Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: FW: ‘Ons kán terugveg!’

Bloed sou vandag deur die strate gevloei het “indien ons nié die inisiatiewe geneem het wat ons op 2 Februarie 1990 geneem het nie”, sê oudpres. FW de Klerk aan Murray La Vita.

FW de Klerk praat in sy kantoor noord van Kaapstad oor die stand van Suid-Afrika. Foto: Jaco Marais

Op 1 Februarie 1990 was pres. FW de Klerk se personeel besig om in die kantoor van dr. Jannie Roux, sy direkteur-generaal, die toespraak wat hy die volgende dag in sy staatsrede sou lewer, persklaar te maak.

Hulle was betreklik seker dat veral Hendrik Verwoerd in sy graf omgedraai het.

De Klerk skryf in sy outobiografie FW de Klerk: The Last Trek, a New Beginning, sy personeel het die klein bronsborsbeelde van Suid-Afrika se eerste ses premiers, wat op ’n kaggelrak gestaan het, omgedraai sodat die gesigte na die muur wys.

“Hulle was betreklik seker dat veral Hendrik Verwoerd in sy graf omgedraai het,” skryf De Klerk.

Dit is hieraan wat ’n mens dink wanneer jy op ’n Maandagoggend in 2020 die bronsbeeld van De Klerk in ’n raadsaal langs sy kantoor sien. Dit is ’n maket (skaalmodel) van die groot beeld van hom wat neffens twee ander Suid-Afrikaanse ontvangers van die Nobelprys vir Vrede – Nelson Mandela en Desmond Tutu – in die Kaapse Waterfront staan.

Die onderhoud met die 84-jarige De Klerk vind plaas teen die agtergrond van die 30-jarige herdenking van sy geskiedkundige toespraak op 2 Februarie 1990 in Kaapstad waarin hy onder meer die ontbanning van die ANC, SAKP, PAC en ander verbode organisasies aangekondig het. Hy het ook aan die miljoene mense wat oor die wêreld heen na die toespraak gekyk en geluister het, bekend gemaak dat Mandela vrygelaat sou word.

Diep verontrus

Dit blyk dat die sosiale kontrak wat gegroei het uit die proses wat daardie dag aan die gang gesit is, nou besig is om te verbrokkel. Hoe laat dit hom voel?

“Ek is verontrus, maar ek het nog nie hoop verloor nie, want dit is nie asof daar nie ’n uitweg is nie. Ons het die Grondwet. Ons het die Konstitusionele Hof. Ons het ’n onafhanklike regbank. Ons het die vermoë om terug te veg en die proses wat tans plaasvind teen te werk en ons het die vermoë om te verseker dat sake nie heeltemal skeefloop nie.

Daarom het ek nie hoop verloor nie. Maar ek is diép verontrus.

“So, ons [die burgerlike samelewing] moet net op die speelveld kom en álles tot ons beskikking gebruik om dit te doen. Daarom het ek nie hoop verloor nie. Maar ek is diép verontrus.

“As hulle hoor wat ek nou sê, sal baie mense sê: ‘Ja, maar jy het ’n verkeerde grondwet onderhandel.’ My antwoord daarop is: Dié Grondwet is die beste resultaat wat ons kon kry.

“Verder: Ons moet nie wat ons onthou wat goed is in die ou Suid-Afrika, wat goed bestuur en goed regeer was nie, vergelyk met vandag en sê: Alles was verkeerd wat ons gedoen het van 1990 tot 1996 [met die totstandkoming van die nuwe Grondwet] nie.

Honderde duisende jong Suid-Afrikaners aan alle kante sou gesterf het.

“Ons moet onsself afvra – en dis die korrekte vergelyking om te maak: Hóé sou Suid-Afrika vandag gelyk het as ons nié die inisiatiewe geneem het wat ons op 2 Februarie 1990 geneem het nie? En as ons nié daarna die onderhandelinge deurgevoer het en ’n goeie Grondwet onderhandel het nie?

“Ek dink ons sou soos Sirië gelyk het. Ons bloed sou deur die strate gevloei het. Ons sou in ’n burgeroorlog gewikkel wees. Honderde duisende jong Suid-Afrikaners aan alle kante sou gesterf het. En aan die einde sou ons moes bymekaarkom om ’n tafel om te onderhandel en te skik.

“Dít is die ware vergelyking om te maak.”

De Klerk by ’n beeld wat Danie Hough, destydse administrateur van Transvaal, aan hom geskenk het toe hy as staatspresident ingehuldig is.Foto: Jaco Marais

Rewolusies

Die radikales in die ANC se einddoel is om alle leisels van beheer in Suid-Afrika in hul hande te kry en alles te oorheers, meen De Klerk.

Ons het ’n vreedsame rewolusie in Suid-Afrika gehád. Ons het nie nóg ’n rewolusie nodig nie.

“Dis wat die nasionale demokratiese rewolusie wil hê. Wat ons nodig het, is dat die ANC die nasionale demokratiese rewolusie laat vaar.

“Ons het ’n vreedsame rewolusie in Suid-Afrika gehád. Ons het nie nóg ’n rewolusie nodig nie. Ons moet bóú en ons moet die Grondwet as riglyn en as basis vir daardie bouwerk aangryp.

“Daar is geen twyfel nie dat die Grondwet, wat ’n historiese skikkingsooreenkoms daarstel, en wat ’n einde gebring het aan gewelddadige rewolusie, onder druk is. En dat dit nou duidelik geword het dat die ANC die Grondwet beskou as ’n stap in wat hulle beskou as ’n oorgangsfase na hul doelwit, naamlik om alle mag te beheer.”

“Ons het ’n vreedsame rewolusie in Suid-Afrika gehád.”Foto: Jaco Marais

Groot kommer

Hy beskou dit as skokkend.

“Dit was nie die gees waarin die ooreenkoms gesluit is nie. Dit was nie die gees waarin mnr. Mandela en ek en diegene wat ons bygestaan het, daardie skikking bereik het nie. En dit is nie in pas met wat die Grondwet bepaal nie.

“Die Grondwet was ’n vertrekpunt vir ’n nuwe Suid-Afrika en almal van ons was oortuig daarvan, maar die radikale elemente in die ANC en die kommuniste in die ANC, het nie hulle oorspronklike doelwitte laat vaar nie. En dit baar groot kommer.

“En daarom het ek die hoofdoelwit van die F.W. de Klerk-Stigting gemaak om die Grondwet te beskerm, om dit in stand te hou, om saam met ander ’n bydrae te lewer om te verseker dat die waardes wat in die Grondwet vasgelê is, die waardes gaan wees waarop ons bly bou in Suid-Afrika.

“Rondom hierdie aspek van die aanslag op die Grondwet het ons ’n krisispunt bereik en is dit nodig dat almal – alle organisasies, burgerlike organisasies, politieke partye – hulself afvra: Wat staan ons te doen om hierdie goeie Grondwet in stand te hou en te verseker dat die waardes daarvan die fondamentsteen vorm van ’n suksesvolle nuwe Suid-Afrika?”

My ervaring is dat op grondvlak interrassige verhoudings betreklik gesond is.” Foto: Jaco Marais

Eensydige kontrak

In ’n onlangse artikel in Rapport skryf dr. Braam Hanekom die verandering aan die sosiale kontrak wat in 1994 gesluit is, word gedryf deur mense wat nie meer die partye wat in 1994 aan die onderhandelinge deelgeneem het, as relevant beskou nie. ’n Nuwe kontrak word nou eensydig opgestel.

“Dit is deel van die strategie van elemente in die ANC. Ek kan dit skaars glo van pres. Ramaphosa. Hy was die hoofonderhandelaar; hy was ’n sleutelfiguur in die opstel van daardie grondwet; dis deel van die vrugte van sy arbeid.

“Maar, soos ons weet, vind hy homself tot ’n mate afgesonder binne sy eie party deur radikale elemente. Ons hoop egter steeds dat hy dit sal verdedig waaraan hy die lewe help skenk het.”

Dis absoluut skokkend dat pres. Ramaphosa inval by die idee om artikel 25 van die Grondwet te wysig soos wat hulle dit nou wil doen.

Ramaphosa het onlangs gesê die vergoeding vir eiendom wat onteien word, sal nie deur howe nie maar deur die regering bepaal word.

“Dis absoluut skokkend dat pres. Ramaphosa inval by die idee om artikel 25 van die Grondwet te wysig soos wat hulle dit nou wil doen.

“Ek en my stigting en ek dink alle redelike mense in Suid-Afrika, is geheel en al gekant teen die wysiging van artikel 25. Ons is oortuig artikel 25 soos hy is, bied voldoende geleentheid vir wesenlike grondhervorming.

“Dit is swak bestuur en kaderontplooiing wat aanleiding gegee het tot die mislukking van grondhervorming oor die afgelope 25 jaar, en nie die Grondwet self nie.

“Maar pres. Ramaphosa se probleem is dat dieselfde konferensie wat hom gekies het, ’n beleidsbesluit geneem het, en dit is dat onteiening sonder vergoeding moet plaasvind. Ek glo as hulle aangaan met hierdie wysiging, sal dit voor die Konstitusionele Hof draai, want die vraag wat almal stel, is: Is so ’n grondwetwysiging grondwetlik?”

“Dié Grondwet is die beste resultaat wat ons kon kry.”Foto: Jaco Marais

Hoogs omstrede

Ramaphosa bevind hom in ’n moeilike posisie ten opsigte van die beleidsbesluit wat geneem is, maar sy versekeringe vroeër dat ás daar ’n wysiging moet kom dit baie gematig sal wees, het almal gerus gestel.

“Die jongste lekgotla van die ANC het nou gelei tot ’n besluit wat die wysiging hoogs omstrede maak, naamlik om die howe se rol te verklein en feitlik te vernietig. So, dis skokkend en moet met alle krag teengestaan word."

Ons het in Suid-Afrika wesenlik ’n vryemarkekonomie.

“En dit is heeltemal korrek vir enigiemand om te sê dat die eiendomsreg, nie net van grond nie, maar eiendomsreg – of dit nou van aandele is en of dit van besighede is en of dit van jou privaat woning is – is een van die belangrikste fondamentstene waarop die ekonomie in Suid-Afrika gebou is. En as jy aan daardie fondamentsteen torring, dan kan die hele huis in duie stort.”

Gesprek met Ramaphosa

De Klerk sê hy het ’n “baie oop verhouding” met press. Mandela en Thabo Mbeki gehad.

“Partykeer het ek hulle, op my versoek, gespreek en was daar oop gesprek en wisselwerking van gedagtes.

“In die tyd van Zuma het dit heeltemal weggeval. My verhouding met pres. Ramaphosa is ’n goeie een, maar tot dusver het hy nog nie die tyd gevind om ’n een-tot-een gesprek met my te voer nie, alhoewel ons by sy inhuldiging ooreengekom het dat dit moet plaasvind.”

Wat sou hy vir Ramaphosa wou sê?

“Indien so ’n gesprek realiseer, gaan dit vertroulik wees, maar ek sal definitief die geleentheid benut om my ernstige bedenkinge en my verontrusting uit te spreek oor sekere tendense.”

Rasseverhoudings

Ek pols hom oor rasseverhoudings in Suid-Afrika.

“Dit is tragies dat die stérk bepalings in die Grondwet gerig op nierassigheid, so verontagsaam word. Dis ’n agenda wat sterk gedryf is deur Zuma en sy trawante. Dis ’n agenda wat, soos ons weet, sterk gedryf word deur Malema en die EFF, en dit is een van die grootste bedreigings vir Suid-Afrika.

“Dit druis absoluut in teen die gees en die spesifieke bepalings van die Grondwet. So, ons moet ons daarteen verset. My ervaring is dat dit op grondvlak glad nie so sleg is as wat dit lyk nie. My ervaring is dat op grondvlak interrassige verhoudings betreklik gesond is.

Ek glo die stille meerderheid wil hê Suid-Afrika moet slaag en onder die stille meerderheid is daar nie rassehaat nie.

“Sosiale media vertrou ek nie – daar is natuurlik uitsonderings. Maar oor die algemeen is die mense wat sulke skerp opmerkings maak – van swart kant en van wit kant – betreklik ekstremisties in hul denke en is hulle nie deel van die stille meerderheid in Suid-Afrika nie. Dit is verkeerd om dit as ’n barometer te beskou van waar ons met rasseverhoudinge staan.

“Ek glo die stille meerderheid wil hê Suid-Afrika moet slaag en onder die stille meerderheid is daar nie rassehaat nie. Ek glo rassevooroordeel is besig om te verminder, maar ek glo dat die regering met sy kwotastelsels, sy aandrang op bevolkingsgetalle wat weerspieël moet word in elke aspek van die lewe, besig is om vreedsame rasseverhoudinge te bederf en te ondermyn en dat ons hulle tot orde moet roep daaroor.

“In dié verband verwelkom ek die jongste brief van pres. Ramaphosa waarin hy uitvaar teen kaderontplooiing en waarin hy bepleit dat ons al die talente wat ons in Suid-Afrika het, moet aanwend ten einde ons ekonomie te stabiliseer.”

Al minder wittes

Wit mense in Suid-Afrika moet aanvaar hulle is ’n krimpende minderheid.

“Dit is as gevolg van emigrasie en as gevolg van klein gesinne. Ons moet dus die bepalings van die Grondwet wat minderhede beskerm in stand hou en nie laat verbrokkel nie. Ons moet net daardie ruimte ten volle benut en beskerm.

“Ons moenie op moedverloor se vlakte gaan sit nie. Ons moet opstaan en terugveg om dit waarin ons glo te beskerm.”


Die rol van die burgerlike samelewing

Wat kan die burgerlike samelewing doen?

“In ’n land waar een party so ’n dominante rol speel, is dit van die grootste belang dat die burgerlike samelewing behoorlik georganiseer is en nie op die kantlyn staan nie.

“Suid-Afrika is gelukkig dat hy wel ’n aktiewe burgerlike samelewing het en die Grondwet die ruimte skep vir daardie burgerlike organisasies om hulle ding te doen.

“So, ek glo dat die burgerlike samelewing ’n beslissende rol het om te speel in die stryd waarin ons op die oomblik betrokke is.

“Sedert ek in 1998 uitgetree het uit die politiek het ek my toegewy aan die uitbou van die burgerlike samelewing. Ek het die FW de Klerk-Stigting begin. Benewens die beskerming en die instandhouding van die Grondwet bevorder ons oplossingsgerigte dialoog in Suid-Afrika.

“Ons werk saam met ander burgerlike organisasies wat in die breë dieselfde doelwitte nastreef, en ek glo ons maak ’n verskil. Nie net ons nie, maar die hele burgerlike samelewing in Suid-Afrika. So, ek is ’n groot voorstander van ’n baie aktiewe en stérk burgerlike samelewing.”

Staatsbeheerde ondernemings

Die stand van staatsbeheerde ondernemings in Suid-Afrika is “veel meer as kommerwekkend”.

“Dis krisismatig. Dit is die resultaat van kaderontplooiing, die aanstelling van onbevoegde mense en die daarmee-gepaardgaande korrupsie.

“So, ek verwelkom die regering se voornemens om al hierdie staatsbeheerde ondernemings reg te ruk. Dit gaan ’n massiewe poging verg. Ek dink in sommige gevalle kan privatisering – waarteen die ANC hom so hewig verset – ’n rol speel.

“Maar ek ag myself nie bevoeg om spesifieke aanbevelings aan die hand te doen nie.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Fw De Klerk  |  2 Februarie 1990  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.