Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Fred Mouton ‘lewe in prentjies’

Die “wêreldklas”-spotprentkunstenaar Fred Mouton het ’n baie goeie tegniek ontwikkel om weerstand te bied as hy gevra word om iets te teken waarvan hy nie hou nie, sê Bun Booyens aan Murray La Vita.

Fred Mouton in sy kantoor besig om aan ’n spotprent te werk. Foto: Bun Booyens

Bun Booyens, voormalige redakteur van Die Burger, sê hy is in 2016 by die koerant weg met ’n “vae ongemak” dat Fred Mouton se sketse gaan verdwyn.

“Sy kantoor is ’n oop omgewing waar mense kom en gaan en ek het al sketse op vreemde plekke teëgekom. Toe het ek, nadat ek klaar was met Die Burger se eeufeesboek, gedink ek gaan die goed skandeer.

“Dit was wonderlik interessant vir die rede dat al die sketse deurmekaar was soos wat mense nou goed vat en uithaal vir die jaaroorsigte of vyftigste of sestigste of sewentigste herdenkings.

“So ek het gegaan en ’n stapel gevat en die goed begin skandeer en in jaarhopies gesit. Die lekkerste deel was miskien dat wanneer jy met die goed sit dan spring die storie uit na jou. Dit wat so half net ’n deurmekaarspul was van mense en van insidente wat jy nie lekker kan plaas nie . . . skielik het die chronologie bygekom en toe het die ding begin ontvou.

“Ek het net gedink: Heerlikheid, dit is eerstens net die moeite werd om Fred se goed te bewaar, want waar in die wêreld kry jy ’n visuele rekord van 50 jaar?”

Hy het uiteindelik, met Fred se toestemming, die boek 50 jaar met Fred – Fred Mouton se beste spotprente saamgestel wat vroeër vanjaar die lig gesien het. In die voorwoord skryf hy sowat die helfte van die 10 000 spotprente wat Fred oor die jare geteken het, het verlore gegaan.

‘ ’n Brose ding’

Bun Booyens gesels oor Fred Mouton en sy spotprente. Foto: Adrian de Kock

Bring die spotprente herinneringe terug aan die omstandighede waarin dit tot stand gekom het?

“Ek het in ’n stadium vir Fred gevra: ‘Hierso is nou nagenoeg 10 000 prente wat jy geteken het, onthou jy elke prent, want dis tog ’n ding waarop jy ’n uur of drie gefokus het.’ Toe sê hy: ‘Nee, maar wanneer ek ’n prent sien, kan ek onthou of ek gehou het daarvan om dit te teken of nie.’

“Ek onthou skrikwekkend min. Ek het dit beleef as ’n vreeslike brose ding. Jy kom koerant toe die oggend. My groot vrees was jy ry in en jy het twee of drie konsepte en sowaar as wragtig wanneer jy hier by die gebou stop dan het jy dit vergeet en dan sit jy daar bo met ’n mond vol tande en jy het nie die konsep nie.

Die vreemde ding was dat ’n mens dan soms met twee of drie konsepte hier opdaag en nie een van hulle werk nie.

“Ek het ’n paar keer onmiddellik vir Fred gebel uit vrees dat ek die konsep gaan vergeet. Nou, dit klink maklik, maar Fred antwoord nie altyd sy selfoon nie en hy is baie transaksioneel oor ’n telefoon. Hy het nooit werklik bly geklink om van my te hoor nie, ofskoon ek sy dag vir hom dalk ’n bietjie makliker kon maak.

“Die vreemde ding was dat ’n mens dan soms met twee of drie konsepte hier opdaag en nie een van hulle werk nie. Van die langste dae was wanneer jy hier aankom en sê die transaksie is afgehandel, ek gaan ’n instruksie blaf, Fred gaan dit teken, en die dag kan sy loop neem.

“En dan kom jy net agter die ding werk nie: Fred kan dit nie teken nie want dis te groot of te wyd; hy kry nie ding in fokus nie . . . Soos hy een keer gesê het: Dit [die spotprent] is nie die hele uittog uit Egipte nie; dis net Moses en miskien twee helpers, en dan moet hy die ding kleiner maak en dan werk dít ook nie.

“En die ander kere daag jy met níks op nie en jy praat ’n halfuur lank en dan skielik vat iets pos en dan werk dit.”

‘Klein sleutelgat’

Bun: “Ek hou veral van hierdie ‘huishoudelike’ ene: Die bekende en onheilspellende Jaws-uitbeelding, die bootjie wat laag in die water lê, die klein mik-en-druk-kameratjie en die muis se kommentaar links onder in die hoek.

Die proses is een wat “skóónbrand”.

“Bedoelende, as jy gaan kyk hoeveel items daar op ’n bepaalde dag in ’n koerant is: Dis ’n gekibbel hier, ’n geveg daar, ’n huwelik, ’n egskeiding, ’n geslanery in die parlement. En dan kan jy net één ding teken van daai honderd goed.

“Dit is ’n wonderlike klein sleutelgat waardeur jy kyk en sê: Dít is iets . . . ons sou dit nie geteken het as die gemiddelde leser van Die Burger nie geweet het presiés waaroor dit gaan nie.

“Daai gespartel en gespook met ’n spotprent was altyd vir my lekker omdat ek weet . . . ’n Koerant is eintlik maar net ’n baie aanhoudende bakleiery; dis baie min dat ’n politikus jou bel en sê: ‘Nou is ek in my noppies met wat jy gedoen het.’ En in daai dag se gekibbel kom daai belegginkie wat jy vanoggend tienuur gemaak het ná vyf of ses uur terug na jou toe in ’n vorm wat jou laat sê: Maar jislaaik, hier is iets wat darem ’n langer asem gaan hê as ’n hy-sê-sy-sê-berig.

“Dis ’n báie bevredigende ding. Ek dink ’n koerant wat nie daardie gesprek saam met vier of vyf mense het nie, verbeur iets.”

Nooit kwaad nie

Fred se uitbeelding van Hlaudi Motsoeneng as die SAUK-baas.

Dit is vir hom duidelik in watter mate Fred “in prentjies lewe”, sê Bun.

“In al drie tydperke wat ek by Die Burger was, het ek Fred nooit kwaad gesien nie. Ek het hom gefrustreerd gesien. Ek onthou hy het een keer uitgestap uit die destydse raadsaal uit en ek het van voor af gekom, ek was nie in die beplanningsvergadering nie, wat hy sy kop geskud het en gesê het: ‘Maar daai man het géén sin vir humor nie.’

“Wat ek onthou . . . Ek dink die een wat die langste gevat het, en dít was die naaste aan ’n insident wat ek en Fred gekom het, was toe hy Jacob Zuma moes teken wat ’n selfie van homself in Nkandla neem. Dit was in omtrent 2013 of 2014 toe selfies nog nie ’n groot ding was nie.

Fred nie kon verstaan wat is die beweegrede agter ’n selfie nie.

“En dit het so lank aangegaan dat Willem Jordaan [huidige redakteur van Die Burger] later ’n selfoonfoto geneem het van dié betrokke geleentheid omdat Fred nie kon verstaan wat is die beweegrede agter ’n selfie nie.

“Hy het heeltyd net vir my gesê: ‘Nou maar, hoekom kry hy nie net iemand anders om van hom die foto te neem nie?’

“En dan die feit dat hy toe nie ’n slimfoon gehad het nie – ek dink hy het een van daai klein Nokias gehad – en kon dus nie verstaan dat die beeld omdraai en terugkyk na jou toe nie.

“Ek dink sy frustrasie met iets soos, sê maar, die selfie-ding is omdat dit iets is wat verbaal snaaks is maar nie noodwendig visueel snaaks gaan wees nie.”

‘Swyg soos ’n sfinks’

Bun: “Hierdie ene onthou ek goed: Ek het nog voor die nuuskonferensie vir die mense gesê ons gaan vanoggend vir Fred so ’n bietjie uit sy gemaksone haal en vra dat hy Robert Mugabe as ’n krokodil teken – wetend dat Fred hom altyd met so ’n lang vertikale bolip teken en ’n krokodil met sy plat snoet sal nie werk nie. Fred kon toe wel Mugabe se gesig skep deur net die wenkbroue en brilraam te gebruik.”

“As ek deur al sy prente kyk . . . En hou in gedagte: Hy het onder sewe van die tien redakteurs van Die Burger gewerk en álmal van hulle – ek inkluis – was nie inherent maklike mense nie, want jy is nogal in ’n moeilike werk. Dat hy sewe redakteurs getrotseer het, is ’n merkwáárdige prestasie.

“Fred het ’n baie goeie tegniek ontwikkel om weerstand te bied as hy gevra is om iets te teken waarvan hy nie hou nie. Hy het baie subtiel met liggaamstaal te sê waarvoor hy kans sien om teken en waarvoor nié. Ek het dit in my tyd gesien.

“Ons interaksie was ontspanne en ek dink hy het dit geniet dat ons met hom gespot het en hy het teruggespot.

“Maar, soos Willem Jordaan altyd gesê het: Hy swyg soos ’n sfinks as hy nie iets wil teken nie. Hy het net eenvoudig daar gesit en as hy dit nie wil teken nie dan . . . soos Siener in die suburbs, het sy vision net eenvoudig nie gevat nie.”

Die muis ‘bring afstand’

Fred se blik op waterbeperkings.

Die muis in Fred se spotprente het in 1973 onder Piet Cillié, “wat waarskynlik die mees voorskriftelike redakteur was vir wie hy gewerk het”, tot stand gekom.

“En die muis het ’n effense afstand gebring, ’n sekere skeptisisme – die muis is óf entoesiasties óf hy staan en kyk effens oorbluf na die toneel wat voor hom afspeel.”

Hy het hom nooit laat voorskryf oor wat die muis sê nie.

“Dit was sy enklawe waar hy sy sê kon sê.”

Fred is nie ’n politieke, aktivistiese mens nie.

“Máár, as ons, sê maar, twee of drie dae ná mekaar ’n spotprent met ’n sporttema gehad het, dan was Fred die persoon wat gesê het: Nee, daar was nou genoeg rugby; die haai het nou genoeg die leeu geëet en die leeu het nou genoeg die cheetah gejaag, ons moet iets anders teken.

“So, in daardie opsig is Fred fyner ingestel as waarvoor mense hom krediet gee.”

‘Morsige huistoneel’

Fred is linkshandig. Hieroor het hy die volgende insident gedeel wat onder die redakteurskap van Wiets Beukes plaasgevind het:

“Eendag toe ek die prent voor hom neersit toe sê hy vir my, maar dit is nou net mooi andersom as wat hy dit voorgestel het. Maar dit was omdat ek links en hy regs was. Hy sien dit so om en ek sien dit andersom.”

En dan was daar die kwessie van ’n “morsige huistoneel”.

Hy woon tussen hulle, hy weet hoe lyk hul sitkamers, watter troeteldiere hulle het en met watter motors hulle ry.

“Ek het eendag so ’n huistoneel geteken met ’n hond op ’n hondekussing in die sitkamer. Ek het die hond ietsie laat kou. ’n Beentjie of so iets. Hy sê toe vir my maar dis darem so ’n bietjie . . . morsig. Dit lyk net nie lekker in ’n huis nie. Wil ek dit nie maar wegvat nie.

“Toe vee ek die beentjie uit, maar dit blyk toe hy wil die hond en die kussing ook uit die huis hê.”

In die voorwoord van 50 jaar met Fred skryf Bun dat Fred sy gehoor ken.

“Hy woon tussen hulle, hy weet hoe lyk hul sitkamers, watter troeteldiere hulle het en met watter motors hulle ry.”

‘Ouwêreldse heer’

Bun onthou die jaar toe hy Fred KKNK toe geneem het.

“Ek het vir hom gesê hy hoef net daar te sit en te teken, en ek en François Verster, Naspers se argivaris, wat ook ’n spotprenttekenaar is, sal praat.

“Ons kon hom by die gesprek betrek; hy kon terwyl hy teken omdraai en lekker saamgesels. Wat ek nié vir hom gesê het nie, is dat daar twee optredes was. Hy was sigbaar verlig toe hierdie ding klaar was, en hy was nié tevrede toe ek vir hom sê oukei, môreoggend tienuur maak ons weer so nie, want ek dink dit het hom uit sy leefwêreld gevat.

“Hy braai elke dag van die week, al is hy alleen – dis amper ’n ritueel. Ek dink hy het daai jaar in die Holiday Inn gebly en hy het toe vir die bestuurder gaan vra of hy maar daar buite op die grasperk mag braai.

Niemand sal vir jou sê hy is ’n demonstratiewe persoon nie, maar hy het ’n baie fyn aanvoeling gehad.

“Ek onthou die klein braaiplekkie en Fred wat daar staan en braai. Hy is ’n wonderlike ouwêreldse heer. Baie mense dink hy is nors – veral nuwelinge by Die Burger; hy ís nie . . .

“Weet jy wat sal ek van hom onthou? Niemand sal vir jou sê hy is ’n demonstratiewe persoon nie, maar hy het ’n baie fyn aanvoeling gehad en ek dink omdat hy baie redakteurs gesien het, het hy gewéét wanneer dit moeilik gaan.

“En dan het hy altyd gekom en óf ’n sakkie goeie biltong of ’n chocolate neergesit . . . wat nou nie sê ‘my hart bloei vir jou’ nie, maar hy kon nogal die pols van die koerant voel.”

* 50 jaar met Fred word deur Jonathan Ball Uitgewers uitgegee en kos R320 in boekwinkels.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.