Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘Ons vat onse taal en storie terug’

Kay Karriem, dinamiese redakteur van die tydskrif Kuier en een van die aanbieders van die geselsprogram Tussen Ons, vertel aan Murray La Vita hoe ’n reeks beroertes amper haar lewensdroom verydel het.

Kay Karriem in Kaapstad in ’n onderhoud oor haar lewe en haar werk. Foto: Adrian de Kock

As jy so lank nie die geleentheid gehad het om jou storie te vertel nie – soos in Suid-Afrika waar mense van mekaar geskei was – is daar ’n oorgangstyd nodig waarin mense hulle eie stories wil vertel.

“Dit nie outomatiese ’n geval van ‘ons was geskei van mekaar en nou is ons sommer almal een’ nie,” sê Kay.

As redakteur van die tydskrif Kuier, wat baie klein begin het en nou in sy tiende jaar Media24 se tweede grootste tydskrif is, gee sy aan mense – veral bruin vroue – die geleentheid om hul eie stories te vertel. Sy doen dit ook as een van die mede-aanbieders van die kykNET-geselsprogram Tussen Ons, wat pas ’n ATKV-veertjie vir die beste vermaaklikheidsprogram gewen het.

“Toe ek in die media beland het, het ek al klaar geweet daar is soveel mense se stories wat nog vertel kan word. En ek het gevoel as ’n Afrikaanse mens, ’n bruin mens, sién ek myself nie in die media nie.”

Kay het ’n regsgraad aan die Universiteit van Kaapstad behaal en was nie van plan om ’n joernalis te word nie, maar sy het by Beeld in Johannesburg ingeval om haar Media24-beurs terug te betaal.

“My plan was om daarna weer te gaan studeer en my LLB te doen. Maar ek is nooit weer terug nie. Ek het in 1996 by Beeld begin en dit was nogal ’n baie lekker tyd in ons transition as ’n land en die eerste keer wat ons eintlik oopgemaak het vir mekaar, en om daai tyd in die media-wêreld te wees was nogal ’n kwaai belewenis want jy was heeltyd deel van die verandering; jy vertel die storie van verandering . . .

Ons vat onse taal en onse storie terug en vertel onse eie storie.

“Ek wil nooit voel asof ék die bruin mens of die bruin vrou verteenwoordig nie, maar ek het destyds al gevoel enige bydrae wat ék kan maak om net vir ons, en vir myself, daar ook ’n stem te gee.

“Die ding met Afrikaans en die media is . . . en dit is wat my ook so lank gedryf het om iets soos Kuier op die rak te sien, is daai hele ding van: ‘Hoekom vertel julle onse stories vir ons?’

“I love Poppie Nongena; but it is somebody else telling your story. En ek dink dít is deel van byvoorbeeld Kuier en Son: Ons vat onse taal en onse storie terug en vertel onse eie storie. En vir my was dit baie belangrik om deel van daardie proses te wees.”

Nog soveel werk

Kay saam met Tracey Lange en Zelda La Grange, twee van die mede-aanbieders van Tussen Ons. Foto: Verskaf

Mense vra haar of daar nog in ’n verenigde Suid-Afrika plek vir ’n Kuier is.

“Ek sê: Ábsolúút, jy kan nie oorbeweeg totdat jy daai geleentheid gehad het om die wêreld uit jóú oogpunt te sien en jou storie te vertel nie. Ek het altyd gevoel daar is iets missing. Dis hoekom ek in die media gebly het want daar was nog soveel werk om te doen.”

Ná haar tyd by Beeld het sy Die Burger se nagnuusredakteur geword en later gevorder tot besturende redakteur van Huisgenoot.

“Ná jare van praat oor dié bruin tydskrif was ek nie daar toe Kuier uiteindelik die lig sien nie, want toe is ek in my eerste siektesituasie. Dit was nogals vir my disappointing!”

Kay vertel hoe sy weens een van die kleiner beroertes wat sy gehad het vir ’n ruk die gehoor in haar een oor verloor het.

“Toe ek nie kon hoor nie, was dit die mééste wat ek nog ooit geluister het, want toe besef ek as jy so iets verloor, waardeer jy dit nie net soveel meer nie, jy leer om beter te luister – ek dink dit was vir my ’n baie groot les.

“Die eerste beroerte was die mees disruptive een want toe het ek rêrig ’n bietjie skade gekry in my brein. Dit was so ’n groot skok vir my.

“Hulle het my uitgesit vir ’n rukkie en toe ek wakker raak, het ek geweet iets is nie reg met my brein nie . . . Ekke wat nou my hele lewe half ge-rely het op my kop, [sy raak aan die lieflike koepel van haar geronde voorhoof] my verstánd, want ek het geweet ek sal dit nie gemaak het as ek net average was nie . . . So dít het altyd vir my gehelp dat ek goeie punte gekry het en dat ek goed kon redeneer en alles.

Dit was die eerste groot skok: Dat ek nié meer ten volle myself was soos wat ek voor dit was nie.

“En toe ewe skielik voel dit vir my dít is nou weg, so wié is Kay dan nou eintlik? En ek onthou toe ek die eerste keer my oë oopgemaak het, al wat ek in my kop gehad het, was: ‘Weet ek wat is my ID-nommer? Ken ek my bank se PIN? En toe ek daai twee onthou, toe dink ek: Ek sal orraait wees.

“Maar dit was die eerste groot skok: Dat ek nié meer ten volle myself was soos wat ek voor dit was nie.”

Sy het wel goed herstel.

“My dokter vermoed die beroertes is as ek onder baie erge stres is en daar is ’n skielike spike van hoë bloeddruk – sommige mense s’n gaan na hulle hart toe en myne gaan na brein toe.”

‘Wees net jouself’

Kay in die kantoor van die tydskrif Kuier. Foto: Adrian de Kock

Ons praat oor haar rol as een van die aanbieders van die geselsprogram Tussen Ons.

“Vir my was dit amazing om in my 40’s so ’n geleentheid te kry. Mense sê: ‘Dis ’n natuurlike verlenging van wat jy doen – jy’s met mense en ’n gemeenskap en stories besig.’ Maar vir my was dit nogals nié so ’n natuurlike extension nie . . . Ek lyk nie soos iemand wat op TV kan wees nie, so ek het gedink miskien rádio of boeke, maar TV was nooit op my agenda nie.

“So ek was die een wat die meeste verbaas was toe hulle vra of ek nie wil deelneem nie. Toe het ek gesê: ‘Is okay, ek like die projek; dis vir my fantásties, maar as ek nie lekke lyk op TV nie dan sê ons vir mekaar dis ’n flop.’

“Wat my baie gehelp het, is toe ek vir hulle sê: ‘Ek práát nie mooi op TV nie en ek kan myself mos nie mooi beheer nie’, toe sê hulle vir my: ‘Die één ding wat ons wil hê, is dat jy net jouself moet wees.’

“En toe ek dáái kry, toe voel ek: ‘Wel, oukei . . .’ Die druk was onmiddellik af, want ek dink dit is ook iets waarmee ek ook my hele lewe nog struggle, is om te probeer ínpas. Ek was net nog nooit iemand wat lekker ingepas het nie – altyd stroomop; altyd te veel te sê; doesn’t toe the line, ek hou mos nie van gesag en al daai nie – bietjie van ’n rebel ook nog.

As jy nie weet wie jy is nie, dan groei jy nie as ’n mens nie. Jy kan nie ’n bydrae lewer tot enigiets nie.

“Ek probeer soveel as moontlik myself wees, maar dan vra mense nou weer: ‘Is jy regtig so in die regte lewe?’ Dan sê ek: ‘Maar dít is die regte lewe.’ Maar daar is verskillende aspekte van jou persoonlikheid. Miskien kom my mal kant meer uit op TV . . . Ek kan nooit genoeg sê oor die amazing vrou wat ek mee saam is nie.”

Haar mede aanbieders is Tracey Lange, Zelda la Grange, Ingrid Jones en Success Lekabe.

“Elkeen kom mos nou met húlle storie en húlle ervaring. Ons vyf kom uit verskillende plekke en generasies en wat vir my fascinating is, is hoe ons op die oppervlak verskil, maar eintlik het onse stories soveel gemeen.

“So jy sien ’n refleksie half van jouself, maar dit is nie heeltemal jy nie, so daar is nou nog baie om oor nuuskierig te wees en te leer. Ek voel ek leer nog die heel tyd.

“Maar die grootste nuuskierigheid moet natuurlik oor jouself wees. As jy nie weet wie jy is nie, dan groei jy nie as ’n mens nie. Jy kan nie ’n bydrae lewer tot enigiets nie. En jy weet ook nie wat is vir jou belangrik nie en wat is jou doel hierso; wat wil jy kom doen nie.”

‘Ons is rêrig gelykes’

“As ek nie lekke lyk op TV nie, dan sê ons vir mekaar dis ’n flop.” Foto: Adrian de Kock

Hulle probeer met Tussen Ons om “weer stemme te gee en ’n gesíg te gee aan stories en aan mense” wat jy voorheen nie gesien het nie.

“En ek dink ook, as jy my sal verskoon, ek dink rêrig ons is in die era van hér story; history is nou ’n bietjie meer op die agtergrond. Jy kry al daai #MeToo-bewegings en al daai goed kom nou so uit en dit is ook omdat vroue reclaim, hulle is besig om daai space te reclaim . . . Soos in: Ons ís rêrig gelykes.

“So vir my is Tussen Ons amper ’n natuurlike extension daarvan op TV. En wat ek óók baie daarvan hou, is dat dit so Suid-Afrikaans en van toepassing is op ónse lewens. En ek dink hulle doen nogals baie moeite om onderwerpe te kies waaróór mense praat.

Die ander ding wat vir my nogals hectic is, is die afwesige pa.

“Een van onse beste programme was oor Alzheimers. Dit was vir my skokkend; dit was vir my roerend . . . Ja, nommer een dat soveel meer mense met ouer ouers daarvoor begin uitkyk en dit is deel van jou lewe; dit is iets wat jy moet manage, maar ook: Die verganklikheid van jou as ’n mens . . . Jy kan nie help om te dink nie: ‘Wat as dit ek was met ’n ouma of ’n ma met die Alzheimers?’

“Die ander ding is: ‘Wat as ék?’ want jy weet, as jy een keer ’n breinding gehad het, wonder jy altyd: Is dít nou die pad hierso?

“Die ander ding wat vir my nogals hectic is, en dis iets wat in my eie lewe is en in dié van die Kuier-gemeenskap, is die afwesige pa . . . Die pa wat nie papgeld betaal nie of net afwesig is, en wat dít aan ’n samelewing kan doen.

“Dis vir vroue en vir meisies móéilik om te verstaan. Dis iets waaroor ’n mens nie heeltemal altyd oor closure kry nie.”

Kay se oupa

“Maar die grootste nuuskierigheid moet natuurlik oor jouself wees.” Foto: Adrian de Kock

Kay het in Tiervlei (Ravensmead) en later in Kraaifontein grootgeword. Haar ma en haar biologiese pa is nooit getroud nie.

“Ek ken hom glad nie. Hy is nie deel van my lewe nie . . . My oupa het my eintlik grootgemaak. Al die goeters wat . . . Daai werketiek, daai ‘education is liberation’ . . . Ál daai goed . . .

“My oupa het vir die spoorweë gewerk; hy’t my net so gevoer die heeltyd – boeke; ek het gelees nog voor ek skool toe gegaan het, want daai man het net gelees en heeltyd moes ek ook lees.

“Hy’t geglo jy moet opgevoed word. En dis eintlik hý wat gesê het: Moenie laat iemand anders jou standaarde vir jou definieer en vir jou sê jy kán nie so ver gaan nie; jy kan nét dít doen nie – gaan vir wat jy wil.

“Vir my is dáái belangrik. Álmal het verskillende omstandighede, maar as jy net daai één mens het wat agter jou staan . . . want as jy niks het nie is dit moeilik om in jouself te glo. Jy moet die heel tyd daai een in jou oor hê wat sê: ‘You’ve got this.’”

Meer oor:  Zelda La Grange  |  Tracey Lange  |  Afrikaans  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.