Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Korona: ‘Ons gaan julle help sterf’

Waarvoor sy die bangste is, is om Covid-19-pasiënte te versorg vir wie daar niks meer gedoen kan word nie buiten om hulle met waardigheid te help sterf, sê dr. Adelaide Andrade, ’n huisdokter, aan Murray La Vita.

Dr. Adelaide Andrade: “Dokters is absoluut bekend daarvoor dat ons nie eintlik aan onsself dink nie.”

Agt van haar pasiënte is reeds positief vir die koronavirus getoets, sê Andrade (57).

Haar praktyk is in ’n huis in Vredehoek, ’n Kaapse woonbuurt, wat sy saam met haar jong assistent, dr. Zoelle Horowitz, bedryf. Twee ander dokters, drs. Barbara Kemp en Joanne Leach, bedryf ook hul onderskeie praktyke op die perseel.

“Al ons pasiënte wat positief is, is gesond en kom nou al uit kwarantyn uit. Ons het betreklik vroeg . . . van die eerste Covid-19-pasiënte in Kaapstad het deur ons praktyk gekom. Gelukkig is dit telefonies opgetel; op ’n Vrydag, waar iemand gesê het: ‘Ek het teruggekom van’ – ek kan nie onthou of dit Italië of waar was nie – ‘en ek is siek en bekommerd’.

Ons weet eintlik nie hoe om te toets nie en is heeltemal onvoorbereid – ons het nie máskers nie; ons het net eenvoudig níks; ons kan nie ons areas basies beveilig nie.

“In daardie stadium het ons nog nie eers geweet hoe om te toets nie. Ons het rondgehardloop en laboratoriums gebel, en vorms afgelaai en probeer uitfigure hoe doen jy dit – nou is dit maklik.

“Die vrou is toe getoets en die volgende dag toe kom daai toets positief terug . . . Toe skrik ons ons bóéglam. Dit was twee weke voor die lockdown. Daardie Sondag het ons ’n praktykvergadering gehou en besef hier is groot moeilikheid, want ons werk in ’n taamlik gegoede area – baie mense het gereis, was op skivakansies en ’n groot klomp mense is besig om terug te kom . . . Ons weet eintlik nie hoe om te toets nie en is heeltemal onvoorbereid – ons het nie máskers nie; ons het net eenvoudig níks; ons kan nie ons areas basies beveilig nie.”

In kwarantyn

“Jy weet, jy sien ’n pasiënt wat positief is en jou praktyk is vir twee weke lank toe en almal is in kwarantyn. Ons het toe ons deure toegemaak en WhatsApp Audio begin gebruik. Ons het eintlik nogal baie goed gevaar. En dan het ons ge-handpick – as iemand byvoorbeeld ’n been oopgesny het of iets en ons moet steke insit, het ons hulle laat inkom en baie seker gemaak dat daardie persoon nie gereis het en ’n risiko is nie. Ons het geen roetine-goed gedoen nie.

“Ons het in ons praktyk uiteindelik agt Covid-19-pasiënte gehad. Ons het almal oor die telefoon opgetel. Ons het so ’n zip file gemaak wat al die inligting bevat en die pasiënt dan Ampath toe gestuur want hulle doen die drive-though toets. Met ander woorde: Ons stuur die papiere in; die pasiënt gaan soontoe; hulle bly in die kar en word in die kar ge-swab [’n monster word met ’n depper geneem].

“Ons het net gedink dit is veiliger, want dan gaan hulle nie in ’n gebou in nie. Pasiënte moet dus eerder hul dokters bel as om net by praktyke op te daag en basies die virus oor alles en almal te hoes nie.”

Paniekbevange

Hulle was verskriklik besig tot net voor die inperking op 27 Maart begin het.

“Álmal was paniekbevange en almal het ook besef die lockdown kom en hulle moes hulle voorskrifte en voorskrifte vir chroniese medisyne kry. So almal het gehárdloop. Maar ons het dit ook meesal nog oor die foon uitgesorteer, en toe is dit mórsdoodstil – niemand wil ons eens bel nie. Ek dink almal het net agter hulle deure gesit. So die afgelope twee weke is baie stil. Al die toetse wat ons deur ons kollektiewe praktyk laat doen het, het negatief teruggekom. So ons het nou al vir meer as ’n week nie ’n positiewe geval in die praktyk nie. En die pasiënte is nie eens siek nie – hulle het nie griep nie, want hulle is almal by die huis.”

‘Pasiënte in die tuin’

Die praktyk is nou baie meer voorbereid.

“Die pasiënt maak ’n afspraak; die pasiënt wag vir ons by die hek; ons maak die hek oop; ons maak seker die pasiënt het ’n masker op; ons bring hulle in – daar is géén wagkamer nie, geen tydskrifte nie – als is weggegooi . . . Jy weet, ek is mos ’n vreeslike hoarder; ek moes van áls ontslae raak. Ek het ’n stuk plastiek oor my lessenaar en ek werk met ’n masker en ’n voorskoot aan en ons screen oor die telefoon – as enigiemand respiratoriese simptome het, gaan ons hulle nie in die praktyk sien nie; ons gaan hulle buite sien. Ek het mos ’n tuin; ek sien hulle buite in die tuin.”

Vyf stadiums

Die Tygerberg-hospitaal in Parow, Kaapstad, is een van die hospitale wat vir die behandeling van Covid-19-gevalle geïdentifiseer is. Foto: Jaco Marais

Andrade is saam met ander huisdokters “opgeroep” om in hospitale diens te doen.

“Ek is by Kaapstad Mediclinic ingedeel. Ons is in spanne van drie. Die gedagte is dat jy dan ’n dag cover – dit wil sê drie agtuurskofte. Die rooster loop eintlik van nou tot einde September. Op die oomblik doen ons hoofsaaklik opleiding, byvoorbeeld hoe om die beskermende gedrag aan en uit te trek.

“Hulle het vyf stadiums. In stadium een het hulle ons eintlik nie nodig nie. In stadium twee wil hulle maar net hê ons moet die protokolle agtermekaar hê. In stadium drie dink ek gaan hulle ons begin nodig kry – in die sale.

“Ons werk nie in die ongevalle-afdelings nie, so ons sal die pasiënte opneem wat van ongevalle af kom en vir hulle sorg in die saal.”

‘Help om te sterf’

Mediese personeel dra ’n pasiënt uit ’n ambulans buite ’n Covid-19-hospitaal in Rome. Foto: Antonio Masiello/Getty Images

Daar is sekere kriteria en kleure.

“Groen is pasiënte wat huis toe gestuur word; oranje hou jy dop; rooi neem jy op, en dan het jy kritiek en gaan hulle ICU toe.

“Ons job is eintlik maar in daai sale waar pasiënte op suurstof is maar nie op ’n ventilator nie. En dán, die deel wat my eintlik die bangste maak . . . ons gaan waarskynlik ook ontplooi word na waar daar niks meer vir die pasiënte gedoen kan word nie . . . Ons gaan hulle moet help om met waardigheid dood te gaan. En ons sal met die familie moet skakel.

“So, ons werk gaan wees pre-opname in ons praktyke, met ander woorde waar ons moet seker maak dat mense nie onnodig by die hospitale uitkom nie, en dan in die algemene saal waar pasiënte nog nie só siek is dat hulle in intensief behandel moet word nie, en dan palliatief.

“Die spesialiste – die interniste, die pulmonoloë en die narkotiseurs gaan met die geventileerde pasiënte werk.”

‘Ek wíl nie’

“Ons huisdokters is almal in dieselfde bootjie.”

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, het Maandag gesê Suid-Afrika gaan waarskynlik nié die eksponensiële groei wat die virus wêreldwyd toon, kan vryspring nie.

“Ek wíl nie daar in ’n hazmat suit staan vir agt ure en sulke besluite hoef te neem nie. Ek wíl dit nie doen nie, maar ’n mens gaan dit moet doen – jy het nie ’n keuse nie, want daar is niemand anders wat dit kan doen nie.

“Die mense waarmee ons gaan werk, is dié vir wie daar nie ventilators is nie. Dít is die mense oor wie daar besluit word: Jy gaan in elk geval doodgaan, ons gaan nie ’n ventilator ‘mors’ nie.

“Sulke besluite hang absoluut af van wie almal in die queue is. Al wat jy eintlik het om na te kyk is wat in Italië en Spanje gebeur het. Daar was, dink ek, die cut off 65; in ’n stadium was dit 60; en dan enigiemand wat ’n ander siekte het, met ander woorde hipertensie, diabetes, asma of chroniese obstruktiewe lugwegsiekte.

“So, dis ’n geval van, kom ons sê daar is een ventilator en 20 mense wat kwalifiseer om geventileer te word – wie gaan jy kies? Jy gaan die een kies wat die beste kans op herstel het.”

‘Verskriklike asemnood’

Hoe word daardie mense behandel wat nie aan ventilators gekoppel word nie?

“Die groot ding is die angs en die verskriklike asemnood. Hulle het Haloperidol [’n antipsigotiese middel wat gewoonlik gebruik word vir die behandeling van toestande soos skisofrenie en maniese episodes] gebruik in China en, ek dink, Europa. Dit is nie eens meer beskikbaar nie. So, ek dink teen die tyd dat daai ding ons strike, is ons op waarskynlik die ekwivalent van Valium, Ativan . . . Jy gaan die pasiënt sedeer . . . morfien, terwyl daar nog is.

“Wanneer mense aan hipoksie ly, reageer hulle op verskillende maniere. Party raak geweldig agitated en onrustig, terwyl ander mense maar net bietjie deurmekaar en relatief rustig is. So, ek dink dit gaan afhang van jou . . . Hulle praat van ’n happy hypoxic; dis die mens wat eintlik net ’n bietjie dilly is en heel rustig is en nie eens weet hy is hipoksies nie en dan kry jy die ander een wat half struggle en stóéi en deurmekaar raak en angstig raak. Dáái pasiënte sal ’n mens sedeer.”

‘Geen geliefdes’

Doodskiste in ’n kerk in San Giuseppe, Italië, voordat dit na ’n krematorium geneem sou word. Foto: Pier Marco Tacca/Getty Images

Dit is soos om stadig te versmoor.

“Jy kry net nie genoeg suurstof nie. Dis soos om in ’n kamer te wees waar daar nie genoeg suurstof is nie.”

Die beeldmateriaal uit lande soos Italië is vir haar “net verskriklik”.

“Daai pasiënte het dikwels geëindig in ténte buite die hospitaal. Daar is nie eens plek vir hulle nie. Jy kan hulle ook nie terugstuur in die gemeenskap nie, want hulle is ’n groot infeksie-risiko.”

En hulle kan nie geliefdes by hulle hê nie.

“Ja, hulle gaan alleen dood . . . Dit is waaroor hierdie hele afplatting van die kurwe gaan – sodat jy infrastruktuur het om sovéél mense as moontlik te help.”

Vrees en angs

Ek pols haar oor hoe gevaarlik die werk is wat dokters nou doen; hoe blootgestel hulle aan infeksie met die koronavirus is.

“Dokters is absoluut bekend daarvoor dat ons nie eintlik aan onsself dink nie. Ek sê nie dis reg nie; dis dikwels ’n probleem – jy kry party dokters wat totale cowboys is. Maar dis ’n interessante ding, dis amper asof dit iets in ons genetika is – jy laat eintlik nie te veel van daai [vrees] toe nie. Jy is opgelei om net te doen wat jy moet doen. Ons huisdokters is almal in dieselfde bootjie. Dis amper soos ’n trop, en dít help. Almal doen die regte ding. Almal doen wat hulle moet doen.

Ek dink my angs is emosioneel . . . Die vooruitsig van om pasiënte te sien doodgaan.

“Ek is meer bekommerd oor die verpleegpersoneel. Húlle het ’n báie harde job . . . Een dokter met 30 goeie verpleegsters kan hónderde pasiënte oppas. Húlle is die ouens wat die werk op die grond doen; ons doen die dinkwerk.”

Ervaar sy dus geen vrees of angs nie?

“Nee, nog nie . . . dit kom. Ek dink my angs is emosioneel . . . Die vooruitsig van om pasiënte te sien doodgaan. Om in daai palliatiewe omgewing te werk en te weet jy kan éintlik niks doen nie. Om daai keuses te moet maak van wie kry die ventilator en wie kry dit nie. Dít is waar my angs sit.

“As hierdie ding by ons verbygaan, dink ek is ons baie gelukkig . . . Baie, baie, baie gelukkig.”

'Jou instinkte is gedemp'

Ons praat oor die uitdagings van telefoonkonsultasies.

“Ek is eintlik nogal verbaas. Ek het net my WhatsApp Audio gebruik wat heel goed gewerk het. Daar is ander mense wat Zoom en Skype gebruik en Discovery het ’n platform,” sê Andrade.

“Die uitdagings is dat jy die pasiënt nie so lekker kan lees nie. ’n Mens besef daar is eintlik so baie wat jy oplet sonder om te wéét jy let dit op. Ek het vandag weer ’n paar pasiënte ingebring wat ek nou laasweek op die telefoon gehad het en ek is nie happy nie en ek het gesê: ‘Kom in, ek wil kyk.’ En ek besef net dit is nié dieselfde nie. Dis amper asof jou instinkte gedemp is.

“Die pasiënte wat ek vandag hier gesien het, en ek het eintlik net vir hulle dieselfde gedoen as wat ek oor die foon gedoen het, sê almal: ‘Oeg, ek voel sóveel beter want ek het jou gesien.’

“Dis ook net daardie menslike kontak. Ek dink nie mense is veronderstel om so sonder menslike kontak te wees nie . . .” Sy sê sy is baie “old school”.

“Ek skryf met ’n vulpen en nou gebeur alles daar op ’n virtuele platform en ek is ongemaklik daarmee. Die jonges vind dit makliker. Maar ons het weer vaardighede wat hulle dalk nog nie het nie. Soos ’n instink en ’n radar wat nou ewe skielik net nie meer daar is nie . . . Ek voel of ek ’n sintuig verloor het.”


Meer oor:  China  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.