Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Dít het Deon Meyer en Bennie Griessel gemeen

Vanjaar was ’n jaar van mylpale vir Afrikaans se gewildste skrywer, Deon Meyer. Willemien Brümmer het met hom gepraat oor sy jongste spanningsroman Prooi en hoe hy Bennie Griessel se voorbeeld gevolg het.

Deon Meyer en sy verloofde, Marianne Vorster, in hul agtertuin op Stellenbosch. Foto: Adrian de Kock

“Ek kon lekker oefen met Bennie,” sê Deon Meyer en glimlag vir die lenige blonde vrou met die fuchsia-pienk ensemble aan sy sy.

Sy is byna net so lank soos sy 1,89 meter en albei se oë is iets tussen blou en akwamaryn. Aan haar ringvinger pryk ’n fyn roosgoudpand met ’n skitterende diamant.

Maar nee, haar naam is nie Alexa Barnard nie en sy is nie ’n rehabiliterende alkoholis of ’n voormalige sangeres nie. Sy is die kunstenares Marianne Vorster (48), die vrou wat hy “Flying Marianne” gedoop het omdat sy so lekker op haar bergfiets kan “vlieg”.

Wat kapt. Bennie Griessel (wie se lewe tevore ’n waas van geweldsmisdaad en drank was) en sy geheelonthouer-skepper Deon Meyer wél in gemeen het, is dat hulle albei onlangs verloof geraak het.

Hy knik daar waar hy kaalvoet sit aan die oregonden-tafel in sy en Marianne se strooidakhuis waar hulle saam met vier van hul onderskeie kinders op Stellenbosch woon. Voor hom is ’n blompot met heldergeel sonneblomme. Teen elke muur pryk een van Marianne se skilderye.

“Nee, ek en Bennie het mekaar beïnvloed. Ons het mekaar grootliks ondersteun. Ek het geweet dit sal die een of ander tyd gebeur.”

Sy hand rus gemaklik op haar knie. “Ek het ook soos Bennie gevoel dat as ’n mens so iets doen, is dit iets waaroor haar vriendinne haar gaan uitvra: ‘Wáár het hy jou gevra?’ ‘Hóé het hy jou gevra?’ So dan moet dit darem iets wees wat oorvertelbaar en spesiaal is.”

Hy wil die verlowing nie regtig aan die groot klok hang nie, maar net soos Bennie het hy gewonder waar in die ete vra ’n mens?

Dit het gebeur in ’n restaurant in Bordeaux – die Franse stad wat Daniel Darret, een van die helde in sy jongste spanningsroman Prooi, as sy “trouvrou” beskryf. Daar waar Daniel en sy struggle-kameraad Lonnie May “Cul-de-poule” (hoender se agterent) eet terwyl hulle die president se ondergang beplan.

Die datum? 4 Julie, op Deon se 60ste verjaardag.

Hy bloos, vee oor sy borselkop asof hy nie regtig daaroor wil praat nie. “Ek het maar net in ’n restaurant waarvoor ons albei baie lief is, gevra. Ons ken die eienaar nou al taamlik goed en ek het met hom gaan konkel en gesê ons soek ’n tafel en hy moet so ’n bietjie wegstaan van die ander mense en daar moet sjampanje wees as ons aankom . . . Dit was op my verjaardag, so ek het dit gekamoefleer. Ek het ook vir hom gesê ek soek ’n skoon tafel as ek vra, so as ons klaar hoofgereg geëet het, moet hy kom afdek asseblief.”

Die S-woord

Deon het Marianne op sy 60ste verjaardag in die Franse stad Bordeaux gevra om te trou. Foto: Adrian de Kock

Vanjaar is inderdaad ’n jaar van mylpale vir die gewildste skrywer in Afrikaans. Nie net het hy 60 geword en verloof geraak nie. Hy het onlangs gehoor hy word vir die eerste keer oupa en dis nou al die tiende jaar dat hy heeltyds skryf.

Dis ook die eerste keer dat ’n groot deel van een van sy boeke in die buiteland afspeel (Bordeaux en Parys). Boonop is Prooi waarskynlik sy gevaarlikste roman tot nog toe. Jy kry amper die gevoel wat jy in die 80’s gekry het toe koerante soos Vrye Weekblad swart ink op wit papier gebloei het, met die veiligheidspolisie altyd op die loer.

Want al is Prooi met sy snaarstywe intrige in sommige opsigte klassieke Meyer, is baie van die kwessies wat ter sprake kom allermins fiksie.

Reeds vanuit die staanspoor is dit duidelik die leser het hier te make met die S-woord: Staatskaping. Daar’s groot druk van bo om die oudpolisieman se dood, wie se lyk van die wêreldberoemde Rovos Rail gegooi word, “selfmoord” te noem. Boonop moet Griessel en sy kollega kapt. Vaughn Cupido sake ondersoek met die wete dat hulle slegs hul onmiddellike kring van kollegas kan vertrou.

Jy lees van ’n president wat stelselmatig goeie, getroue, eerlike struggle-veterane, kamerade, vriende en broeders in die rug gesteek en uit belangrike poste gedwing het en sy eie lakeie aangestel het. En “’n beplande, bloedlose staatsgreep met net een doel voor oë – om te steel”. Dit in samewerking met die “drie skelm Indiese broers”.

Boonop is Wladimir Poetin nie ’n pampoen nie en het die Russe die president in “kompromat” geplaas sodat hulle die kernkontrak kan kry.

Deon, wat nou al geruime tyd in dieselfde asem genoem word as Michael Connelly, Ian Rankin en David Morrell, vertel hy het die boek begin beplan toe “ons voormalige president” nog in die stoel was. “Toe Ramaphosa verkies is, toe sit ek met ’n bietjie van ’n dilemma en toe is my oplossing om die boek maar terug te skuif na die vorige bedeling en dit nog steeds daar rondom te probeer bou.”

Maar daar is by my geen agenda om sosiale kommentaar, politieke kommentaar of my eie filosofie of ideologie in die boek te sit nie. Alles staan in diens van die storie.

Hoekom staatskaping? Of dalk eerder: Hoekom nie?

“Die milieu waarin ’n mens jou stories plaas, is die milieu van die hede en in die tyd toe ek die boek beplan het, het die Guptas se dinge begin uitkom.”

Hy grinnik. “Hulle het sekerlik die storie gedeeltelik geïnspireer, maar alle karakters is fiktief en dan begin ’n mens maar dink en dan word jy beïnvloed deur dit wat om jou gebeur. Ek glo nogal sterk daaraan ’n mens moet jou emosies ook volg in terme van storie-ontwikkeling. Jy moet gaan waar die dinge wat op jou gemoed lê, positief of negatief, jou heen vat. Ek was só diep bekommerd oor ons land gewees, en dan het dit maar ’n invloed op die gegewe.”

Hy stoot sy bril terug op sy neus. “Maar daar is by my geen agenda om sosiale kommentaar, politieke kommentaar of my eie filosofie of ideologie in die boek te sit nie. Alles staan in diens van die storie.”

Was die uitgewers nie bang vir dagvaardings nie?

Hy lag. “Dis fiksie. As die Guptas my dagvaar, kan ons maar hof toe gaan en kyk wat hulle kan bewys.”

Dis twee-uur en pikdonker

Deon sê hy en sy gewilde protagonis, kapt. Bennie Griessel, het mekaar “ondersteun en beïnvloed”. Albei van hulle het onlangs hul geliefdes gevra om te trou. Foto: Adrian de Kock

Marianne sit ’n bak soetgebak en nog een met risotto- balletjies en samoesas op die tafel neer. Hy vertel hoekom Bordeaux so ’n belangrike rol in Prooi gespeel het. Dié stad waar hy dalk al selfs meer gewild is as in Kaapstad.

“Man, ons gaan elke jaar. Verlede naweek was ek juis nou weer by die grootste sagteband-boekfees in Europa, Lire en Poche, wat net buite Bordeaux gehou word. Ek is seker so tien jaar terug die eerste keer soontoe genooi.”

Hy kyk na Marianne. “Toe sy nou ook op die stad verlief raak, het ons dieselfde woonstel elke keer gehuur en ons hou nou twee fietse daar aan. Wanneer ons kan, gaan ons vir so lank as wat ons kan.”

Nog ’n “instelling” wat byna ’n karakter in die boek word, is Rovos Rail, die wêreld se luuksste trein. ’n Passasier word aan die begin van die roman vermoor, à la Murder on the Orient Express, en die saak word deur die plaaslike polisie verongeluk.

Al wat hy wil verklap, is dat hy nie kan waarborg dat Bennie en Alexa bymekaar gaan bly nie.

Soos altyd het Deon deeglike navorsing gedoen en dié keer het dit ’n reis vir hom en Marianne tussen Pretoria en Kaapstad ingesluit.

Sy raak liries. “Dit was fantasties! Jy lê op jou bed en dan voel dit asof jy in ’n kunsgalery loop. Ek het vir hom gesê dit was een van die wonderlikste ervarings van my lewe.”

Hy knik. “Jou suite is groter as ’n hotelkamer en jy’t jou eie badkamer met ’n bad en ’n stort. Jy’t jou eie butler wat jou ontvang op die stasie en as jy daar kom, is alles uitgepak, alles netjies opgehang, al die dinge, en elke aand is daar ’n geskenkie op jou bed en daar is dan so ’n briefie daarby.”

Twee-uur die oggend het die trein oor Marianne se eksman se plaas, Klipkop buite Beaufort-Wes, gestoom. Haar seun het met die bakkie gery tot by die spoor. “Ek WhatsApp toe vir hom ‘flits jou ligte vir Mamma waar jy staan’ en haai hene, dit sal iets wees wat ek nooit sal vergeet nie! Hier is jy twee-uur die nag op die trein, dis pikdonker en hier weet jy jou seun staan langs die treinspoor vir jou en wag.”

‘Die lewe is wreed’

“Elke boek kan nie ’n gelukkige einde hê nie,” sê Deon Meyer oor sy volgende Bennie Griessel-dossier.Foto: Adrian de Kock

Ons praat oor al die nuwe horisonne wat hy die afgelope tyd verken het: Karoo Suite, ’n multimedia-vertoning in woord, klank en beeld, waarin hy saam met sy ou vriend Coenie de Villiers die mense en die stories van die Karoo belig. Hy tree nie alleen die eerste keer as verteller op in dié musieksuite nie. Sy Karoo-fotografie is ook die agtergrondtafereel.

Boonop word sy ambisieuse roman Spoor, drie boeke wat losweg aan mekaar gekoppel is, nou ’n internasionale TV-reeks en hy is reeds besig met die volgende Bennie Griessel-dossier.

Soos gewoonlik is die inhoud van laasgenoemde ’n staatsgeheim. Al wat hy wil verklap, is dat hy nie kan waarborg dat Bennie en Alexa bymekaar gaan bly nie.

“Jong, die lewe is wreed, ’n mens weet nie. Ek kan nie belowe dat hy en Alexa gaan trou nie. Twee alkoholiste saam . . .”

Hy rol sy oë. “Elke boek kan nie ’n gelukkige einde hê nie.”

Al skryf hy nou al tien jaar heeltyds en word sy boeke in 27 tale vertaal, het skryf nog nooit vir hom “soos ’n job” gevoel nie. “Dis nie dat skryf sonder frustrasies is nie, soms het skryf geweldige frustrasies, maar die frustrasies is ook vir my lekker. Dis verskriklik lekker om te worstel en te stoei met ’n kreatiewe probleem en aan te hou met torring en dink tot ek ’n oplossing gekry het wat ek dink elegant in terme van die storie is.”

En ja, hy is nog steeds ’n oggendskrywer. “Ek begin vyfuur, sesuur, partykeer vieruur. Ek ly soms ’n bietjie aan insomnia, dan sal ek baie vroeg opstaan. Hier na die einde van die boek skryf jy 12, 14, 16 ure op ’n dag. Die laaste vyfde of sesde van die boek is ’n mens regtig op die afdraande en jy wil klaarmaak.”

Ek is nog nie die skrywer wat ek graag wil wees nie, maar ek is darem al beter as wat ek was.

Het hy al ooit die risiko geloop om deur sy sukses verlei te word?

In die agtergrond boor en kap ’n span werkers wat sy en Marianne se badkamer regmaak. “Hoe ek my werk en my loopbaan benader het, was nog altyd om objektief te probeer kyk na dit wat ek klaar geskryf het en myself af te vra of dit gekom het by die standaard wat ek vir myself gestel het toe ek begin het. Die antwoord is maar meestal nee.”

Hy aarsel. “So dis ’n. . . ek is nog nie die skrywer wat ek graag wil wees nie, maar ek is darem al beter as wat ek was.”

Sal hy en Marianne vir altyd in Suid-Afrika bly noudat hy ’n krimi-held in lande soos Nederland, Duitsland en Frankryk geword het? In ’n vorige onderhoud het hy gesê “never say never”.

Hulle kyk na mekaar en hy knik. “Ek is versigtig optimisties met die klem op versigtig. Daar is nog baie water wat in die see moet loop en dit is nog ’n bietjie op die mespunt. Selfs Cyril se posisie is nie seker nie en ons voormalige president lê nog op die loer soos ’n honger leeu.

“Ek het ’n interessante gesprek gehad met Max du Preez so ’n maand gelede en toe het Max se positiwiteit ook nou weer vir my ’n bietjie moed gegee. As Max sê ‘Worry, maar nie te veel nie’, dan dink ek dit is goed.”

Hy staan op, ’n reus van ’n man op die kruin van sy loopbaan. “Ek worry nie te veel nie.”

Meer oor:  Deon Meyer  |  Bennie Griessel  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.