Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Korona: ‘Vrees maak mense dierlik’

Dr. John Gosling, ’n psigiater en Jungiaanse analis, verduidelik aan Murray La Vita waarom die korona-pandemie sommige mense soos diere laat optree.

Dr. John Gosling in sy spreekkamer in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Die beskouing bestaan dat naas die korona-pandemie ook ’n pandemie van vrees ontwikkel het.

“Ongetwyfeld, ja. Ons het te make met ’n onsigbare vyand en al wat ons weet, is dat hierdie vyand moontlik ons liggame gaan binnedring, ons dalk gaan siek maak en in sommige gevalle ons dood gaan veroorsaak,” sê Gosling waar ons in sy praktyk in Kaapstad sit en gesels.

“Jy kan dit nie sien nie; jy weet nie as dit aanwesig is nie – dít lei tot ’n sterk aktivering van die vreessentrum in ons brein, die amigdala. Daar word dikwels gepraat van die veg-of-vlug-respons; dit gaan oor oorlewing want ons oorlewing word bedreig.”

Kuddegedrag steek kop uit.

“Ons verneem in die media van wat jy amper kan beskryf as stormlope van mense wat toiletpapier en kos in grootmaat aankoop. Dit is rasioneel en redelik om ’n goeie voorraad van sekere kossoorte te koop vir ingeval jy byvoorbeeld vir twee weke in self-afsondering moet wees.

Die ‘beste en die slegste’ gaan uitkom

Die verskynsel van Italianers in afsondering wat in stede soos Florence op hul balkonne gaan staan en sing, kom ter sprake.

“Dit gaan die beste én die slegste in mense uitbring. ’n Voorbeeld van die beste hier in ons buurt is iemand wat op ons WhatsApp-groep aangebied het om inkopies te doen vir bejaarde mense wat nie maklik by winkels kan uitkom nie. Dít is die soort dinge wat ons kan doen.

“Hierdie menslike geneigdheid om ander te wíl help gaan na vore kom. Dít gaan een van die positiewe aspekte van hierdie pandemie wees.”

Maar andersyds sal selfsugtige en selfgesentreerde gedrag manifesteer wanneer die vrees en oorlewingsinstink oorneem.

“Maar hierdie paniekaankope en vrees spreek daarvan dat mense heeltemal buite beheer voel. Ons kan nie hierdie virus beheer nie – dit is absoluut onsigbaar – maar ons kan beheer wat ons koop. Wanneer ons uitgaan en gaan koop, voel ons of ons iets dóén. Dit is ’n illusie van beheer.

“So, die oorlewingsinstink kom na vore en dan regresseer ons na vroeëre, primitiewe vlakke van gedrag, en bedagsaamheid en maniere verdwyn. Dit is instinktiewe gedrag, soos wat diere sou optree.”

Om hierdie instinktiewe gedrag te temper het ons ons linkerbreine nodig.

“Die kognitiewe moet oorneem. Ons moet wat aan die gebeur is op ’n kognitiewe, bewúste wyse verwerk want daardie instinktiewe reaksie is ’n ónbewuste een wat outomaties as deel van die outonome senuweestelsel plaasvind.”

Vrees sal aangevuur word deur vals inligting of disinformasie en dit sal verminder word deur kennis en ingeligtheid oor die virus, wat ’n mens in staat stel om te weet wat jou te doen staan.

“’n Mens is geneig om óf disinformasie geredelik te aanvaar óf om in ’n staat van ontkenning te gaan en te sê: ‘Nee, hierdie is ’n oorreaksie.’ Dít is ’n vorm van ontkenning om eenvoudig net nie hierdie skrikwekkende werklikheid in die oë te wil kyk nie.”

‘Almal word geraak’

Selfs wanneer ons in afsondering is, is dit belangrik dat ons ons tuistes verlaat, sê Gosling.Foto: Jaco Marais

Ons praat oor die impak wat self-afsondering of beperkte sosiale interaksie op mense se gedrag kan hê.

“Daaroor kan ons nie veralgemeen nie. Dit sal op almal ’n mate van ’n impak hê; daar sal natuurlik graadverskille wees. Dít gaan afhang van hul vorige gemoedstoestand, hul geestesgesondheid, veerkragtigheid en eie kapasiteit om uitdagings en spanning die hoof te bied. Hoe beter ’n mens toegerus is om met daardie situasies om te gaan hoe kleiner gaan die impak op jou wees.”

Dit gaan op álmal die een of ander impak hê.

“Maar die moontlikheid bestaan dat dit ’n groter impak sal hê op mense met onderliggende sielkundige toestande. Ons praat hier van depressie, bipolêre gemoedsteuring, angssteurings, obsessief-kompulsiewe gedragsteurings. Sulke onderliggende toestande kan sterker na vore kom en vererger word.”

Gesprekke waarin mense gerusgestel word of die geleentheid het om oor hul vrese te praat, kan baie waardevol wees.

Dit is belangrik dat mense dít in gedagte hou en dan, indien hulle probleme ervaar, hulp kry.

“Bel jou mediese praktisyn, psigiater, terapeut, of wie ook al en vra om hulp. Sulke gesprekke waarin mense gerusgestel word of die geleentheid het om oor hul vrese te praat, kan baie waardevol wees. Dit mag ook nodig wees om die dosisse van medikasie aan te pas.

“Dan is daar die voorspelbare bedrywighede wat spanning kan verlig waarby mense betrokke kan raak indien hulle werklik angstig begin raak: Haal diep asem; gebruik iets soos Rescue Remedy of medikasie teen angs; doen strekoefeninge, joga of Pilates.”

‘Lang oorlog’

Selfs wanneer ons in afsondering is, is dit steeds belangrik dat ons ons tuistes verlaat.

“Daar is geen beperking daarop om te gaan stap of in die natuur te kom nie. Dít is baie belangrik, want mense kan vir die afsienbare toekoms nie na rolprentteaters of konserte gaan of openbare praatjies bywoon nie.

Verminder ander infeksies

Nog ’n moontlike pluspunt van die pandemie is dat dit álle virusinfeksies kan verminder indien ons die voorsorgmaatreëls nakom, sê Gosling.

“Dit sal byvoorbeeld griep verminder. Maar dit is natuurlik uiters belangrik om teen griep ingeënt te word want indien jy griep kry, is jy baie meer weerloos vir érnstige komplikasies van die koronavirus – veral longontsteking.”

“Dít kan drie maande, ses maande, selfs nege maande duur, want sodra die eerste vlaag verby is, sal daar ’n tweede vlaag wees totdat almal een of ander vorm van immuniteit teen die virus het. So, hierdie is ’n lang oorlog.”

Dit kan veral ’n uitdaging wees vir mense wat knaend na afleiding buite hulself soek deur byvoorbeeld inkoopsentrums te besoek of hulle te verslinger aan vermaak in openbare plekke.

“Dit is ’n uitdaging én ’n geleentheid in dié sin dat mense nou eenvoudig sal móét stil word en byvoorbeeld ’n bietjie meer lees of mediteer of introspeksie doen.

“So baie bedrywighede is natuurlik steeds aanlyn beskikbaar want ons leef in ’n gedigitaliseerde wêreld. Maar dit is die communitas, ons is sosiale diere wat sosiale omgang nodig het en dít gaan die uitdaging wees.”

Groot verliese

“Dit is gepas om oor hierdie verliese en teleurstellings te rou en mekaar te ondersteun.”Foto: Jaco Marais

Wat is die sielkundige impak op mense soos kunstenaars wat geraak is deur die kansellasie van feeste of die sluiting van teaters; van skrywers wie se boekbekendstellings en -toere afgestel is, van mense wie se gradeplegtighede afgestel is?

“Dit is ’n groot verlies. Jy het ’n doelwit gehad en hard gewerk om dit te verwesenlik en skielik is dit net weg. Jou aspirasies, die uitdrukking van jou kreatiwiteit is daarmee heen.

“Dan is daar natuurlik die verlies aan inkomste; die mense wat hul werk verloor; hele loopbane wat verwoes word; ondernemings wat gekelder word. Dit is ongelooflike groot verliese.

Ek dink nie ons het al die omvang van hierdie pandemie besef nie. Ons het nog nooit voorheen so iets beleef nie; dit is sonder weerga. Dit begín nou eers deurskemer wat die implikasies is. Ons wéét nie eens wat die uiteindelike implikasies gaan wees nie.

“Ek dink in sulke gevalle vind ’n diep verwonding plaas. Dit is baie pynlik. Maar dit is belangrik om te besef dit is nie persoonlik nie – hoewel dit baie teleurstellend is, is dit nie ék wat misluk het nie.

“Dit is gepas om te rou oor hierdie verliese en teleurstellings, en om mekaar te ondersteun.

“Daar is natuurlik onder sulke omstandighede by sommige mense die geneigdheid om van hul sorge te probeer ontsnap deur drank- of dwelmmisbruik. Dit is vermydingsgedrag; pogings om die pyn van hierdie verlies te vermy.

“Die verlies is ook ’n verlies van ’n lewe soos wat ons dit tot nou geken het, van ’n hele bestaanswyse. Dit is nou weg. Dit gaan nooit weer dieselfde wees nie.

“Ek dink nie ons het al die omvang van hierdie pandemie besef nie. Ons het nog nooit voorheen so iets beleef nie; dit is sonder weerga. Dit begín nou eers deurskemer wat die implikasies is. Ons wéét nie eens wat die uiteindelike implikasies gaan wees nie.

“Ons praat nie hier van twee weke of twee maande nie. Hierdie is die nuwe normaal.”

‘Ken jou vrese’

Die uitdaging is dat ons bewús word van die onderliggende vrese en kwessies wat deur die pandemie geaktiveer word.

“Dán kan die psige dit verwerk – daardie vrese, fantasieë, gedagtes en emosies kan dan geprosesseer en herformuleer word. Maar solank as wat dit verborge bly, aktiveer dit eenvoudig die outonome senuweestelsel en niks kan verander nie.

“Ons het almal die potensiaal om selfsugtig en moontlik op ’n destruktiewe wyse op te tree en dit is dikwels deel van wat ons in Jungiaanse terme ons skadukant noem, daarom is dit so belangrik om dit bewus te maak en te integreer.”

Carl Gustav Jung, die vader van die analitiese sielkunde, het gepraat van ’n kollektiewe “besmetting” wat in hierdie soort omstandighede kan plaasvind.

“Voorbeelde hiervan is die groot saamtrekke van mense soos Trump en diktators soos Hitler. ’n Besmetting van die groep vind dan plaas. Die psige het die vermoë om besmet te raak. ’n Groep-energie kom dan tot stand wat die individuele psige oorweldig. So, daardie gevaar bestaan in situasies soos hierdie.

“Maar deur afsondering en die beperking op die byeenkomste van groot groepe, verminder daardie gevaar natuurlik.”

Die dood

Volgens Jung is skadu-aspekte in die psige negatief én positief.

“Skadu-aspekte is aspekte in ons psige wat nog nie na vore getree het nie en wat ons nog nie geïntegreer het nie. Dit kan negatiewe gedrag soos gulsigheid wees waar ons mense uit die pad uit stamp en baie onbedagsaam optree, maar daar is ook positiewe aspekte wat nou na die oppervlak kom en geïntegreer en gerealiseer kan word. En dít is ’n wonderlike geleentheid.

“As ons oor argetipes dink, is dit die argetipe van die dood wat ook nou met die pandemie aanwesig is en na vore tree. Ons moet almal die moontlikheid van ons eie dood konfronteer en die nodige rasionele en gepaste voorsorg tref.

“Soos om seker te maak dat jou testament reg is en jou mediese praktisyn ’n afskrif daarvan het. Of om seker te maak dat jou geliefdes weet waar jou sterfvoorskrifte is asook besonderhede van jou rekeninge en so aan – práktiese dinge.

“Dít is ook ’n manier om beheer te neem: ‘Oukei, dít is die werklikheid, maar ek kan dít doen en hierdie voorsorgmaatreëls tref.’ ”

Geneser en redder

“Hierdie paniekaankope en vrees spreek daarvan dat mense heeltemal buite beheer voel.”Foto: Jaco Marais

Buiten die oorlewingsargetipe gaan die korona-pandemie ook die argetipe van die geneser en dié van die redder in baie van ons aktiveer.

“Met ál dié argetipiese energie is dit belangrik om jou nie daarmee te identifiseer nie. Wanneer jy dít doen, wórd jy die redder of die geneser en dan is dit problematies.

“Jy kan daarvan bewus wees dat die argetipe jou geneigdheid om te red of te genees rig of dryf, maar jy moet dit nie wórd nie.”

Ons sal ook geneig wees om na die redder of die geneser te soek.

“Ons gaan in tye soos dié daardie energie op mense projekteer, maar daar is geen redders nie. Die enigste redder en die enigste geneser is binne onsself.”

Kwaksalwers is ’n voorbeeld van mense wat hulle met ’n argetipe vereenselwig.

“So iemand sê dan: ‘Ék het die kuur.’ En daar gaan beslis nou kwaksalwers opduik wat sê: ‘Gebruik net dít of dát.’ En op die oomblik is daar geen kuur nie – slegs voorsorgmaatreëls.”

Korona 'ken geen grense'

Ek pols Gosling oor samesweringsteorieë wat besig is om in die kielsog van die pandemie kop uit te steek.

“Samesweringsteorieë is pogings om dít te verklaar wat skrikwekkend is. Mense wat daarmee te koop loop, meen hierdie kán nie net ’n virus wees wat van vlermuise af kom via ietermagogs na mense nie. Nee, dit móét iets wees wat in ’n laboratorium geskep en op die mensdom losgelaat is.

“Trump het aanvanklik daarna verwys as die Wuhan-virus, met ander woorde dit is húl virus. Maar virusse ken geen grense of ras of enige kultuur nie. Dit is absoluut belaglik; jy kan dit nie ’n Wuhan-virus noem nie. Dit is ’n uiters gevaarlike ding om te doen want dit lei tot xenofobie, iets waaraan Asiërs nou blootgestel word.”

Ons komplekse

“Die enigste redder en die enigste geneser is binne onsself.”Foto: Jaco Marais

’n Ruk ná ons onderhoud – en nadat hy met sy kollegas Grace Reid en Alexandra Krithades gekoukus het – stuur Gosling ’n e-pos waarin hy uitbrei op hoe sosiale afsondering ons meer weerloos vir die aktivering van ons komplekse maak.

“Komplekse is daardie aspekte in ons psiges wat gevorm het rondom vorige ervarings – dikwels uit ons kinderdae – en wat steeds soms in die hede geaktiveer word, asof wat in die verlede gebeur het, nou weer afspeel.

“Sosiale afsondering kan byvoorbeeld die negatiewe kompleks van die ma wat die kind verlaat of versaak het, aktiveer en ons die nood laat ervaar van die versaakte kind wie se behoeftes nie deur positiewe moederlike argetipiese energie bevredig is nie.

“Die positiewe aspek van die moederargetipe in ons psiges is lewe wat tot stand kom en gekoester word. Wanneer ’n ma ’n kind versaak deur nie na behore na hom of haar om te sien of te koester nie, vorm die negatiewe, versakende moederkompleks.

“Die bedreiging van die koronavirus kan ook ons negatiewe, verorberende vaderkompleks wakker maak aangesien die onsigbare virus die vermoë het om ons te verwoes.”

Indien ons bewus is van ons innerlike komplekse, gaan dit vir ons veel makliker wees om die gewaarwordinge wat die pandemie in ons wakker maak klein te kry en dit te verduur.

“Hierdie pandemie bied dus aan ons ’n kosbare geleentheid om ons innerlike self beter te leer ken. Dit is ’n geleentheid vir nabetragting en om in voeling te kom met ons diepste waardes . . .”

Meer oor:  Donald Trump  |  Pandemie  |  Vrees  |  Paniekaankope  |  Koronavirus  |  Covid 19-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.