Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Dit is wat Patricia vir Dan Plato gesê het

Dan Plato sal katvoet moet loop om die Machiavelliaanse magspel in die DA-koukus te ontlont, het sy voorganger, Patricia de Lille, vir hom gesê. Willemien Brümmer het met die volgende burgemeester van Kaapstad gepraat.

“As enigiemand na my toe kom en sê: ‘Dan Plato, ek het ’n kospakkie nodig’, gaan ek nie nee sê nie.” Foto: Adrian de Kock

Who cares wat die opposisie van my sê? Een ding wat ek weet, is dat toe ek die stad Kaapstad oorhandig het, was dit ’n geoliede masjien met skoon oudits, en dienslewering was at a all time high.”

Dan Plato, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, wat oor net meer as twee weke vir ’n tweede keer die burgemeester van Kaapstad word, is op sy agterpote. Waar hy voor die nooduitgang van die raadsaal van die ministerie van gemeenskapsveiligheid sit, is hy kennelik ongemaklik oor die vraag of hy ’n kompromiskandidaat is wat nou vir Patricia de Lille, die vuurvreter- grande dame van die politiek, moet vervang.

Die kritiek kom egter nie net uit die opposisie nie.

In DA-kringe word gefluister dat hy ’n kompromiskandidaat is wat moet sorg dat die DA nie sy kiesers selfs verder vervreem ná dié party se uitgerekte Nag van die Lang Messe nie.

Een: Hy is ’n veilige paar hande en sal nie drama soos “aunty Pat” veroorsaak nie. Twee: Hy hoef nie die wiel te herontdek nie. Hy het tussen 2009 en 2011 reeds die burgemeestersketting gedra voordat hy dié eer aan die einste “aunty Pat” oorhandig het. Drie: Hy is nie sigbaar deel van die Machiavelliaanse magspel binne die DA nie. Hy gaan nie ’n revolusie begin nie en is nie ’n lid van die ou Prog-faksie of die voormalige Onafhanklike Demokrate nie.

Die DA het klaar sy kernoorlog gehad. Hy sal sy werk doen, al is hy nie ’n charismatiese leier of ’n filosoof nie.

‘Daar’s altyd ’n briefie vir my’

Met sy pienk hemp, bruin baadjie en kakiebroek troon ’n winderige Vlaeberg (Signal Hill) en die Bo-Kaap agter hom uit, asof om hom te herinner aan die reusetaak wat op hom wag: Die DA se steeds dalende “bruin” stemme en ’n stad waarin die meeste kiesers keelvol vir die politiekery is.

Hy sê hy gaan nie uit sy huis in Parowvallei in die noordelike stadsgebiede van Kaapstad trek wanneer hy eers sy intrek in die burgemeesterskantoor geneem het nie.

“Jy sal verbaas wees – die oomblik toe die nuus breek dat ek burgemeester gaan word, was daar al twee of drie van hierdie realty estate-mense by my. ‘Ons kan vir jou ’n huis in Plattekloof kry.’ ”

Ek glo ek is ’n méns mens.
Dan Plato

Hy lag, dié boorling van Swellendam, sesde oudste van tien kinders wat in Ravensmead sy verstand gekry het. “Maar die omgewing is veilig. Die mense ken my en die bure ken my. Ravensmead en Uitsig is net oorkant die pad, dis vyf minute se stap. Die lekkerte daarvan is elke aand gaan kyk ek in die posbus en daar’s altyd ’n briefie vir my. Dis hul klagtes soos miskien ’n hoë waterrekening. Ek ken nog baie van die amptenare, hulle sorteer dit uit en die publiek is over the moon daaroor.”

Hy praat ’n hond uit ’n bos uit. “Ek glo ek is ’n méns mens. Ek het sopkombuise in Uitsig, in Belhar en ek het ’n paar vroue wat vir my werk in die gemeenskap en dan gaan deel ons lekker sop uit as ek op ’n Saterdag niks het om te doen nie.”

Van die NP na die DA

Dan Plato, tans die LUR vir gemeenskapsveiligheid, pak sy kantoor op om gereed te maak vir die burgemeesterskantoor. Foto: Adrian de Kock

Al was hy in sy jeug ’n politieke aktivis in Ravensmead, is hy geen struggle-ikoon nie. “Ek weet nie of ek werklikwaar lid van die ANC was daai tyd nie, maar dit was die taalgebruik daai tyd in die gemeenskap gewees sonder dat jy as ’n lid geregistreer het.”

Hy klink of hy ’n rympie opsê. “Ek weet net ek het baie met die polisie gebots; ek weet net ek was baie ge-baton charge. Ek weet net ek het pak gekry gereeld en ek moes vlug. Ek weet net ek het gehelp met die verspreiding van pamflette en die reël van vergaderings.”

Party mense het hom daarvan beskuldig dat hy ’n sell-out is toe hy hom in 1990 by die Nasionale Party aangesluit het. “Ek was duidelik oor my standpunt gewees: Middele wat mense ontvang het op daai stadium, het vir hulleself gegaan, dit het nie vir die gemeenskap gegaan nie. Daar is vir my gesê dat as jy ’n comrade is, dan hou jy jou mond. Ek is toe uitgerangeer, maar ek het ook toe later agtergekom dis tyd om te loop.”

In 1996 word hy onder die NNP-vaandel ’n wyksraadslid vir Belhar, Uitsig en Ravensmead, en in 2000 word hy ’n DA lid toe die NNP en die DP saamgesmelt het. Vanaf 2006 behartig hy die behuisingsportefeulje as lid van sy mentor Helen Zille se burgemeesterskomitee.

Ek was nog nooit deel van ’n faksie nie. Ek was nog altyd net ’n spanspeler.
Dan Plato

Hy glimlag. “Ek kom nou al ’n lang pad saam met haar. Ek het baie by Helen Zille geleer rondom politiek en rondom ’n andersoortige manier van doen. Sy was in ’n stadium die DA se koukusleier en ek was die onderkoukusleier. Ek het haar altyd maar so gevolg. Toe Helen nou nasionale leier word van die DA en Wes-Kaapse premier toe volg ek haar op as burgemeester.”

Wat sê hy vir diegene wat sê hy behoort aan die Zille-faksie en dat sy eintlik steeds die wit marionettemeester is?

Hy knik. “Dit was die één ding wat vir my gevra is in my onderhoud. My antwoord was nee. Ek was nog nooit deel van ’n faksie nie. Ek was nog altyd net ’n spanspeler. Jy kan nie ’n stad wil regeer of ’n provinsie wil regeer en jy doen dit weg van jou span nie.”

‘Patricia het haar hart uitgepraat’

Een van die eerste dinge wat hy gaan doen wanneer hy weer in die burgersentrum is, is om dringend aandag aan die onmin in die DA-koukus te gee.

“Ek het reeds nou al verkennende gesprekke met sekere raadslede om by hulle te verneem wat die onderliggende issues is.”

Een daavan was ’n openhartige gesprek met De Lille.

Ek kan geen rede sien hoekom ons nie nou die 'issues' in die koukus maksimaal kan hanteer nie.
Dan Plato

Hy antwoord versigtig toe ek vra wat sy verhouding met haar is. “Kyk, ek socialize nie met Patricia de Lille nie, ek het dit nog nooit gedoen nie, ek ken haar nie in daai verband nie, maar op professionele vlak, op politieke vlak . . . die respek is daar. Sy’t eintlik haar hart uitgepraat oor waar sy dink die probleme lê, maar die onmin in die koukus is ’n massiewe issue. Haar woorde aan my was: ‘Dan Plato, jy sal katvoet moet loop om deur daai blok van issues te breek’, maar ek dink as ons 2010, wat die wêreld se grootste sportsevent was, kon hanteer met al die verskillende mindsets daaroor, al die drukgroepe van die gemeenskappe af . . .

“Jy moet ook onthou in daai stadium was ons in ’n koalisieregering gewees. Ons het geensins met ’n volstrekte meerderheid die stad geregeer nie. Dit was tawwe politieke tye gewees en dit was ’n goeie leerskool. Ek kan geen rede sien hoekom ons nie nou die issues in die koukus maksimaal kan hanteer nie.”

‘Ek is hardwerkend’

“Ek is hardwerkend, ek steek nie lyf weg nie. Ek dink dis miskien wat die deurslag gegee het,” sê Dan Plato oor hoekom hy ’n tweede keer tot burgemeester van Kaapstad verkies is. Foto: Adrian de Kock

En hoe gaan die DA die vlottende stem terugwen noudat byna die helfte van kiesers in die Wes-Kaap, volgens ’n onlangse peiling, nie meer weet vir wie om te stem nie?

“Kyk, die eerste prys is eenheid. Eenheid in die stad moet onmiddellik terugkeer. Die tweede prys is ’n fokus op dienslewering en dienslewering en dienslewering. Die kiesers moet kan sien dat normaliteit na die stad teruggekeer het.”

Hoe gaan sy styl as burgemeester verskil van die kompromislose, straatvegter-styl van sy voorganger?

Hy aarsel. “My styl in 2009 tot 2011 het vir my gewerk. My styl werk vir my in hierdie pos. Ek is hardwerkend, ek steek nie lyf weg nie. Ek dink dis miskien wat die deurslag gegee het. Ek is ’n spanwerker, ek lei ’n span, ek stel ’n voorbeeld, my deur is altyd oop, maar ek is gereeld in die gemeenskappe, daar waar dit sáák maak in die gemeenskappe.”

Hy dink weer. “Ek wil nie enigiets negatief sê oor my voorganger nie. Die publiek het hul eie oordeel te vel oor Patricia de Lille. Die koukus en amptenare het hul eie oordeel gevel.”

‘Jy kan die bendes nie ontken nie’

Ons praat oor sy termyn as LUR vir gemeenskapsveiligheid. Een van die klagtes is dat hy meer moes gedoen het om bendegeweld op die Kaapse Vlakte te stop en selfs dat hy met bendes heul.

Hy skud sy kop. “Die polisie het in Kaapstad al die gespesialiseerde eenhede ontbind, die dwelm-eenheid en die bende-eenheid. Toe ek oorneem in hierdie pos, was die ontbinding klaar daar. My boodskap daai tyd al was dat hulle eintlik die passages vir die bendebase en die dwelmbase oopgemaak het om te floreer omdat hulle self korrup is.”

En sy beweerde heulery met die bendes?

“Laat ek vir jou één ding sê: Waar ek grootgeword het in Ravensmead, oorkant my het bendes gebly, agter my het bendes gebly, jy kan hulle nie ontken nie. Ek het gister byvoorbeeld vir Pat Lekker van die ANC (dié party se Wes-Kaapse woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid) gesê: ‘Julle praat asof julle so squeaky clean is. In die nie-blanke gemeenskappe is daar soveel van ons mense en families wat iemand het wat óf dwelms gebruik óf wat aan ’n bende behoort óf wat ’n verkoper is van dwelms. Die issue is nie of jy met sulke mense praat nie. Die issue is wat sê jy vir hulle, wat is jou boodskap vir hulle?’ ”

Dan Plato, die volgende burgemeester van Kaapstad, poseer vir ’n foto met Vlaeberg en die Bo-Kaap op die agtergrond. Een van sy uitdagings as burgemeester sal wees om die “bruin stem” voor die algemene verkiesing terug te wen. Foto: Adrian de Kock

Ek vra hom oor genl.maj Jeremy Vearey, speurhoof in die Wes-Kaap, wat beweer het dat Plato openbare geld misbruik het om informante te betaal en intelligensie-operasies te bedryf. Vearey het geglo Plato gebruik die informante om ’n smeerveldtog teen hom te bedryf.

Plato is sigbaar geïrriteerd. “Kyk, ek wil nie oor Jeremy Vearey praat nie. Hy is ’n amptenaar.”

Hy aarsel. “Oor die bewering dat ek staatsgeld gebruik vir inligting: Ek het nou die dag in die parlement vir die ANC gesê: ‘Gee vir my die bewyse daarvan. Dit sal lankal voorbladnuus in die koerante gewees het, ons ouditeure sou dit al moes opgetel het, die administrasie-amptenare sou dit al moes opgetel het. Daar is nie ’n manier hoe ek enigsins staatsgeld kon gebruik het om enige informant te betaal nie.’ ”

Wanneer ek hom pols oor die R20 900, wat hy glo (volgens ’n beëdigde verklaring deur die informant Pierre Theron) tussen 11 Julie 2012 en 8 Januarie 2013 aan Theron betaal het, klink dit eers asof hy hom nie onthou nie.

“Kyk, ek help baie mense elke dag. Ek deel kos uit, ek deel kospakkies uit. Ek moet net weer gaan kyk na Pierre Theron . . . As dit is dat ek geld vir mediese kostes betaal het (soos wat hy destyds beweer het) . . . ek help gereeld.”

Sy kantoor is reeds vol bokse met blou lêers wat bestem is vir die elegante burgemeesterskantoor en almal wil weet wie dié man is wat die DA se warm stoel gaan oorneem.

Sy stem lig so ’n kerf. “Hoe moet ek weet hy’s ’n informant? As enigiemand na my toe kom en sê: ‘Dan Plato, ek het ’n kospakkie nodig’, gaan ek nie nee sê nie. Waar is die bewyse dat ek vir enigiemand R20 900 gegee het?”

Sy woordvoerder, Ewald Botha, kom die raadsaal in om ons te herinner aan die falanks fotograwe en joernaliste wat buite sit en wag. Plato is ’n gesogte man.

Sy kantoor is reeds vol bokse met blou lêers wat bestem is vir die elegante burgemeesterskantoor en almal wil weet wie dié man is wat die DA se warm stoel gaan oorneem.

Laaste vraag: Wanneer hy by die huis is en hy is nie besig om in sopkombuise te werk of kospakkies uit te deel nie, wat doen Dan Plato dan?

Hy glimlag gemaklik. “Ek hou daarvan om kos te maak. Ek is ’n groot visliefhebber. Miskien met ’n lekker oondpatat, of as ek nou vuur gemaak het met die patat onder die lekker warm kole . . . En as daai patat daar uitkom, dan skud jy hom net so lekker af en dan begin jy eet. Dís waarvan ek hou. Ek kry baie min kans om dit te doen. Die werk is te uitmergelend,” sê die man wat katvoet sal moet loop in ’n bestrede tyd en in ’n bestrede stad.

Meer oor:  Da  |  Dan Plato  |  Jeremy Vearey  |  Patricia De Lille  |  Kaapstad  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.