Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
’n Kerk sonder al die antwoorde
KYK: Immer soekende na kerk se visie

Drie jaar gelede het dr. André Bartlett vir Rapport gesê ’n senior kollega se standpunt waarin hy ’n verband tussen homoseksualiteit en pedofilie probeer trek het, kom neer op haatspraak.

André Bartlett by die Prestwich-gedenkteken in De Waterkant, Kaapstad. Foto's: Marzahn Botha

Nooit sou Bartlett, voorsitter van die NG Sinode Hoëveld in Gauteng, kon dink dat sy verwerping van dr. Chris van Wyk se uitspraak sou lei tot die indien van vyf klagte teen hom, Bartlett, dat hy onder meer die negende gebod sou verbreek het – dat jy nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.

Die klaer, dr. Johann (Tokkie) Ernst, wou hê dat Bartlett van sy status as leraar onthef word indien hy skuldig bevind word.

Ernst het Bartlett in Oktober 2020 aangekla. Vrydag is hy skuldig bevind op een van die klagte – dat hy die negende gebod oortree het.

Bartlett sê hy is tevrede met die beslissing.

“Dit het basies goed gegaan. Ek moet die volledige uitspraak nog bestudeer, maar is in geheel tevrede. Ek is verlig dat die saak nou agter my lê. Ek kan nou aangaan met my lewe en my werk.”

Dit is nie die kerk wat my aankla nie, dit is ’n individuele lidmaat.

Toe Rapport vroeër die week met Bartlett gepraat het, het hy gesê hy het ’n billike geleentheid gehad om sy eie saak te stel en homself te verdedig.

Hy het by sy een dogter, haar man en sy twee kleinseuns in Kaapstad gekuier.

Later die week het Bartlett Johannesburg toe gevlieg waar hy die uitspraak in die tugsaak by die Hoëveldse sinode se kantoor moes aanhoor. Hy is die moderator daar.

“Niemand hou daarvan om gekritiseer te word nie,” het hy Dinsdag gesê.

“Dit is swaar wanneer jy voel dit is kwaadwillig.

“Uiteindelik probeer ek dit ook verstaan. Ek besef dit gaan nie eintlik oor my as persoon nie en dit help my om dit te verwerk. Ja, op ’n persoonlike vlak kry jy seer, maar jy besef dit gaan oor die rol wat jy speel en dat ons in ’n tyd leef waar daar baie spanning is in die kerk.”

Hy raak filosofies.

“Dit is baie keer waar kwaadwilligheid vandaan kom – wat op die oog af lyk na venyn is eintlik maar ’n reaksie op dit wat jou gespanne en angstig maak.”

Bartlett kry al vir 22 jaar kritiek oor sy betrokkenheid by die stryd om gays ten volle aanvaar te kry in die NG Kerk.

“As ek byvoorbeeld kritiek hieroor kry dan sê ek dit is eintlik meer oor hoe mense oor gay mense voel as wat hulle oor my voel. Dit help my dan om te sê daar moet nog harder gewerk word om die situasie vir gay mense te normaliseer.”

Bartlett sê hy het sterk standpunte en opinies oor sake soos die gay-debat, maar hy beskou homself ook as ’n “ruim soort mens wat ander mense se opinies respekteer”.

“Die feit dat ek sterk opinies het, beteken nie ander mense mag nie opinies hê nie.”

Daar is wel goed waaroor hy ongeduldig is.

Verdraagsaamheid het ook sy grense.

“Ek hou nie daarvan as mense van wit kant of van swart kant mekaar rassisties tipeer of rassisties teenoor mekaar optree nie. Ek hou nie van die manier wat vroue baie keer hanteer word nie. Ek beskou vroue as gelyk, as mense met volle gelykwaardigheid. Dieselfde geld vir homofobie. Ek verstaan as mense ongemaklik is met homoseksualiteit. As jy van gay mense praat en jy is ongemaklik daarmee, sê dan ‘ek voel ongemaklik en dit is nie iets wat ek kan goedkeur nie’. Maar moet dit nie in dieselfde asem noem as byvoorbeeld pedofilie of bestialiteit nie. Sodra jy anti-gay word en goeters sê of optree op ’n manier wat krenkend is dan is dit vir my verkeerd. Ek akkommodeer ander mense se standpunte, maar daar is grense waar ek sekere goed nie kan goedpraat nie. Verdraagsaamheid het ook sy grense.”

Talle kerkmense en ondersteuners van Bartlett het op sy Facebook-blad en in koerante die kerk aangeval omdat Bartlett nie ondersteun word in die saak nie.

Hieroor stem Bartlett nie saam nie.

“Daar is baie mense wat sê die kerk doen dit aan my. Die kerk doen dit nie aan my nie. Dit is nie die kerk wat my aankla nie, dit is ’n individuele lidmaat.

“Dit is ’n lidmaat wat sy reg uitoefen om my aan te kla oor ’n saak waaroor hy beswaard voel. Dit is nie maklik om so blootgestel te word nie, maar ek is mos nie verhewe bo kritiek dat ek nie aangekla kan word nie.

“Ek het ’n billike geleentheid gehad om my eie saak te stel en myself te verweer . . . Waar ek nou is, het ek nie rede om te sê hulle het my onbillik behandel nie.”

Die ondersoek teen hom en die gekibbel in die kerk is wel soms te veel vir hom.

“Miskien het ek weer die kapasiteit om aan te gaan, maar daar is tye wat ek gevoel het nou vat ek my goed en loop. Die ding is, ek is lief vir die kerk en ek is lief vir die NG Kerk. Ek voel ’n verantwoordelikheid en ’n medeverantwoordelikheid teenoor die kerk. Ek is verantwoordelik vir die mense wat aan my toevertrou is in die kerk en die sake wat op die tafel is, is vir my belangrike sake en belangriker as my persoonlike gemak of gerief.”

Hy sê dit is soms moeilik om te verstaan dat die debat oor selfdegeslag­verhoudings steeds in die kerk woed, 20 jaar nadat hy ’n studiekommissie oor die pastorale versorging van gay lidmate gelei het.

“Op daardie stadium was ek in my vroeë 40’s en ek het gedink dit gaan ’n eenvoudige proses wees. Ek het gou agtergekom dit gaan hier oor diep gesetelde oortuigings, vooroordele en gevestigde stereotipes.

“Dit gaan nie oor jy gee vir mense ander feite en nou dink hulle anders nie. Dit is soos ’n soort apartheid om mense op grond van ras te beoordeel en as minderwaardig te etiketteer. Dit is diepgaande goed. Jy kan aan die oppervlak verander, maar dan kom daar ’n situasie en dan borrel dit als weer oor. Ons sien dit nou met die krisis oor Covid-19 waar daar ’n nuwe soort rassistiese taal is oor die spektrum heen – wit teen swart en omgekeer.”

Maar hoekom is hy steeds betrokke by die kwessie?

Dit is ’n kwessie van geregtigheid en menswaardigheid wat gemaak het dat ek dit doodeenvoudig nie kon los nie.

“As jy eers betrokke is dan los dit jou nie. Dit is ’n kwessie van geregtigheid en menswaardigheid wat gemaak het dat ek dit doodeenvoudig nie kon los nie. Ek dink ek het te veel mense op ’n persoonlike vlak leer ken (in die stryd vir selfdegeslagverhoudings) in die kerk en mense het my oor die jare vertrou met hul lewensverhale hieroor. Dit bly by jou. Dit is seker ook ’n Calvinistiese ding. As jy jouself commit het tot ’n saak en aan ’n klomp mense kan jy dit nie net los nie.”

Maar net so wil sy teenstanders en ook die kerk hóm nie los nie in wat hy as ’n “oorgangstyd” vol pyn en konflik in die kerk beskryf.

“Daar was tye wat ek angstig geword het oor die hele situasie en dan sê ek vir myself vertrou die proses. As dit wat uit die proses uit kom nie lekker is nie, beteken dit nie dit is die einde van die pad nie.”

Om die proses tog te vertrou het hy by die anti-apartheidstryder dr. Beyers Naudé geleer, wat hy leer ken het toe hy predikant was by die NG gemeente Aasvoëlkop in Northcliff, Johannesburg.

Naudé het in 1963 uit Aasvoëlkop bedank as gevolg van toenemende kritiek weens sy anti-apartheidsuitsprake. Hy en sy vrou, Ilse, het weer in die vroeë 1990’s lidmate van die gemeente geword toe Bartlett predikant daar was.

“Die goed wat vir Naudé belangrik was, het nie onmiddellik vir hom die resultate gelewer soos wat hy gehoop het nie. Maar vandag, 50, 60 jaar later, is daar min mense wat sal sê sy idees was nie reg nie. In daai sin help dit my om die proses te vertrou – doen wat jou hand vind om te doen, doen dit so goed as moontlik en vertrou dan die groter prosesse.”

Oor liberales in die kerk wat hom as die voorvegter teen die behoudendes sien, is hy ongemaklik.

“Ek sien myself nie as die gesig van iets nie. Sodra jy jouself sien as die gesig van iets dan word dit selfgerig. Ek verkies dat goed saakgerig moet wees, want die saak is vir my kosbaar. Sake soos menswaardigheid, versoening, eenheid in die kerk en geregtigheid is vir my betekenisvol.”

Hy raak stil.

“Ek is tevrede om te sê ek is deel van ’n groep mense wat miskien nuut dink en wat sê die kernboodskap van die evangelie moet in ons tyd relevant aan mense oorgedra word.”

Hy vertel hy het onlangs met die lees van Neels Jackson se boek Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk besef hy het “die voorreg gehad om in ’n baie dinamiese tyd by die kerk betrokke te kan wees waar die kerk nie altyd weet wat nou nie”.

Die ou sekerhede is weggekalwe.

“Ek het in ’n sekere sin grootgeword binne ’n kerk wat al die antwoorde gehad het. Die kerk van die 1960’s en die 1970’s was in ’n groot mate ’n mag-instansie wat van bo af vir mense voorgeskryf het wat reg en verkeerd is. Nou is ons in ’n kerk wat sê: ‘Weet jy, ons het nie al die antwoorde nie.’ Dit is vir my ’n beter kerk wat sê ons soek saam vanuit ons geloofsoortuiging met God en ons geloofsverbintenis aan mekaar vir antwoorde.

Johan Eybers

“Ek verkies die kerk op die oomblik met al sy uitdagings. Die uitdagings is moeilik en daar is konflik en spanning in die kerk en in baie gevalle is daar wedersydse wantroue. Dit beteken verhoudings word onder druk geplaas en jy beland in konfliksituasies.

“Die kerk is nie ’n politieke party waar jy sê ‘dit is ons beleid’ en almal val dan daarby in nie. As ons sê ons is ’n kerk wat saam soek na antwoorde, dan moet jy ook ruim genoeg wees om te sê ons het nie altyd dieselfde idees oor goed nie. Kom ons soek saam na beter antwoorde.

“Dit is ook hoe ek my eie rol binne die kerk sien – nie as iemand wat vir mense finale antwoorde gee nie, maar iemand wat saam met mense op pad is en saam met hulle dink.”

Meer oor:  Chris Van Wyk  |  André Bartlett  |  Gays  |  Homofobie  |  Ng Kerk  |  Homoseksualiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.