Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘Is ons skadukant onder beheer?’

Sy wonder of ons nie misdaadfiksie lees om te kyk of ons eie skadukant nog onder beheer is nie, sê Wilna Adriaanse, skrywer van Netwerk24 se luisterboek Dubbelspel, aan Murray La Vita.

Wilna Adriaanse in die sitkamer van vriende in Durbanville. Foto: Adrian de Kock

Wilna Adriaanse kry ’n veraf blik in haar lieflike bruin oë wanneer sy vertel hoe haar jongste karakter tydens ’n rit deur die bosse van Botswana in haar gedagtes aan haar verskyn het.

“Ek wil nie nou veel meer sê nie . . . Ek skryf net op die oomblik moeilik want, weet jy . . . chroniese pyn messel jou huis se vensters en deure toe. Jy kán later nie uitsien buitekant toe nie. Dit smokkel met jou kop, dit . . . maar ek probeer.”

Die gesprek met Wilna vind plaas in ou vriende se huis in Durbanville. Sy ly aan psoriatiese artritis, ’n outo-immuunsiekte, en is deel van ’n navorsingsgroep oor outo-immuunsiekte waarvoor sy een keer per maand in die Kaap behandel word.

Sy en haar man, Deon, is Kapenaars maar woon die afgelope jare in Botswana, tans Gaborone, waar Deon direkteur is van ’n Australiese maatskappy wat elektrisiteit aan diamantmyne voorsien.

Hoewel sy deurentyd pyn beleef – sy het onlangs ook Bell se paralise opgedoen en is besig om daarvan te herstel – het dit al gebeur dat die pyn dae lank verdwyn wanneer hulle in die bosse is.

“Ek is ’n control freak – hééltemal. Ek wil vir ’n loods in ’n vliegtuig vra of hy weet daar is ’n berg voor. Maar ek dink daar gebeur iets as jy so ver verwyderd is van die beskawing. Jy gee dan letterlik oor. Jy is nie hier in beheer nie. Jy kan maak wat jy wil, maar hiér is jy nie in beheer nie. En dan raak jy net rustig. Daar kom net hierdie ongelooflike rustigheid oor jou.”

‘Almal is net mense’

Wilna het haar met haar laaste twee boeke as ’n spanningsverhaalskrywer gevestig.

“In Dubbelspel, en daarna Eindspel [albei is pas in Engels vertaal, onderskeidelik as Blindside en Endgame], het ek agtergekom dat waarmee ek die heel tyd speel, is: Almal is eintlik net mense. Dit is nie asof party sígbaar misdadigers is nie. Jy herken nie sommer ’n misdadiger net aan sy voorkoms nie.”

Luisterboeke op Netwerk24

Netwerk24-intekenare kan elke maand na Afrikaanse luisterboeke op Netwerk24 luister.

Luister tot 31 Augustus na Wilna Adriaanse se Dubbelspel. En op die koop toe kan kinders én hul ouers tot die einde van die maand na Bennie Boekwurm: Tokka die stoute kabouter en twee stories van Die Avonture van Wilde Willemientjie luister.

Psigopate en reeksmoordenaars kom ter sprake. Hulle wat wél dramaties anders is as ons in dié opsig dat hulle meesal sonder gewete is.

“Dit is vir seker so. Toe ek met Dubbelspel begin het, het ek besef ek weet te min van dié wêreld en ek het ’n senior speurder opgespoor wat baie ervaring het met misdaadgroepe in die Wes-Kaap. Ek het baie met hom gesels.

“En dit ís so dat daar mense is wat heeltemal anders is, maar jy herkén hulle nie altyd nie. Hulle sit lángs jou in ’n plek en jy sal in jou lewe nie weet waartoe hulle in staat is nie. Ek was een aand op ’n sosiale geleentheid waar daar iemand was wat blykbaar ’n grootkop in die bendewêreld is . . . En ek het hom net so gekyk en gedink jy sal dit net nooit sê nie.

“Daardie ding van misdaad en daardie ding van karakters . . . van om ’n karakter te skep wat jy nié kan flag met ‘hier loop die duiwel rond’ nie. Dit is ’n gewone persoon. Dit is binne ’n gesin. Dit is ’n pa, ’n ma, ’n suster, ’n broer, wat op die ou einde ongelooflike goed met mekaar kan aanvang.

“Die groot vraag wat mos rondom misdaadfiksie gevra word, is: Hoekom skryf ons dit? Veral in Suid-Afrika waar ons élke dag gebombardeer word met soveel misdaad. Die voor die hand liggende antwoord is gewoonlik ons hou daarvan om iets te lees met ’n goeie einde. Die misdadiger ry aan die pen. Die goeie seëvier oor die slegte.

“Maar ek dink daar is ook ’n ánder antwoord, en ek wonder soms daaroor. Lees ons dit nie miskien om te kyk of ons skadukant nog onder beheer is nie? Dat ons onsself so half daarteen toets.”

Dalk ’n sielkundige

“Dít is hoe ek grootgeword het – met stories.” Foto: Adrian de Kock

Wilna het op Worcester grootgeword en skoolgegaan en daarna ’n BA- en ’n honneursgraad in ontwikkelingsadministrasie aan die Universiteit Stellenbosch behaal.

“Toe ek eintlik eers grootword en ek begin my kinders kry, toe besef ek sielkunde . . . ménse fassineer my nog altyd. So ek het eintlik gedink ek wil ’n sielkundige word. Tussen die kindergeboortes swot ek toe sielkunde en ná die derde een se geboorte trek ek by sielkunde III, en toe wil ek my honneurs gaan doen. Ek het ’n vrou ontmoet wat toe reeds besig was met haar honneurs, maar haar kinders is toe al groot en uit die huis uit.

“Toe sê sy as sy vir my raad kan gee: ‘Wag ’n bietjie tot jou kinders van die hand af is.’ Sy sê dit is net makliker want die werklading is groot; jy kán nie met drie kleintjies nie.

“Toe besluit ek dis dalk goeie raad, en terwyl ek wag dat my kinders groter word en dat ek die sielkundige kan word, toe kom skryf verby.”

‘Wat nou?’

“Ek dink as die [eerste] boek afgekeur was, was dit die einde.” Foto: Verskaf

Sy het nie verwag dat sy sou skryf nie.

“Einde 1999 kry ons die geleentheid om Switserland toe te gaan met die kinders en met vriende. En terwyl ons Oujaarsnag daar in die berge staan en kyk na die vuurwerk, dink ek by myself die oudste een, Beer, is toe al in Paul Roos op kosskool en Jaco, die tweede ene, weet ek toe gaan nou oor ’n jaar ook, en dan gaan Johann ook volg. So, wat nou? Hulle is eintlik besig om van die hand af te gaan . . . Gaan ek nou terug sielkunde toe of waar moet ek nou begin inval?

“En toe sê ek vir myself: Eintlik het ek lus om iets te skryf. Ek het geen groot planne gehad nie; dit was ’n Bolandse liefdesverhaal in die wingerde . . . Ek het sommer net lus om so iets te skryf.

“Ek het op daardie stadium nie eers geweet waarheen om dit te stuur nie, maar uiteindelik het ek ’n uitgewer se naam gekry. Ek dink as die boek afgekeur was, was dit die einde.

“Ek dink nie ek sou aanhou probeer het nie. Ek dink ek het op daardie stadium te mín van kreatiewe skryf geweet, maar toe word die boek goedgekeur. Toe is die skryfdeur oop en ek dink dit is nogal lekker.”

Gelaagde verhale

Ná haar debuut in 2001, onder die naam Wilmine Burger by Lapa met Die wingerd sal weer bot, het ’n vyftiental romans en drie omnibusse uit haar pen verskyn en is sy ook al verskeie kere vir haar werk bekroon.

’n Wending in haar skryfloopbaan was toe Nelleke de Jager van NB Uitgewers haar genader het.

Niemand het nog régtig vir my iets negatiefs in my gesig kom sê nie.

“Sy het gesê daar is ’n behoefte aan meer verwikkelde liefdesverhale in Afrikaans. Daar was toe oorsee al baie daarvan, mense soos Marion Keyes wat meer gelaagde verhale skryf met minder taboes waaroor jy nie mag skryf nie.

“Toe maak sy vir my die hekke oper. Sy het gesê: ‘Wil jy nie kyk wat jy daarmee kan doen nie?’ En toe het ek Rebecca geskryf en dit was vir my verskriklik lekker. Ek meen, Rebecca het ’n aborsie gehad. Ek het nogal op daai stadium gewonder hoe gaan die lesers dit verwerk. Maar nie één het al ooit vir my iets daaroor gesê nie.”

‘Dankie vir die boek’

Dubbelspel is pas in Engels vertaal. Die Engelse titel is Blindside. Foto: Verskaf

Ek pols haar oor die aard van die verhouding wat sy met haar lesers het.

“Ek beskou myself as baie bevoorreg in dié sin dat niemand nog ooit na my toe gekom het en gesê het: ‘Jissie, dit is nonsens, hoekom het jy dit . . .’ of ‘Jy vloek te veel’ . . . Niemand het nog régtig vir my iets negatiefs in my gesig kom sê nie.

“Wanneer ek mense ontmoet, is dit gewoonlik ’n geval van: ‘Dankie, ek het die boek geniet.’ Ja, ek het al ander terugvoer ook gekry, soos ná Dubbelspel het iemand vir my gesê: ‘Jy het vir my die Kaap bederf, want die Kaap was vir my soos ’n utopiese plek om in te woon; dit was vir my soos die hemel.’

“Ek het al iemand gehad wat gesê het daar is te veel vloekwoorde in die boek, maar sulke reaksies is nogal min. Ek voel bevoorreg dat die lesers my tot dusver nog goed behandel het.”

‘Vir wie skryf ek?

Skryf sy met ’n teikenmark in gedagte?

“Ek het baie vroeg iets beleef. Ek het terugvoer gekry van ’n 93-jarige Vrystaatse boer wat ’n boek van my gelees het. En die jongste leser wat met my kontak gemaak het, was 16. Dít het my laat besef: Vir wié skryf ek dan? Ek kan nie ’n teikenmark hê nie. Ek kan doodeenvoudig die verhaal vertel so goed as wat ek dit moontlik kan doen, maar ek kan nie met ’n spesifieke leser in gedagte skryf nie, want ek gaan definitief verkeerd wees.

Jy weet nie wat dóén jou woorde aan ’n leser nie.

“ ’n Man het by ’n boekgesprek na my toe gekom gesê sy twee dogters het Rebecca gelees en hulle het begin om frases uit die boek te gebruik om met mekaar te praat.

“Iemand anders het my laat weet sy en haar vriendin het as tieners Durban toe gegaan en hulle reggemaak om net ’n wonderlike tyd te gaan hê. Maar een van hulle vat Rebecca toe saam en sy hou toe net aan met lees en toe is die ander een kwaad want van die lekker beach parties het niks gekom nie.

“Die ander een het dit toe ook gelees en daarvandaan het Rebecca hulle boek geword, wat hulle . . . Hulle hele lewe het hulle opgeteken in hulle Rebeccas. En op een van hulle se 30ste verjaardag het ek vir hulle ’n boek geteken en ’n boodskap gestuur.”

‘Woorde het krag’

“ ’n Storie kom na jou toe en jy moet hom so eerlik as moontlik probeer skryf.” Foto: Adrian de Kock

Wat ’n mens skryf, het dus ’n noemenswaardige invloed op mense se lewens?

“Maar ’n mens wéét dit nie. Jy weet nie wat dóén jou woorde aan ’n leser nie. Ek het een keer in Pretoria gepraat en toe kom sit ’n vrou 16 eksemplare van Die boek van Ester by my neer. Toe ek vir haar vra of sy ’n winkel het, sê sy vir my nee, haar man het ’n werk in Australië gekry en hulle emigreer soontoe en sy het 16 beste vriende vir wie sy iets wou koop as ’n afskeidsgeskenk en sy kon nie iets kry nie en toe lees sy die boek. En toe is daar vir haar ’n boodskap vir elkeen in die boek . . .

“Dit het my skielik laat besef wóórde het ongelooflike krag. En ek weet nie eens wátter woorde vir wié iets gaan . . . Dit kan hulle dalk kwaad maak; dit kan hulle dalk traumatiseer, ek weet nie. Niemand van ons wat woorde neersit, weet seker eintlik watter uitwerking dit op ander mense gaan hê nie.”

Dit is hoekom die “integriteit van ’n storie” vir haar baie belangrik is.

“Jy mág nie manipuleer nie; jy mág nie gebruik maak van truuks om ’n storie te skryf nie. ’n Storie kom na jou toe en jy moet hom so eerlik as moontlik probeer skryf. As jy daardie storie met integriteit skryf, sál dit weerklank vind by mense.”

Storiemense

Wilna is gebore in die Kalahari, waar die mense almal “storiemense” is.

“My ma het altyd vertel . . . En onthou, sy het as jong bruid soontoe getrek . . . Toe hulle stop op die werf van die plaas, toe hardloop sy. My pa moes haar omtrent daar in die duine gaan vang en terugbring. Hulle het agt jaar daar gebly en sy het altyd gesê hulle het agt jaar ’n wittebrood gehad. Dit was net ongelooflik. Sy het saam met my pa gaan jag; sy het saam met hom die veld in gery.

Daar was nie televisie nie, so mense het saans om ’n tafel gesit en hulle het net eenvoudig gesels.

“Maar ook, daai jare was daar nie iets soos hotelle en gastehuise nie, so jy as plaasmense het mense ingeneem. Dis so ver, as jou petrol daar opraak of jy kom te laat daar aan om nog deur te ry Gemsbokpark toe, dan bly jy eenvoudig by mense.

“Daar was nie televisie nie, so mense het saans om ’n tafel gesit en hulle het net eenvoudig gesels. As jy vir my ma of my pa ’n vraag gevra het . . . Die kinders sê ek is deesdae net so . . . Dan vertel hulle vir jou ’n storie; dit raak ’n hele storie wat vir jou vertel word.

“Dít is hoe ek grootgeword het – met stories. Álmal het ’n storie.

  • Luister na Wilna Adriaanse se spanningsroman, Dubbelspel, op Netwerk24 tot 31 Augustus.
  • Netwerk24 se luisterboek vir September is Francois Smith se bekroonde roman, Kamphoer.
Luisterboeke op Netwerk24

Netwerk24 en NB Uitgewers gaan elke maand luisterboeke op Netwerk24 beskikbaar stel.

  • Die boek is slegs beskikbaar vir Netwerk24-intekenare.
  • Die boek is tot 31 Augustus op Netwerk24 beskikbaar en sal daarna met 'n ander luisterboek vervang word. Begin daarom sommer vandag nog luister!
  • Jy kan op jou rekenaar of binne ons app na die luisterboeke luister.
  • Maak seker jy het die jongste weergawe van die app as jy die boek op jou selfoon wil luister.
  • Maak seker jou wifi is aangeskakel as jy die boek begin luister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.