SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘Ek dra g’n Zille se handsak’ - Steenhuisen

John Steenhuisen, die DA se nuwe, tussentydse federale leier, “is beslis nie ’n handlanger van Helen Zille nie”.

“Ek gaan beslis nie Helen se handsakdraer wees nie,” het Steenhuisen Maandag in ’n openhartige onderhoud met Netwerk24 beklemtoon.

“Ek gaan beslis nie Helen (Zille) se handsakdraer wees nie.”Foto’s: Felix Dlangamandla

“Ek wil dit baie duidelik maak: Ek is nog altyd my eie mens wanneer dit by politiek kom.”

Steenhuisen se verkiesing as die tussentydse federale leier volg ná die voormalige partyleier, Mmusi Maimane, se bedanking verlede maand.

Hy beskryf homself as “op die man af, iemand wat deeglik seker maak mense weet waar hulle met my staan”.

Dit geld ook vir Zille, met wie hy ’n goeie werksverhouding het.

“Ek en Helen werk al jare saam. Dit beteken nie ons stem oor alles saam nie. Ons het in die verlede al oor talle kwessies verskil.

“Helen se verkiesing as nuwe voorsitter van die DA se federale raad is ook uit verband geruk. Mense vergeet dat sy ’n interne verkiesing regverdig gewen het. Sy is nie in die pos aangestel of ‘gekroon’ nie.

“Die federale raad het gemeen dat sy die beste mens vir die pos is.”

John Steenhuisen
John Steenhuisen, die DA se nuwe, tussentydse federale leier.

Het hy vir Zille gestem?

“Ja, ek het. Helen moet die ruimte gegun word om haar werk te doen, waarvoor sy aangestel is. En ek moet daarop fokus om die party te lei.”

“Ek gaan beslis nie onder enigiemand se onderrok leef nie.

Ek gaan die party lei soos ek dink die party gelei moet word. Die DA moet weer rigting vind.”

Is sy amp as tussentydse federale leier net ’n plekhouer tot die DA se beleidskonferensie en kongres in 2020, wanneer ’n nuwe, vaste leier aangewys gaan word?

“Ek het dit reeds baie duidelik gemaak toe ek myself as tussentydse federale leier verkiesbaar gestel het: In Mei 2020 gaan ek myself verkiesbaar stel as die leier van die DA.

“Ek is nie ’n opsigter nie, ek het die visie, ek het die energie en die toewyding wat die party nodig het om die party weer na kalm waters te stuur. En om ons reg te kry vir 2021 se munisipale verkiesing.”

John Steenhuisen
Steenhuisen beklemtoon dat hy sy eie mens is en verwerp die idee dat hy Zille se lakei is, ten sterkste.

Soos drillende jellie

Hy is deeglik bewus daarvan dat die uitrafeling van die DA as die amptelike opposisieparty die afgelope twee jaar Suid-Afrikaners in die steek gelaat het, en ’n knou vir die land se demokrasie was.

Is dit enigsins moontlik vir die party om te herstel? En wanneer, indien wel gaan, dit gebeur?

“Wanneer ons met helderheid en duidelikheid kan sê: "Dis waarvoor die DA staan en dis waarin die party glo.

“Mense het voor die verkiesing na ons gekyk en ons was soos ’n stuk drillende jellie. Hulle kon nie ons vorm uitmaak nie.

“Ons het links gedril, ons het regs gedril, as die politieke winde geblaas het, ons het toegelaat dat dit ons rondblaas.

“Die DA moet vir Suid-Afrikaners ’n sterk, duidelike padteken wees wat die land se toekoms aanwys.”

John Steenhuisen
“Ek gaan die party lei op die manier hoe ek dink die party gelei moet word. Die DA moet weer rigting vind.”

Los tonge op sosiale media het die party ook duur te staan gekom; die party se federale jeugleier, Luyolo Mphithi, se twiet oor Elana Barkhuizen van Schweizer-Reneke het die party talle wit Afrikaanse stemme in die vorige verkiesing gekos. Dan is daar ook nog Zille se twiet wat kolonialisme goedpraat, en die smerige bekgeveg op Twitter tussen Mike Moriarty, hoofsweep in die wetgewer en die DA se provinsiale voorsitter en sosiale vlinder Bonang Matheba.

Hoe kan DA-ondersteuners die party ernstig opneem?

Steenhuisen wil plakkate in die DA se kantore aanbring wat partylede herinner: Loose tweets sink fleets.

“As mense daardie soort nonsens sien, vervreem dit hulle van die party. Hulle wil nie sien hoe DA-mense op Twitter baklei nie, hulle wil sien hoe die DA vir hulle baklei.

“Suid-Afrikaners is moeg om te hoor hoe die DA die hele tyd die ANC swartsmeer en hoe sleg almal is. Hulle wil by ons hoor wat ons gaan doen om hul situasie beter te maak. Mense is moeg vir moddergooiery. Daar moet meer dissipline in die party wees oor hoe ons met mekaar kommunikeer. Ons kan nie met mekaar praat deur sosiale media en die media nie. Daardie dae is verby.”

Maimane se bedanking

Hy hou vol dat Maimane self besluit het om te bedank en dat niemand in die party hom gedwing het nie.

Hy sê ook die verslag van die beleidshersieningskomitee – wat ondersoek gedoen het na die DA se afname in steun in die nasionale en tussenverkiesings – het Maimane nooit aangeraai om te bedank nie.

“Baie van ons het gemeen hy moet aanbly.”

Moet Maimane die skuld kry vir die gemors waarin die DA homself tans bevind?

“Laat ek dit duidelik maak. Geen individu kan ooit die volle verantwoordelik dra vir alles wat verkeerd geloop het nie. Bygesê, wanneer dit by politiek kom, rus die verantwoordelikheid van ’n politieke party se prestasie ongelukkig op die skouers van partyleiers.

“Dit is waarom jy in demokrasieë van regoor die wêreld sien wanneer politieke partye struikel, tree die leiers eenkant. John Major, David Cameron en Teresa May het almal uit hul leiersposisies bedank omdat hulle bereid was om die las op hul skouers te dra.

“Dis nie te sê die leier van ’n politieke party dra alleen die verantwoordelik vir alles wat verkeerd geloop het nie.

Maar ongelukkig, in politiek, is dit die leier wat pa moet staan vir die foute.”

“Ek glo nie in hierdie siening dat ’n party ’n swart leier nodig het, om swart kiesers te lok nie.”

Die vryery na swart kiesers

Steenhuisen het ook erken dat die party in die verlede gesukkel het om swart kiesers te werf. Hy meen apartheid het steeds ’n impak op Suid-Afrika, maar dat rasgegronde beleide soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nie die verlede se probleme gaan oplos nie.

“As jy kyk wat rasgegronde beleide die afgelope 25 jaar bereik het, is dit ’n volslae mislukking.

“Suid-Afrika is meer ongelyk as ooit, die werkloosheidsyfer het van 3,7 miljoen na meer as 10 miljoen gestyg.

Swart huishoudings onder SEB is 10% armer. Daar is niks bemagtigend aan SEB nie. Dit werk nie.

“Ons het duidelik ’n nuwe weg nodig om die foute van die verlede reg te stel, ons moet armoede teiken.

Hy meen dit is moontlik om dit te doen sonder dat ras of kleur by die beleid ingetrek word.

“ ’n Beleid wat armoede regstreeks teiken, sonder dat dit deur die lae van staatskaping en korrupsie van SEB moet dring, teiken weerlose mense direk. En 99,9% van die begunstigdes gaan swart wees. As ons die skade van die verlede wil regstel en armoede as merker gebruik, sal net 30 000 wit Suid-Afrikaners kwalifiseer.”

Hy sê dit werk steeds met stelsels soos NSFAS en Sassa.

“Sassa en NSFAS se beleide het nie ’n rassevooroordeel nie, maar die grootste groep begunstigdes van die stelsels is swart Suid-Afrikaners.”

Is hy, as ’n wit, manlike leier nie ’n las vir die party wanneer dit by die werwing van swart stemme kom nie?

“Ek glo nie in die siening dat ’n party ’n swart leier nodig het om swart kiesers te lok nie.

“Die laaste verkiesing wys duidelik dat ’n swart leier nie die wondermiddel is om swart stemme te lok nie. Inteendeel, ons het agteruit geboer in swart gemeenskappe met die laaste verkiesing.

“Ek dink mense is op soek na ’n outentieke stem, iemand wat hulle weet aan hul kant is, en op ’n medelydende, empatiese manier hul griewe kan opper en oplossings daarvoor bied.

Die terugkeer van Gwen Ngwenya

Die DA se gewese beleidshoof, Gwen Ngwenya – wat in Januarie bedank het nadat sy ’n skreiende brief aan Maimane geskryf het – was die naweek ook weer in die kollig by die DA se federale raadsvergadering.

Steenhuisen het bevestig dat Ngwenya terugkeer na die party.

“Dit is ’n eenvoudige aanstelling deur menslike hulpbronne, en dit word deur menslike hulpbronne hanteer. “Ja, ons is besig om vir Gwen terug te bring en daar is ’n klomp redes daarvoor. Sy is ’n baie talentvolle mens.”

Die Metro’s

Daar word bespiegel dat Herman Mashaba – wat verlede maand as Johannesburg se DA-burgemeester bedank het – se uittog kan lei tot die ineenstorting van koalisieooreenkomste, wat die DA beheer oor van die land se grootste metro’s gee.

Steenhuisen se eerste prioriteit – as nuwe tussentydse federale leier – is om ’n nuwe burgemeester vir Johannesburg te vind.

“Ja, ons wil steeds ons beheer in die metro’s behou. Ons gaan seker maak daardie koalisies bly in plek. Ek dink die laaste ding wat daardie stede nou nodig het, is om vir die ANC-wolwe gegooi te word.”

Suid-Afrikaners het nog baie te leer oor koalisiepolitiek, sê Steenhuisen.

In Europa kry jy talle diverse koalisieregerings wat dit maak werk.”

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Politiek  |  Da  |  Nuwe Leier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.