interne skikking vir Rhodesië (Zimbabwe) te beding. Dit het misluk.

Hy het dieselfde probeer in Suidwes-Afrika (Namibië), wat destyds onder Suid-Afrikaanse administrasie was. Maar pres. PW Botha, Vorster se opvolger, het glad nie belang gestel nie.

Kaunda het gehelp om die Beweging vir Onverbonde Lande, ’n organisasie wat lande byeengebring het wat hulle tydens die Koue Oorlog nie aan die kant van Amerika of die Sowjetunie geskaar het nie, te lei.

Hy het saamgewerk met enigiemand wat belangstelling in Zambië getoon het, onder meer Roemenië se Nicolae Ceausescu en Irak se Saddam Hoessein, terwyl hy ook vlerk gesleep het by opeenvolgende Amerikaanse presidente (hy het meer sukses met Jimmy Carter as met Ronald Reagan gehad). Hy het China uitgenooi om die Tazara-spoorlyn te bou en in 1980 het hy 16 MiG-21-vegvliegtuie by die Sowjetunie gekoop.

Afrika-humanisme

Kenneth Kaunda met die 40ste herdenking van die Zambiese onafhanklikheid in 2004. Foto: Reuters

Kaunda se ekonomiese beleid was gegrond op sy geloof in wat hy “Afrika-humanisme” genoem het, maar ook deur noodsaaklikheid.

Hy het ’n ekonomie geërf wat onder buitelandse beheer was en het stappe gedoen om dié situasie te verander. Die myne wat byvoorbeeld besit is deur die British South African Company (BSAC) en deur Cecil John Rhodes gestig is, is as gevolg van koloniale verowering in 1890 bekom. Kaunda se dreigemente om dit sonder vergoeding te nasionaliseer, het tot belangrike toegewings van BSAC gelei.

Hy het ’n beplande ekonomie bevorder wat aanleiding gegee het tot “ontwikkelingsplanne” waardeur die staat se nywerheid-ontwikkelingskorporasie ekwiteit van 51% in die grootste maatskappye in buitelandse besit bekom het.

Dié beleid is ondermyn deur die styging in die olieprys in 1973 en die afname in die prys van koper, waarop 95% van Zambië se uitvoerverdienste gesteun het.

Die gevolglike krisis rondom betalingsbalans het veroorsaak dat Zambië die tweede hoogste skuldlas in verhouding tot sy bruto nasionale produk gehad het en dit het die IMF aangespoor om in te gryp.

Kaunda het aanvanklik weerstand gebied, maar is teen 1989 gedwing om aan die IMF se eise toe te gee.

Semi-staatsinstellings is gedeeltelik geprivatiseer, uitgawes is drasties verminder, kossubsidies is beëindig, pryse het die hoogte ingeskiet en Kaunda se gewildheid is ’n ernstige nekslag toegedien.

Ná ’n mislukte staatsgreep in 1990 en kos-onluste het Kaunda in 1991 teësinnig tot ’n veelparty-verkiesing ingestem.

Soos baie antikoloniale leiers het hy veelparty-demokrasie as ’n Westerse konsep beskou, wat konflik en stamgebondenheid aangeblaas het. Dié beskouing is verder deur die Lumpa-sekte se opstand in 1964 versterk. Hy het alle ander partye behalwe Unip verbied en Zambië het vier jaar later amptelik ’n eenpartystaat geword.

Sy regering, gegrond op sy persoonlikheidskultus, het toenemend outokraties en onverdraagsaam teenoor ander standpunte geword.

Maar Kaunda sal deur die geskiedenis onthou word as ’n relatief goedhartige outokraat wie se regering nie gekenmerk is deur die vlakke van onderdrukking en korrupsie van so baie ander heersers van eenpartystate nie.

Nyerere het in 1985 afgetree en sy vriend vergeefs probeer oortuig om dieselfde te doen.

Ná ’n mislukte staatsgreep in 1990 en kos-onluste het Kaunda in 1991 teësinnig tot ’n veelparty-verkiesing ingestem.

Sy gewildheid kon nie die chaos wat deur prysstygings veroorsaak is, oorleef nie. Onthullings dat hy van plan was om meer as ’n kwart van Zambië se grondgebied aan Maharishi Mahesh Yogi (’n Indiese ghoeroe wat belowe het om ’n “hemel op aarde” te skep) te gee, het ook nie gehelp nie.

Die vakbondleier Frederick Chiluba het die verkiesing maklik gewen.

Die laaste jare

Kenneth Kaunda skryf ’n boodskap in ’n herinneringsboek ná die dood van die voormalige Suid-Afrikaanse president Nelson Mandela. Foto: Reuters

Kaunda is in die buiteland geprys vir (wat beskou is as) die welwillende manier waarop hy sy nederlaag aanvaar het, maar die nuwe regering was minder grootmoedig.

Hy is ná bewerings van ’n poging tot ’n staatsgreep onder huisarres geplaas en hy is tot “staatloos” verklaar toe hy beplan het om ’n kandidaat in 1996 se verkiesing te wees. Dit is gedoen op grond van die feit dat sy pa in Malawi gebore is, maar die hof het later in Kaunda se guns beslis.

Hy het in 1997 ’n sluipmoordaanval oorleef toe ’n koeël hom skrams getref het. Een van sy seuns, Wezi, is in 1999 voor hul huis doodgeskiet.

Kaunda sal onthou word as ’n reus van Afrika-nasionalisme in die 20ste eeu.

Die dood van nog ’n seun, Masuzgo, wat aan vigs gesterf het, het Kaunda geïnspireer om vroeër as baie ander ’n MIV-veldtog te lei. Hy het dit oor die volgende twee dekades verder gevoer.

Ná Chiluba se bewindstydperk is Kaunda weer in ’n gunstige lig deur die regering beskou en het hy ’n reisende ambassadeur vir Zambië geword. Ná die dood van sy vrou, Betty, in 2012, met wie hy 66 jaar lank getroud was, het hy sy openbare optredes afgeskaal.

Kaunda sal onthou word as ’n reus van Afrika-nasionalisme in die 20ste eeu – ’n leier wat teen ’n groot koste toevlug gebied het aan revolusionêre bewegings en ’n redelik goedhartige outokraat was wat demokrasie teësinnig in sy land gevestig het en ’n internasionale diplomaat was wat in internasionale aangeleenthede ver bo sy gewig geboks het.

Evans is ’n lektor in die departement van kultuur en media aan die Universiteit van Londen. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.


Meer oor:  John Vorster  |  Martin Luther King  |  Pw Botha  |  Jimmy Carter  |  Julius Nyerere  |  Kenneth Kaunda  |  Zambië  |  Suid-Afrika  |  Namibië  |  Zimbabwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.