Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ’n Pa soos Dok Craven

Nou dat sy oud is, besef sy wat ’n enorme invloed haar pa op haar lewe gehad het, sê Joan Roux, dogter van dr. Danie Craven, aan Murray La Vita.

Joan Roux in haar huis in Stellenbosch by ’n foto van haar pa, dr. Danie Craven en ’n onbekende jong rugbyspeler. Foto: Adrian de Kock

Die een sterk invloed wat die legendariese Dok Craven op sy dogter gehad het, is die liefde vir rugby wat hy by haar gekweek het.

Die gesprek met haar is dus deurspek van verwysings na rugby en rugbyspelers. Joan is ’n lewenslange lid van die Maties-rugbyklub (“Ek pas half daar in,” sê sy), en noem dat sy later vanjaar die Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan gaan bywoon saam met die ouers van die Springbok Pieter-Steph du Toit.

Benewens verwysings na rugby is dit Craven self, vir wie sy klaarblyklik – soos duisende ander mense – ’n heldeverering het, wat die middelpunt van die gesprek is.

“Wanneer jy ouer word, dink jy dikwels oor hoe alles inmekaar pas. Hoe kan ek nie anders as om aan my pa te dink wanneer Vadersdag voorlê nie. Eers nou dat ek oud geword het, besef ek wat ’n enorme invloed my pa op my lewe gehad het en hoe die feit dat hy my pa was, my lewe verryk het,” aldus Joan.

Die fokus op haar pa is des te meer intens omdat die ontmoeting met Joan plaasvind in die huis wat Craven hier in Stellenbosch vir hom en sy gesin laat bou het.

Dit is asof Dok enige oomblik by die voorhuis kan instap, op een van die Malan-stinkhoutstoele kan gaan sit met die Erich Mayer-Bosveldlandskappe op die muur agter hom, en ’n koppie tee geniet saam met ’n sny van die verruklike wortelkoek wat sy dogter vanoggend gebak het.

“Hierdie huis is net ná die Tweede Wêreldoorlog vir my pa gebou. Wat gebeur het, is hulle het hom ’n professoraat aangebied hier op Stellenbosch en gesê: ‘As jy kom, kan jy die universiteit se bouer gebruik – jy moet hom natuurlik betaal.’ En hy het toe die argitek John Collins gekry om die huis te ontwerp en die universiteit se bouer het dié huis gebou. En toe my ouers geskei is, het ons toe die huis by my ma gekoop. So, dis die huis wat vir hom gebou is.”

Wat ’n mens ook onder die indruk bring van die band tussen pa en dogter is die feit dat Joan, ’n vietse, lewenslustige vrou van 79 wat drie keer per week 40 lengtes in die universiteit se swembad swem, so sterk op Craven trek – die vorm van haar kop; die priemende blou oë.

‘Soos ’n Nobelprys’

Joan in 2007 in Parys met die prys van die Internasionale Rugbyraad wat sy namens haar pa ontvang het.

Joan was tydens die Wêreldbekerrugbytoernooi in 2007 in Parys toe haar pa postuum by die Internasionale Rugbyraad se eregalery ingehuldig is. Dit was maar die derde keer in die geskiedenis van die IRR dat hy iemand só vereer het.

“Ek is genooi om dit namens hom te gaan ontvang. Dit is een ding van my pa wat ek dink nie genoeg prominensie gekry het nie. Dis vir my soos ’n Nobelprys. Die hele wêreld kon mense nomineer vir hierdie prys en toe was my pa een van die genomineerdes en hy is toe gekies as inductee number three. Die eerste ou was William Webb Ellis en daarna die Rugby School.”

Joan sê die ding wat sy by haar pa geërf het, is ’n analitiese brein.

Om Danie Craven se dogter te wees het haar lewe verryk, maar ook interessant gemaak.

“En dis hoekom ek kan wiskunde doen; that is my gift in life.”

Sy was jare lank ’n wiskundedosent aan die Universiteit Stellenbosch en het onder meer ’n rektorsprys vir voortreflike onderrig ontvang.

Sy help nou nog ingenieurstudente met hul wiskunde. Wanneer ons later met die trappe opstap na haar studeerkamer wys sy vir ons op haar Apple-rekenaar hoe sy ingewikkelde wiskundige stellings ontleed en oplos.

Interessante stories

Joan as volwasse vrou saam met Dok.

Om Danie Craven se dogter te wees het haar lewe verryk, maar ook interessant gemaak.

“Want as ek iewers kom en iemand hoor hy was my pa, dan vertel hulle vir my ’n storie, want hy het met soveel mense te doen gehad.

“So, daar is so baie interessante stories – nóú nog. Die een storie wat Dawie Snyman vir my vertel het, is nogal interessant. Hy sê destyds . . . Ek weet nie of mense dit almal weet nie, maar hulle het daardie plaas aan die anderkant gekoop, daar waar Coetzenburg en die Danie Craven-stadion is. En my pa kom toe een dag daar en toe is ’n stootskraper besig om die Jannie Marais-huis, waar die kantore van die sportburo nou is, te wil platstoot.

“En hulle sê my pa het voor die stootskraper gaan lê en gesê: ‘Stop nou net hierso.’ En toe klim hy in sy kar en hy ry daar na die administrasiegebou en hy gaan toe na die rektor se kantoor en hy sê: ‘Ek wil nou dadelik met prof. Thom praat.’ Hulle sê toe hy is nie nou beskikbaar nie. My pa het hulle geïgnoreer en ingestorm en gesê: ‘Prof. Thom, kom nou dadelik saam met my!’

“Hy gaan toe saam met my pa na die Jannie Marais-huis en hy sê toe vir hom: ‘Nee reg, ons sal dit hier stop, maar ons hét nie geld om hierdie plek te restoureer nie.’

“Toe sê my pa vir hom: ‘Moenie worry nie, ék sal geld kry,’ en hy bel toe vir Peter Barlow van Rustenburg-plaas en Barlow sê: ‘You’ve got it.’ En dís hoekom daai plek nou nog staan.”

In Wilgenhof

“Ek het gedink dit is ’n goeie geleentheid om hulde te bring aan my pa.” Foto: Adrian de Kock

Joan is die afgelope ruk besig om deur ’n kis te gaan waarin sy “klomp goed oor my pa” gebêre het.

“Daar kom ek toe nou ook af op iets wat ’n ds. P.J. Loots geskryf het wat saam met my pa in Wilgenhof [die universiteitskoshuis] was.

“Hy het geskryf: ‘Aan die begin van 1929 het Craven as gewone, onbekende eerstejaar op Wilgenhof aangekom. ’n Paar dae later het my kamermaat en ek een aand ’n eerstejaar benodig om ons skoene weer ’n slag skoon te kry. Toe ek die deur oopmaak, herken ek dadelik ’n eerstejaar hier naby my en ek beveel hom toe om nader te staan en met die werk te begin. Hy staan toe as onskuldige eerstejaartjie in my kamer om ’n ou heer se skoene te kom skoonmaak. Maar wie het geweet wat met hom gaan gebeur?

“Tog was ek sterk beïndruk met hierdie jong man wat my skoene behoorlik die les geleer het. Ek vra hom toe dadelik of hy voetbal speel. ‘Ja, meneer, sê hy.’ Ek vra: ‘En waar het jy nogal kamtig gespeel?’ Ewe beskeie sê hy toe dat hy die vorige jaar gekies was om vir die Noordelike Vrystaat teen die All Blacks te speel. Min verleë sê ek toe: ‘Jy verbeel jou natuurlik jy kan nou hier na Stellenbosch toe kom om Springbok te word, nè?’ ‘Nee, meneer,’ sê hy.”

Joan by ’n foto van haar pa wat die Springbokke lei in ’n toets teen die All Blacks. Foto: Adrian de Kock

Een van die stories oor haar pa wat aan haar groot plesier verskaf, is die een oor die “gebed” in die paleis.

“Nou die dag stuur ’n vriend in London my ’n berig uit London se Times oor seëngebede. En daarin word ook berig oor die Springbokke wat in Engeland getoer het en uitgenooi is na ’n deftige dinee in Blenheim-paleis waar die tafel met silwer messegoed gedek was. 

“My pa vra toe of hy die seën in Afrikaans kan vra want die spelers verlang huis toe. En toe ‘bid’ hy: ‘As een van julle boggers soveel as ’n teelepel vat, is julle op pad huis toe! Amen.’”

Verjaardagbrief van haar pa

Besig om te lees uit ’n brief wat haar pa vir haar geskryf het kort voor die geboorte van haar eerste kind. Foto: Adrian de Kock

Sy tel ’n stapeltjie papiere langs haar op en sê: “Hierdie brief het my pa vir my geskryf – dit was twaalf bladsye lank in sy handskrif, wat ek laat oortik het – toe ek my eerste kind verwag het. Daar kan jy sien hoe lief was my pa vir my.”

Die brief is aan haar en haar man, Piet, gerig en is op Joan se verjaardag geskryf. Craven wens haar geluk en skryf dan: “Dit sal die laaste verjaarsdag wees voor julle ouerskap en volgende keer sal julle dus in ’n nuwe era in julle lewe leef.”

Die grootste deel van die brief wy hy aan hoe Joan tydens hul verblyf in Engeland (waar hy as direkteur van liggaamsopvoeding van die weermag van die Unie van Suid-Afrika besig was met sy studie in liggaamsopvoeding) gebore is. En aan die gevaarlike seereis wat die gesin onderneem het toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek en hy ontbied is om na Suid-Afrika terug te keer. Hul skip is onder meer amper deur ’n Duitse duikboot gekelder.

Joan se doopplegtigheid.

Teen die einde van die brief wend Craven hom weer na sy dogter. Hy skryf:

“Oor jouself: Dit het my nie aangestaan dat ons jou saans alleen in die huis in St. Patrickstraat laat slaap het nie; maar jy het altyd goed en soet geslaap en die nag toe ons terugkom en jy is nie in jou bedjie nie. Die gesoek . . . en daar [is jy] by die agterdeur vas aan die slaap gehuil, net met ’n ‘nappie’ – die laaste keer dat jy alleen gelaat is [ . . .] Die tragiese en skokkende verlies van deel van jou voorvinger [deur ’n grassnyer se lemme] . . . weer toe ons jou alleen laat bly het, hierdie keer op Steeton [die Vrystaatse plaas waar hy grootgeword het], toe ons Lindley toe is.”

Selfstandige Joan

Joan en haar man, Piet, in hul huis in Stellenbosch. Foto: Adrian de Kock

Joan was die oudste van vier kinders.

“Ek het drie jonger broers gehad en hulle het al die aandag gekry. So ek was ’n bietjie soos ’n Orphan Annie . . . Maak nie saak nie, dit het my geleer om selfstándig te wees. Ek was dalk skaam toe ek op skool was, maar ek is oukei, moenie worry nie, jy kan my op enige plek los.

“So my pa het nie ooit miskien gewýs hoe lief hy vir my was nie. Ek het egter nóóit gevoel ek is afgeskeep nie. Ek was hokkiekaptein en ek was die skool se victrix ludorum, so ek was ’n natural; ek het nie met sport gesukkel nie.

My pa het gesê ’n mens moenie druk op die kind sit nie.
Joan Roux

“Maar weet jy wat, hy óf my ma het nooit kom kyk hoe ek aan iets deelneem nie. Maar ek het nooit gedink hoekom was hulle nie daar nie? Nou sê my mán: ‘Hóé weet ek my pa was nie daar nie?’

“Ek onthou dat ek gery het op my fiets van die atletiek af met al hierdie bekers wat so in my tas rinkel. En dan het ek gedink: ‘Dadda gaan trots wees op my.’ Ek het nooit gewonder waar was hy nie. As ek nou agterna daaraan dink; my pa het gesê ’n mens moenie druk op die kind sit nie. Ek wonder nog altyd: Was my pa nie êrens nie?”

Hoe het hy gereageer toe sy met die bekers by die huis aankom?

“Nee, dít onthou ek nie, maar ek onthou net ek het gedink: ‘Jís, maar Dadda gaan darem trots wees!’”

Meer oor:  Dawie Snyman  |  Danie Craven  |  Stellenbosch  |  Rugby  |  Wiskunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.