Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘Die seekat wat ek liefgehad het’

Craig Foster vertel aan Murray La Vita hoe hy spoorsnytegnieke wat hy by die San geleer het, in die see gebruik het toe hy vir ’n seekat lief geword en haar begin volg het.

Die seekat waarmee Craig Foster bevriend geraak het, strek een van haar pote uit om aan hom te raak. Foto: Tom Foster

“Daardie tyd wat ek saam met die seekat deurgebring het, was sekerlik die mees transformatiewe tyd in my lewe waarin ek van die grootste lesse geleer het,” sê Craig Foster (52).

Foster praat op ’n Donderdagaand uit sy huis by Simonstad oor My Octopus Teacher, die dokumentêre rolprent wat pas op Netflix verskyn het en miljoene mense oor die wêreld heen aangryp.

Die verhaal van die onwaarskynlike vriendskap tussen hom en ’n seekat word in dié rolprent vertel. Dit is Netflix se eerste oorspronklik Suid-Afrikaanse dokumentêr.

“Maar die rolprent speel binne ’n sekere tydsbestek af [sowat ’n jaar] en die lesse duur voort . . . ek voel maar nog baie soos ’n kleuter,” sê die man van 1,9 m lank in ’n sagte stem.

“Die natuur is so ’n ongelooflik kragtige spieël vir die menslike psige. Dit ontlok geweldige nederigheid by my . . . Hoe meer ek my in die natuur verdiep, hoe nederiger word ek.”

Spoorsny in die see

Foster is ’n veelbekroonde dokumentêre rolprentmaker wat al oor die wêreld heen gewerk het en onder andere lang tye saam met die San in die Kgalagadi deurgebring het.

In ’n stadium het hy sy kamera neergesit. Hy is oorval deur ’n gebrek aan motivering; ’n doel in die lewe het ontbreek.

Toe begin hy om daagliks sy huis te verlaat en sonder ’n duikpak in die kelpwoude (wat hy die Groot Afrika-seewoud noem) van die yskoue Atlantiese Oseaan te duik in ’n poging om weer te begin lewe.

“Dit was ongelooflik inspirerend om met hierdie wonderlike spoorsnyers te werk. Maar ook . . . wanneer jy skielik besef hoe hulpeloos jy in die natuur is, is dit eintlik baie ontstellend.

Hoe kan jy in bewegende water spoorsny waar spore binne oomblikke verdwyn? Maar natuurlik werk dit heeltemal anders – daar is heeltemal ander soorte spore wat in die see voorkom.

“Toe ek eers weer my energie begin terugkry, was hulle vir my ’n groot inspirasie. Ek het gedink: Kan ek nie minstens probeer om ’n vorm van spoorsny te bemeester nie . . . hoe kan ek op een of ander manier hierdie sonderlinge mans naboots?

“Hul kennis het aan my hierdie verbysterende blik op die natuur gebied. Ek het gewonder, as ek my kennis as iemand wat hier langs die see en in daardie kelpwoude grootgeword het, gebruik en ek elke dag ’n bietjie meer leer . . . Hoeveel jaar sal dit my neem om te leer om onderwater spoor te sny?

“Dit was ’n gek idee! Hoe kan jy in bewegende water spoorsny waar spore binne oomblikke verdwyn? Maar natuurlik werk dit heeltemal anders – daar is heeltemal ander soorte spore wat in die see voorkom.

“Dit het my drie of vier jaar geneem om – met die hulp van hierdie ongelooflike diere – myself te leer.

“Ek het ook wonderlike wetenskaplike mentors gehad – prof. Charles Griffiths, prof. Jennifer Mather en dr. Jannes Landschoff. En my vrou, Swati Thiyagarajan, is ook ’n wonderlike natuurbewaarder en naturalis, en sy het my geweldig baie oor diere geleer. Sy het byvoorbeeld uitsonderlike werk in Indië met tiere gedoen. So, ek is deurgaans baie geseën met ongelooflike diereleermeesters en menslike leermeesters.”

‘Emosionele ekologie’

Foster: “Ek dink die verhouding met die seekat het beslis baie van my manlike ego laat verkrummel.” Foto: Sea Change Project

Craig en Ross Frylinck het in 2012 die Sea Change Project gestig. Dit is ’n gemeenskap van wetenskaplikes, storievertellers, joernaliste en rolprentmakers wat daarop toegespits is om die oseaan – en spesifiek die “Groot Afrika-seewoud” – te verken en te bewaar deur “ ’n beweging van ‘emosionele ekologie’, waar mense ’n betekenisvolle verbintenis voel met ongerepte plekke en die diere wat daar woon”.

Mense wat My Octopus Teacher gekyk het, reageer dikwels redelik emosioneel, selfs met ’n mate van sentimentaliteit, op die groot intimiteit en wat lyk na teerheid, in Foster se verhouding met die seekat.

Hoe verskil “emosionele ekologie” van sentimentaliteit oor die natuurlike lewe?

“Die interaksies met my seekatleermeester was baie beslis op haar terme. Haar bui het nogal baie gewissel. Sy was oor die algemeen saggeaard en het my nooit ooit gebyt nie. Daar was egter nie elke dag hierdie groot fisieke kontak tussen ons nie. Maar wanneer dit gebeur het, was dit baie, baie kragtig.

'Net een speek in die wiel'

My Octopus Teacher is al op verskeie rolprentfeeste in die buiteland vertoon en het agt benoemings ontvang in die Jackson Wild-mediapryse, wat beskryf word as die Oscars vir natuurrolprente, asook twee benoemings vir ’n Pandaprys op die Wildscreen-fees.

Dit het ook onlangs die prys vir beste vollengte rolprent op die EarthX-rolprentfees gewen.

Foster sê wanner ’n mens na die rolprent kyk, dan dink jy: “O, dis net ’n prent oor Craig en die seekat,” maar agter die verfilming hiervan is daar ’n uitsonderlike en baie talentvolle groep mense, insluitend sy vrou en die regisseurs Pippa Ehrlich en James Reed.

“Dit is soos ’n brein wat uit ’n korf bestaan. En dit is baie selde dat so ’n korfbrein goed funksioneer; ek het dit nog nie dikwels ervaar nie. En jy vóél dit in die prent – die musici, almal wat ’n eenheid vorm en hierdie storie ondersteun. Ek voel ek is net een speek in die wiel.”

“Wanneer énige dier jou uit haar eie nader en fisiek kontak maak, is dit moeilik om nié daardeur geraak te word nie, selfs al ken jy daardie dier baie goed. Daar is iets misterieus wat gebeur en waarop jy nie jou vinger kan lê nie.

“Van my inheemse leermeesters het hieroor gepraat – wanneer daardie fisieke kontak plaasvind, is daar een of ander misterieuse pakt wat tussen jou en daardie dier gesluit word.

“Maar ek kan nie maak of ek weet wat sý uit die ervaring gekry het nie. Haar brein [mind] is so ánders as myne. Mense sê dit is ’n liefdesverhouding of wat ook al . . . Daar bestaan geen twyfel nie dat ek haar wél liefgehad het, maar wat in reaksie daarop gebeur, is debatteerbaar. Is die dier net nuuskierig? Is ek dalk vir haar bloot van nut as beskerming of wanneer sy jag? Of is daar iets anders?

“Kyk, sy is maklik so intelligent soos ’n hond of ’n kat, maar haar intelligensie is anders as dié van byvoorbeeld ’n hond. Twee derdes van haar kognisie is buite haar brein. [Byvoorbeeld in haar pote.] So, jy het te doen met ’n dier wat honderdmiljoene jare van ons verwyder is op die evolusionêre skaal, maar tóg is haar neurale samestelling nie so anders as ons s’n nie.

“Wat ek wil byvoeg . . . my vrou sit hier by my en sy sê nou net: Anders as in die geval van ’n hond of ’n kat is sy nie van ons afhanklik vir haar voortbestaan nie.”

Vreeslose seekat

Pippa Ehrlich, die regisseur van My Octopus Teacher. Foto: Sea Change Project

Dit is ’n “groot, groot voorreg” om saam met so ’n dier te wees wat nie vir jou bang is nie.

“Want amper elke ander seekat is bang vir jou as jy naby dit kom en wil net van jou af wegkom. En nou word jy skielik ’n klein bietjie binnegelaat in die geheime lewe van ’n dier wat nié vir jou bang is nie en besef het jy is nie meer ’n bedreiging nie.

“En dít is ’n massiewe skuif. Dít is wanneer jy net getref word deur hierdie golf . . . Dít alleen is so kragtig dat jy nie nódig het om sentimenteel daaroor te wees nie.”

Nadat hy deur ’n lang, nou, modderige onderwatertonnel geswem het, het hy uiteindelik onder die riete by die nes van die reuse-Nylkrokodil uitgekom.

In die boek Sea Change, wat Foster en Frylinck ’n aantal jare gelede die lig laat sien het, beskryf Frylinck hoe hy Foster ontmoet het en die eerste keer sonder ’n duikpak saam met hom in die koue see gaan duik het.

Hy vertel ook van Foster se natuuravonture – hoe hy saam met haaie geduik het en hulle gehipnotiseer het deur hulle liggies aan te raak; hoe hy in die oop see op die rûe van reuse-tierhaaie gery het; hoe hy tussen vyf witdoodshaaie geswem het; en ook hoe hy ’n rolprent gemaak het oor mense wat in die Okavango-Delta saam met Nylkrokodille duik.

Frylinck skryf: “Craig het aan my stories oor hierdie rolprent vertel wat my in ongeloof laat terugdeins het. Nadat hy deur ’n lang, nou, modderige onderwatertonnel geswem het, het hy uiteindelik onder die riete by die nes van die reuse-Nylkrokodil uitgekom. Die 5 m lange goue draak het hom van agter uit sy grot stip aangekyk. Hy het later besef hy was een van die eerste mense wat die draak se lêplek betree het en geleef het om die verhaal te vertel.”

Vrees

Foster en die seekat in ’n sonderlinge teer oomblik. Foto: Netflix

Ek pols Foster oor vrees.

“Toe ek die eerste keer saam met ’n witdoodshaai geduik het, was ek baie verbaas dat ek nie naastenby soveel vrees beleef het as wat ek gedink het ek sou nie. En ek dink dit sal met die meeste mense gebeur, want jy kan 99.9% van die gevalle agterkom daardie dier stel nie daarin belang om jou seer te maak nie.

“Wat interessant is, is daardie deel van jou brein wat vrees verwerk, ‘verklein’ dan dramaties ná daardie ervaring. Ek onthou ná daardie duik saam met die witdoodshaai het ek in my motor geklim en dit was vir my baie moeilik om my sitplekgordel aan te sit, want my vrees vir alle ander dinge – soos om in ’n motorongeluk betrokke te raak – het só afgeneem dat ek myself moes dwíng om die sitplekgordel vas te maak.

“In die see hou diere as ’n reël ’n baie, baie klein gevaar vir mense in. Die oseaan as sulks en die wildheid daarvan is anders – natuurlik kan jy baie maklik verdrink.”

’n Seedoop

Toe Foster drie dae oud was, het sy ouers hom huis toe gebring na hul houthuis aan die Kaapse kus 30 m van die see af. En ’n ruk later het sy pa hom in dié koue see gedoop.

Hy het klaarblyklik ’n lewenslange verhouding met daardie see ontwikkel. Benewens sy navorsing vir die Sea Change Project oor die kelpwoude, duik hy ook al die afgelope nege jaar daagliks sonder ’n duikpak in die Atlantiese Oseaan en dokumenteer hoe die menslike liggaam aanpas by koue.

“Mense dink ek is heeltemal bestand teen die koue. Wanneer ek baie goed voel en ek het goed geslaap, kán ek só duik, maar as ek te min geslaap het of ek is gespanne, of selfs as ek ’n besering het, is dit véél, véél moeiliker vir my brein om my liggaamstemperatuur in die koue te beheer.

“So, dis hoe die natuur ’n spieël is van hoe jy voel. Natuurlik bou jy ’n toleransie op teen die koue en so aan, maar dit is ongelooflik hoe die koue gemodereer word deur hoe jy vóél.”

Manlike ego

Ehrlich en die kinematograaf Roger Horrocks besig om Foster te verfilm. Foto: Sea Change Project

Het die aard van sy manlikheid oor die jare heen verander soos wat sy ervarings verander? Is die man wat doodsveragtend agter ’n reuse-krokodil aan geduik het en die man wat tien jaar gelede lief geword het vir ’n seekat, dieselfde mens?

Foster lag.

“Ek dink die verhouding met die seekat het beslis baie van my manlike ego laat verkrummel. Om skielik die intimiteit te voel van . . . hei, ek wéét sowaar hoe om onderwater spoor te sny; ek weet báie van hierdie diere se geheime lewe af; ek hóéf nie meer aan daardie manlike ego vas te klou nie; ek kan dele daarvan laat sterf. Dit is nogal ’n verligting, want in Suid-Afrika word ons daarmee groot.

“En ek is omring deur hierdie ongelooflike vroue – baie van hulle is lede van ons swemspan – en hulle duld nie enige nonsens nie. Hulle, en my vrou, het my baie gehelp.”

Pa en seun

Die seekat wat Foster se leermeester geword het. Foto: Sea Change Project

Ons praat oor Foster se verhouding met sy 18-jarige seun Tom, wat ook in die dokumentêr verskyn.

“Van die vroegste tye af volg kinders volwassenes wanneer hulle die wildernis betree en só het hulle oor die natuur geleer. En nou gebeur dit nie meer nie. Ek het dít baie sterk gevoel.

“Maar nou kan ek my seun neem en aan hom al hierdie dinge wys. Hy is so teer en sag met diere – dit is ongelooflik. Hy het so ’n groot liefde vir diere en ’n natuurlike aanklank by hulle. Ek wens ék het dit gehad toe ek so oud soos hy was.

“Dit verander die verhouding geweldig wanneer jy dit kan doen en ’n kind waardeer dit. Ek en hy het al onbeskryflike dinge saam beleef waar ons byvoorbeeld omring is deur groot skole reusehaaie.

Die grootste bedreiging vir die natuur en die ekologie en vir ons as mense, is wanneer die mens se hart koud word teenoor die natuurlike wêreld.

“ ’n Jong kind het geen vrees nie. Hy kan aanvoel dat hy veilig is. Al hierdie belewenisse saam in die wilde natuur skep ’n band wat baie, baie spesiaal is. Ons is steeds omtrent elke naweek saam in die see.

“Ek het saam met hom begin duik toe hy drie of vier was, met hom wat aan my rug vashou . . . Dís hoe my pa my ook leer duik het.”

Foster sê hy dink die grootste bedreiging vir die natuur en die ekologie en vir ons as mense, is wanneer die mens se hart koud word teenoor die natuurlike wêreld.

“Wanneer daardie hart nie meer verbind is met daardie ander reuse-, polsende hart van Moeder Natuur nie en daardie naelstring wat ons regdeur ons lewens voed, afgesny word.”

Meer oor:  Craig Foster  |  Simonstad  |  My Octopus Teacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.