Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: David Kramer: En eendag is jy oud

David Kramer word vandag 70. In sy en vrou Renaye se stylvol-deurleefde Kampsbaaise huis met ’n pragtige see-uitsig het die klein outjie met die groot stem vir Egmont Sippel tee gemaak en op ’n lewensreis gevat.

’n Man stap . . . David Kramer in sy huis in Kampsbaai. Hy het in grendeltyd weer begin skilder. Foto: Marzahn Botha

Hier staan hy nou, ’n klein skraal mannetjie met ’n grote dikke stem.

Hy kan toor met daai stem.

Hy kan hom ruk en rol en pluk en jol. Hy kan hom Elvis en uit sy buik uit Pelvis. Hy kan met heuning deur sy gorrel ploeg. Of hy kan huil en kerm en derms spoeg.

Maaind you, die note strek soms verby lekkerkry tot hulle soos ’n lemmetjie sny. Omgekeerd kan hulle foxtrot en tiekiedraai of met woema ghoema.

Want dis ’n groot stem hierdie. Letterlik.

En dis ’n groot stem. Figuurlik.

Kramer is ons almal s’n, hy’s volksbesit.

Die fondamente lê in die eerste ses, sewe jaar se musiek en liriek, maar van 1987 verskuif die klem na musiekbly­spelteater, beginnende by District Six.

In samewerking met oorle Taliep Petersen volg sovele ander grotes. Kat and the Kings wen vragte vol pryse en speel lank in Londen, New York en Frankfurt, terwyl die Karoo Kitaar Blues-projek saam met Jan Horn lankverlore musiekwortels uit die Groot-Karoo, Namakwaland en Boesmanland se stof skop.

Benewens musikant en sanger, sien, is David Kramer eintlik ’n geskiedenisnavorser en baasstorieverteller met verhale vol vrese, vreugdes en pyn; bergies, spirits en wyn; bicycles, stofpaaie en kruisbande; mense wat ver wegvlieg na ander lande; treine, liefdes en verlange; en karakters sonder verlede, toekoms of tanne.

Kramer, seg sommiges, is Suid-Afrika se Bob Dylan. En op ’n manier is hy.

Hier stap die manne . . . David Kramer en sy jarel
Hier stap die manne . . . David Kramer en sy jarelange vriend en kunsvennoot, Taliep Petersen, wat in 2006 vermoor is. Saam-saam het die twee onsterflike musiekblyspele geskep. Foto: Sarief Jaffer

Maar eintlik is hy nie.

Want David is net David, sien. Kontreiman. Kontreikunstenaar. Kontrei­wese; al werk hy met die universele.

So, hier staan hy nou met sy swart platkophoedjie, onderbaadjie, opgerolde moue en ’n stoofpypdas. Om die heupe hang ’n ballonbroek met ’n gekleurde belt en om sy voete vou rooi vellies vir die verhoog en die veld.

Die mondering word voltooi deur ’n bekfluitjie, ’n kitaar en ’n baiesukkel. Vat jou dop, slaat daai sessnaar en laat die voete wikkel.

Want Kramer is ons almal s’n, hy’s volksbesit, vanaand ga’ ons paartie.

Almal se pel is 70, al het hy noggie baard’ie.

                                                                                    ***

David Julian Kramer is op Worcester gebore. Of eintlik “Whoeste’ ”, soos hy sê.

Klassic Kramer . . . David op die verhoog in klassieke Kramer-gewaad, besig om die bekfluitjie op “Botteltjie Blou” te blaas. Foto: John Hogg

Hy’t Engels grootgeword. Ma Frances het die Rooitaal gegooi, pa Solly was Afrikaanssprekend.

Op sy beurt het Solly se pa – nes Bob Dylan se grootouers – rondom die vorige eeuwenteling weens geweld teen Jode uit Litoue gevlug.

As Berel Karabelnik is hy daar weg, as Barnett Kramer het hy in Namakwaland met ’n wa kom smous. Ironies genoeg is dit presies wat Karabelnik beteken. Uiteindelik beland Barnett op Whoeste’, waar seun Solly ná erge bomverminking tydens die Tweede Wêreldoorlog met Frances trou.

En op 27 Junie 1951 gee sy geboorte aan ’n liggewig-seuntjie met ’n helse stem.

Nou, skielik, is dit 70 jaar later.

                                                                                    ***

“Jou hele lewe hardloop jy. En eendag is jy oud.”

Dit as refrein uit Kramer se briljante “ ’n Man Stap”, die verhaal van ’n emigrant wat uit Kanada na sy tuisdorp terugkeer en in die aangesig van nuwe realiteite deur herinnering, heimwee en hartseer oorval word.

‘Ek sien iets en leef my in die karakter in.'

Hy stap by die Pandora in vir koffie en tjoklitkoek waar hy die eerste keer Elvis gehoor het op ’n jukebox in die hoek. Maar waar is die Scala-bioskoop? En was hier nie ’n klein kafeetjie nie?

Dis ’n heelal van gewaarwordinge en gevoelens in hierdie enkele lied van bedrieglike eenvoud. Plus die ewige eksistensiële strikvraag: “Wat maak ek in die dorpie / Hier kan ek nie bly nie / Ek bly in Toronto / maar Toronto is nie vir my nie / Jou hele lewe hardloop jy / En eendag . . .”

Gevolg deur ’n hoendervleis-ontknoping as hy sy grootwordhuis opspoor:

“Hy klop liggies aan die deur / ’n Mooi jong vrou maak effens oop / Sy sê: Kan ek help meneer? / Hy sê: Jammer maar ek is ’n vreemdeling / En my hart is in twee geskeur.”

Dit slaat jou stukkender, seg ek aan David, as wat my drie dekades-oue District Six-T-shirt is. Hy’s so verslete dat ek hom nie vir die Kampsbaai-besoek kon aantrek nie, al sou ek wou.

“En so gepraat, ’n vraag hier onder die gehawende ou houtkitare teen die mure van jou huis: Wat’s die kerntema van jou werk?”

“Swaarkry,” seg David. “Die underdog. Die man wat met sy blikkitaar en bicycle langs die stofpad stap. Hy kom van nêrens. En hy gaan na wie weet waar.”

                                                                                  ***

Kyk mens deesdae na die ikoniese Kramer en dis moeilik om te glo dat hy eens daai man was.

“My bekommernis was altyd: Sal ek ’n flop wees as ek oud word?

Wat is die kerntema van jou werk? “Swaarkry,” seg David. “Die underdog. Die man wat met sy blikkitaar en bicycle langs die stofpad stap. Hy kom van nêrens. En hy gaan na wie weet waar.” Foto: Marzahn Botha

“Op skool het ek A’s vir wiskunde en wetenskap gekry, nie vir tale nie. Vocational guidance stel toe ingenieurswese voor, maar ek wou nie daai ou met die poliëster-safaripak en Grasshopper-skoene word nie.

“Wat dan van tekstielontwerp, vra hulle? Ek en my broer John (vyf jaar ouer en deesdae ’n prominente skilder) het mos kunsklasse geloop en dit was lekker, die onnies was meer oopkop.

“Ná skool was ek eers army toe en dit was erg. Toe met ’n tekstielbedryfbeurs na Leeds in Engeland en skielik was ek vry.

“Ek het niks geswot nie, net gelees en báie gaan fliek. Dit was ’n amazing groeiperiode met al die nuwe invloede van left wing-denke en live musical acts: Leonard Cohen, Elton John, Paul McCartney, Rod Stewart . . .

“Tussendeur het ek self folk as stokperdjie gespeel, maar al minder en minder van plate af. Ek wou nie soos ander musikante probeer klink nie, maar my eie identiteit omhels en ’n nuwe idioom vind. Charlie Chaplin en Buster Keaton was invloede; die klein outjies wat geboelie word, maar amper per ongeluk oorwin.”

Terug in die Kaap begin Kramer sy eie liedjies komponeer. Tot en met 1981 se deurbraak – eers met die baanbrekende (en SAUK-verbode) Bakgat! en kort daarna met die briljante Blokkies Joubert – werk hy vir sewe jaar in die tekstielbedryf.

“Dis daai weefmasjiene se oorverdowende klap wat my oorsuising gegee het, nie harde musiek nie,” verduidelik David die gehoormasjientjies wat hy vir die laaste vier jaar of so agter elke oor dra om hoë klankfrekwensies op te tel.

                                                                               ***

In 1984 neem Paul Simon sy Graceland-album in Suid-Afrika op. Tussendeur lê hy besoek by Kramer in die Kaap af. Hy wou onder meer sien waar die Indiese en Atlantiese Oseaan mekaar ontmoet.

Maar net daar stop ’n toeristebus by Kaappunt en almal spring uit om die man met die vellies se handtekening te vra.

Daar staan Paul Simon toe en kyk hoe David sy donderweer steel.

Tot hier is die storie waar. Die res oor Bob Dylan is spekskiet.

David het Bob nooit ontmoet nie en hou, snaaks genoeg, nie veel van sy musiek nie. Hy luister ieder geval min na ander musikante.

Hy wys na sy CD-rak met so 80-stuk skywe. “Ek like Paul Simon, Joni Mitchell, Tom Waits, Randy Newman, ouens soos daai, maar ek ken nie eintlik musiek nie.”

Breyten Breytenbach en dié geeste, ja, hulle is kennisse of vriende. Laurika Rauch, Amanda Strydom, Koos Kombuis, Anton Goosen, Gert Vlok Nel en toentertyd ook Koos Doep, Kerkorrel en James Phillips, oftewel Bernoldus Niemand; nog ’n Engelsman wat groot in Afrikaans was.

350 liedjies, 15 musiekblyspele en 13 jaar se Volksiebus-advertensies op TV. En dit alles met nuwe woorde, lirieke, insigte, sê-dinge, raaidinge en stories. Foto: Marzahn Botha

En dan die jongetjies soos Spoegwolf (van “Lenie Blou”-faam) wat nou ook “Lenie, Lenie” opgeneem het.

Almal se pel mag wel vandag 70 raak.

Maar sy musiek bly, nes sy helder donker oë, vars en jonk.

                                                                                   ***

Waar dit alles vandaan kom?

Uit baie oorde. “Ek het gestort toe die idee vir ‘Stoksielalleen’ opdaag – Hannie wat rym met kannie, Vossie met lossie – en in tien minute is die hele liedjie geskryf.”

“Of ‘Royal Hotel’. Ek ry in my kar terug van Hermanus waar die Invaders, ’n bruin groep, gespeel het vir ’n gehoor vol wit laaities; hier sit die manne. Byname het my ook gefassineer en skielik vind ek Double-O Seven de Kock. Een ou se býnaam het selfs ’n bynaam: ‘Ken julle vir Doepie/ sy bynaam is Dop?’ ”

Of as baken tot Kramer se vermoë om ’n volle karakter in enkele reëls te skets: “Uit die noordweste, kom Karel Bester / dra kortmouhemp en ’n kakiebroek / lank terug gebore, hare kort om die ore / hy’s lief om te lag, hy’s lief om te vloek.”

In dieselfde kader staan die skets oor Krisjan Swart en soveel ander.

“Dit gaan oor beelde. Ek sien iets en leef my in die karakter in soos ’n akteur dit sou doen. Ek word daai mens. Dis plat eenvoudige Afrikaans in ’n Bolandse straat- of plaastaal met lirieke eerste, dan die musiek.”

Met Taliep was dit andersom; eers die melodie, waarna David woorde geskryf het. So ook “Botteltjie Blou”. Die vrees en wanhoop het uit die eerste woedende kitaarakkoord ontwikkel.

Sy “ultimate song”?

Kramer leun vorentoe en peins. “Ja, ek dink Botteltjie Blou.”

Dan leun hy nog vorentoër en vra: “Wat sal jý kies?”

“Koos Sas,” seg ek.

                                                                                    ***

In Durban beland ek eenkeer saam met David op die verhoog toe hy vra of daar enige oud-Kapenaars in die gehoor is. My vergoeding is ’n vinielkopie van Jis, Jis, Jis.

Dertig jaar later, in 2014, sien ek ’n klein skraal mannetjie met ’n swart platrandhoed buite Bellville se Velo­drome by die Springsteen-konsert.

Ek leun oor sy skouer, sing in sy oor: “Nou sê vi’ my, nou wie is u? ’n Hofmeyer van Montagu . . .” plus nog ’n paar reëls.

Kramer kyk om. “Heit,” roep hy uit. “Jy ken dit beter as ek!”

Net voor laasjaar se grendeltyd skop hy sy konsert in Bellville se Die Boer-teater met “Hanne” af. “Kyk die hanne, die twee hanne van my / wa’ het ek die twee hanne gekry . . . die hanne is hard, die hanne kan slaat / dis die hanne van ’n ou man, ja-nee.”

Geniaal. So ook die lyfbewegings as Kramer op loslitliedjies dans, dans, dans dat die knieë wapper en klapper, of as sy lyf krom soos ’n vraagteken agteroor buig terwyl hy die kitaar punt-in-die-wind speel.

In versoektyd sing-vra ek op die ingewing van die oomblik: “Montagu-eeeee . . .”

Kramer kyk op en lig ’n wenkbrou asof om te sê: En nóú?

“ . . . ek drink jou muskadel.”

Stilte. David wys met sy hande: komaan, komaan, gee my nog.

“Ek sit hier op die voorstoep, my voete op die springbokvel . . .”

Hy laat my die hele versie sing voor hy meewarig verklaar: “Moenie jou day job opgee nie, hoor.”

                                                                                 ***

Ha-ha, liewer nie. Maar dieselfde vir jou, ou Dave.

Moenie jou day job opgee nie, al sê jy die sôngs kom deesdae moeiliker. Dat jy sedert grendeltyd sonder inspirasie sit. Dat jy effe teneergedruk is omdat omstandighede die eindpunt van jou hele bestaan – die teater – tot tyd en wyl weggevat het. Dat dit amper voel of iemand in dié donker kamer dood is.

En dat jy soms selfs wonder: What’s the point?

Ek hoor wat jy sê, David, dat die 1990’s se depressie, toe die West End District Six afgekeur het, baie erger was. Jou bekommernis tóé was dat jy nie geweet het wat volgende sou gebeur nie.

Nou moet jy opnuut met die vraag worstel.

Maar jy’t darem in grendeltyd weer begin skilder. En jy het oor die afgelope 40 jaar so ongelooflik baie gegee, van persoonlike aalmoesies soos die eerste paar reëls van “Koos Sas” nou die dag “live” in jou sitkamer plus ’n splinternuwe District Six-T-shirt om my verslete 33 jaar oue een te vervang, tot by . . .

Wel, 350 liedjies, 15 musiekblyspele en 13 jaar se Volksiebus-advertensies op TV. Dis nou nog onmoontlik om melktert te eet sonder om aan Sannie van der Spuy te dink.

En dit alles met nuwe woorde, lirieke, insigte, sê-dinge, raaidinge en stories, asook nuwe maniere van verstaan, skerts, selfspot, omgee, samesyn en rym (soos “Benz” met “friends” en “voetsek” met “Pontiac”).

Via plaas- en hanepootpaaie het jy boonop ’n nuwe bewussyn help skep, ’n Kaapse identiteit wat ons óns maak; hierdie Kreoolse klomp – soos jy sê – aan die suidpunt van Afrika, Whoeste’ uiteraard ingesluit.

En alles met soveel hartstog, entoe­siasme en menslikheid. Die Kramer-oeuvre is deurweek van nostalgie, weemoed, hartseer en patos. Maar dis ook gemarineer in deernis, empatie, vreugde en humor.

Buiten die ewige droewige dieptes van “Skipskop”, “Dawid Ryk” en “Dans Mettie Dood” of die skokkende wrede onthutsing van “Oom Kallie” en “Krismis in Kakamas” was daar almaardeur ’n lag vir elke traan.

En dis meer werd as ’n matchbox full of diamonds of ’n duisend soene.

Want wat jy gegee het, ou David, is eintlik jou Kramermiljoene.

Meer oor:  Taliep Petersen  |  David Kramer  |  Musikant  |  Sanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.