Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Krieket vir Protea-kolwer Laura pure genot
Laura Wolvaardt was net 16 jaar oud toe sy haar debuut vir die Protea-vrouekrieketspan gemaak het.Foto: Getty Images

Dis nie jou gemiddelde matriekmeisie wat tydens eksamentyd ’n krieketkolf sal gryp en balle gaan slaan vir ontspanning nie, maar vir Laura Wolvaardt is daar min dinge in die lewe wat haar sovéél genot verskaf.

Om te kolf is vir haar die lekkerste ding op aarde om te doen. Dis ontspannend en niks harde werk nie, beskryf sy die gevoel om ’n krieketbal met ’n wilgerlat te kletter.

Die 18-jarige Protea-held se kolf sal nou wel ’n bietjie minder ingespan word oor die volgende paar weke met onderskeidings wat eers meer gewig as 100-talle gaan dra.

Die Engelssprekende Laura het voorlopige keuring aan die Universiteit Stellenbosch gekry om volgende jaar medies te gaan studeer. Sy wil nie nou al kies tussen ’n sportloopbaan of om ’n dokter te word nie.

“Ek wil regtig baie graag albei gelyktydig probeer doen. Ek gaan met die universiteit gesels om te hoor of ons iets kan reël vir my om steeds volgende jaar met krieket voort te gaan. Dit sal tragies wees indien ek die studies of krieket moet los, ek kán nie kies nie. Ek hoop regtig daar sal ’n uitweg wees,” sê die hoofmeisie van Parklands High School in Kaapstad.

As die naasjongste speler van al die deelnemende lande op die onlangse Wêreldbeker-toernooi vir vroue in Engeland het Laura die stoutste verwagtinge oortref.

Om ’n krieketkolf vas te hou en balle te moker is een van die lekkerste dinge op aarde vir Laura Wolvaardt van Kaapstad. Foto: Getty Images

Haar 324 lopies, wat vier 50-talle vir die Proteas as aanvangskolwer ingesluit het, sowel as 48 nie uit nie, het teen ’n puik gemiddeld van 64,8 gekom. Dít het aan haar ’n plek in die Internasionale Krieketraad se Wêreldbekerspan van die toernooi besorg.

Met dié toernooi wat met haar Junie-eksamen gebots het, sou ’n mens dalk verwag dat sy tydens wedstryde met ’n handboek in die kleedkamer gesit het, maar volgens haar het sy alle boeke tuis in Suid-Afrika gelos.

“Ek verkies om krieket en akademie heeltemal van mekaar te skei. Op toer is my fokus net op krieket en wanneer ek tuis is vang ek weer met die akademiese werk op en speel krieket tweede viool.

Op toer is my fokus net op krieket en wanneer ek tuis is vang ek weer met die akademiese werk op en speel krieket tweede viool.

“Skoolwerk is nou prioriteit vir die volgende paar maande. My vrye tyd is maar min, maar ek hou daarvan om produktief te wees. Ek glo akademie en krieket vul mekaar goed aan.

“Krieket is ’n spel waarin jy baie moet dink en konsentreer. Die dissipline wat met kolfwerk gepaardgaan help nogal met studiewerk. Die ervaring van aanvangskolwer en die druk op die veld, dra weer by om eksamendruk te kan hanteer.”

Met die WB-wedstryde wat regstreeks op Suid-Afrikaanse televisieskerms uitgesaai is, is daar meer as ooit tevore van die Protea-vroue kennis geneem.

Suid-Afrika het net-net in die halfeindronde teen die tuisland vasgeval.

“TV-wedstryde het beslis vrouekrieket op die verhoog gesit. Almal by die skool en in my lewe wou net met my krieket praat nadat ek teruggekeer het. Mense besef nou vroue kan ernstig krieket speel.

Laura Wolvaardt het haar op 18-jarige ouderdom reeds in die Protea-vrouekrieketspan gevestig as ’n aanvangskolwer wat met twee 100-talle en sewe 50-talle spog. Foto: Getty Images

“En ja, ek moet sê die aandag was baie koel, soos klein kinders wat vir ’n foto saam met my sou kom vra het.”

Sy was in die laerskool toe sy die eerste keer die vreugde van kolfwerk ervaar het. Op 15 is sy vir die Westelike Provinsie se senior- provinsiale vrouespan gekies.

Sy was net 16 toe sy verlede jaar haar eendagbuiging vir Suid-Afrika gemaak het en het reeds in haar tweede wedstryd haar eerste van sewe 50 talle aangeteken.

Enkele maande later het haar eerste 100-tal gevolg (die tweede jongste vrou in wêreldkrieket om dit te vermag), en in Mei vanjaar, twee weke ná haar 18de verjaarsdag, het sy haar hoogste telling van 149 teen Ierland in Potchefstroom gemoker.

Dit was net vyf lopies kort van die Suid-Afrikaanse rekord. Ná 25 eendagwedstryde spog Laura met ’n gemiddeld van 48,05.

Nes haar kinderheld AB de Villiers beskik Laura Wolvaardt oor ’n verskeidenheid kriekethoue.Foto: Gallo Images

“Daar was tot onlangs nie enige vrouekrieket op televisie nie, so spelers wat ek bewonder het was AB (de Villiers) en Hercshelle Gibbs. Mignon du Preez (vorige kaptein van die Protea-vrouespan) was en is iemand wat ’n groot inspirasie is.

“Die ambisie om ’n Protea te word het eers begin toe ek vir die WP se senior vrouespan begin speel en teen van die nasionale spelers te staan gekom het. Maar ek het nooit kon dink dit sou op 16-jarige ouderdom al gebeur nie.”

Laura erken met ’n ongemaklike laggie dat sy soms seuns se ego’s in die krieketnette ’n knou gee as hulle haar nie kan uitkry nie.

“Ek het voorheen baie teen hulle in die nette geoefen, maar hier van gr. 10 af begin hulle gewoonlik vinniger boul, baie vinniger as enige van ons vroue. En ja, hulle is gewoonlik nogal gretig om my paaltjie te probeer inoes.”

Krieket word nog nie as sport deur meisies aan haar skool beoefen nie, iets wat sy hoop in die nabye toekoms sal verander.

Terwyl sy veronderstel was om haar Junie-eksamen af te lê, het Laura Wolvaardt van Kaapstad die lopies in Engeland opgestapel.Foto: Getty Images

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.