Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ben & Bez: Skreeusnaaks en ‘maller as die werklikheid’

Die situasies in hul sketskomediereeks Ben & Bez gaan vir kykers herkenbaar wees, maar dit gaan net so ’n bietjie “maller” wees as die werklikheid, sê Schalk Bezuidenhout en Bennie Fourie aan Murray La Vita.

Schalk Bezuidenhout, vervaardiger Scharl van der Merwe van Nagfilms, en Bennie Fourie op die stel van Ben & Bez. Foto: Petrie Schoeman

’n Man op ’n eerste afspraak met ’n vrou. ’n Konfrontasie tussen twee pa’s en hul skoolseuns se rugbyafrigter. ’n Boer, ’n Kakie en ’n graf. Die Bokheld Faf de Klerk tot die redding. Inbrekers.

Bekende situasies en figure? Ja, maar . . .

“Baie van die sketse is gegrond op die werklikheid of die idee ontstaan uit iets, ’n soort interaksie, wat elke dag tussen mense gebeur. Maar . . . wat as?

“ ’n Voorbeeld van ’n alledaagse situasie is: Daar is elke dag iewers in die wêreld ’n ou wat by sy vriend kla oor sy girlfriend wat al hierdie reëls het in die verhouding,” sê Schalk.

Dan vat ons dit nou net na ’n volgende stap waar dit rêrig weird is.

“So, dit begin as iets wat normaal en alledaags is en dan vat ons dit daai stappie verder en dit is hoekom dit dan so ’n bietjie maller as die werklikheid raak.

“Wat as daai reëls só belaglik is dat hy die Hokey Pokey moet doen elke keer as hy opstaan van ’n stoel af of uit die bed uit, of wat ook al?

“Dít is dan waaroor die skets ‘Girls met reëls’ gaan. Of, byvoorbeeld daardie een, ‘Enigiets vir my fans’, waarin Simoné Pretorius haarself speel. Dit is iets wat elke celeb kan sê: Jy het een keer ’n fan teëgekom wat net so ’n klein bietjie weird was of ’n bietjie af was . . . Dan vat ons dit nou net na ’n volgende stap waar dit rêrig weird is.”

’n Hond en ’n baba

Dit is vroeg Januarie. Schalk sit in ’n airbnb in Umhlanga. Bennie is by familie in Durbanville, noord van Kaapstad. Ons praat per Zoom oor Ben & Bez, hul sketskomediereeks van 12 episodes wat op 2 Februarie op Netwerk24 begin.

Die sketse volg die formaat van internasionale sketskomedies soos Key & Peele, Fry & Laurie en Monty Python’s Flying Circus.

Dit is ’n woelige onderhoud waarin die twee bekende akteurs en komediante oor en weer skerts en terg.

Bennie en Schalk verskyn in verskillende gedaantes in al die sketse, maar elke skets vertel ’n ander verhaal. Ander akteurs sluit in Brümilda van Rensburg Frank Opperman, Beer Adriaanse, Mila Guy en Bouwer Bosch.

Hierdie joernalis het van die sketse onder oë gehad en kan verklaar dit is van die snaaksste en wonderlik vreemdste kykstof wat hy tot nog toe beleef het.

Dit is ’n woelige onderhoud waarin die twee bekende akteurs en komediante oor en weer skerts en terg. Woordspelings is volop. Daar word baie gelag. Schalk se hond, Otis, maak ’n verskyning. En in Durbanville skreeu ’n baba in ’n stadium blou moord.

‘Iets absurds’

Aan die skater in ‘Girls met reëls’. Foto: Petrie Schoeman

Bennie: “Wat sal gebeur as jy opgevat word op die challenge dat jy enigiets vir jou fans sal doen? ‘Girls met reëls’ is ’n verkenning van so iets. As ’n ou vir jou byvoorbeeld vra: ‘Het jou girl ’n reël dat sy jou byvoorbeeld een keer ’n week met ’n byl mag kap?’ of wat ook al. Dis sommer net ’n sêding en dan sal ’n mens normaalweg sê: ‘Nee, man, dis nie só erg nie. Maar dan speel jy die hipotese uit van: Ja, dit ís die geval. Die fun daarvan is om as jy ‘ja’ sê te kyk waarnatoe gaan hierdie ding.

“Dis ’n lekker beginsel – as ek iets absurds op die tafel sit, in plaas van om te sê: Nee, dis nie dít nie, sê: Ja, dit ís. Dan maak dit ’n wêreld oop waarin die interessante ‘wat as?’ verken word.”

Met sketse kan ’n mens bekostig om groter risiko’s te neem as byvoorbeeld in ’n gewone televisiereeks.

Die sketse word – benewens die skreeusnaaksheid daarvan – gekenmerk deur ’n effens onheilspellende, donker energie.

“Ek dink die donkerheid kom ook dááruit. As jy die skets vat oor die paartjie op hul eerste date in ’n restaurant en daardie moment van absolute vrees wat die man beleef oor hoe die [waansinnig suinige] vrou gaan reageer as sy hoor hoeveel die steak kos.

“Mense voel so ’n klein bietjie daai gevoel binne hulle as hulle sien ’n situasie is ongemaklik. Jy voel asof jy daai kyk [’n klein hulpkreet of smagting na solidariteit?] vir iemand gee, maar ons maak dit cinematic en heavy dramaties.”

Kakie en Boer

Op die toneel van 'Graf grou
Op die toneel van 'Graf grou'. Foto: Petri Schoeman

Schalk sê jy moet altyd die gehoor “inlaat”.

“Jy moet dit eers toeganklik maak vir die gehoor. Jy maak eers die deur oop en laat hulle in deur iets wat bekend is aan hulle. So, die situasie begin altyd met iets waar jy gaan: ‘O, ek het dit al gesien, ek weet wat hier aangaan.’

“Die skets ‘Graf grou’ met die Kakie en die Boer begin en almal gaan: ‘O, dis ’n situasie wat vir my bekend is. Ek ken die Anglo-Boereoorlog; ek weet die Boere en die Kakies het mekaar gehaat en mekaar doodgemaak.’ Daai is die hoek waarmee jy die mense vang en dan katrol jy hulle in met die belaglikheid [absurditeit].”

Met sketse kan ’n mens bekostig om groter risiko’s te neem as byvoorbeeld in ’n gewone televisiereeks, glo hy.

“Vanuit ’n Suid-Afrikaanse rolprentkonteks is dit ook lekker, want ons kry kans om in ’n verskeidenheid van genres te speel. As jy kyk wat se genres ons alles in dié sketsreeks het: Daar is period pieces, daar is horror en suspense, daar is aksie, daar is romance,” sê Bennie.

Pret om te skiet

Schalk sê hulle sal in die toekoms ’n selfs nog groter verskeidenheid wil verken.

Bennie: “Dit was soveel pret om hierdie sketse te skiet. Ek dink wat ons albei se brein gebreek het, is hoe goed ons make-up-persoon was. Noudat ons weet ons kan onsself taamlik transformeer, sal dit lekker wees om dit in gedagte te hou vir die toekoms.

Die begroting was nie groot nie, maar daar was omtrent niks waarvoor hulle nee gesê het nie.

“Ek wil my hoed ook afhaal vir Scharl van der Merwe wat ons gehelp vervaardig het. Die begroting was nie groot nie, maar daar was omtrent niks waarvoor hulle nee gesê het nie, wat ons nié kon doen nie.

“So, ons hoop hierdie ding kan vatplek kry en dat daar nog daarvan vervaardig kan word. En dan wil ek en Schalk ook daarna kyk om hierdie Ben & Bez later as ’n verhoogproduksie aan te bied.”

’n ‘Cool look’

Simoné Pretorius, Schalk Bezuidenhout en Bennie Fourie in ‘Enigiets vir my fans’. Foto: Petrie Schoeman

Ons praat oor hoe hulle begin saamwerk het.

“My eksmeisie het my gesleep na ’n stand-up comedy show van hierdie ou toe en toe is ek soos: Hy het ’n cool look . . .”

Droë laggie.

Schalk: “Ek onthou ek was in 2015 besig met shows in Durban toe Bennie my bel. Hy het gesê: ‘Hi, jy ken my nie, my naam is Bennie Fourie. Ons produce Hotel, ’n show vir kykNET . . .”

Toe het Bennie ook so stadig maar seker begin eksperimenteer met stand-up en so aan. Ons het ook een of twee shows saam gedoen.

Bennie: “Ek onthou. Toe sê jy: ‘Wág, ek ken jou! Jis, jy’s great, ek wil saam met jou werk.’”

Schalk: “Toe het Bennie ook so stadig maar seker begin eksperimenteer met stand-up en so aan. Ons het ook een of twee shows saam gedoen. Uit dit uit kom toe Die Intermissie nadat Bennie sy kursus in Amerika gaan doen het oor sketskomedie en hy dit nou hier wou voortsit.

“Ek was toe vir twee jaar saam met Bennie in Die Intermissie [’n sketskomedie met vyf akteurs waarvan Bennie die regisseur was]. Ek dink omdat Die Intermissie so uitdagend is net in terme van die size daarvan – almal wat daarin was, is baie suksesvolle en besige mense – wou ek en Bennie toe ’n ding saamdoen wat net admin-gewys ’n bietjie makliker is. En ek dink ek en Bennie het ook nogal dieselfde werketiek.”

Om saam te skryf

Bennie: “Werk tot jy omval en . . .”

Schalk: “Ja, werk tot jy omval en as ’n ding nie reg is nie dan moet jy aanhou. Ons albei is so half . . . sesuur opstaan en tot middernag rehearse as dít is wat die ding gaan vat tot ’n sekere level waarmee ons dan tevrede is.”

Ek dink ’n mens weet wanneer ’n ding snaaks is, maar is dit régtig snaaks?

Bennie: “Dit is ook vir my lekker om iemand te kry wat daai dryfkrag het in terme van om saam te wil skryf en nie net wat ook al op die bladsy is te gaan rehearse nie.”

Is hulle perfeksioniste?

Bennie: “Ek dink ’n mens weet wanneer ’n ding snaaks is, maar is dit régtig snaaks? Is dit die beste wat hy kan wees? Ons los hom nie totdat ons nie régtig tevrede is dat dit die beste weergawe is nie.

“Baiekeer dan sal ons . . . Ons het báie idees vir báie sketse wat ons op ’n muur op papier gesit het en dan bly net die bestes oor en dan probeer jy hulle nóg sterker maak.”

‘So wyd as moontlik’

Schalk en Bennie op die stel van ‘Bond & Valet’. Foto: Petrie Schoeman

Hulle wil nie mense doelbewus aanstoot gee of kwaad maak met hul werk nie, sê Schalk.

“Ons doel is eintlik die teenoorgestelde. Ons wil hê ’n wye spektrum van mense moet dit kan geniet. Ons maak dit nie vir ’n nismark nie. Ons wil hê jou ouma in die ouetehuis moet daarvoor kan lag én die spektrum tussen liberaal en konserwatief. Ons wil so wyd as moontlik op daai spektrum val.”

Het die feit dat die wêreld en Suid-Afrika in die greep van ’n pandemie is ’n rol gespeel in hoe hulle hul werk benader?

“Ons het gevoel mense is ’n bietjie gatvol daarvoor, so vergeet daarvan as jy nie iets briljants het wat rêrig iets nuuts sê nie. Wat dink jy, Scalla?”

Jy móét als interrogate en oordink, en ek háát dit; ek haat dit om als so te oordink, maar dit voel asof ’n mens nie ’n ander opsie het nie.

Schalk: “In terme van die inhoud van die sketse was dit minder die pandemie en meer net waar die wêreld nou is – nie net in 2020 nie, dit bou nou op oor ’n klomp jaar.

“Die hele woke culture [iets wat al beskryf is as ’n oordrewe politieke korrektheid] van die wêreld, byvoorbeeld. Ek persoonlik . . . dit pút my uit. As jy sien hoe mense links en regs gecancel word [stemme word stilgemaak of mense word uitgewys, gekritiseer en gebrandmerk] . . . almal is in die moeilikheid oor iets.

“Jy het dan amper nie ’n keuse nie – jy móét als interrogate en oordink, en ek háát dit; ek haat dit om als so te oordink, maar dit voel asof ’n mens nie ’n ander opsie het nie, want dit is nou maar die wêreld waarin ons lewe.”

‘Geleende opinies’

Schalk in die rol van ’n vrou wat van haar kop af raak oor pryse in ’n restaurant in ‘Vir ’n Coke’. Foto: Petrie Schoeman

Komediante en satirici se werk gaan juis oor die uitlewing van vryheid van spraak en is veronderstel om grense te verskuif.

“Daar is eintlik ’n groot rebellie teen hierdie woke-kultuur omdat dit neerkom op sensuur van ’n aard – jy mag nie dit doen nie, jy mag nie dat doen nie; jy mag nie joke hieroor nie en jy mag nie joke daaroor nie.”

Hulle sê jy mag nie iets doen nie, maar hulle verstaan nie regtig hoekom hulle dit sê nie.

Dit voel vir hom of baie mense slegs ’n “geleende opinie” het, sê Bennie.

“Hulle sê jy mag nie iets doen nie, maar hulle verstaan nie regtig hoekom hulle dit sê nie. Dit is waar ons nou is as kultuur. Ons het net hierdie geleende antwoorde en ons het nie self keuses gemaak daaroor nie.”

Schalk: “Die uitdaging is om in komedie twee goed gelyk te doen – iets wat baie moeilik is om reg te kry. Jy moet deeglik bewus wees van wat die woke-kultuur sê jy mag sê en nié sê nie en jy moet dit respekteer. Maar terselfdertyd moet jy nie omgee nie.” Hy lag. “Jy kan nie dat dit aan jou voorskryf nie. Jy kan nie dat dit jou rule nie. En jy kan nie dat dit jou in ’n hok sit nie, maar jy moet jou oor op die grond hê en weet wat is die reëls van die samelewing op die oomblik. En jy moet daai reëls nakom en terselfdertyd breek.”

Soos soetkoek verkoop

Bennie en Schalk in ‘Groot Rugby’. Foto: Petrie Schoeman

Ons is ’n land wat rêrig lief is vir lag, sê Bennie.

“Ons het dit nodig en ons gebruik dit as ’n coping mechanism. So, mense is reg daarvoor, maar die skets-platform is nog net nie baie verken nie.

“Schalk het in hierdie tyd baie online shows gedoen en daai shows het soos soetkoek verkoop, want die mense wou lag, hulle was lus daarvoor.”

My meisie se pa het nou die dag gesê dit gaan nou van nommers na name. Dit was eers net nommers gewees en nou is dit name.

Schalk: “Jy hoor net die heeltyd op social media van mense wat gaan: ‘Ag, ons moet maar lag in hierdie tyd.’ Of: ‘Ons het hierdie lag só nodig.’

“Ja, dit is so, maar dit is ook ’n ontvlugting as jy na ’n skets kyk. Al is dit vir vyf minute, al is dit ’n vyf minuut lange ontvlugting van die feit dat jou tannie nou net aan Covid dood is. Dit is nou ’n realiteit. My meisie se pa het nou die dag gesê dit gaan nou van nommers na name. Dit was eers net nommers gewees en nou is dit name.”

Bennie: “Dit is amper asof jy iets met iemand deel. Dis soos ’n geskenk wat jy vir iemand gee. As iemand vir my ’n goeie skets stuur, voel dit amper soos ’n verjaardaggeskenk. En dít is wat lekker is van hierdie geleentheid – ’n mens kan daardie goedvoel met iemand anders deel.”

Ben & Bez begin op 2 Februarie op Netwerk24. Nuwe episodes sal elke Dinsdag en Donderdag vrygestel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.