Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Kyk: Hanlie gesels met 'die nuwe Tolla vd Merwe'
Oppiestoep van sy toekoms

‘Daar was hierdie Weskus-boer wat vir hom ’n nuwe trekker loop koop het . . . ”

En net daar, met die eerste sin in sy Sandvêller-aksent, skuif jy jou reg en begin glimlag vir ­Andries Vermeulen.

Die nuwe Tolla van der Merwe, noem hulle hom.

As hy ’n mikrofoon optel om ’n skreeusnaakse storie te vertel of ’n liedjie sing oor die hartlike mense en die hartsplekke van ons land, het Andries die gehoor in die palm van sy hand.

Vanjaar was hy al op 121 verhoë. Net laasweek Windhoek, Boksburg, Bronkhorstspruit, Mariental.

Andries en Pietman Geldenhuys se OppieStoep-lagstoriereeks op kykNET – reeds in sy derde seisoen – is Vrydagaande ’n voltreffer. Daar is ’n Ghoema, een Sama- en twee Tempo-benoemings.

Alles voor sy 30ste verjaardag.

Kleintyd was hy vasgenael voor Maak ’n las. “Dan’t ’n ou dit maar weer oorvertel. Redelinghuys, doer verby Piketberg, is so ’n klein gemeenskappie, ek was later maar bekend as die storievertellertjie.

“Kunswedstryde? Nooit rympies vir my nie, Jan Spies-stories. Kranige knapie op die kerksaalverhoog, dit was ­ekke, dis waar dit begin het.”

Maar sy is my ma en hy is my pa. En hoe kan ek ’n pa wees vir my eie seun sonder om mý pa te onthou?

Maar vandag, eksklusief vir Rapport, vertel Andries Vermeulen ’n ander storie vir die eerste keer vir die buitewêreld.

Die teenkant, die donkerkant.

Sy eie storie.

“Mý storie is nie elke dag se asemhaal nie. Elke dag se asemhaal is om lekkerlagstories te vertel voor mense. Liedjies te sing. Dis my elke dag. Nou.”

Sy woorde gly soos krale in ’n string, bedink, asof hy jare voorberei het om dié een uiteindelik te vertel. Sy rekenaar met notas is oop langs hom op sy bank in sy mooi huis in Bloemfontein.

Heelpad hoor jy die kleur en fyn onthou van ’n storieverteller, maar soos hy terugkeer na die maer klein Andries met die vuil voete en leë magie en afgeleefde klere in Parow-vallei, raak daardie Sandveld-aksent algaande weg.

“Vandat ek kan onthou, tot ek nege was, onthou ek maar die hartseer.

“Ek onthou speel en lag en ’n bietjie liefde, maar dit was min. Dis wat ek onthou, en die vele kere wat ek myself aan die slaap gehuil het van honger.”

Eer jou vader en jou moeder . . . Maar hoe kán hy, het hy baie gedink, daar was net harde houe en armoede.

Andries (middel), sy tweelingbroer, Danie (links), en hul biologiese pa, Andries.

“Maar sy is my ma en hy is my pa. En hoe kan ek ’n pa wees vir my eie seun sonder om mý pa te onthou? Ek kan ’n béter pa wees, maar hy bly my pa.”

Andries se ma, Elmarie, was een van ses kinders uit ’n arm huis. Sy het as tiener swanger geraak, die pa is in ’n motorkaping doodgeskiet, sy’s kort daarna getroud, ’n seuntjie, ’n egskeiding en toe ontmoet sy Andries se pa.

Andries en sy tweelingboetie, Danie, is op 9 Augustus in 1986 in Parow-vallei gebore. “Hulle het eers in 1988 getrou, so ons was buite-egtelik.”

Met ’n ma wat “sukkel met werk” en ’n spoorweg-elektrisiën vir ’n pa, was hulle bitter arm. Op die ouderdom drie beland die tweeling in die Durbanville-kinderhuis.

“Twee jaar later het my ma se niggie-hulle by my ouers ingetrek om hulle ’n bietjie stabiliteit te gee. Ek en Danie kon toe terug huis toe.”

Soms het die kerk kos afgelewer of hulle het Pick ’n Pay se weggooikos gaan haal.

“Of ek het een van die werfhoenders geskraap, hulle was altyd halfgroot, ons honger het gekeer dat hulle grootword,” grinnik hy.

“As ek vandag alles verloor, sal ek deur armoede kan kom. Ek weet hoe.”

Sy ma, gery deur depressie, was in en uit inrigtings. Een middag het hy en Danie ná skool al die pad Bellville toe gestap om vir haar in die hospitaal te gaan kuier.

“Daar mission hierdie twee seuntjies oor die hoofweg, tussen die karre deur op pad na hul ma met ’n cupcake vir haar verjaardag.”

Dan was daar haar dobbelprobleem.

“Daardie kafees met die muntmasjiene – sy’t daar geboer. Die groot bakleie tussen haar en my pa oor sy die kosgeld gaan uitdobbel het . . . was ’n seer ding in ons huis.”

Andries was klaar ’n storievertellertjie op sewe.

Een Sondagoggend, toe die bussie vir Danie van die Sondagskool kom aflaai, tref ’n kar hom in die straat en jaag weg.

“Ons almal het in die sitkamer in ons pajamas gesit en dit gesien gebeur. My oupa kry net daar ’n hartaanval van skok. Toe my pa my broer in die straat gaan optel, het sy femur dwarsdeur die vleis gesteek.”

Danie was daarna in die spesiale klas. “Kort ná die ongeluk het my pa in die garage probeer selfmoord pleeg.

“In ’n stadium het hy die deur toegeklap en ons het gedink dis die geweerskoot. Daardie verskriklike vrees . . . ”

Op nege het die welsynwerkers die boeties weer kom haal. Dié slag is hulle na die veiligheidskool in Redelinghuys.

“Ek onthou die rit agterin die kar saam met my ouers en die maatskaplike werkster. Dit was die langste, hartseerste pad van my lewe.”

Die koshuisouers, Jan en Annette van Lill, was engele in die Vermeulentjies se lewe. “Dit vra koninkryk-mense om 80 kinders uit hartseer omstandighede stabiliteit en struktuur te leer.”

En toe begin dinge draai vir Andries.

“Op my eerste skooldag in Redelinghuys, in daai dubbel-opslaanhoutbankies met die inkgaatjie, sit CP Louw langs my. Ons word onafskeidbaar. Naweke is ek saam na hul plaas buite die dorp, dan bly Danie agter in die koshuis saam met sy bondel pelle.”

Gaandeweg word Andries ’n kind in die Louw-huis. “Die afgelope 22 jaar is ek oom Alfie en tannie Gezie se seun, en CP en Marthel is my broer en suster.

“As iemand my vandag vra waar ek grootgeword het, sê ek in Redelinghuys, my ouers boer daar.”

Gezie het die ma geword wat hy nooit eintlik gehad het nie.

“ ’n Ma weet wanneer ’n kind iets nodig het. Sy het geweet.”

Daar het hy geleer van huis, godsdiens, wat dit is om ordentlik te wees.

Aan tafel te eet. Huiswerk te doen. Pak slae te kry as hy en CP aanjaag.

Andries en sy tweelingbroer Danie

In ’n stadium is daar vir hom gesê hy moenie dink die Louws is sy familie nie, die tannie is nie sy ma nie, hy moet hulle uitlos.

“Maar ek het nie. Ek het aan hulle geklou soos ’n bang seuntjie aan sy pa se been. Tot eendag, toe sê Gezie vir my: ‘Ek verstaan hoekom jy dit doen.’

“Toe het hulle finaal besef: ons moet hierdie kind intrek. En toe leer Alfie my, soos vir sy seun, om goeie rugby te speel, trekker en bakkie te bestuur, die in en uit van ’n skaap.”

Daar het die genesing van Andries Vermeulen begin.

Vir hoërskool moes Andries terug Kaap toe, na sy tannie-hulle in Parow.

Sy broer is na die Aurora-skool, maar halfpad deur st. 6 het hy skool gelos.

Intussen het die eerste twee kinders van hul ma, wat sy vir pleegsorg afgegee het, haar ná 16 jaar opgespoor.

“Juanine, toe 17, besluit toe om by my ouers in te trek. Mettertyd begin sy en my pa ’n seksuele verhouding. My ma slaap op die sitkamerbank terwyl haar dogter in dieselfde huis ’n kamer met haar man deel.

“Toe ek eendag op my pa en halfsuster afkom, het ek my klere in ’n toksak gaan gooi en sonder ’n woord geloop. Ek was 14.”

Dit was die keerpunt.

“Hierdie ongesonde . . .” probeer hy sê, sy gesig vertrek. “Wat noem jy dit wanneer jou pa by jou halfsuster slaap, kinders het, later trou . . . Want dit het eintlik niks met my te doen nie, het dit? Maar dit hét. En kan jy dink waardeur my má is?”

Van 14 af het hy vier aande ’n week in Parow-restaurante begin sing vir geld. “Naweke gras gaan sny en jaartse skoongemaak vir R25. My tannie-hulle het my ’n dak oor my kop en kos gegee, hulle kon nie my skoolfonds ook nog betaal nie.”

Sy ouers is geskei. Sondagaande het hy by sy ma in Saddles gaan kuier, waar sy kelnerin was.

“Dan verwonder ek my aan Jurie van Zyl wat daar optree.”

Jurie – Kuilsrivier se Bles Bridges – het hom naderhand saamgeneem om speakers te dra by optredes, en toe Andries later ook begin sing, “het die singgogga my gebyt. My eerste backtracks op ’n wit chrome tapie . . . David Hasselhoff se ‘Highway to Your Heart’. Elton John se ‘Nikita’.”

Vakansietye het hy geleenthede by lorriedrywers gebedel Redelinghuys toe. Huis toe.

“In 2002 word ek genadiglik deel van ’n lekker groep jongmense en grootgedoop in hierdie amazing kerk. Van toe af hou God my ekstra-meer vas.”

Met sy singery kon hy sy pa en ma se koskaste volhou.

“Ek het in st. 8 al R10 000 ’n maand verdien. Toe ek later voltyds begin sing, het my broer my speakers begin dra vir sakgeld. Toe gebruik hy dit vir dwelms. Altyd die verskoning: dis nie my skuld dat ek dwelms doen nie, dis my grootword se skuld . . .

“Hiér,” druk hy met sy hand op sy bors, “sit grootword. Ek het presies sy grootword gehad.

“As hulle een ding kon bemeester, my ouers en broer, was dit manipulasie. Daai oproepe, eers huil my pa, dan vloek hy my so, en jy steier, want dis jou pa: ‘Ons is honger . . . ons gaan uit die huis gesit word . . . ’ En dan rý die skuldgevoel my en ek gee maar weer geld.”

Hy moes later terapie kry daarvoor.

“ ’n Groot eina in my lewe was om daai strepie te trek: julle is oud en groot genoeg, tjeers. Ek kon dit eers laasjaar finaal regkry.”’

Maar eers het hy vir sy ouers skuldrehabilitasie gereël. “Drie maande later was my pa wéér in die moeilikheid. Hy bly nou in ’n buitekamer met sy vrou en kinders.”

As hy vir sy ma werk kry, gaan dit goed vir ’n ruk, dan ontspoor sy. Dan is sy êrens, dan is sy nêrens.

“Ek hét hulle vergewe, ek bid vir hulle. Al hoekom ek hierdie vertel is om vir jongmense soos ek te sê: daar is ’n pad uit. Dis ’n storie van hoop, hierdie.

“Moenie my verkeerd verstaan nie – ek sien myself allermins as die ‘beter een’ wat dit gemaak het.”

Hy sit daar, allesbehalwe die lagfabriek op TV. Leeggepraat, vasgeknoop in hartseer.

En dan kom die volgende kinkel.

“Ek was simpel genoeg om met erge griep te gaan uitdraf vir die Hoërskool Tygerberg se rugbyspan. Erge hartskade. My eerste hartaanval was op 16, die tweede op 18 en die derde op 21. Dis nou ses stents later, met ’n tweede pasaangeër,” druk hy teen sy bors.

Jy sien die honger seuntjie mission deur Parow se strate met ’n cupcake vir sy ma.

Jy sien hom oorleef met ’n lagstorie in Redelinghuys se kerksaal, Sondagaande in Saddles met sy kelnerin-ma, in kolligte op verhoë.

Jy sien hom oppiestoep van sy toekoms.

Hy het nou ’n vrou, ’n seunskind wat hy nooit ooit sal slaan nie, ’n dogtertjie op pad en die Kersboom staan al.

“En ’n wonderlike loopbaan . . .” en hy sluk, vol trane, “. . . ek kan vir myself sê, sonder om arrogant te wees, well bloody done!”

  • Sondagaand 20:00 vertel dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, van die dag wat sy lewe vir altyd verander het in ’n Halfuur met Hanlie (via, DStv 147.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.