Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Nóú kan jy nie meer die middelvinger vir Skoor wys

Mkhuleko Hlengwa is die nuwe voorsitter van die waghond-komitee Skoor in die parlement. Hy het aan Willemien Brümmer gesê dis tyd dat ’n paar snyerspakke vir oranje oorpakke verruil word.

Mkhuleko Hlengwa, bloubloed Wunderkind van die IVP, wat nou getaak is met die “post mortems” in die heel belangrikste oorsigkomitee in die wetgewende gesag. Hier is hy in sy kantoor in die Marks-gebou by die parlement. Foto: Adrian de Kock

“Jy weet, Pappa, jou werk is baie raserig. Dis soos wanneer ons almal op die klimraam speel by die skool.”

Dís wat Mkhuleko Hlengwa, die nuwe voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), se vyfjarige seun te sê gehad het oor die parlement.

Dié bloubloed wonderkind van die IVP, op sy dag die jongste parlementslid, wat nou die “post mortems” in die heel belangrikste oorsigkomitee in die wetgewende gesag moet uitvoer. As die nuwe Skoor-soeker kan hy enige entiteit waarby die staat ’n belang het, ontbied om ’n iedere een wat belastinggeld wanbestee het, aan die pen te laat ry.

Op 32 is hy ’n rysige gestalte op die snypunt tussen tradisie en vooruitgang; dié seun, broer en kleinkind van tradisionele Zoeloe-leiers wat hul merk gemaak het in die parlement en die KwaZulu-Natalse wetgewer. Om sy regterarm is twee tradisionele bokvel-armbande wat hy gekry het tydens seremonies ter ere van sy voorvaders. Hy is geklee in ’n ensemble van blou met ’n modieuse skilpaddopbril en swart skerppuntskoene.

As die jongste (en langste) seun van wyle Inkosi Mhlabuyalingana Hlengwa, met sy dood in 2005 die adjunkspeaker in die KwaZulu-Natal-wetgewer, en die kleinseun (aan moederskant) van wyle Inkosi Calalakubo Khawula, ’n stoere IVP-leier van die suidkus, was hy gebore in ’n lewe van diensbaarheid, van plig en verwagtinge.

Agter hom pryk foto’s van hom saam met sy mentor, die IVP-leier Mangosuthu Buthelezi. Regs is ’n foto van twee vreeslose San-jagters wat slegs meters vanaf ’n jagluiperd jag.

Maar nou het hy ’n ander soort roofdier wat hy moet tem en dis waarskynlik die grootste uitdaging van sy lewe.

Buthelezi 'n mentor

Vir baie Suid-Afrikaners is die IVP-leier Mangosuthu Buthelezi ’n omstrede, dalk selfs potsierlike figuur, maar vir Mkhuleko Hlengwa, tans die woordvoerder van dié party, was hy ’n mentor en ’n onderwyser.

“Ons het ons verskille gehad oor sake soos enige kollegas, maar ek het baie van hom geleer,” vertel hy. “Ek het aan die voete van die meester gesit, ’n vryheidstryd-ikoon en iemand wat ek ’n formidabele stem van rede sou noem in ons demokratiese bestel, wat daagliks sy liefde vir die land demonstreer ten spyte van die onsinnige en ongegronde beswaddering wat hy moet verduur uit alle oorde deur verdoolde en stiksienige denkers.”

Dit was Buthelezi wat gesê het Hlengwa moet ’n kans kry toe ander lede van die party gesê het hy’s te jonk. “Ek het altyd gesê hy het ’n kans gewaag met my. Ek was onervare in hierdie ruimte en ek kan net hoop ek het reg laat geskied aan die vertroue wat hy in my geplaas het en ek probeer elke dag om my bes te doen omdat ek weet hy het sy eie reputasie op die spel geplaas binne die party.”

Hy sug soos ’n onderwyser oor ’n stout kind. “Jo, neem byvoorbeeld die departement van water en sanitasie – ek weet nie eens waar om te begin nie! Van finansiële wanbestuur tot die misbruik van die waterwetgewing tot die werklikheid van ’n georganiseerde sindikaat en geheime kliek in daardie departement vol individue wat mekaar duidelik tot die bitter einde sal verdedig. Wanneer ons met hulle interaksie het, kyk hulle jou skaamteloos in die oë, sonder enige sin vir rekenpligtigheid. Hulle sit letterlik agteroor en wys vir jou die middelvinger.”

Hy fluit. “Dis al hierdie dinge wat waarskynlik sal maak dat ons alle ander aktiwiteite moet opskort by Skoor totdat ons dít kan regkry. Jy weet, water is lewe, soos wat ons daagliks hoor. Ek kom uit ’n landelike gemeenskap. Jy kan my elektrisiteit van my steel vir tien dae, dis oukei, maar moenie my water steel nie.”

Hy strengel sy lang, delikate vingers ineen. “Ons het te doen met ’n situasie waar die departement wat ons betref bankrot was. En die korrupsie rondom die water en die onreëlmatige instruksies aan water-entiteite wat net vreemd was. Laaste minuut instruksies – ‘doen dit nou!’ – sonder die tyd vir omsigtigheidsondersoeke en om die potensiële invloed, die risiko en so aan, te bepaal. Dit was baie lukraak. Maar terwyl die operasies dalk lukraak gelyk het, was die strategiese benadering om te plunder baie georganiseerd.”

Dit alles te midde van die waterkrisis?

Hy knik lakoniek. Die departement het bloot besef hulle het nie die kapasiteit om in te gryp nie. “Dit sou hul tekortkominge ontbloot en dis hoekom hulle verward rondgeskarrel het – en toe het die liewe Here tussenbeide getree en sy mense gehelp, en natuurlik het die skelms toe terselfdertyd daaruit voordeel getrek.”

Hy beweeg daardie vingers soos druppels reën. “Dis asof die departement skielik die reën gestuur het!”

Wanneer red ons vir Prasa?

Mkhuleko Hlengwa onder sy foto’s van die IVP-leier Mangosuthu Buthelezi wat ’n kans gewaag het met hom en hom parlement toe gestuur het toe hy net 24 jaar oud was. Foto: Adrian de Kock

Die verrotting is egter allesbehalwe net by dié departement. Dis ’n “menslike hulpbronne bestuur-dilemma” wat “aktief deur die vorige regering geskep is oor die afgelope nege jaar”.

“As jy net kyk na baie eenvoudige dinge, soos die ouditeur-generaal wat sê finansiële verslae kom nie die standaarde vir verslagdoening na nie . . . Dis so eenvoudig, dis soos direkteur-generaal 101, dis soos hoof finansiële beampte 101, jy behoort nie regeringsdepartemente te hê wat op die verkeerde manier finansiële verslae opstel nie!”

Hy vee oor sy goed versorgde baardjie. “So, wat Skoor onder meer onmiddellik moet doen is ’n volskaalse oudit van die vaardighede, kennis en vakkundigheid van senior bestuur. Vanaf DG’s en hoof finansiële beamptes in die openbare ondernemings en in regeringsdepartemente, want hulle is die mense wat die strategiese rigting bepaal van die regering. Politici kom en gaan.”

Totdat en tensy mense hul snyerspakke begin verruil vir oranje oorpakke, sal ons nie ’n invloed hê met betrekking tot wat rekenpligtigheid beteken nie.

Hy plaas byna alle openbare ondernemings in dieselfde mandjie. “Jy kan nie ’n dag zero hê wat dreig by die openbare uitsaaier nie! Dis omtrent 9 miljoen mense wat op die een of ander manier nie ingelig gaan word nie. Maar hiér is wat my treiter: Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) dreineer die fiskus. Hulle verdien R31 miljard per jaar en hulle spandeer R33 miljard. Dis ’n eenvoudige onvermoë om jou finansies korrek te bestuur. Die SAL het die groot plunderaar geword wanneer jy hierdie finansiële inspuitings op inspuitings kry, maar my vraag is: Wanneer red ons vir Prasa? Die treine waarop die meerderheid Suid-Afrikaners moet ry na hul werk, na skole, na tersiêre inrigtings en om werk te soek. Niemand is gepla daarmee om vir Prasa ’n geldinspuiting te gee nie, maar die elite wat moet vlieg en nie assosieer met enige iemand anders nie, dwing ons die heeltyd in ’n ruimte in waar SAL gehelp moet word.”

Streng: “Totdat en tensy mense hul snyerspakke begin verruil vir oranje oorpakke, sal ons nie ’n invloed hê met betrekking tot wat rekenpligtigheid beteken nie. So ons sal almal met die wetstoepassingsagentskappe werk en die ouditeur-generaal bemagtig deur die jongste wysigings om seker te maak daar is ondersoeke en mense word aangekla.”

Die probleem is dat Skoor nie ’n “towerstaf” of ’n “silwer koeël” is nie, sê hy. “Ons doen die post mortems (in die parlement) en ons hoop ons kan die onmoontlike doen deur die dooies op te wek. As die portefeuljekomitees hul werk gedoen het, sou niemand by die post mortem-fase hoef uit te gekom het nie.”

Hoe gaan hy seker maak dat Skoor nie net ’n praatplek bly wat politici paai nie?

Hy haal diep asem. “Ek het die enorme invloed gesien waaronder ons land sal ineenstort indien ons hierdie ampsmisdrywe, hierdie onversetlikheid toelaat om te gedy. So as mense nou aanhou om die verkeerde ding te doen, plaas ek myself op die pad van mislukking. Veral as ek in ’n posisie is om iets te doen aan daardie swak gedrag, dan stel ek myself in die verleentheid, en ook my toekoms, dié van my seun, sy generasie en die meerderheid van Suid-Afrikaners wat in armoede leef en wat vertrou op ’n funksionele demokratiese diskoers om hulle uit daardie armoede te verlos.”

‘Mamma-se-seuntjie’

Mkhuleko by ’n foto van sy pa in tradisionele gewaad tydens ’n imbizo. Sy pa, Inkosi Mhlabuyalingwana Hlengwa, was met sy dood in 2005 die adjunkspeaker in die KwaZulu-Natal wetgewer. Foto: Adrian de Kock

Eintlik is hy in die wieg gelê vir ’n leierspos. Sedert sy kindertyd in Mzumbe aan die suidkus van KwaZulu-Natal het hy geleer “jy gedra jouself op ’n manier wat die openbare vertroue en gemeenskapsvertroue inboesem.”

Dit was veral sy ma, Phakamile Khawula, wat hom help vorm het en hom geleer het as jy wil groei, moet jy luister.

“Natuurlik bly ek ten diepste ’n mamma-se-seuntjie. My ma (’n verpleegster wat op haar dag self op pad was parlement toe) is twaalf jaar gelede op die 7de September 2007 oorlede nadat sy net vir drie dae siek was en ek was die een wat die spit moes afbyt deur daar te wees vir daardie drie dae.”

Sy oë word mistig. “My ma was alles waarvoor enige kind sou kon vra in ’n ouer. Mense sê dit word met tyd beter maar elke nou en dan voel jy net as sy maar net nog hier was . . . Maar aan die ander kant moet ek haar krediet gee dat sy my altyd aangemoedig het om onafhanklik te wees. En ek dink dis hoekom ek my eie mens kon word.”

ANC-voorsitters

Een van die eerste probleme waarmee Hlengwa te doene gaan kry as die nuwe Skoorsoeker in die parlement, is die feit dat die ANC nou sy probleemkinders met voorsitterposte in portefeuljekomitees beloon het.

Vir hom lê die probleem in die eerste plek by die kiesstelsel. “ ’n Groter probleem is die kiesstelsel in die land, want die ANC moet die kaarte speel wat hy gekry het deur sy strukture. Die poel mense waaruit hulle kon kies – van ministers tot portefeuljekomitee-voorsitters – is beperk tot wat hulle gekry het deur die strukture.”

Hy maak dit egter duidelik die IVP is nie ’n verlengstuk van die ANC nie, al dink party mense dié party sal nou na die ANC se voete dans nadat Hlengwa aangestel is by Skoor. “Wanneer hulle iets verkeerd doen kan hulle vir seker op my reken om dit uit te wys en hulle te kritiseer op ’n konstruktiewe manier soos wat die IVP histories gedoen het en steeds doen.”

Sy pa was ’n poligamis met twee vroue, maar hy was altyd daar vir al sy kinders en sy ma was “altyd onafhanklik”.

“Daar is hierdie wanopvatting oor tradisionele leierskap dat dit onderdrukkend is teenoor vroue en allerlei goed, maar ek kan jou sê dat ek nooit daardie soort werklikheid ondervind het in daardie ruimte nie.”

Al het sy pa hom nie aangemoedig om die politiek te betree nie, het Mkhuleko dikwels as kind vakansies saam met sy suster parlement toe gekom. En eintlik het hy nooit ’n kat se kans gehad om hom van die politiek rein te hou nie.

Diplomaties: “Daar was opsies, daar is altyd opsies, maar daar is altyd net een keuse.”

In 2009, terwyl hy ’n student is aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, besluit hy om ’n tak van Sadesmo, die IVP se studentevleuel, te stig.

Op 13 Maart 2011, sy pa se verjaardag, word hy verkies tot nasionale voorsitter van die jeugbrigade (’n pos wat hy binnekort afgee).

En toe, “een noodlottige Donderdagmiddag”, lê hy op die “TV-rusbank” wat hy “onteien” het in sy huis aan die Natalse suidkus. Die telefoon lui en dis Prins Buthelezi om te sê die party wil hom ontplooi na die parlement.

Reeds tydens sy oriëntering in die parlement sê ’n ANC-LP vir hom: “Dís die rede hoekom ons nasionale diensplig nodig het in hierdie land. Daar behoort nie kinders in die parlement te wees nie.”

Hy lag. “Daardie woorde weergalm elke dag in my gedagtes, maar dit was waarskynlik die beste vorm van ontgroening, want dit het my daaraan herinner dat nie almal gemaklik is met die jeug in hierdie ruimtes nie. Ek was toe (in 2012) die jongste parlementslid. Dis ’n titel wat ek nou met genoegdoening aan iemand in die DA oorhandig het.”

Mkhanyisi, die ligbringer

Mkhuleko oor sy rol as voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor): “Ons doen die post mortems (in die parlement) en ons hoop ons kan die onmoontlike doen deur die dooies op te wek.” Foto: Adrian de Kock

Die jaar toe hy parlementslid word was om meer as een rede vir hom ’n draaipunt. In ’n onlangse Facebook-inskrywing haal hy vir Charles Dickens aan in Tale of Two Cities. “It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness.”

“Toe my ma dood is het ek gevoel ek gaan in ’n baie diep depressie in en om myself daaruit te trek was baie moeilik. Ek kan net sê ek het oorleef omdat daar mense rondom my was wat genoeg omgegee het om dáár te wees vir my. En ek dink Suid-Afrika moet baie meer aandag gee aan psigiatriese gesondheid.”

Wanneer het hy begin herstel?

Maar ek dink die dood het my laat groei, dit het my ryp gemaak.

Sy bruin oë word vol lig. “Al wat ek weet is op die 27ste Februarie 2012, toe Mkhanyisi (sy seun) gebore is, moes ek ’n besluit neem. Ek moes op daardie oomblik besluit of ek sou swem of sink en ek het besluit om te swem. Daar was hierdie klein seuntjie, hy was net te oulik, en op daardie oomblik was die lewe vol moontlikhede. Dis hoekom ek hom Mkhanyisi, die ligbringer, genoem het.”

Hy glimlag teer, staan op. ’n Jong kroonprins met die wêreld aan sy voete wat steeds in kontak is met sy hart.

“Jy weet, ek dink nogal heelwat oor hoe die mense na aan my die tydige met die ewige verwissel het en party mense dink ek is baie morbied. Maar ek dink die dood het my laat groei, dit het my ryp gemaak. Ek het belangrike lesse geleer daaruit. En daardie lesse is om te sê: ‘Leef!’. My pa het geleef en nie wakker geword nie. Wanneer my tyd kom wil ek tevrede wees dat ek gelééf het.”

Meer oor:  Anc  |  Ivp  |  Skoor  |  Prasa  |  Mkhuleko Hlengwa  |  Mangosuthu Buthelezi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.