Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘Ek moet dit vir myself doen’, sê JAN
Jan Hendrik van der Westhuizen in sy minimalistiese kombuis in sy huis in Kaapstad waar hy saam met sy man, Grant Bacon, woon wanneer hy in Suid-Afrika is. Foto: Jaco Marais

Die wêreldbekende sjef en entrepreneur Jan Hendrik van der Westhuizen is vanjaar Kaapstad Sakekamer, Die Burger en Netwerk24 se ambassadeur. Willemien Brümmer het met hom gesels.

Dit het hom getref ’n paar weke ná sy pa se dood. Dié Michelinbekroonde glanssjef wat sy hele lewe lank windmeule jaag – van bekroonde kookboeke tot sy eie wynreeks, ’n sesmaandelikse fynproewersjoernaal, ’n eie TV-reeks en dan natuurlik die wêreldberoemde restaurant langs die Côte d’Azur.

Jan Hendrik van der Westhuizen, plaasseun van Mpumalanga wie se pa, Boet, spottenderwys na homself verwys het as “die Kardashian van Middelburg”.

Maar nou is Boet in April vanjaar oorlede en vir die eerste keer in sy lewe hoef Jan Hendrik homself nie meer vir dié boer wat só graag wou hê hy moet rugby speel en trekker ry, te bewys nie.

"As kinders wil ons tog ons ouers trots maak. Ek was een van daai kinders."

Waar hy in die glas-en-beton huis sit waar hy saam met sy Suid-Afrikaanse lewensmaat, Grant Bacon, woon wanneer hy in die Kaap is, is hy verbasend plat op die aarde. Swart sweetpakbroek en Nike tekkies; antwoord op die man af in ’n smorgasbord van Afrikaans en Engels.

Jan Hendrik van der Westhuizen voor die glasskuifdeure van die ontwerpershuis in Kaapstad waar hy saam met sy lewensmaat, Grant Bacon, woon. Dié huis het ’n perfekte uitsig oor Leeukop en Seinheuwel.Foto: Jaco Marais

“Ek dink definitief tot ’n mate was daar ’n vlak van ek is onkonvensioneel, ek is gay, ek doen nie wat my suster doen nie en ek doen ook nie wat my pa wil hê ek moet doen nie. Obviously gaan jy harder probeer op ander gebiede om aanvaar te word. . .”

Hy vryf oor sy slape. Oor presies ’n uur moet hy weer lughawe toe ry nadat hy vir drie dae ingevlieg het Suid-Afrika toe om sy tweejaarlikse joernaal, JAN the JOURNAL, te kom bekendstel.

“Toe hy (sy pa) oorlede is, was dit eers ’n crazy paar weke, en toe slaat dit my: Vir wie moet ek nóú al hierdie goeters doen? Toe het ek net besef: I need to do it for myself.”

Die minimalistiese ontwerpershuis in Higgovale wat lyk asof dit tussen die bome sweef, is perfek soos byna alles anders in Jan Hendrik se lewe. Maar anders as hul woonstel in Nice wat “lyk soos ’n second hand shop” is elke toestel of deur weggesteek in ’n soomlose eenheid op vier pilare.

Hy sit op ’n knalrooi stoel, hulle Jack Russel Hermès op sy skoot, langs ’n knetterende vuur en ’n muurpaneel wat lyk soos ’n stapel hout. Hy vertel van sy pa se siekbed weens pankreaskanker.

“Ek het Suid-Afrika toe gekom om so half net te kom kyk wat aangaan en toe ek hier aankom het hy baie vinnig agteruitgegaan. Ek was toe heeltyd hier, letterlik vir vyf weke. Dit was eers op die plaas, ons wou hom daar gehou het, maar toe het dit net te erg geraak. Ons kon nie vinnig genoeg hulp kry nie en toe was dit ’n big farewell.”

Sy stem is sag. “Dis nogal amazing, ons het op ’n wildrit gegaan en dit was die laaste keer dat hy sy plaas gesien het en dit was die laaste keer dat hy sy diere sien. So dit was baie emosioneel en toe gaan ons hospitaal toe en toe is hy daar dood. My pa was 62.”

Die groen oë wat op soveel foto’s pryk is broos. “Ja, ons het ’n vreemde verhouding gehad en in die dae toe hy op sy doodsbed gelê het was dit amper soos ’n let go gewees. Maar ek het soveel karaktereienskappe van my pa, soos byvoorbeeld sy kortheid van draad. O ja vreeslik! Dít en presisie.”

Ouma Hessie en ouma Wessie

Jan Hendrik van der Westhuizen saam met hul Jack Russel, Hermès. “Ons sê hy is Frans, maar hy is eintlik Afrikaans!” lag hy. Foto: Jaco Marais

Al is dit nie sonder sy kompleksiteite nie, is sy liefde vir sy ouers en vir sy oumas al wyd en syd besing.

Dis sy ma se ma, ouma Hessie, die “fancy ouma wat die porselein uitgehaal het”, wat gesê het hy moet probeer om by sy restaurant JAN die “Oscar vir restaurante” te kry: ’n Michelinster.

Hy lag. “En noudat ons een het, push ouma Hessie vir twee.”

Dis juis na sy ouma Hessie (haar doopnaam was Maria) na wie Maria in Nice vernoem is – ’n private eetkamer van sy restaurant JAN met sy Baccarat-kandelare en vlekkelose wit interieur.

“Toe ek Maria oopmaak en obviously na haar vernoem het, was sy daar gewees. Dit was die eerste keer in haar lewe dat sy gevlieg het en toe vlieg ons haar Frankryk toe. Ons het haar in ’n beautiful villa laat bly en ’n vintage Rolls Royce het haar rondgery en dit was net só glamorous. Ons het in Portofino vir skoene gaan shop en ek het die fout gemaak om te sê: ‘Vat wat ouma wil, ek sal betaal’.”

Hy rol sy oë. “Jissie!”

Een Michelin-ster is great maar diep diep binne jouself mik jy obviously vir daardie onderskeiding. En as jou land agter jou is, dan moedig dit jou meer aan. Jy wil kan sê ons word beter, ons stagneer nie.

Dis die einste ouma Hessie wat nou die dag deur ’n omroeper van Jacaranda FM gevra is wat doen haar geliefde kleinseun verkeerd in die kombuis.

Haar antwoord? “Hy sit te veel sout en peper en speserye op sy vleis.”

Hy trek ’n gesig. “Ek sê toe: ‘Wat? Ek sit nie eens speserye op my vleis nie, there’s no way.’”

Sy oë kyk ver. “Sy is die fynproewer en my ander ouma was die solid kok. She didn’t care what the table looks like en hoe die kos gelyk het in ’n bak nie. Laas week het ek ouma Wessie se souskluitjies gemaak, sommer op my eie, en toe het ek weer so ’n nostalgiese oomblik gehad en op my eie die bak opgeëet nadat ek vir ’n ruk lank op die eier en wyn-dieet was.”

Van die Spur tot in Parys

Die storie van sy Franse “affêre” is nou reeds legendaries. Sy liefde vir dié land het begin toe hy 12 jaar oud was en sy ouers ’n gratis vakansie Frankryk toe gewen het.

“Saam met al die geskenke het my ma ’n Air France-tydskrif gebring. Ek was so fascinated met die taal en ek wou vlieg, ek wou regtig reis, en toe crush my een onderwyser my drome om ’n steward te word, want toe ons in die klas kom, toe vra hy: ‘Oukei klas, wat wil julle eendag word as julle groot is?’

“Toe sê ek: ‘Ek wil vlieg, ek wil die wêreld sien en ek wil mense bedien.’ En toe sê hy: ‘Nee nee nee, dis net homoseksuele mense wat dit doen’. En dadelik, toe is daardie droom aan skerwe. Toe begin hy daar iets sê van ‘koffiemoffies’ en so aan en toe dink ek wel, dit gaan nie gebeur met my pa nie.”

As enige iets nie goed genoeg is nie, hou ons dit terug. Ek sal eerder vir mense sê iets is op of ons is vol as wat ons vir hulle ’n gemiddelde ervaring gee.

Ná skool het hy by Zevenwacht buite Stellenbosch se sjefskool ingeskryf. Dis in dié tyd dat hy “sy eie restaurantjie” by die Spur in Tygervallei bedryf het soos ’n fynproewersrestaurant in Parys.

Hy lag. “My ma het ’n trop koeie gehad en sy het hulle een vir een laat slag vir my klasgeld. Hulle het almal ‘Jan’ op die ore gehad en as dit tyd word om te betaal vir die sjefskool, dan laat gaan sy een.”

Om sakgeld te verdien het hy saans by die Spur gaan werk.

“I hated the interiors of course, maar ek het altyd ’n bottel wyn by my gehad. Ons het afslag op wyn gekry by Zevenwacht en ek het altyd alternatiewe wynkeuses gehad vir my gaste by my vyf tafels en ek het nooit op my hurke gesit nie. Ek het ’n deal gehad met die griller en ek het altyd ’n amuse-bouche bedien met ’n stuk blaarslaai as ’n prestarter – en toe fire hulle my!”

Hy lag diep uit sy maag.

As dit nie vir sy impulsiwiteit, perfeksionisme, onkeerbare kreatiwiteit, en soms naïewe deursettingsvermoë was nie, het hy dalk nooit Suid-Afrika se mees geliefde ambassadeur in Frankryk geword nie.

Ná sy graad in toegepaste ontwerp, waar hy in fotografie gespesialiseer het, het hy besluit om die stylkoningin Jackie Burger, toe die redakteur van ELLE in Suid-Afrika, vir ete te nooi.

Hy lag. “Ek was net hardegat. Ons moes in daai stadium ’n internskap kies en toe het ek vir ’n vriendin se vriendin wat haar ken gevra of sy kan reël dat Jackie vir aandete kom. Ek was só nervous gewees. Dit was soos hierdie massive celebrity wat by my kom eet het die aand.”

Sy glimlag word breër. “Ons het lekker wyn gedrink andwe just hit if off like fire. Sy het die grootste fout van haar lewe gemaak deur vir my haar e-pos te gee en ek het net sonder ophou vir haar e-posse gestuur. Toe ek eers in is by ELLE in Suid-Afrika, toe begin ek push ek wil Frankryk toe gaan.”

Dis nou of nooit

Só lyk ’n tafel by die bekroonde Restaurant JAN wat voorheen ’n motorfietsherstelwinkel by 12 Rue Lascaris in die hawegebied in Nice was. Foto: Verskaf
Die vooraansig van JAN, waar Hollywoodsterre soos Robert de Niro en Julia Stiles graag pronk. Foto: Verskaf

Die res is geskiedenis. Hy onthou nog die dag toe hy die motorfiets-herstelwinkel by 12 Rue Lascaris met die bordjie in die vertoonvenster “restaurant possibilite” gesien het en reeds voor sy geestesoog die skare tevrede gaste gesien smul het en die klik-klak refrein van mes en vurk teen porselein hoor speel het.

Hy klik sy vingers soos ’n kulkunstenaar. “I was just like it’s now or never. Ek is jonk, ek is gesond en eendag sal ek terugkyk en dit berou as ek dit nie doen nie.”

Die konsep van die restaurant, sê hy, het ontwikkel saam met die gaste se verwagtinge. “Mense het meer en meer verwag. As jy ’n wit tafeldoek oor ’n tafel gooi het jy ewe skielik kristalglas nodig daarmee saam. Saam met die kristalglas het jy ’n sommelier (wynkelner) nodig en saam met die sommelier moet ’n assistent sommelier kom en saam met die assistent sommelier ’n junior sommelier en dan ’n direkteur van sommeliers. Voor jy dit weet, het jy hierdie empire en wat dit alles inspireer is kwaliteit en volmaaktheid.”

Sy stem is afgemete. “As enige iets nie goed genoeg is nie, hou ons dit terug. Ek sal eerder vir mense sê iets is op of ons is vol as wat ons vir hulle ’n gemiddelde ervaring gee. Van die begin was die dryfkrag agter JAN kwaliteit. Vandag sê ek vir die jong sjefs: ‘Never jeopardise quality. That’s the most important thing’.”

Sago meringue

Jan Hendrik in Restaurant JAN in Nice, waar hy die eerste Suid-Afrikaner geword het wat met ’n Michelinster bekroon is. Nou mik hy vir twee.Foto: Verskaf

Al woon hy reeds agt jaar in Frankryk is JAN steeds ’n ode aan sy Suid-Afrikaanse erfenis.

“ ’n Mens kan dit baie vinnig corny maak, of ou nuus. Mense kan maklik sê ‘dis ’n Jan Hendrik-styl of ’n Jan Hendrik-bord’.”

Hy skud sy kop beslis. “Ek wil nie ’n melktertroomys maak nie. Ek het natuurlik deur daardie stadium gegaan maar ons doen nou suiwer Suid-Afrikaanse kos met Franse bestanddele. Ons doen nog die braaibroodjie makrolletjie, maar dit is baie subtiel, ek wil dit nie te veel doen nie. Soos die sago meringue. Daar sal altyd een element in so iets wees wat wys waar lê ons wortels en dat ons dit werklik met behendigheid as ’n fynproewersdis kan bedien without killing it. Dit kan gou kommin raak.”

En ja, natuurlik mis hy Suid-Afrika. Maar doodeerlik, op die oomblik mis hy Frankryk.

“My kop is klaar daar, ek weet presies wat môreoggend gebeur. Dis opwindende tye! Ons verander die spyskaart nou en ek is besig met die volgende joernaal. As ek daar is dan mis ek stukke van Suid-Afrika en die mense, en natuurlik my man, that’s a given. Maar wat ek die meeste mis is net ’n vriend wat vinnig inloer en ons drink ’n bottel wyn uit of hy kry my gou by Giovanni’s. Ek het baie min vriende in Nice omdat die restaurant my so intens besig hou.”

Sy stem is liggies geïrriteerd. “As ek Suid-Afrika toe gekom het was dit altyd ’n ontvlugting van die situasie by die restaurant en die intense druk. Maar as ek hier is, is dit nou die teenoorgestelde. Dis só intens. Die media en die publiek.”

‘Ons stagneer nie’

Jan Hendrik van der Westhuizen en sy ouma, Hessie Ferreira. Foto: Verskaf

Uiteindelik sien hy homself tussen lande. “JAN het nou ’n punt bereik waar ek kan weggaan vir ’n week en ek kan ’n joernaal begin of ek kan ’n toer lei of ek kan iets cools doen wat my inspireer. So ek sal beslis minstens 70% van die tyd in Frankryk wou wees. JAN is maar die moederskip. Dis waar dit alles begin het.”

Dalk amper soos wyle Joël Robuchon, die sjef wat die meeste Michelinsterre ter wêreld gehad het, wat tussen sy restaurante regoor die wêreld gereis het?

Hy aarsel. “Een Michelin-ster is great maar diep diep binne jouself mik jy obviously vir daardie onderskeiding. En as jou land agter jou is, dan moedig dit jou meer aan. Jy wil kan sê ons word beter, ons stagneer nie.”

’n Reënbui sak uit in Kaapstad en dis weer tyd vir afskeid en vertrek. Deur die glasskuifdeur het ons ’n perfekte blik oor Leeukop agter sy miskombers.

Raak die druk nooit te veel nie?

Hy knik. “Met my pa se wegval het ek geleer om na myself te begin kyk en myself eerste te plaas en te begin ‘nee’ sê. Ek was nie ’n jabroer nie, but I would always try to accommodate people.”

Hy staan op, gereed vir die pendeltog tussen twee wêrelde. “Ek het nou ’n bietjie harder geword. As ek moeg is die dag sal ek net die gordyne toetrek en nog vir twee uur slaap.”

  • Jan Hendrik se Ouma Hessie Ferreira (sy ma se ma) is gisteroggend (13 September) na 'n kort siekbed oorlede.
Dít sê ander oor Jan

Dr. Barbara Jensen-Vorster, vriendin:

Kahlil Gibran skryf: “Imagination sees the complete reality. It is the life of mental freedom”. Woorde wat Jan Hendrik 100% beskryf. Ek het al in my lewe baie kreatiewe mense ontmoet en die voorreg gehad om saam met baie van hulle te werk, maar Jan Hendrik is in ’n klas van sy eie – op sy eie planeet.

Ek het nie gedink ek sal ooit die woord “savant” gebruik om iemand te beskryf nie, maar as daar ooit iemand is wat ek ontmoet het wat so na aan ’n savant kom as dammit aan ’n vloekwoord, dan is dit Jan. Maak nie saak waaraan Jan Hendrik sy hand slaan nie, dit is nie net ’n sukses nie – dit is kreatief, anders, mooi, verbeeldingryk en uit die boks. En wat Jan “anders” maak en die geheim van sy sukses is, is dat hy nie vergeet van waar hy kom nie en pretensieloos is.

Hester van der Westhuizen, Jan Hendrik se ma:

Niks is ooit te veel moeite vir Jan Hendrik om vir sy familie, vriende of Suid-Afrika terug te gee nie. Ek dink Suid-Afrika is waar sy wortels lê en dit sal altyd sy huis wees. Ek dink nie Jan Hendrik besef hoeveel liefde, trots, gebede, en tevredenheid daar was van sy oorlede pa, Boet, se kant af nie. Ons almal is só trots op Jan Hendrik. Dit wat hy doen en beoog om te doen in die toekoms: Ons bid hom almal sterkte en seën toe.

Jackie Burger, salonnière en stylikoon:

Die entrepreneur wat geleentheid sien in moontlikheid.

Die skepper wat geen grensdrade ken nie.

Die vriend wat tyd maak, ongeag sy skedule.

Die Afrikaan wat die spoor van sy erfenis volg en herbedink in die wye wêreld.

Die man wat sy familie en sy oorsprong eer.

Die seun wat gewaag het om GROOT te droom.

Die een wat getrou bly aan sy siel.

Meer oor:  Die Burger  |  Jan Hendrik Van Der Westhuizen  |  Kaapstad  |  Sake  |  Sjef  |  Ambassadeur  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.