Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Kersverhaal: Pa Toit, die skaapwagter
Kyk jy na Kerstoneeltjies, is die drie wyse manne altyd in die prentjie. Maar moenie vergeet hoe hulle by die stal uitgekom het nie, skryf Bertie Cloete.

Jan du Toit het saam met sy pa en ma op ’n plaas in die Koue Bokkeveld grootgeword.

“Van ons huis af kon jy die Skurweberge aan die oorkant van die vallei sien. Dit het kompleet gelyk of die Here net die oorskiet sement so van die Kaap se kant af hier in die vallei laat oorloop het. Onafgewerk en skurf. Vandag se kinders sê dit lyk meer soos rooiwarm lawa wat kom afkoel het,” vertel Jan.

“Saans as die son so agter die Skurweberge kom sak het, het dit kompleet gelyk die berg is aan die brand. Ek leer ook maar nou eers op my oudag van lawa en berge wat vuur spoeg. As kind het ek daar in die Koue Bokkeveld na ’n plaasskooltjie gegaan.

“My pa, Andries Michiel Gert du Toit (gebore 1909, oorlede 1999), sommer genoem An’ries du Toit, was vir die grootste deel van sy lewe ’n skaapwagter.”

Jan was in sub A in die Op die berg-plaasskooltjie toe die juffrou die kinders een vir een laat opstaan het om bietjie meer van hulself te vertel. Party kinders, het Jan gehoor, se pa’s was plaasbestuurders, pakhuisbestuurders of het vragmotors gery.

“Ek het net gesê my pa werk op die plaas. Dit is al. Ek wou nie nog uitwei oor die skape ook nie. Dan vra almal te veel vrae.”

Die verlore skaap

Die hoogtepunt van Jan se skooldag was wanneer die skoolklok lui om die einde van dié dag aan te kondig. Dan het Jan sy boeksak in die hoek neergegooi en afgesit na waar sy pa skape oppas. Hy’t sy pa dan gekry waar hy onder ’n boom gesit het, besig om ’n lunsriem te vleg of ’n stukkie leer te looi.

“Pa Toit was nie net ’n skaapwagter nie, maar ook ’n skoenmaker,” vertel Jan. “Jy sou altyd vir hom kom kry skoene regmaak en velle brei. Pa het vir die hele distrik skoene reggemaak en swepe gevleg.”

Vlos, sy pa se getroue skaaphond, was altyd byderhand. “Dit was ’n swart en wit skaaphond met lang ore en ’n lang rooi tong,” onthou Jan. “Wat die wonderlikste was van Vlos, is die verhouding wat hy en Pa gehad het. Pa het met daardie hond gepraat soos jy met ’n mens sal praat.

Foto: ISTOCK

“Ek onthou goed hoe pa met die skape sou wei teen die vrugteboord langs die klawerkamp. Pa sou onder die boom sit en ’n lunsriem vleg. Ek sou aan die ander kant sit en die punt van die lunsriem vasgehou. Af en toe sou Pa net so opkyk na die skape wat beur na die klawerland toe.

“Ek sou benoud raak vir Pa se part dat die skape so al nader aan die klawerland wei. As die skape eers daar sou inkom, sou dit omtrent ’n gesukkel wees om hulle uit die groenigheid te kry.

“Maar Pa was altyd rustig. Hy het vir Vlos gehad en vir Vlos mooi geleer. Vlos sou net daar sit. Doodstil, en so af en toe loer na Pa se kant.

“En dan net skielik sal Pa sê ‘Vlos, loop keer daar!’ en dan vlieg Vlos daar weg, ore plat teen die kop, hare in die wind en die rooi tong wat by sy bek uithang. Asof hy heelmiddag gelê en wag het vir Pa se instruksies, soos ’n hond wat sy baas trots wil maak.”

Vlos, vertel Jan, sou dan die res van die middag die skape uit die klawerland patrolleer. En hy wat Jan is, kon ontspan en sy volle aandag aan die lunsriem gee.

Wanneer dit tyd was om huis toe te gaan, sou sy pa die sweep een keer klap en dan sou Vlos padlangs, al teen die draad af, met die skape aankom.

“Dan draf Vlos so bietjie teen dié kant af en druk die skape vorentoe. Nes hulle weer klawerland toe beur, dan gaan keer hy weer daar. Nee kyk, twee mense kan nie keer soos ’n ordentlike skaaphond soos Vlos kon keer nie!” onthou Jan.

Maar An’ries du Toit se gróót vernuf het gekom by die slag wanneer hy skape moes tel . . .

Maar as Pa na die laaste skaap op kraal is, so ver verby my die veld in kyk, dan weet ek ons moet gaan skaap soek.

“Wanneer dit tyd was om huiswaarts te keer, het Pa so by die skaapkraal se hoek gaan staan, sy oë op skrefies getrek en na die aankomende skape gekyk. Die skape het een-een, soms drie op ’n slag verby gekom.

“As dit lyk of die skape te stadig deurkom, het Pa net so bietjie teruggestaan om plek te maak, dat die skape dikker kan deurkom. Partykeer het die skape skoon op mekaar geklim om verby Pa te kom en soms het een of twee sommer agterom Pa gehardloop.”

Wanneer die laaste skaap op kraal was, onthou Jan, het sy pa sy pyp en Springbok-twak uit sy sak gehaal – ’n duidelike teken dat ál die skape op kraal was.

“Maar as Pa na die laaste skaap op kraal is, so ver verby my die veld in kyk, dan weet ek ons moet gaan skaap soek. ‘Daar kort ’n skaap,’ sou Pa sê.”

Protesterend wou Jan dan weet of sy pa ook dié skaap getel het wat agter hom verby is.

“En dan sou pa sê ‘Nee, ek weet van hom. Kom ons loop soek.’ En dan is ons terug die veld in. Die laaste skaap sou ons altyd kry. Altyd. Lewend of dood.”

Soms het van die buurplase, tot ook die Engelsman wat langsaan geboer het, gevra of An’ries du Toit kan kom skaap tel.

Wyse manne verdwaal

Jan se eerste skooljaar sou uiteindelik tot ’n einde kom. Dit was Krismis. “Ek het baie gehou van Krismis! Ma sou vlapoeding maak, al die familie het kom kuier en ons sou presente kry.”

By die Op die berg-plaasskooltjie het juffrou ’n Krismisboom in die hoek van die klaskamer opgemaak. Jan onthou ’n klein, groen denneboom wat regop gestaan het, vol rooi, silwer en pers bolle met ’n groot, goue ster bo in die boom.

Onder die boom het juffrou ’n engel staangemaak wat een van die kinders uit karton geknip en geverf het.

“Eendag,” vertel Jan, “het juffrou ons almal voor haar op die mat laat sit en die Kinderbybel oopgemaak. Toe het sy vir ons die storie van Jesus se geboorte gelees.

“Dit was die eerste keer dat ek die hele storie hoor. Van daar waar die wyse manne verdwaal het, tot by die Kindjie in die krip. Ek het altyd geweet van Kersfees en Jesus se geboorte, maar ek het nie geweet dat die mense so na die kleine Jesus sou soek nie.”

Dis toe dat die juffrou lees van die wyse manne met hul duur geskenke wat hulle vir Jesus wou gee wat so verdwaal het.

So erg dat hulle later nie meer geweet het waarheen om te gaan nie. En toe sien hulle ’n klompie skaapwagters by ’n vuurtjie sit en vra of hulle die pad ken na die plek waar Jesus gebore is.

Die skaapwagters het presiés vir die wyse manne gewys hoe om by die stal uit te kom.

Jan sê dis daar waar hy ’n bietjie gedink het en toe al sy moed bymekaar geskraap het om sy hand op te steek.

“Ja, Jan?” het juffrou gevra.

“Juffrou, hoekom is die drie manne wyse manne genoem?”

“Want, hulle was gereken as baie slim mense in daardie tyd,” het juffrou verduidelik.

“Maar juffrou, as dit nie vir die skaapwagters was nie, sou die slim mense mos nie vir Jesus gevind het nie?”

“Ja Jan, jy is reg. Hulle sou Hom nie gevind het nie. Daar is niemand wat die veld so goed ken as skaapwagters nie. Hulle is ook baie slim mense.”

“My pa is ’n skaapwagter, juffrou,” het Jan sag gesê.

“Wat van jou pa, Jan?”

Dié keer het hy dit kliphard en trots gesê dat die hele klas dit kan hoor. “My pa is ’n skaapwagter, juffrou!”

“Ek het dit nie geweet nie, Jan. Dan het jy baie om op trots te wees. Jou pa is ’n slim man,” het juffrou gesê.

Jan onthou hoe skaam hy op daardie oomblik was en met sy groottoon in die mat geboor het. “Dit het gevoel of almal vir my kyk. Maar ek het nie eintlik omgegee nie. My bors het geswel van trots.

“My pa was ’n slim man. ’n Wyse man. ’n Man vir wie die wyse manne raad moes vra. My pa was ’n skaapwagter.”

Cloete is ’n vryskutskrywer van die Kaap.

Meer oor:  Feestyd  |  Kersverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.