Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Boodskap aan al die Brackenfells van SA

Wat by die Hoërskool Brackenfell gebeur het, gaan in die toekoms weer gebeur. Wat ons nodig het, is gemeenskapsleiers wat volwasse genoeg is om hierdie dinge onder mekaar te takel, sê eerw. Alan Storey aan Murray La Vita.

Eerw. Alan Storey praat vandeesweek in sy kantoor in Kaapstad oor rassisme en geweld. Foto: Adrian de Kock

“Met die Brackenfell-situasie is daar sekere waarhede wat onder die bewerings lê. Wat daar gebeur het, is die waarheid van so te sê elke liewe Suid-Afrikaanse gemeenskap,” sê Storey.

Ons sit op ’n bewolkte oggend in sy kantoor langs die Metodistekerk op Groentemarkplein in Kaapstad. Die 52-jarige Storey is die seun van eerw. Peter Storey, ’n groot struggle-figuur en voormalige president van die Metodistekerk in Suid-Afrika.

“Ons reageer met verbasing wanneer dit gebeur, maar dit sal aanhou gebeur. Daar sal nóg ’n Clicks [waar teen ’n haarproduk betoog is wat as vernederend teenoor swart mense beleef is] en nóg ’n Brackenfell wees. Daar is nie ’n enkele gemeenskap waarin dit nie waarskynlik gaan gebeur nie.

“Die een waarheid is dat rassisme werklik bestaan. Ek bedoel . . . Hoe gebeur dit dat 42 mense uit ’n matriekgroep ’n geleentheid hou waar net mense van een velkleur aanwesig is?”

’n Rasseherrie het onlangs rondom die Hoërskool Brackenfell losgebars weens ’n “matriekafskeid” wat kwansuis net deur wit leerlinge bygewoon is.

Die EFF het toe by dié skool gaan betoog, maar is deur nagenoeg 300 ouers en gemeenskapslede voorgekeer voordat hulle by die skool kon uitkom. Dié twee groepe het mekaar toe met klippe en wapens getakel terwyl die polisie skokgranate afgevuur het om die betogers uiteen te dryf.

“Wat ek dus sê, is afgesien van of dit ’n private geleentheid was of nie . . . Dís nie die kwessie nie; selfs al wás dit so of nié so nie; selfs al het sekere mense uit eie wil dit nie bygewoon nie . . . Watse soort gemeenskap is dit waar so iets gebeur? Is dit net toeval? Ek dink nie so nie.

“Dit sal hoogs onlogies wees en op selfbedrog neerkom om te dink dit is blote toeval. Dus: my aanname is dat rassisme ’n werklikheid is en dat dit aanwesig is.”

‘Almal is bevooroordeeld’

Ons moet dit as vanselfsprekend aanvaar dat daar rassisme in Suid-Afrika is.

“Wat is rassisme? Rassisme is vooroordeel plus die mag om op grond van daardie vooroordeel op te tree. Daar is nie ’n enkele mens wat nié bevooroordeeld is nie, maar net sommige van ons het die mag om op grond daarvan op te tree.”

Maar jy moet weet dat sommige mense instap in ’n omgewing waarin hulle tuis voel en ander mense stap daar in en voel vervreem.

Dit is waarom dit belangrik is om te vra: Wie het die mag?

“ ’n Mens moet eerstens vra: Wat gee mense mag? Geld. Kyk nou na enige situasie. Waar die geld is, is die mag. Posisies of ruimtes kan ook mag gee. Wie is die meerderheid mense wat ’n ruimte beset? Wat is die geskiedenis van hierdie ruimte? Dit alles laat die mag toeneem.

“Dáárom is dit waarskynlik dat indien ’n skool ’n wit skool was, is daar in die etos, die gees, die reëls, die verhoudings . . . in dít alles is mag opgesluit.

“Dit is alles goed en wel om jou skool aan almal oop te stel, maar jy moet weet dat sommige mense instap in ’n omgewing waarin hulle tuis voel en ander mense stap daar in en voel vervreem; hulle moet onderhandel.”

‘Sy voel asof sy verdrink’

’n Konfrontasie vroeër vandeesmaand tussen EFF-lede en inwoners van Brackenfell. Foto: Neels Kleynhans/NK Photography

As deel van sy opleiding as Metodiste-leraar het Storey in 1990 ’n week in Soweto deurgebring.

“Aan die einde van die week was daar ’n kerkdiens en ná die diens het almal wat daaraan deelgeneem het bymekaar gekom en het een van die leraars ’n gesang begin sing – in Afrikaans.

“Dit was een van hierdie wonderlike gesange wat jy in Afrikaans, Engels of Xhosa kan sing. Kort voor lank het die meerderheid van die mense – Xhosasprekendes – begin saamsing en gou kon jy net die Xhosa hoor; die Engels en Afrikaans is oorheers, maar daar was hierdie harmonie.

Ek onthou daardie week as ’n wit mens in ’n swart ruimte. Jy glimlag baie. Dit voel asof jy die hele week net moet glimlag.

“Die vrou wat begin sing het, begin toe huil. Ons hou toe op en vra: ‘Wat is verkeerd?’ Sy sê toe: ‘Hoekom moet julle mense alles probeer oorneem? Ek is nou al ’n week hier en dit voel asof ek verdrink. Toe ek hierdie gesang in mý taal sing, het dit gevoel of ek opkom om asem te skep. Maar wat doen julle? Julle druk my weer onder die water.’

“Ek onthou daardie week as ’n wit mens in ’n swart ruimte. Jy glimlag baie. Dit voel asof jy die hele week net moet glimlag. Jy probeer mense die heeltyd dophou en uitvind wat die regte ding is om te doen: Skud jy hande? Gee jy ’n druk? Soen jy? Wat doen jy? Dit was uitputtend.

“Toe ons later daardie aand besig was om die voorval te prosesseer, het een swart mens ná die ander gesê: ‘Welkom in ons wêreld. Wat julle ’n week lank ervaar het, ervaar ons elke minuut van elke week.’”

‘Meer as k-woord’

Storey in die Metodistekerkgebou op Groentemarkplein wat pas weer oopgestel is nadat dit in ’n gehawende toestand agtergelaat is deur vlugtelinge wat daar geskuil het. Foto: Adrian de Kock

Rassisme is veel meer as om die k-woord te gebruik.

“Dit lê in instellings. En net omdat jy nie bedoel om rassisties of homofobies te wees nie, beteken nie dat die ruimte wat jy beset nié daardie rassisme of seksisme of homofobie oordra nie.”

As wit gemeenskap behoort ons nederig genoeg te wees om iets oor onsself te leer. Vir ’n skool – wat ’n mikrokosmos van die gemeenskap is – om terug te val op ontkenning, is nie sinvol nie.

En dit is nie belangrik of die beheerliggaam of die hoof sê die skool is nie rassisties nie, wat belangrik is, is wat die swart leerlinge dink.

“Stel jou voor as hulle gesê het: ‘Of dit nou ’n private geleentheid was of nie, dit ontstél ons dat kinders saam deur hul héle hoërskoolloopbaan kan gaan en verhoudings dan nog so kleurgebonde kan wees. Ons moet nou daarna kyk.’

“Wat egter gebeur in elke skool waarin ek al gewerk het en waar daar een of ander kwessie met rassisme is, is dat hulle hulself verdedig.

“Ek dink nie dít is sinvol nie. En dit is nie belangrik of die beheerliggaam of die hoof sê die skool is nie rassisties nie, wat belangrik is, is wat die swart leerlinge dink.”

’n ‘Beter benadering’

“Uiteindelik moet ons gaan sit en praat, so hoekom nie daar begin nie?” Foto: Adrian de Kock

Hy dink die gedrag van sekere ouers by die Hoërskool Brackenfell was “heeltemal onaanvaarbaar”.

“Maar laat ek eers oor die EFF praat. Hulle het ’n reputasie van intimidasie, dreigemente en geweld. En dít sal uiteindelik hul ondergang beteken. As jy aan die bewind kom deur sulke metodes te gebruik dan sal jy dáárop moet staatmaak om aan die bewind te bly. En jou vyande sal daardie einste dinge teen jou gebruik.

“So, die oomblik as jy intimidasie, dreigemente en geweld begin gebruik, het jy ’n grens oorgesteek en hoef mense nie meer na jou standpunt te luister nie en kan hulle jou metodes gebruik en sê: ‘Ons hoef nie verder te luister nie, want kyk hoe tree jý op.’”

Geweld spruit uit vrees. Dit is ’n uitdrukking van vrees. Maar waarom was hulle bang?

“Wat ek van Brackenfell sou verwag het . . . Ja, ouers kan besorg wees, maar die oomblik wanneer húlle gewelddadig optree, wat ook al hul bekommernisse mag wees . . . Die ironie is dat hulle geweld gebruik om gehoor te word, maar dis eintlik dan geweld wat daarvoor sorg dat hulle nié gehoor word nie.”

Wat sou ’n beter benadering gewees het? Dit het gelyk asof die ouers en ander gemeenskapslede probeer het om die skool teen protesterende EFF-lede te beskerm.

“Ja, geweld spruit uit vrees. Dit is ’n uitdrukking van vrees. Maar waarom was hulle bang? Ja, die EFF het ’n reputasie, maar aanvanklik was daar nie ’n groot groep nie.

“As jy deel is van ’n wit gemeenskap, kan jy dit bedreigend vind. Maar dié van ons wat sulke omstandighede ken . . . Dít is hoe mense hulself uitdruk, deur te sing en te toi-toi. Daar was nie aanvanklik ’n gevaar van geweld nie.”

Die eerste klip

Die vraag is wie moet in so ’n situasie volwasse optree?

“Die uitdaging is om waar te neem en nie te reageer en beslis nie aan te hits nie. Ek wil nie in dié spesifieke geval verstrengel raak nie. Dít is ’n geleentheid waaruit die hele land iets kan leer.

Waarom luister ons nie? Waarom is ons so verdedigend?

“Wie het die eerste klip gegooi? Dis soos ouerskap – jy moet verby die kwessie beweeg van watter kind die eerste klip gegooi het.

“Uiteindelik moet ons gaan sit en praat, so hoekom nie daar begin nie? Waarom luister ons nie? Waarom is ons so verdedigend? Natuurlik is dit so dat die EFF daardie reputasie het en dat mense hulle met geweld, intimidasie en ’n bedreiging vereenselwig.

“Maar méér hiervan gaan gebeur, nie minder nie. Wat ons dus nodig het, is gemeenskapsleiers wat groot en volwasse genoeg is om hierdie kwessies onder mekaar uit te werk.”

Die ‘grootste geweld’

’n Groot groep EFF-lede betoog voor die Hoërskool Brackenfell. Foto: Adrian de Kock

Daar is baie maniere waarop jy iemand kan doodmaak. Die groot en mees wydverspreide geweld in Suid-Afrika is die geweld van geweldige armoede en ongelykheid.

“Dít is geweld. En wit mense betoog nie daarteen nie. Kom ons neem die voorbeeld van Prasa en die sentrale treinspoor na en van Khayelitsha waarop treine al geruime tyd nie meer loop nie.

“Ek en jy gebruik nie die treine nie en ons vriende gebruik nie die treine nie. Maar as die N2 gesluit word, word alle middele ingespan om die probleem op te los en dit so gou as moontlik weer oop te stel.

“Die treine kan vir ’n jaar nie loop nie en niks gebeur nie. Dit is nie omdat ons nie die kundigheid het om die probleem op te los nie; dit is net die wil wat ontbreek.”

Die gevolge van armoede en deprivasie sal áltyd die primêre geweld wees.

Dit is ’n bestel wat mense geweld aandoen.

“Wat dan gebeur as mense daarteen betoog, word dít as geweld beskou en ons sê: Moenie gewelddadig wees nie. Jy het eers die reg om vir mense dít te sê indien jý die geweld van die bestel veroordeel; die geweld van die afwesigheid van dienste.

“Die gevolge van armoede en deprivasie sal áltyd die primêre geweld wees.” Hy bly ’n ruk stil en sê dan: “En natuurlik is daar die verskriklike tragedie van so baie mense wat in leiersposte is en by magte is om hierdie deprivasie te verlig, maar die middele dan steel. Dít is óók geweld, want alles wat van armes weerhou word – onderwys, gesondheid, noem maar op . . . Elke ekstra sent wat ons nou aan skuld moet betaal eerder as aan dienste, is ’n vorm van geweld.

“Indien ons nie dit ons prioriteit maak nie om radikale veranderinge aan te bring wat verligting bring vir die oorweldigende meerderheid mense wat letterlik desperate lewens lei, gaan hulle ons dwing om dit te doen.”

‘Moenie harte toemaak’

“Die uitdaging is om waar te neem en nie te reageer en beslis nie aan te hits nie.” Foto: Adrian de Kock

Storey het in Oktober aan ’n groep asielsoekers skuiling in sy kerk gebied. Hulle het later teenoor mekaar gewelddadig geraak. Die laaste mense is uiteindelik in April uit die kerk verwyder wat hulle in ’n uiters gehawende toestand agtergelaat het.

“Elke keer wat geweld gebruik is, het die mens of groep wat geweld gebruik het, geloofwaardigheid verloor. So, die geweld deur die polisie op 31 Oktober, en die wyse waarop dit uitgespeel het . . . Ek dink enigiemand met ’n krieseltjie meegevoel, sou gesê het: ‘Kom in. Skuil hier.’

Ons moenie ons harte toemaak nie.

“Wat later báie ontstellend en ontmoedigend was, maar weer eens moet ons nie te verbaas wees daaroor nie, is dat die mense aan wie skuiling gebied is, gewelddadig was. Hulle het dreigemente en intimidasie gebruik en enigiemand wat van hulle verskil het, gedreig.

“Ek het húl geweld net so sterk veroordeel as wat ek die aanvanklike polisiegeweld veroordeel het. Net soos wat ek die geweld in Brackenfell sal veroordeel as lelik en onvolwasse en teenproduktief, was ook húlle geweld lelik en onvolwasse en teenproduktief.

“Een van die lesse wat ek daaruit geleer het, is dat ons nie moet toelaat dat dít daartoe lei dat ons ons harte toemaak nie. In die toekoms sal daar nóg weerlose mense wees.”

Meer oor:  Eff  |  Brackenfell  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.