Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Lynelle oor kos en haar ‘donker nag’

Lynelle Kenned, aanbieder van Die Burger en VIA se kosprogram Uit die spens, praat met Murray La Vita oor kos, opera en hoe sy lank “na aan die dood” geleef het.

Lynelle Kenned gesels in Kaapstad oor haar werk en lewe.Foto: Jaco Marais

Idealis, plaasmeisie en verkleurmannetjie.

Dít is hoe Lynelle Kenned (31) haarself in die loop van ’n onderhoud beskryf.

Ons ontmoet mekaar een oggend in ’n restaurant in Kaapstad. Lynelle is pas terug van ’n meditasie-retreat in Worcester: Tien dae van stilte en elf ure se meditasie per dag.

Die sprankelende energie wat van Lynelle so ’n uitstekende televisieaanbieder maak, is vanoggend ook hier aanwesig in haar spontane lag, iets soos speelsheid, en haar meelewendheid. Maar die rustige uitstraling van iemand wat lank gemediteer het, iemand vir wie balans en harmonie belangrik is, is wat veral opval.

Die vertrekpunt vir ons gesprek is kos. Lynelle is die aanbieder van Die Burger en VIA se kosprogram Uit die spens, waarin inspirasie geput word uit ou resepte in Die Burger wat dan op ’n nuwe manier geïnterpreteer word deur hedendaagse kosmense soos Moskou du Toit en Ina Paarman.

Lynelle saam met Moskou du Toit (links) en Bun Booyens in ’n episode van Uit die spens.Foto: Verkaf

“Ek was vir vier jaar ’n aanbieder op Pasella, so die hele leefstyl-tipe program is ’n formaat waarmee ek goed vertroud was. Dit is die tweede program wat ek saam met VIA doen. 1, 2, 3 Fix It!, die home-renovation show, was verlede jaar, en toe hulle vir my sê Die Burger beoog om ’n program te doen oor hoe die kostradisie evolve het oor die jare, toe dink ek dit is fabulous, want dit is ’n kookprogram met ’n verskil – dit vat vir jou van toeka tot nou toe.

“Kos was ’n groot tradisie in ons familie en in die gemeenskap waarin ek in die Paarl grootgeword het. My ma het altyd wonderlik gekook en kos was ’n belangrike fokus tydens al ons sosiale byeenkomste. Daar was baie Kaaps-Maleise invloede, Bolandse kos, bredies en sulke goed.

“Toe ek ouer word, het ek in ander soorte kos van regoor die wêreld begin belangstel. Ek is enkellopend, so ek kook nie baie nie. Ek hou van uitgaan en oor kos met mense connect.”

Geleenthede

Sy praat oor haar kinderdae.

“Van kleins af het ek gevoel my ouers se hele strewe is om vir my en my broer soveel geleenthede as moontlik te gee.

Ek kom uit ’n musikale familie; die musiek was ook baie deel van die kerkgemeenskap, so ek het net van kleins af leer note lees en musiek maak.

“So, toe ek in 1995 skool toe is, was apartheid net afgeskaf en kon ek na ’n vorige model-C-skool toe gaan. Die geleenthede waaraan ek toe blootgestel is, het absoluut die trajek van my lewe verander, want ek kon musieklesse en klavierlesse neem, waar dit in ’n ander skool nie moontlik sou wees nie.

“So ek het van sub A af musieklesse en klavierlesse geneem en in die skoolkoor gesing. Ek kom uit ’n musikale familie; die musiek was ook baie deel van die kerkgemeenskap, so ek het net van kleins af leer note lees en musiek maak.

“Maar ek het nie gedink dat musiek vir my ’n loopbaanopsie sou wees nie, totdat ek in 2005 deel geword het van André van der Merwe se Suid-Afrikaanse Jeugkoor.

“Ek was 16 en dit was ook die eerste keer dat ek ’n produksie van Kaapstad Opera se Showboat hier in die Kunstekaap bygewoon het. Toe staan my kop absoluut teater toe, en musiek – hierdie kombinasie van storie vertel met die musiek.

“My sangonderwyseres op skool het toe voorgestel dat ek aansoek doen by die operaskool [van die Universiteit van Kaapstad], en toe het dit so uitgewerk dat ek daar gaan swot het onder prof. Virginia Davids. Sy is ’n fenomenale dosent. Sy was ook Pretty Yende se dosent . . . soveel van ons groot, internasionale operasterre is deur haar onderrig.”

“Kos was ’n groot tradisie in ons familie en in die gemeenskap waarin ek in die Paarl grootgeword het.”Foto: Jaco Marais

‘Te mededingend’

Haar vyf jaar in die operaskool was “ ’n ontnugterende ervaring”.

“Jy kom agter net hoe veeleisend dit is om ’n heeltydse beroep as operasangeres te volg. Toe ek kyk na die soort lewe wat ek wil bou – wat veel meer holisties en inklusief is – het ek besef dít is nie vir my ’n gesonde loopbaankeuse nie. Dit is te mededingend en dit isoleer ’n mens.

“Ek is ’n introvert en ’n private mens . . . al kom ek op die skerm oor as sprankelend. Ek het net geweet dit is nie vir my nie. Dit het my na baie donker plekke geneem. Ek het vir ’n lang tyd my liefde vir musiek en vir optree verlóór ná dit en dit eers weer deur musical theatre herontdek. Deesdae sing ek baie meer cross over ook en kontemporêre musiek – die goed waarmee ek grootgeraak het.”

Sy het al die “kleure” en die reikwydte van haar stem (sy is ’n sopraan) in die proses ontdek.

“Dis interessant – vir die opkomende Woordfees doen ek drie verskillende programme: Brahms se Duitse requiem, ’n musical theatre program, én barok met Erik Dippenaar-hulle.

“Omdat ek diversifiseer het, kan ek in Suid-Afrika bly en werk . . . Ek is verskriklik geheg aan die land en die mense. As jy net ’n heeltydse operasangeres was, sou jy dit nie van hier af kon doen nie; daar is nie genoeg werksgeleenthede nie.

Ek werk net en word net deel van produksies waaroor ek sterk voel en wanneer ek ’n hartskonneksie het met mense saam met wie ek werk.

“Die spasie waarin ek nou is . . . Ek het op 31 besluit: I’m not hustling anymore. Ek lewe nóú al asof ek afgetree is . . . Wanneer ek na die verloop van my dag kyk en waaraan ek blootgestel is . . . Ek werk net en word net deel van produksies waaroor ek sterk voel en wanneer ek ’n hartskonneksie het met mense saam met wie ek werk.

“Ek dan word ek goed daarvoor betaal en ek werk dikwels, maar as ek nie hoef te werk nie, dan doen ek dit nie en dan kan ek goed doen soos om tien dae te neem en te gaan mediteer.”

Die kuns wat ’n mens skep wanneer jy in “survival mode” is, is heeltemal anders as wanneer jy in ’n spasie is van ontspanning en pret en inspirasie.

“Om iets te skep wat gebore is uit pyn en wroeging het ’n ander soort energetic identity wat jy uitstuur en wat die gehoor ontvang . . . En daar is ’n tipe onskuld wat uitkom wanneer ek in alignment met myself is en ontspanne is.”

Lynelle as baba in die arms van haar ma, Christine.Foto: Verskaf

‘Na aan die dood’

Lynelle se ma, Christine, het vir elf jaar aan kanker gely – ’n velkanker wat na haar brein versprei het en waaraan sy gesterf het.

Jy kan nie afskakel nie. Dit raak so normaal dat jou default setting is om álles te onderdruk en jy gaan net volstoom vorentoe.

“Die kanker is aanvanklik in 2004 by haar gediagnoseer, toe ek 16 was. Dis ’n interessante ding wanneer ’n mens iemand in jou onmiddellike familiekring het wat so lank vir so na aan die dood gelewe het.

“Jy kan nie afskakel nie. Dit raak so normaal dat jou default setting is om álles te onderdruk en jy gaan net volstoom vorentoe. Dit is nódig.

“In 2014 het die kanker vir ’n tweede keer teruggekom. Ek het toe nét uitgevind dat ek die volgende jaar die hoofrol in West Side Story sou vertolk. En my ma is die week van Moedersdag in 2015 oorlede.

Lynelle as Maria in ‘West Side Story’. By haar is Kevin Hack wat die rol van Tony vertolk het.Foto: Verskaf

“Die Saterdag was die begrafnis, die volgende dag was Moedersdag, toe is ek terug op stel met Pasella en ek het daardie hele maand gewerk totdat ons in Junie met repetisies vir West Side Story begin het.

“Ek het nooit ’n kans gehad om te rou nie en hier is ek in hierdie produksie waar ek soveel druk op my het en die wete ek kan nie daar uitkom nie want dit sou career suicide wees.

“Die karakter van Maria wat ek gespeel het, verloor sowel haar broer as haar geliefde. And I just had to go to that place. En daai lyn tussen die karakter en myself het geblur want ek was net nie gesond nie; ek was steeds besig om alles te onderdruk.

Daar is nêrens anders om heen te gaan nie; jy móét dit konfronteer, anders gaan jy knak – soos in heeltemal.

“En toe daardie produksie in Augustus klaarmaak, toe is ek ’n wrak. My lewe het aan die einde van 2015 heeltemal uitmekaar uit geval. Dit was só, só nodig want dit was die wake-up call wat ek nodig gehad het . Jy is nie op ’n goeie plek met jouself nie; jou gewoontes is besig om jou te vernietig en om die mense rondom jou seer te maak.

“Dit was the dark night of the soul – daai ontmoeting met jouself. Daar is nêrens anders om heen te gaan nie; jy móét dit konfronteer, anders gaan jy knak – soos in heeltemal.”

“Ek lewe nóú al asof ek afgetree is.”Foto: Jaco Marais

‘ ’n Swaar las’

Terugskouend besef sy alles het gebeur soos dit moes gebeur het.

“Ek het nie in daardie stadium besef hoe swaar my las was nie. Ek het soveel waardering vir die Lynelle wat ek was met al daai goed wat ek vir so lank gedra het.

“Ek het vir die eerste keer in my lewe ’n sielkundige begin sien en selfs ná daai proses was dit steeds ’n móérse journey om gesond te begin word en om uit die plek van destruktiwiteit en leegheid te kom na ’n plek van genesing en volheid.

Ek het allerhande dinge beleef: nagmerries, angsaanvalle . . .

Selfs ’n jaar ná my ma se dood kon ek nie die skuldgevoelens en die goed wat ek die heeltyd deurdelf het, laat gaan nie.”

In 2016, ’n jaar nadat haar ma oorlede is, het Lynelle die Portugese Camino-pelgrimstog aangedurf.

“Dit was die eerste keer wat daar ’n spasie in my oopgemaak het rondom die pyn en die krisis. En van daar af het die heling stelselmatig plaasgevind.”

Lynelle kyk hoe die bakkers Ciska Rossouw (links) en Tessie Kemp hul ding doen op Uit die spens.Foto: Verskaf

‘Mal oor langpad’

Lynelle sê sy is eintlik ’n “plaasmeisie”.

“Waarom ek so lief was vir Pasella is, waar ander programme die glam-gedeelte van die samelewing ten toon stel, was Pasella baie plat op die aarde. Jy ontmoet die mense; leer die geskiedenis agter dorpies, afgeleë plekke wat jy nie noodwendig as ’n vakansiebestemming sou kies nie.

“Ek is eintlik ’n plaasmeisie; ek is mál oor die langpad. Hoe meer verafgeleë ’n plek is, hoe gelukkiger is ek. Dit het ook vir my ’n waardering vir die land gegee wat ek nie voorheen gehad het nie.

“Ek onthou daar was ’n shoot waarin ons die damme op Tafelberg gecover het. Daardie lugruim is nie oop vir kommersiële vliegtuie nie en ons het as deel van die shoot saam met die ouens wat die fire rescue doen in hul helikopter oor Tafelberg gevlieg en die damme geskiet.

“Jy kan nie só ’n ervaring koop nie want dit is nie vir die algemene publiek moontlik om daar te vlieg nie. Dit was net mind blowing.”

‘Deursigtigheid, asseblief’

Lynelle, wat verlede jaar met die Kunste Onbeperk- en KKNK-prys vir ’n jong stem vereer is, is dikwels baie ontnugter deur die vermaakbedryf.

“As jy deur die hype daarvan ingesuig word, is dit verskriklik maklik om jouself te verloor. Veral met wat sosiale media deesdae is en die wete dat jy die heeltyd dopgehou word en hoe mense appearances wil voorgee as die werklikheid.

“Daar is ’n behoefte by veral mense in die bedryf om baie meer real te wees, aan albei kante: Die goed en die sleg, die lig en die donker.

“Ek sou meer deursigtigheid wou sien van mense in die bedryf. Op my eie manier praat ek baie oor goed en skryf ek oor my proses. Athenticity en visibility is vir my belangrik . . .

Dis snaaks, jy kan só suksesvol lyk in die bedryf terwyl alles agter die skerms besig is om uitmekaar te val omdat die integrasie nie daar is nie.

"Ons moet daardie ruimtes en veilige plekke vir mekaar in die bedryf skep, die werkruimtes waarin almal gerespekteer word.

“Dit gebeur nie altyd nie en dit breek my hart, want jy gee só baie van jouself in jou werk en as dit nie na waarde geskat word nie, is dit brutaal en destruktief.”

Die toneelstuk Queenie-hulle van Christo Davids – wat vanjaar op die Suidoosterfees en die KKNK opgevoer gaan word – is vir haar ’n suiwer ervaring.

“Ons speel vyf hawelose mense en die karakters het soveel trauma en jy embody daai trauma en gaan na die plekke met jou mede-akteurs, en hulle het jou net gehóú.

“Almal kom na die tafel sonder hul ego’s, en hul benadering is: Ons wil hierdie skep en deel word van iets groters as onsself. Dit ís moontlik en dit is die ideaal. Maar miskien is ek ’n idealis, ek weet nie.”

Kassie

Ou en nuwe resepte

In die reeks Uit die spens dien ’n resep uit Die Burger se argief as ’n “kontrole-resep” en ’n hedendaagse koskenner word dan gevra om nuwe lewe daaraan te gee. Die gaste in elke episode maak dus die ou resep en die nuwe resep. Die gaste sluit in oudwerknemers van Die Burger, soos Bun Booyens, Willem Pretorius en Steve Immelman, tot bekende sjefs soos Errieda du Toit, Ina Paarman en Moskou du Toit.

Die reeks bestaan uit 13 episodes en temas sluit in: inlê, toebroodjies, onthaalkos, Bo-Kaapse geregte, en kampkos. Dit begin op 6 Februarie en is Donderdagaande om 19:00 op VIA (DStv-kanaal 147).

Meer oor:  Murray La Vita  |  Lynelle Kenned  |  Uit Die Spens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.