Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘DA veg om oorlewing,’ sê Steenhuisen

Die DA is in die moeilikheid en die oorlewing van die demokratiese projek is nie ’n uitgemaakte saak nie, sê John Steenhuisen, nuwe parlementêre leier van die party, aan Murray La Vita.

John Steenhuisen, nuwe parlementêre leier van die DA, praat in sy kantoor oor die toekoms van dié party. Foto: Adrian de Kock

Die afgelope ruk was baie moeilik, sê Steenhuisen.

“Op ’n persoonlike sowel as professionele vlak. Jy weet, ek het lank baie nou saam met Mmusi gewerk. Hy is my vriend . . . Hy het my in die huwelik bevestig. Om sowel ’n leier as ’n vriend in die organisasie in sulke omstandighede te verloor wás moeilik.”

Die omstandighede: Mmusi Maimane, DA-leier, en Athol Trollip, federale voorsitter, het ’n week gelede uit die party bedank nadat ’n hersieningspaneel wat die probleme in die DA ondersoek het tot die gevolgtrekking gekom het dat die leierskap nie daartoe in staat was om die party uit ’n krisis te lei nie.

“Die probleem is, the show must go on, en ons het ’n taak om te verrig. Ons ís steeds die amptelike opposisie en die tweede grootse party in die land en ek dink ons is dit aan die miljoene Suid-Afrikaners wat vir ons gestem het, verskuldig om die regering verantwoordbaar te hou en alternatiewe op die tafel te plaas.

“Dit is nie ideale omstandighede nie. Niemand wou hê dit moes só eindig nie, maar dit ís wat dit ís en ons moet nou as organisasie ons beste voet voorsit.”

Steenhuisen is Sondag in Maimane se plek tot die party se parlementêre leier verkies en het intussen ook aangedui dat hy as tussentydse partyleier en volgende jaar as leier verkiesbaar is.

Kiesers vra nou al langer as ’n jaar wat in die DA aangaan.

Die onderhoud vind plaas in sy ou parlementêre kantoor, dié van DA-hoofsweep, ’n pos wat hy tot onlangs beklee het.

Kan hy verstaan dat daar Suid-Afrikaners (onder wie meningsvormers) is wat dink dinge lyk nie goed vir die DA nie? Wat selfs meen dat die party besig is om sigself te verwoes?

“Ja, ek verstaan dit. En ek dink nie dis ’n nuwe ding nie; die kiesers vra nou al langer as ’n jaar wat in die DA aangaan, en die verkiesingsuitslag spreek ook daarvan – die steun wat ons in alle gemeenskappe verloor het.

Gissinge oor 'n nuwe party

Wat is sy reaksie op gissinge dat ’n nuwe party nou mag vorm met as leiers mense wat die DA verlaat het?

“Wat ek natuurlik sou wou sien, is dat die mense wat die DA verlaat het, na die party sal terugkeer. My primêre fokus is om seker te maak dat ons die politiek van die groot tent bedryf. En daarom sal daar nie die vergelding of teregwysing van mense wees nie. Ek gaan nie hier sit en aaklige dinge oor mnr. Maimane en mnr. Mashaba sê nie; ek dink toevallig hulle is albei baie goeie Suid-Afrikaners en het ’n massiewe bydrae tot die DA gelewer.

“Wat hulle nou besluit om te doen is geheel en al hul eie keuse. Ek sal baie bly wees indien hulle in die DA aanbly en in die toekoms ’n rol in die party speel. Kyk wat word van hierdie partye wat buite die hoofstroom vorm. Dis ’n harde en duur spel.

“Wat ons nié kan beskostig nie, is ’n fragmentering van die opposisie. Ons behoort te beweeg na ’n konsolidering van ’n kernalternatief tot die ANC.”

“Partye wat met hulself begin praat en nie met die kiesers nie, beland in ’n situasie waar hulle ’n eensydige gesprek voer. Wat kiesers dan doen, is om iemand anders te kry om mee te praat. Ek dink die DA het nou al veels te lank ’n interne gesprek.”

Dít is waarom dit ná die verkiesing gepas was dat ’n evaluering van die party se prestasie gedoen is en van wat in die verkiesing skeefgeloop het sodat die party sigself in die oë kan kyk, meen hy.

“Daardie verslag is nie lekker leesstof nie . . . Vir baie van ons. Dis ’n baie skerp blik op die organisasie en wat verkeerd geloop het en wat gedoen kan word om dit reg te stel.”

Altesaam 200 voorleggings is gedoen en 12 sleutelvoorstelle het daaruit voortgevloei.

“Die belangrikste kwessies waarop nou dringend gefokus moet word, is dat ons volkome eensgesindheid kry oor die waardes, beginsels en kultuur binne die party. Want ek dink die meeste van die ander probleme spruit daaruit voort.”

Daar gaan nou ’n opvoedingsproses in die party plaasvind.

“Op takvlak gaan na die sleutelvoorstelle van die verslag gekyk word. Dinge soos nierassigheid, versoening en herstel sal bespreek word.”

‘Mik na dié liberalisme’

“Ek het ’n visie wat ek dink ons na veiliger waters en beter tye kan lei.” Foto: Adrian de Kock

Wat nagestreef word, is ’n moderne, deernisvolle en progressiewe liberalisme, nie ’n “harde, klassieke” liberalisme wat nie met die ongelykhede en agterstande in die Suid-Afrikaanse samelewing rekening hou nie.

Ek pols hom oor die beskouing dat die DA se nierassigheid ’n knou gekry het met die bedanking van Maimane, en daarna ook Herman Mashaba as die DA-burgemeester van Johannesburg.

“Jannie Steytler, een van die eerste liberale denkers in die Suid-Afrikaanse konteks, het gesê Suid-Afrika sal eendag deur waardes regeer word want dit is die enigste wyse waarop die land regeer kan word.

“In ’n land waar jy sulke uiteenlopende kulture, tale en rasse het, ís liberalisme die enigste weg, want daardeur is individúe die toetssteen van waarde en nié identiteit nie. Ek dink dít is baie belangrik, want as jy mense as individue sien en jy nie aan hulle waardes toeskryf omdat hulle aan ’n sekere taal- , kultuur- of rassegroep behoort nie, kan die projek van nierassigheid veel makliker vorder.

“Wat partye soos die EFF en tot ’n mate ook die VF Plus, doen, is om tot nasionalisme te spreek. Hulle sê byvoorbeeld jy moet ’n Afrikaner wees om Afrikanerbelange te verteenwoordig, of jy moet ’n swart sosialis wees om onderdrukte swart mense te verteenwoordig.

Steenhuisen by ’n skildery van wyle Helen Suzman, vir wie hy die hoogste agting het. Foto: Adrian de Kock

“Maar die geskiedenis het aan ons gewys dat dit eintlik die teenoorgestelde is. Dit was byvoorbeeld ’n delikate Joodse vrou [Helen Suzman] wat die LP vir Houghton was wat geveg het om die lot van gevangenes op Robbeneiland te verbeter. En Alan Paton en Peter Brown het in hul stryd vir die regte van swart Suid-Afrikaners verskriklike vervolging van die apartheidsregering beleef.

“Dít is die punt wat ek wil maak: Jy hoef nie swart en sosialisties te wees om vir arm swart Suid-Afrikaners om te gee nie. En jy hoef nie ’n wit Suid-Afrikaner te wees om oor wit armoede te praat nie.

Daar is ’n stille meerderheid wat aanvaar dat ons almal moet saamwerk.

“In die DA word ál hierdie belange ten beste gedien onder die groot vaandel en waarde van liberale demokrasie. Maar ek dink ons het daarvan afgedwaal en te veel aan ras toegeskryf.”

Hy meen die meerderheid van Suid-Afrikaners verstaan dat om saam te werk is wat nodig is om Suid-Afrika te laat werk.

“Daar is ’n baie luidrugtige en uitgesproke borrel rondom die kommentariaat [’n woord wat hy graag gebruik vir politieke ontleders] en die Twitterati en ander sosiale mediums, wat hierdie narratief dryf dat ons nooit ooit kan saamwerk nie of dat jy ’n sekere kleur moet wees. Maar daar is ’n stille meerderheid wat aanvaar dat ons almal moet saamwerk.”

‘Dade tel, nie kleur’

“Niemand wou hê dit moes só eindig nie, maar dit ís wat dit ís en ons moet nou as organisasie ons beste voet voorsit.” Foto: Adrian de Kock

Volgens Steenhuisen gee mense wat in haglike omstandighede leef, nie om oor die velkleur van ’n partyleier nie.

“Hulle gee om oor wat daardie party gaan doen om aan hulle ’n beter toekoms te bied. En ek dink as ons dít aan mense kan bied, sal ons meer steun kan wen. Dít is ook waarom ek gretig is om die party te laat wegbeweeg van om net te sê hoe sleg dinge onder die ANC is. Ons wéét dit. Ek wil veel meer tyd daaraan bestee om te sê hoe goed dinge kán wees indien ons ander keuses uitoefen. Dít is wat Suid-Afrikaners wil hoor.”

Sy besluit om hom beskikbaar te stel vir die pos as nasionale tussentydse leier van die party en uiteindelik ook as heeltydse DA-leier op die party se kongres in April, is een wat hy nie ligtelik geneem het nie.

Ek is terdeë bewus van die feit dat daar vir my ’n opdraande stryd voorlê omdat ek toevallig ’n sekere kleur is

“Ek het ’n visie wat ek dink ons na veiliger waters en beter tye kan lei . . . Uit hierdie aaklige situasie waarin ons ons bevind.

“Dis vir die party om te besluit of dít die visie en die mens is wat hy wil hê. Indien hulle iemand anders verkies, is ek baie gelukkig daarmee; ek sal na die agterbanke terugkeer en voortgaan met die werk wat ek doen.

“Ek is terdeë bewus van die feit dat daar vir my ’n opdraande stryd voorlê omdat ek toevallig ’n sekere kleur is . . . Daaroor het ek geen beheer nie, maar ek kan kiés om my talente te gebruik om die party en die land reg te maak en ’n beter Suid-Afrika te bou.”

Helen Zille

“Die probleem is, the show must go on, en ons het ’n taak om te verrig.” Foto: Adrian de Kock

Daar is diegene wat die terugkeer van Helen Zille na die DA as voorsitter van die party se federale raad, as sleg vir die party – selfs as katastrofaal – bestempel.

“Wel, ek dink die kommentariaat mis ’n baie belangrike punt, en dít is dat Helen in ’n vierledige verkiesing verkies is deur meer as 150 lede van die federale raad, van wie die meerderheid nie wit is nie.

“So, mense vergeet dit is die uitkoms van ’n demokratiese proses; dit is nie iemand wat ingekom het en ’n coup d’état uitgevoer het nie.

Plaaslike verkiesing en die DA

Daar is sowat 20 maande oor voor die plaaslike verkiesings. Gaan die DA gereed wees daarvoor?

“Dit gaan bloed, sweet en trane verg. Maar dink maar aan een van ons susterpartye soos die Liberale Demokrate in Brittanje, wat twee verkiesings gelede so te sê uitgewis was. Hulle het die party in oënskou geneem, sekere leiers is vervang en hulle het weer met hul kiesers in voeling gekom en na hul kernwaardes en -beginsels teruggekeer. En hulle is nou amper al weer een van die groter partye in die land.

“Gegee die krisis in plaaslike bestuur, sal mense moet besef hulle het ’n keuse tussen bekwame plaaslike bestuur en die chaos van dienste wat heeltemal in duie gestort het, op plekke soos Pietermaritzburg, waar ek pas was. As jy na DA-munisipaliteite kyk, is die gehalte van lewe ver beter as enigiets wat ons opponente kan bied.

“Ek wil die béste moontlike burgemeesterskandidate, wykskandidate aanbied en lyste hê wat divers is. Ek dink as ons dít doen en na die kiesers gaan met ’n sterk aanbod en visie – nie een waarin ons net die ANC slegmaak nie, maar waarin ons wys dít is wat ons gaan doen en dít is hoe ons dinge gaan beter maak – behoort ons goed te vaar.”

“Mense erken die party is in die moeilikheid en dat die beste pogings van almal in die DA nodig is indien ons die skip wil omdraai. En soos wat ons vandag hier sit, is die oorlewing van die demokratiese projek nie ’n uitgemaakte saak nie; die DA beleef ’n baie moeilike tyd.

“Hierdie is ’n individu wat sonder twyfel aan die stuur gestaan het van die mees suksesvolle regering in post-demokratiese Suid-Afrika [as premier van die Wes-Kaap], wat nie net gepráát het oor dienslewering en werkgeleenthede nie, maar wat dit op ’n groot skaal gelewer het. Dít is vaardighede wat ons nodig het.

“Wat my ook verbyster, is dat so baie mense aanneem dat omdat Helen nou voorsitter van die federale raad is, gaan sy nou partybeleid bepaal en ’n rigting kies en besluit wie lei. Ons is ’n party van demokratiese instellings; sy het nou ’n baan en dit is dieselfde baan waarin James Selfe was, en dit is nié dié van partyleier of parlementêre leier van die party nie; dit is ’n spesifieke baan en sy is nou die naelstring tussen die operasionele en die politieke vleuel van die party. Dit behels baie administratiewe en agter-die-skerms-werk.

“Helen is een van daardie Marmite-politici van wie jy óf hou of nié hou nie. Maar ek waag om te sê haar vaardighede in daardie posisie maak van ons ’n sterker party.

“Daarom is ek nie skaam om te sê ek het haar gesteun en vir haar gestem nie. En dit was nie ’n maklike keuse nie – meneer [Mike] Waters, meneer [Thomas] Walters en meneer [Athol] Trollip [haar teenstanders om dié pos] is vriénde van my. Wat ’n mens moes doen, is om na dié posisie te kyk en die posvereistes baie versigtig in oënskou te neem en dan te besluit wie is die beste mens om dié pos te vul.

“En as jy dít gedoen het, was die slotsom dat sy by verre die beste kandidaat was. En dít weeg veel swaarder as enige moontlike nadele van haar aanstelling.”

‘Werk lê voor’

“Jy hoef nie swart en sosialisties te wees om vir arm swart Suid-Afrikaners om te gee nie.” Foto: Adrian de Kock

Van sy vriendskappe is deur die onlangse woelinge in die party geskaad.

“Maar dit is ’n natuurlike ding in die politiek. Daar is samesweringsteorieë in omloop en allerhande gefluister wat aangaan. Maar wat ’n mens nié kan bekostig nie, is om jou aandag daardeur te laat aflei.

“Daar is werk wat gedoen moet word. My hooffokus is nou om die parlementêre operasie van die party te stabiliseer en seker te maak dat ons nie enigsins faal in wat miljoene Suid-Afrikaners van ons verwag nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.