SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Profiele
KYK: Dit gaan weer eishstekend met Neels

Hy het deur ’n tyd van “akute trauma” gegaan, maar is nou besig om nuwe drome te skep, sê Neels van Jaarsveld aan Murray La Vita.

Neels van Jaarsveld in ’n onderhoud op die stoep van sy huis in Botrivier. Foto: Adrian de Kock

Die 39-jarige Neels sit op die stoep van sy huis in Botrivier naby die Kaapse kusdorp Kleinmond. Hy drink koffie uit ’n beker waarop staan: “The struggle is real” en praat oor die bekoring van die pastorale lewe – van stilte en afsondering.

“Ek wil nog ’n dek hier bou. Ek het al klaar my water-wise plantjies in die grond gesit – goed wat ek nóóit gedink het ek sal doen nie. Dis interessante tye waarin ek my bevind, maar dit is baie opwindend.”

Die “interessante tye” sluit in die nuwe kykNET-televisiereeks Dwaalster deur Nicola Hanekom en onder regie van Jaco Bouwer, waarin Neels die rol van Luan speel en getroud is met Ruan (Terence Bridgett). Hulle is die eienaars van die hotel en restaurant Die Piering op die fiktiewe Karoodorp Maanhaarsdrif.

“Ek sien verskriklik uit na die reaksie van kykers. Eerstens hoe hulle daarop gaan reageer dat ek nou ’n man speel wie se voorkeur ander mans is; en tweedens ’n man speel wie se voorkeur ’n man van kleur is . . . Hopelik kan dit mense opvoed.

Die rol was ongelooflik uitdagend en baie interessant. Terence het eintlik meer die man gespeel en ek meer die vrou in die verhouding.

“Ek moes my voorkoms verander; my hare moes blond gekleur word – kort langs die kante en hoog bo; en ’n oorbel. Dit was nogal moeilik om in die openbaar so te verskyn want mense het seker gedink: ‘Wát gaan nou met jóú aan?’ Ek dink vir so drie-en-’n-half maande van my lewe het mense my nie regtig ernstig opgeneem nie. Ek het dikwels hoede gedra,” voeg hy laggend by.

“Dit was ’n interessante tydperk, want ek was nou ewe skielik weer op my eie – enkellopend [nadat sy huwelik tot ’n einde gekom het]. Ek het baie gewonder wat mense dink, maar nou gee ek nie meer om nie.

“Die rol was ongelooflik uitdagend en baie interessant. Terence het eintlik meer die man gespeel en ek meer die vrou in die verhouding. Ons is so half randfigure, maar Die Piering is die episentrum waar almal ontmoet.”

Daar word vernuwende reekse in Suid-Afrika vervaardig wat nie noodwendig net op kykersgetalle toegespits is nie, sê Neels.

“Ek dink dit is ’n fantastiese tydperk om in te wees. Kunstenaars vertel stories ten volle en soos hulle dit wil vertel; hulle hoef nie meer binne perke te beweeg nie. Ek dink die grootbase het begin besef ons móét produkte begin maak wat meer international appeal het. As jy kyk na Marche Media en Christiaan Olwagen se Seemeeu en Kanarie – dít is produkte en projekte wat búite die boks beweeg; wat vryheid het, want ongelukkig as jy binne daardie perke beweeg dan appeal jy net tot ’n Suid-Afrikaanse mark en ek dink ons moet besef ons is sterker en groter en beter as dít.

“Dit is wat dit baie opwindend maak met reekse soos Fynskrif waarby mense ook internasionaal kan byklank vind. Terloops: ’n tweede en ’n derde reeks daarvan is op pad; waaroor ek as vryskutakteur baie dankbaar is.”

Iets waaroor hy ook baie opgewonde is, is Koningin Lear, ’n verwerking deur Tom Lanoye wat deur Antjie Krog in Afrikaans vertaal is en wat vir die eerste keer op die KKNK opgevoer gaan word. Hy vertolk die rol van die ouer broer en sien geweldig daarna uit om saam met groot geeste soos Antoinette Kellerman, Anna-Mart van der Merwe en André Roothman op die verhoog te wees.

Neels as Luan en Terence Bridgett as sy man, Ruan, in die nuwe reeks Dwaalster.
Luan en Ruan op hul wittebrood.

Mense dink hulle ken hom

In die “tydperk” waarin hy hom nou bevind, kom hy agter dat mense jou baie vinnig opsom.

“Veral byvoorbeeld in my geval met sosiale media en die rolle wat ek al vertolk het, dink hulle hulle ken my reeds. En as hulle my dan in die regte lewe ontmoet dan is hulle soos: ‘Maar dís nie wat ek verwag het nie.’ En dis vir my baie interessant. So, ek is nou besig met ’n menslike eksperiment om te sien hoe reageer mense as hulle my werklik leer ken.”

Hoe voel dit om deurentyd so aan vooropgestelde idees blootgestel te word?

Wat moontlik in die verlede met my gebeur het, is dat ek dalk onbewustelik voorgegee het om iemand te wees wat ek nie is nie.

“Dit is tot ’n mate ongemaklik. Kom ons gebruik dié voorbeeld: Iemand sien jou as ’n dokter [Binnelanders] of prokureur [Fynskrif] op televisie en dan ontmoet hulle jou en sien jy is eintlik maar . . . ek wil nou nie die woord doodgewoon gebruik nie want ek dink nie enigiemand is doodgewoon nie; élke mens is eintlik ’n wonderwerk as jy nou mooi dink aan jou lewe.

“Wat moontlik in die verlede met my gebeur het, is dat ek dalk onbewustelik voorgegee het om iemand te wees wat ek nie is nie. En mettertyd het ek net begin besef ek moet net myself wees en as iemand my nie so aanvaar nie dan moet hulle aanbeweeg, want aan die einde van die dag is jy maar net eintlik besig om jouself in die voet te skiet, en dít gebeur baie maklik – in verhoudings, in situasies . . .

“As jy wil opdaag met veelkleurige skoene daai dag dan moet jy dit doen; as jy wil musiek speel waarvan jý hou, dan moet jy dit doen, eerder as om álmal in ag te neem. Ek dink ek het die hééltyd almal in ag geneem; dit is goed, maar tot op ’n punt.”

Wie het hy (onbewustelik) voorgegee om te wees?

“Sê nou maar die hele brandewynadvertensie [waarin hy die ikoniese woorde ‘Met eish, ja’ uiter] . . . Wéés daai ou; gaan uit en gaan geniet jouself. So, ek het baie maklik in daai rolle ingeval, maar nou . . . iemand na wie ek baie opkyk en wat ek dink nog altyd homself was, is iemand soos Dawid Minnaar.

“Ek kan met hom praat as ek deur ’n moeilike tyd gaan en ek kan enigiets met hom bespreek. Ek noem hom my pa want hy was my pa in Binnelanders. Ek begin so half . . . Hy wat in sy huisie bly en boeke lees en goeters aanpak en oorsee travel met hierdie plays en eintlik maar vreesloos is. Ek begin nou stelselmatig te verstaan hoe hy dinge aanpak.”

“Jy moet eintlik baie sterker wees as ooit tevore, want ewe skielik het almal ’n reg om vir jou iets te sê.”Foto: Adrian de Kock

Hoe dit is om Neels te wees

Op die Suidoosterfees gaan Neels sy nuwe eenmanvertoning Eishstekend doen.

“Net ek en ’n mikrofoon. Ek hou van grappies wat die waarheid is; goed wat met my gebeur het. Ek as mens was nog altyd eerlik oor goed wat met my gebeur en hoe ek die lewe sien. Dis amper ’n kykie na hoe dit is om ek te wees, op ’n snaakse manier.

“Daar gebeur baie snaakse goed met my, maar daar was ’n tyd in my lewe toe ek dit nie meer raakgesien het nie; alles was donker en . . . ag . . . Ek dink as jy nie meer die ligte kant sien nie kan jy maar netsowel in die berge gaan stap en net nooit weer terugkom nie.

“Ja, so Eishstekend sal maar basies oor my nuwe lewe wees – om weer alleen te loop; hoe dit was om getroud te wees; hónde; om nuwe huise te koop; eiendomsagente; gewigverlies; gewigoptel . . . ál daardie soort goeters waarmee mense maar struggle.”

Sy ander groot uitdaging van hierdie jaar is om negatiewe gedagtes wat oor sy pad kom vinnig te stuit.

Daar ís baie om voor dankbaar te wees, maar ek kan nie vir jou jok nie, daar is tye waar my kop my heeltemal mal maak, waar ek dink aan die verlede en goeters wat my bekommer.

“Dit dra geen waarde nie. In die verlede was ek baie goed daarmee om dit te stuit, om ’n free-spirited, open-minded mens te wees, maar nou is daar al hierdie ander goeters wat my kwel.

“Jy sit hier en eintlik is dit wonderlik: Hier is die bome; ek het nou die dag ’n hoep-hoep gesien en ’n visarend gehoor en ek het vriende af in die straat. Daar ís baie om voor dankbaar te wees, maar ek kan nie vir jou jok nie, daar is tye waar my kop my heeltemal mal maak, waar ek dink aan die verlede en goeters wat my bekommer.

“Die lewe het so kompleks geraak want ons breine word met soveel goed gevoer van hoe jy eintlik móét wees en wat dit is wat jy eintlik moet bereik. Ek is hierdie hopelik gesiene akteur. Is ek nie veronderstel om in ’n gróter huis te bly nie? Al daai verwagtinge wat jý nie noodwendig vir jouself stel nie. So dis maar tricky; die lewe is tricky en dit raak al hoe trickier.

“Ek het gekies om nié onkundig te bly nie, maar saam met dit kom daar ook baie negatiewe aspekte omdat jy so baie weet. En verwerping op fone en mense wat jy glad nie ken nie wat vir jou weird goed kan sê en sosiale media . . . Jy moet eintlik baie sterker wees as ooit tevore, want ewe skielik het almal ’n reg om vir jou iets te sê.”

“Ek is nou besig met ’n menslike eksperiment om te sien hoe reageer mense as hulle my werklik leer ken.” Foto: Adrian de Kock

Dilemma met verlies

Wat is die aard van die “donker tye” waarna hy vroeër verwys het?

“Ek het ’n groot probleem met verliés. Daar kan goed met jou gebeur en alles is tydelik . . . Dit was vir my ongelooflik eienaardig dat dinge so drasties kan verander; dat jy sê nou maar iemand kan verloor of iets kan verloor of eiendom kan verloor of ’n vriend kan verloor of ’n vrou kan verloor wat nog steeds lewe maar net stelselmatig nie meer deel is van jou lewe nie.

Ek dink tot ’n mate het ek myself opgebou na my huis by die see en my droomvrou en my pragtige honde, en ek dink as dít dan verdwyn dan is dit amper natuurlik dat jy gaan deur ’n tyd waarin jy akute trauma beleef...

“Ek dink ’n deel van jou gaan eintlik maar dood, en dít is vir my baie traumaties. Toe ek nou uiteindelik hiér aanland en besef oukei, hier is ek nou heeltemal op my eie . . . Joeg, ja! Ek dink jy het so half ’n worsteling met wat is nou eintlik die doel van alles? Ag, en ek hou nie daarvan om mense te verloor waarvoor ek lief is nie. En ek hou nie rêrig van verandering nie.

“Ek dink tot ’n mate het ek myself opgebou na my huis by die see en my droomvrou en my pragtige honde, en ek dink as dít dan verdwyn dan is dit amper natuurlik dat jy gaan deur ’n tyd waarin jy akute trauma beleef en dan is die uitdaging om te kyk of jy lewendig daar kan uitkom.”

In die verte hoor ons die fluit van ’n trein.

“Ek wil nou so veel as moontlik reis. Ek gaan môre op my eie na die Kgalagadi toe, want ek wil gaan soek na die swartmaanhaarleeu, onder meer. Dis so half ’n reinigingsmissie.”

Wanneer ons vertrek en Neels vertel wat hy nog alles by sy “huisie” wil doen – die tuin vol plante en bome (veral ’n lukwartboom) wat hy wil skep; die heining; die dek – sê hy: “Ek het drome gehad en ek het dit bereik, maar dit was kortstondig, so nou moet ek weer núwe drome kry.”

* Dwaalster word op Dinsdae om 20:00 op kykNET (Dstv- kanaal 144) uitgesaai.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Neels Van Jaarsveld  |  Dwaalster  |  Fynskrif
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.