Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Hannah se dood moet ander help

Al is hul harte gebreek deur die wrede dood van hul dogter, wil hulle vir ander en vir hulself iets beteken deur die Hannah Cornelius-stigting, het Hannah se ouers aan Murray La Vita gesê.

Willem en Anna Cornelius in hul huis in Scarborough met ’n foto van hul dogter, Hannah, op die voorgrond. Foto: Jaco Marais

’n Mens betree Willem en Anna Cornelius se huis deur ’n groot vrolike blou dubbeldeur. Die egpaar woon al lank hier in Scarborough aan die Kaapse kus teen ’n hoogte van waar hulle op die see uitkyk.

Die lieflike huis is gevul met kunswerke en boeke, iets waarvoor hulle van kindsbeen af ’n liefde ontwikkel het. Anna se pa was die groot komponis, musikus en begeleier Pieter de Villiers, en Willem is die seun van die legendariese omroeper en skrywer Andries Cornelius.

Daar is baie foto’s in die huis. Veral in een vertrek op die boonste vlak: mure vol foto’s van ’n blonde meisietjie wat later ’n sprankelende jong vrou geword het. Dit is die kamer van hul dogter, Hannah (21).

Teen die muur is ook ’n kunswerk wat Hannah op hoërskool gemaak het – ’n tekening vergesel van woorde uit onder meer G.A. Watermeyer se “Ballade van die bloeddorstige jagter”, ’n gedig wat ’n groot indruk op haar gemaak het. Daarnaas is geraamde bladmusiek waarop staan: “Hannah se wiegliedjie – Met liefde gekomponeer deur oupa Pieter de Villiers.” Sy was twee of drie maande oud toe hy dit gekomponeer het.

Dié wiegliedjie is op 2 Junie vanjaar in die NG Kerk in Vishoek op Hannah se roudiens gespeel.

Haar liggaam is op 27 Mei in 'n bos buite Stellenbosch gevind. Sy en ’n mede-Matie en vriend, Cheslin Marsh, is die vorige nag op die dorp deur vier mans gekaap waar hulle in haar motor gesit en gesels het nadat sy aan hom ’n geleentheid gegee het. Cheslin is aangerand en vir dood agtergelaat en Hannah is later verkrag, met ’n mes gesteek en verwurg.

Skreeu dat jou hart breek

Hannah Cornelius, die Matie-student wat in Mei buite Stellenbosch vermoor is. Foto: Verskaf

Die onderhoud met Anna (56) en Willem (59) vind in hul sitkamer plaas. Anna is ’n skraal, aantreklike vrou met kort blonde hare. Sy praat met besondere drif en intensheid. Willem, wat die hooflanddros van Simonstad is, tref ’n mens as ’n vriendelike, saggeaarde man. Hul seun Dries (19), wat homself Boy noem, kom nou en dan die vertrek binne om iets te vra. In die kombuis is die huishoudster Sylvia Davis (57), “Hannah se tweede ma”, besig om kos te maak. Daar is ook twee Tonkinese katte, Meow en Mimi, wat hulle deurentyd al spinnend teen iemand aanvly.

“Net ná Hannah se roudiens het ons eenvoudig op ’n vliegtuig geklim en Chili toe gevlieg en in Santiago aangekom en so ’n ou hippietrok gehuur en opgery na die Atacama-woestyn toe waar jy net vlaktes en ys en vulkane om jou sien,” sê Willem.

Daar was ondersteuning van oor die hele wêreld, maar dit het te veel geraak op ’n stadium.

“Een van die redes waarom ons Chili toe gegaan het, was om weg te kom uit ’n plek waar almal ons ken. Daar was ondersteuning van oor die hele wêreld, maar dit het te veel geraak op ’n stadium. Dit was ’n wegvlugkans om in die middel van die woestyn te sit waar jy net ys en sand voor jou sien en jy kon in die woestyn instap en gíl en skreeu en daar is niemand wat jou hoor nie. Hier kan jy nie regtig jou hartseer tot uiting bring nie, want daar is mense om jou.

“Daar het ons gestop in die middel van flippen nêrens en dan kan jy skreeu dat jou hart breek. Al onderbreking sou wees as Dries miskien na jou toe kom en sê: ‘Waar is die appel?’ of ‘Hou op huil.’ ”

Dries is outisties.

Anna: “Maar dan met kere kom hy en dan sê hy: ‘Mamma, I love you.’ En hy het ’n paar keer gevra wanneer kom Hannah weer? Baiekeer dan huil ek so dat ek nie op my voete kan staan nie, en dan sê hy: ‘Wat is dit, Mamma?’ Dan sê ek: ‘Ek mis vir Hannah!’ ”

Hannah in ’n ligte luim. Foto: Verskaf

Indien Hannah geleef het, sou dié impromptu reis na Chili nie vir haar vreemd gewees het nie; sy sou maklik saamgegaan het.

“Dit is hoe Hannah grootgeword het. Sy’t geweet op die ingewing van die oomblik dan pak ons die bakkie en ons ry op Botswana toe, Mosambiek toe, Namibië toe, Kaokoveld toe, of ons klim op ’n vliegtuig en ons vlieg na een of ander vreemde en eienaardige plek toe,” sê Willem.

Hy onthou toe Anna en Hannah van ’n reis na Indië af teruggekom het, waartydens sy dertien geword het, wou hulle vir haar ’n partytjie reël.

“Toe sê sy vir my: ‘Pappa, ek was nou net op ’n plek gewees waar mense nie geld het om kos te koop nie; ek voel nie dis reg dat ons ’n partytjie hou nie. Kan ons nie daardie geld vat en geskenkpakkies opmaak vir die kinders in die plakkerkamp hierbo nie?’

“Ek het haar so een keer gekyk en nie mooi geweet waar hierdie kind van my vandaan kom nie. Haar ma het haar gehelp en sy het haar verjaardag saam met die swart kinders in Red Hill gevier. Dit het toe ’n instelling geword. Sy het nooit daarna weer ’n partytjie gehad nie.”

Toe Hannah sterf, het sy geweet

Hannah: “Mamma, ek het niks verder nodig nie, want ek het klaar die vrede in my.” Foto: Verskaf

Anna, wat haar eie regspraktyk het, vertel waar die gedagte vir ’n Hannah Cornelius-stigting vandaan kom.

“Ek het onder meer begin navors oor die International Justice Mission en die moontlikheid ondersoek om op ’n ad hoc-basis daar te gaan werk, byvoorbeeld in Kalkutta. Hulle is soos Dokters Sonder Grense, jy gaan byvoorbeeld vir ’n maand en dan gaan help jy met iets soos die bestryding van

child trafficking.

Hoe oorkom jy hierdie óngelooflike pyn?

“Maar die héle tyd het dit net nie vir my reg gevoel nie, dan doen ek nog navorsing en ek dink: Ek móét iets groter met my lewe doen. Die oomblik toe Hannah stérf . . . Binne ’n kwessie van ’n paar uur het ek geweet – Hannah Cornelius Foundation. Ons omskép hierdie ding wat gebeur het en waarop jy nie óóit op voorbereid kan wees nie . . . Daar is nie ’n manier nie, maar op ’n manier wás ek al voorbereid . . . nie vir die detail nie, nie vir die feite nie, maar vir ’n lewenspad wat moet aangaan.

“Ek kan dalk nog baie lank lewe en daar moet ’n visie wees. Hoe oorkom jy hierdie óngelooflike pyn? Jy oorkom dit nóóit nie – nóóit, nóóit, nóóit. Maar jy maak dit deel van jou. En die enigste manier hoe ek daardie pyn kan kanaliseer en kan verwerk, is deur ánder mense te help. Ek hét mense gehelp, maar op ’n totaal ander skaal. Nou gaan dit oor saving humanity, dit gaan oor iets véél, véél groter.”

Hannah is vir haar ouers “die katalisator vir iets wat nou moet gebeur in hierdie land”. Foto: Verskaf

Net in die afgelope drie weke het sy toevallig vroue raakgeloop van Ocean View en Masiphumelele, buurte naby hulle, wie se kinders vermoor is.

“Dit is ma’s wat besig is om te sterf van pyn en verlange en niemand help hulle nie . . . Ek het honderde sake gedoen van moorde en verkragtings, borgtogaansoeke . . . ’n jaar en ’n half gelede is daar in ’n kwessie van twéé maande 24 mense doodgeskiet in Ocean View.

“Die kinders kan nie eers meer in die strate speel nie. Ék gaan daar in, I’ve got nóthing to lose . . . Ek en Willem het ons dogter verloor; I’ve got nothing to lose! Ons wíl vir mense hoop gee . . . Hierdie óngelooflike pyn waardeur ons is . . . om dit verder te vat. Dit is die enigste manier om hierdie pyn te verwerk, en nie net óns pyn nie – die mense in die land is besig om . . . in al die townships . . . kyk net hoeveel mense het ek in ’n kwessie van ’n paar dae ontmoet. Húlle name kom nie in die koerante nie; húlle kinders se name kom nie in die koerante nie. Hannah sou só ontsteld gewees het oor al die aandag wat sý gekry het.”

Sy sou gesê het: “Maar, Mamma, wat van die mense in Ocean View? Wat van die mense in Masi wat vermoor word l

eft, right and centre? Húlle kry nie die aandag nie.”

Hannah is vir hulle “die katalisator vir iets wat nou moet gebeur in hierdie land”.

Agter jou die swart hond

Anna met ’n armbandjie met Hannah se naam op wat sy elke dag dra. Sy het dit ná Hannah se dood in Chili gekoop. Foto: Jaco Marais

Hulle het reeds ’n perseel in Ocean View bekom van waar die stigting bedryf gaan word. Die doelstelling van die stigting is om maniere te vind om die vesel van die Suid-Afrikaanse samelewing te herstel deur onder meer beurse aan jongmense te verskaf en om ’n rol te speel in die vestiging en uitbou van dienste waardeur weerlose kinders beskerm kan word en die slagoffers van misdaad en geweld gehelp kan word.

“Ons doel is om iets vir ander te beteken en iets vir onsself,” sê Anna. “Agter jou stap die swart hond heeltyd in jou spore; as jy nie vorentoe gaan beweeg nie, gaan hy jou hakskene byt,” voeg Willem by.

Die feit dat my dogter dood is, beteken nie ek het nie meer ’n lewe nie.

Anna: “As ons dít toelaat, gaan ons ons afsluit van alles, en ons kan dit nie doen nie. Dis nie wat Hannah sou wou gehad het nie; dis nie haar visie nie.

“En weet jy wat? Ons het 21 jaar van haar wonderlike lewe waarop ons kan terugkyk. Daai 21 jaar is hierso . . . ” Sy sit haar hand op haar hart. “En niemand kan dit óóit wegvat nie; nóóit óóit nie!

“Ek wil ’n lig uitstraal en sê: Al gebeur die grootste tragedie met jou – jy hét nog ’n lewe. Ék het nog ’n lewe. Die feit dat my dogter dood is, beteken nie ek het nie meer ’n lewe nie; ék is nog hier. Ék het nog ’n lewe en ek moet iets daarmee maak. En ek wil vir ander mense wys al is my hart gebreek vir die res van my lewe, is ek weer aanmekaargesit en ek is tróts daarop dat God mý liggaam gebruik het en Willem se liggaam gebruik het om die

coolste kind in die lewe te bring.

’n Skildery in die styl van die beroemde American Gothic-werk wat ’n aantal jare gelede van die Cornelius-gesin gemaak is waar hul voor hul huis staan. Foto: Jaco Marais

“Ek het ’n trotsheid in my wat niémand ooit kan wegvat nie, want niemand het so ’n goeie kind gehad soos ek nie; sy wat op 21 kon sê: ‘Mamma, ek het niks verder nodig nie, want ek het klaar die vrede in my.’ ”

Voordat ons vertrek, sien ons dat Hannah ook in Willem en Anna se slaapkamer aanwesig is. Anna wys vir ons ’n foto van haar wat knipoog bo die bed.

“Daarso is sy . . . bó my kop slaap my kind elke aand. Dan kom ek in die aand en dan sê ek: ‘Hannah, is jy tevrede met wat Mamma vandag gedoen het?’ ”

* Die Hannah Cornelius-stigting word op 30 Oktober op die vooraand van die Kamers-uitstalling op die Anura-landgoed by Stellenbosch bekend gestel.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Hannah Cornelius  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.