Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘Polisie kán gered word’

Wat tans verkeerd is in die polisie kan “omgekeer en reggestel word”, sê adv. Lennit Max, voormalige Wes-Kaapse polisiekommissaris, en tot onlangs Bheki Cele, minister van polisie, se spesiale raadgewer, aan Murray La Vita.

Adv. Lennit Max by die lewensgrootte beeld van ’n leeu in die voortuin van sy huis in Welgelegen. Foto: Adrian de Kock

“Soos jy kan sien – Madiba is dáár en hy is dáár,” sê Lennit Max (57). Hy sit op ’n groen leerbank in die sitkamer van sy huis in ’n noordelike voorstad van Kaapstad en wys na afbeeldings van oudpres. Nelson Mandela wat oorkant hom aan albei kante van die sitkamerdeur hang.

“As ek hier sit, dan kyk ek na hom en dan herinner hy my aan ’n Suid-Afrika waarna ons almal gestreef en voor gehoop het . . . En kyk waar is ons nou. Ons is in ’n krisis, om eerlik te wees. Ekonomies, geweld, werkloosheid . . . daai ingredients binne die een pot is maar gevaarlik.”

Die onderhoud met Max vind plaas dae nadat die sesjarige Nathalia Pienaar in Lavender Hill op die Kaapse Vlakte doodgeskiet is. Dit te midde van die weermag se teenwoordigheid op die Kaapse Vlakte om die polisie in die stryd teen bendegeweld te help.

Dit het ook pas bekend geword dat honderde polisielede landwyd aan operasionele diens onttrek is nadat hulle weens onder meer ’n gebrek aan ammunisie, nie hul jaarlikse vaardigheidstoetse vir vuurwapens kon aflê nie.

Max is ’n voormalige polisiekommissaris en LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, en was tot Mei Cele se spesiale raadgewer. In dié hoedanigheid het hy talle konsultasies met polisiebestuurslede en gemeenskapspolisiëringsforums gedoen om hul probleme te verstaan.

Hy praat aanvanklik oor sy kinderjare in die Overberg en wat hom laat besluit het om ’n polisieman te word. Hy moes die skool weens ’n gebrek aan geld ná st. 6 verlaat en saam met sy pa as draadspanner op plase gaan werk.

Hulle was te pragtig, te netjies.

“Daarna het ek op die jeugdige ouderdom van 16 of 17 op die spoorweë gaan werk as ’n arbeider in Botrivier . . . Die werk was hard en ek het besluit hiér kan ek nie op pensioen gaan nie. Ek het toe verder deur Sukses-kollege gestudeer.”

Hy het altyd die begeerte gehad om ’n polisieman te word.

“Hulle was te pragtig, te netjies. As ons aan die end van die maand van die plaas af dorp toe gegaan het in my pa se bakkie . . . Toe’s ek nog ’n laerskoollaaitie . . . Dan gaan kyk ek of ek ’n polisievan sien. En soos die polisievan ry, het ek op die sypaadjie saamgeloop . . . Hulle het daai groot Dodge-vans gehad . . . Nét om te kyk hoe netjies is hierdie mense.”

Daar was wit en bruin polisiemanne, maar die bruin lede “het nie gun gedra” nie.

Elke ding op sy plek

“Ek was baie lief vir die polisie; ek het myself regtig uitgeleef in die polisiediens.” Foto: Adrian de Kock

Netheid is klaarblyklik steeds vir hom belangrik. Hy is onberispelik geklee in ’n Polo-baadjie en blink swart skerppuntskoene. Ook die siersteenhuis is silwerskoon met elke ding – die groot rangskikking kunsblomme, die klein opgestopte volstruisies en volstruiseiers op die vloer by sy voete; die foto’s en memorabilia van sy loopbaan as polisieman en as politikus in die DA, die Onafhanklike Demokrate en die ANC – op sy plek.

“Ek is in 1980 polisie toe en ek is polisiekollege toe en van die polisiekollege af was ek konstabel hier in die Kaap en toe is ek deur al die range tot luitenant-generaal toe ek kommissaris geword het.

“Ek het in 1982 my matriek deur Sukses behaal en my grade het ek gedoen deur Unisa – B.Proc en LLB – en toe doen ek my LLM in arbeidsreg en my forensiese kwalifikasies deur UWK.

“Ek was baie lief vir die polisie; ek het myself regtig uitgeleef in die polisiediens . . . Ek wil nou nie arrogant klink nie, maar ek was in die apartheidsjare die jongste nie-wit persoon in ál die range in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Op 38 is ek aangestel as die Wes-Kaapse kommissaris. Hulle het my altyd gebruik waar daar probleme was.”

Ek het toe in ’n sinkhok gebly want ek het nie mense geken in die Wes-Kaap nie.

In sy tyd as kommissaris was daar die vlaag pypbomaanvalle en ander Pagad-geweldpleging, en ook die skietaanvalle op Golden Arrow-busse in die Kaap.

“Onder my bevel is hierdie storie met die pypbomme opgelos. Ons het ook die busskieter gearresteer. En daar is ’n klomp Pagad-ouens gearresteer.

“Net om bietjie terug te gaan – toe ek in Oktober 1980 by die polisie aangesluit het; daardie éérste week, ek was nog ’n student gewees, toe jaag die bendes my daai Vrydagaand hier in die Elsies [Elsiesrivier]. Ek het toe in ’n sinkhok gebly want ek het nie mense geken in die Wes-Kaap nie; ek het in ’n plakkerkamp in Louw se Bos gebly.

“So die bendes jaag my toe daar deur die shanties. Die manne op die spoorweë het my gewaarsku: ‘Jy gaan bendekos word.’ En toe ek so hardloop toe kom daai woorde deur my kop.”

Nes vir bendes

Max by van die foto’s van hom as polisie-offisier wat in die portaal van sy huis hang. Foto: Adrian de Kock

Die oorsaak van die geweld wat ons tans op veral die Kaapse Vlakte ervaar, is sosio-ekonomiese verval.

“Dit is in baie gevalle dalk veroorsaak deur mense se hervestiging tydens apartheid [toe gemeenskappe soos Distrik Ses verwoes is]. Maar aan die ander kant is daar die gebrek aan werkgeleenthede en die feit dat mense nie so ernstig is oor die opvoeding van hul kinders in die bepaalde gebiede nie. Hier is gebiede wat ek nou al besoek het waar die maatskaplike omstandighede háglik is en ’n nés vir bendegeweld en misdaad is.”

Die haglike omstandighede kan nie deur polisiëring opgelos word nie.

“Iewers moet ons begin om iets te doen aan die maatskaplike omstandighede, en as ons nie gaan begin met ’n gefokusde, geïntegreerde en ’n gemeenskapsgeoriënteerde benadering nie, dan gaan ons nêrens kom nie.

“As Alan Winde [Wes-Kaapse premier] en die nasionale regering goed op hul eie gaan doen sonder om die gemeenskap deel te maak van daardie hele program, met hulle insette van elke . . . Die kerke moet ’n verantwoordelikheid hê wat hulle moet nakom, hulle kry hulle taak; besigheidslui kry hulle taak . . . die nieregeringsorganisasies word getaak, en élke een het ’n rol saam met die regeringsdepartemente, wat die begroting moet verskaf, om die omstandighede te verbeter.”

‘ ’n Skande’

“As jy ’n verskil wil maak aan misdaad in hierdie land, dan sal ons twee keer soveel polisiebeamptes in diens moet kry as wat ons tans het.” Foto: Adrian de Kock

Ek pols hom oor die tekort aan ammunisie in die polisie en die probleme wat daaruit voortspruit.

“Dit is ’n skánde! Dit is ’n skande dat jy sit met ’n situasie waar ’n klomp vuurwapens verlore raak; waar ’n klomp ammunisie verlore raak; waar daar ’n tekórt is aan ammunisie om polisiebeamptes in staat te stel om te voldoen aan die Vuurwapenwet en die polisieregulasies. Dit wys vir jou daar was nie behoorlike beplanning gewees nie en dít gaan gepaard met swak dissipline.”

Ek dink Cele het die energie en die wil om dalk ’n verskil te maak.

Dink hy Cele is opgewasse vir die reuse-uitdagings van sy portefeulje?

“Ek dink Cele het die energie en die wil om dalk ’n verskil te maak. Die kwessie is die know how. Hóé. Die kundigheid om dit te doen. Ek dink dít ontbreek. Maar aan die ander kant moet jy ook weet die polisie het ’n beperkte begroting en nou praat hulle . . . hulle wil iets soos R6 miljard gevat het van die polisie. Dit kán nie gebeur nie, dan is ons totáál ’n shithole country soos wat Trump sê; dan gaan ons dít word, want jy kan nie; jy kán nie, veral nóú waar misdaad . . .

“As daar nie veiligheid is nie, het jy nie skole wat opereer nie, jy’t nie ’n ekonomie wat kan groei nie, want daar gaan nie beleggings wees nie; daar’s nie besighede nie; dis cháos; niémand . . . géén ekonomie floreer in ’n land waar daar chaos is nie. Ek sê veiligheid éérste, dán volg die ander. Jy moet ’n klimáát skep wat voldoende is vir die ander dinge om te kan realiseer.”

‘Geamputeerde’ polisie

Private sekerheidsmaatskappye het vier keer meer lede as die polisiediens. En die armstes onder die armes het nie toegang tot private sekerheidsdienste nie, sê Max.

“’n Mens moet kyk na ’n samewerkingsooreenkoms tussen die polisie en [behoorlik opgeleide en legitieme] sekerheidsbeamptes.

“Ek het na die reservistebeleid gaan kyk en ek het vir die minister gesê die polisie het homself geamputeer met daai huidige beleid want jy kan nie ’n reservis word as jy nie ’n heeltydse werk het nie . . . terwyl ons werkloosheid op 27% staan, word jong mense wat nie ’n werk het nie, verhoed om aan te sluit. Wat is die alternatief? Misdaad.

“Ek het vir die minister gesê hier kan jy hom oplei en jy kan hom werkgereed maak en jy kan hom die nodige kundigheid leer en jy kan hom aanwend.

Max is geesdriftig oor die aanwending van tegnologie in misdaadbekamping. Dit sluit in die gebruik van hommeltuie en beskermingstegnologie soos ligte en verwyderbare pantserskerms.

“Dan is dit ook so dat jy nie ’n reserwelid mag word as jy ’n werknemer van ’n sekerheidsfirma is nie. Toe sê ek: As jy gaan kyk na die cash in transit . . . die sukses daar is te danke aan die samewerking tussen die polisie en sekerheidsmaatskappye. Nou daai selfde mense kan as polisiereserviste gekeur word.

“So, ek hoop dat die reserwebeleid sal verander sodat ons méér mense betrokke kan kry en kan oplei as reserviste sodat dit ’n toevoeging kan wees tot ons permanente lede se getalle.

“As jy ’n verskil wil maak aan misdaad in hierdie land, dan sal ons twee keer soveel polisiebeamptes in diens moet kry as wat ons tans het. Andersins is ’n voltydse weermagondersteuning wat ons moet kry.”

Max is geesdriftig oor die aanwending van tegnologie in misdaadbekamping. Dit sluit in die gebruik van hommeltuie in plaas van helikopters, en beskermingstegnologie soos ligte, verwyderbare pantserskerms en koeëlvaste vensters wat aan voertuie geheg kan word – veral in bendegeteisterde gebiede.

Nog ’n voorstel is die merk met kodes van sowel die koeëldoppies as die punte en ontstekers van ammunisie. Die kopers van ammunisie sal deur dié stelsel met die misdaadtoneel verbind word.

‘Polisie kan verander’

“Ek het na die reservistebeleid gaan kyk en ek het vir die minister gesê die polisie het homself geamputeer met daai huidige beleid.” Foto: Adrian de Kock

Max sê sou hy genader word vir die pos van nasionale kommissaris van polisie sal hy dit “baie, baie sterk oorweeg”.

“Ek glo die polisiediens kán omgedraai word. Ons kán professionaliteit daar hê. Ons kán korrupsie in die polisie uitroei as élke bevelvoerder op watter vlak ook al vólle verantwoordelikheid neem vir dit wat hý of sý moet doen. Sodoende kan vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens herstel word.

“Dit wat tans verkeerd is in die polisie, kan omgedraai en reggestel word met die nodige wilskrag en leiding van jou topbestuur in die polisie asook die politieke ondersteuning wat daar tans is.”

Hoe lank sal so ’n proses neem?

“In die polisiediens het jy ’n voorkomingsbeen en jy het ’n ondersoekende been. Nou, jou ondersoekende been sal stadiger neem want die kwaliteit van ondersoeke en dossiere moet voldoen aan die vereistes om ’n skuldigbevinding in die hof te kry.

“Maar wat die ander goed betref – jou sigbare polisiëring . . . Laat ek nou vir jou sê, jy sal . . . Ek kan vir jou guarantee, as ek die nasionale kommissaris is en die nodige hulpbronne word beskikbaar gestel en ek het die nodige ondersteuning van die president – ek praat nou hipoteties – gaan jy binne ses maande sê: ‘Hier is merkwáárdige veranderinge in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.’ En dít kan ek jou guarantee.”

Meer oor:  Lennit Max  |  Bheki Cele  |  Kaapse Vlakte  |  Misdaad  |  Weermag  |  Ekonomie  |  Polisie  |  Veiligheid  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.