Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Rolanda ‘begin verbrokkel’

Rolanda Marais praat met Murray La Vita oor haar rol in Netwerk24 se blitssepie Die Testament en vertel hoe moeilik dit vir haar was om ’n “vieslike rassis” te wees in die nuwe rolprent Poppie Nongena.

Rolanda Marais op die stel van die sepie 'Die Testament'. Foto: Adrian de Kock

Meer dramaties kan dit beswaarlik: Houtbaai. ’n Bewolkte dag buite ’n groot swart huis in ’n vallei omring deur berge. Die pragtige Rolanda Marais (41), geklee in ’n swart rok en subtiel omgeef van die parfuum Comme de Garcon.

Maar wanneer Rolanda begin praat, is daar nie sprake van teatraliteit nie. Aan die woord is ’n sterk, intelligente vrou wat nie huiwer om haar weerloosheid en vertwyfeling te deel nie.

“Ek cope nie eintlik nie. Ek is besig om uitmekaar te . . . Ek is besig om stadig maar seker te verbrókkel binnekant. Ek het gedink dit is moontlik, maar ek het nóú vir die eerste keer agtergekom . . . Omdat Die Testament só . . . Dis 22 dae wat ons skiet. Ek staan 5:30 op en ek kom agtuur die aand by die huis [in Bellville] en dan moet ek 20 bladsye se woorde leer én ek moet nog ’n ma wees.”

Sy en haar man, die regisseur Jozua Malherbe, het ’n dogtertjie, Charlotte, wat amper drie is.

“Én as sy siek word, soos nou die dag . . . dis báie moeilik. Iets gee in, en gewoonlik is dit jou gesondheid of jou humeur,” sê sy en lag uitbundig.

Ons is op die stel van Netwerk24 en Via se blitssepie Die Testament, waarin Rolanda die rol speel van die argitek Annchen Weyers. Sy is op die oomblik ook besig om te skiet aan ’n nuwe seisoen van die reeks Fynskrif.

“Ek voel my werk is vir my soos ’n kind omdat ek myself emosioneel óópmaak en ek maak myself kwesbaar. Dit is nie net ’n ding van ek kom werk toe en ek doen my werk en ek gaan huis toe en vergeet daarvan nie.

“Eerstens kan ek nie moeg lyk nie en dit is nogal ’n uitdaging as ’n mens min slaap en so aanhou en aanhou en aanhou . . . En tweedens, ek is ook net mens; ek is nie ’n masjien nie. Om woorde te onthou as jy moeg is, is ’n uitdaging.”

Heeltyd skuldig

Het hierdie uitmergelende omstandighede haar al haar loopbaan laat heroorweeg?

Rolanda oor haar rol as Annchen in 'Die Testament'

“Annchen is ’n argitek. Sy het so vyf jaar gelede weggegaan van die huis af. Sy het ’n baie slegte verhouding met haar pa gehad. Hy was geweldig manipulerend en negatief en oordonderend en sy het net besef sy kán nie meer nie . . . Vir haar eie beswil en om haarself weer te vind moes sy wegvlug van hom en sy het toe ’n nuwe lewe gaan maak in Johannesburg.

“Intussen is hy oorlede en die familie moes weer bymekaarkom om die testament te lees en te kyk wie kry wat en wat hulle nou moet doen met die estate waar hulle bly.

“Sy kom dan terug en sy het twee broers en die testament word gelees. En die pa het vir hulle ’n video gelos – vir élkeen van hulle. En omdat sy so ’n liefde-haat-verhouding met hom gehad het, sukkel sy om hierdie video klaar te kyk . . . Sy sukkel eerstens om dit aan te skakel en te kyk.

“En soos wat die storie aangaan, kry sy die moed en sy kliek start en sy hoor wat hy vir haar te sê het en dít is waar alles begin.”

“Ek gaan deur oomblikke wanneer ek dink ek sal nie hierdie kan doen nie – ek kan nie ’n ma en ’n aktrise wees nie. Ek sal dit kan doen as ek klein rolle speel, maar as ek ’n hoofrol kry, weet ek nie of ek sal kan aangaan nie.

“Maar dan is daar die tye wat ek nié werk nie wat ek dink wat my nou gelukkig gaan maak, is om ’n goeie rol te speel; om my tande te kan slaan in ’n lékker stuk teater of iets. En dít is daai push-pull en daai love-hate.

“Ek het, voordat ek nog ’n ma was, ’n aktrise met twee dogtertjies een keer hoor sê sy is ’n beter ma as sy werk, en ek verstaan nou wat sy bedoel.

“Maar dit is daai ding wat hulle van ouerskap sê – jy voel die heeltyd skuldig. So, as ek by die huis was . . . En ek het ná Die Seemeeu en ná Die Waterfront besluit ek gaan nou vir ’n tydjie lank net advertensies doen en ek gaan nie reekse aanvat nie, ek wil by die huis wees en ek wil net na Charlotte kyk, wat ek dink ’n baie goeie besluit was, maar daar was stadiums wat ek gedink het ek wil net wegkom van haar af en my eie ding doen dat ek net weer vóél wie ek is en myself weer kan vínd. Ons heg ons identiteit en ons waarde maar aan die werk wat ons doen . . .

“We’re not saving lives. Partykeer voel dit vir my na so ’n banále beroep en ek kan partykeer nie verstaan hoekom ek so iets wil doen nie, maar ek kan myself níks anders sien doen nie.”

Nederigheid

Die hoofkarakters in Netwerk24 se aanlyn-blitssepie 'Die Testament' is van links Amrain Ismail-Essop as Sandra Maritz, Andahr Cotton as Jacques Weyers, Rolanda Marais as Annchen Weyers en Nico Panagio as Bastian Weyers. Foto: Misha Jordaan

Met elke rol groei jy.

“En ek dink dit is waarom baie akteurs jonk bly, want jy hou aan ontwikkel en verken. Niks is ooit dieselfde of eentonig nie. Daar is altyd nuwe kamers wat jy ontdek.

“Jy kry akteurs wat dink hulle weet alles en hulle is nou die geskenk aan die bedryf en dan kry jy die akteurs wat met die begin van elke nuwe produksie daar sit asof hulle dit die eerste keer doen. Dis die Anna-Marts en die Sandra Prinsloos en die Marius Weyerse. Ek leer só baie by hulle oor nederigheid en geen ego, want as daar geen ego is nie dan kan jy altyd aanhou speel en jy kan altyd diéper delf.

“Maar die oomblik as die ego involved is . . . Oeg! Dan wil jy te mooi lyk. Jy wil nie sleg lyk nie. Jy wil nie vet lyk nie. Jy wil nie dít doen nie want dit gaan nie . . . Veral aktrises.”

Arnold Vosloo is ook iemand vir wie sy baie respek het. Hy vertolk die rol van die speurder in die rolprent Griekwastad, waarvan haar man Jozua die regie behartig het, en sy speel sy vrou.

‘Jy voel veilig’

Rolanda as Magriet Swanepoel in die rolprent Poppie Nongena. By haar is Clementine Mosimane wat Poppie speel. Foto: Verskaf

Om saam met Marthinus Basson te werk, het van die hoogtepunte in haar loopbaan opgelewer.

“Spesifiek Aars! en Romeo en Julia. Ek het daarna vir jare lank nie met Marthinus gewerk nie en nie teater gedoen nie, en toe het ek nou vanjaar in Koningin Lear weer met hom gewerk. En ek het net weer besef wat ’n absolute réús hy is en dat elke sessie wat hy met ons het soos ’n meesterklas is. Sy werk is vir my bevredigend op alle vlakke.

“Die een ding wat nogal uitstaan met Marthinus is jy voel gewéldig veilig en jy voel nooit of jy veroordeel word nie. Hy het ’n emosionele intelligensie. Hy verstaan só hoe om met élke liewe persoonlikheid te werk. Hy het net ’n manier om álmal te laat voel dat hulle oukei is.”

Sy is daai mens wat ek persoonlik van ’n krans wil afstamp. Sy is die een soort mens wat ek in my lewe die meeste haat.

Ook Christiaan Olwagen is iemand vir wie sy ’n groot agting het.

“Christiaan is ’n ongelooflike talentvolle mens en ook ’n vriend. Hy is die een regisseur wat my geweldig uitdaag en hy kies altyd vir my rolle wat hy weet ek mee gaan sukkel, maar wat hy ook weet ek baie éérlik en goed sal vertolk. Hy het vir my gevra om ook in sy Poppie-film te wees. Dis maar net ’n klein rol, maar ek onthou ek het toe sommer ja gesê nog voordat ek die teks gelees het.

“Toe lees ek die teks en toe is dit die lélikste karakter . . . Hierdie aaklige, aaklige rassis – ek speel Magriet Swanepoel, Antoinette Swanepoel [die vrou vir wie Poppie werk; gespeel deur Anna-Mart van der Merwe], se suster. Sy is ’n entitled, terrible mens; sy is daai mens wat ek persoonlik van ’n krans wil afstamp. Sy is die een soort mens wat ek in my lewe die meeste haat.

“En ek wou amper vir hom bel en sê: ‘Jissie, ek kan nie hierdie doen nie. Ek wíl nie so ’n vieslike rassis speel nie. Maar ek onthou hy het van die begin af vir my gesê: ‘Ek wil hê jy moet dit speel want ek wéét jy sal iets bring wat ánders sal wees; wat interessant sal wees; nie te obvious nie.’”

Vrot vleis

“En ek dink dit is waarom baie akteurs jonk bly, want jy hou aan ontwikkel en verken.” Foto: Adrian de Kock

Sy vertrou hom “verskriklik” met die karakters wat hy vir haar gee.

“Hy gee altyd vir sulke karakters met baie vleis wat ek kan aftrek.” Sy hou haar hande voor haar soos kloue. “Maar ook vrót vleis, en die vrot is nie vir my so lekker nie. So hy hou daarvan om letterlik die derms uit te ryg. Dit is wonderlik. En dit is vir my geweldig bevredigend om saam met hom te werk.”

En baie terapeuties.

“Met Die Seemeeu het hy vir my gesê . . . Daar in die eindtoneel waar my karakter [Nina] totaal en al ’n breakdown kry, en hy vir my gesê ek raak altyd voor so ’n toneel ’n bietjie snaaks, en hy kom dit agter . . . Dit was soos in Johnny is nie dood nie.

Ek háát dit om te speel en ek voel ek jok nou vir myself. Ek moet rérig sincere wees.

“Hy het vir my gesê: ‘Ek wil vanaand vir jou sê jy kan vanaand daai Rolanda begrawe . . .’ So, hy is so ’n bietjie van ’n sielkundige. Maar hy is ’n wrede een want hy forseer jou om te gaan na daardie vrot vlees . . .”

Wat bedoel sy met sy “raak ’n bietjie snaaks”?

“Ek raak . . . Ek is nogal gewoonlik verskriklik geduldig en vriendelik, maar ek raak dan so ’n bietjie geïrriteerd en my energie raak so ’n bietjie passive agressive. Sónder dat ek dit eers besef, want ek probeer myself so inhou . . . Maar wat gebeur, is ek probeer myself voorberei om te gaan grawe in my guts. En ek móét dit doen; ek kan nie net induik en grawe nie. Ek wéét . . . En dis so ’n dag of twee voor die tyd wat ek besef: goed, ek sal moet gaan grawe; en ek sal ordéntlik moet grawe want hy is nie gelukkig met ’n leuen nie. En ék ook nie. Ek háát dit om te speel en ek voel ek jok nou vir myself. Ek moet rérig sincere wees en hy help my so mooi daarmee.”

‘Hiperbewus van alles’

Hoekom het sy ’n aktrise geword?

“Dit was of dít of sielkunde. Ek het ’n toets gaan doen en toe sê die vrou ek moet ’n sielkundige word want ek is geïnteresseerd in die mens en die rede hoekom mense sekere dinge doen. En dis dan net so obvious dat ek toneelspeel gekies het, want jy ondersoek altyd die menslike psige en jy probeer elke karakter verstaan en jy is gefassineer deur hoe mense hulle insecurities wegsteek en hoekom hulle op sekere maniere reageer.”

Sy is empaties.

“Dit is uitputtend, want jy is die heeltyd bewus van alles en almal. Maar dit is die moeite werd want dit laat ’n mens emosionele intelligensie ontwikkel. Ja, dit kom ook met sy torture . . . Dat jy só híperbewus is van álles en álmal en die rede hoekom hulle dit doen dat dit jou soms uitput. Ek het al gedink ek wens ek was nie so bewus van wat om my aangaan en die mense en mense se gevoelens nie – dit sal soveel mákliker wees om met emosionele oogklappe aan deur die lewe te gaan.”

‘Teater gee hoop’

“Films en teater gee vir jou hoop.” Foto: Adrian de Kock

Watse waarde het die werk van akteurs in ’n samelewing?

“Ek voel dit ontketen gesprekke, beïnvloed dalk wêreldbeskouings, en ook, dit hou mos maar ’n spieël op vir mense. Veral mense soos Christiaan en Marthinus se werk laat mense rêrig gesprekke voer – of mense nou kwaad is of meegevoer; daar is áltyd ’n reáksie, en dít is wat vir my so wonderlik is.

“Die rede waarom ek toneelspel gaan studeer het, is omdat ek twee stukke van Marthinus gesien het: Boy Meets Boy en Cabaret. En ek onthou hoe Boy Meets Boy my geaffekteer het. Ek het daar uitgeloop en gedink: Ek wil mense move soos hierdie show my gemove het; ek wil deel wees van so iets.

“So vir my . . . Films en teater gee vir jou hoop. Dit is ’n geweldige ontvlugting, maar terselfdertyd is dit ’n geweldige óópvlék van die waarheid van die mens en ons eintlike agendas."

* Die Testament word deur VIA en Netwerk24 vervaardig en gaan van 2 September af op Netwerk24 uitgesaai word. Netwerk24-intekenare kan elke weeksdag na ’n 5-minute-episode kyk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.