Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘Suid-Afrikaners moet hulle gedra’

As almal hulle gedra en die regte ding doen, sal dit nogal goed met Suid-Afrika gaan, sê Jan-Jan Joubert aan Murray La Vita in ’n gesprek oor sy boek Gaan Suid-Afrika oukei wees? – 17 sleutelvrae.

Jan-Jan Joubert gesels in sy woonstel in Seepunt oor sy boek wat pas verskyn het. Foto: Jaco Marais

Ons land was al soveel keer op die rand van die afgrond en dit is nóóit te laat om die regte ding te doen nie, sê Joubert.

Hy sit skuins oorkant my aan ’n glastafel in sy woonstel in Seepunt. Agter hom is ’n hele muur vol boeke. Buiten die feit dat hy wydbelese is, het sy bykans twee dekades as politieke joernalis hom ook goed toegerus om die pasverskene boek – sy derde – te skryf.

Dit is met kenmerkende geesdrif en intensiteit dat Joubert verduidelik waarom hy dink daar hoop vir Suid-Afrika is.

As ek kyk na die stand van die nasionale diskoers en net hoe lelik mense byvoorbeeld met mekaar is op sosiale media . . . Ek kan nie verstaan dat dit gebeur nie...

“As ons ’n paar dinge reg doen . . . En ek praat hier veral van ons as individue. Jy weet, daar is in Suid-Afrika – en ook in ons Afrikaanse gemeenskap, omdat die meeste Afrikaanse mense nie die regering ondersteun nie – so bykans ’n gevoel van die land moet maar besluit en die regering moet maar besluit en ons vat dit nou maar.

“Dís nie hoe dit werk nie. Ek skryf in die laaste hoofstuk jy moet eerstens by jouself begin voordat jy vir enige owerheid wag.

“As ek kyk na die stand van die nasionale diskoers en net hoe lelik mense byvoorbeeld met mekaar is op sosiale media . . . Ek kan nie verstaan dat dit gebeur nie en ek kan nie verstaan dat mense dink dit help enigiemand nie – dit help veral nie jouself nie.

“Daardie soort van slegte projeksie is baie ongesond vir jou. So, mense moet probeer om hulle te gedra, dink ek. Dís stap een. As almal hulle gedra en die regte ding doen, dan sal dit nogal goed gaan.”

“Ons familie baklei eintlik nooit nie.”Foto: Jaco Marais

‘Elke ou moet self besluit’

Ons praat oor die toename in Suid-Afrikaners wat emigreer.

“Wel, dit gaan nie op die oomblik goed nie; dis vir seker so. En die probleem is dat dit lyk of ons regering nie eintlik meer idees het nie en ook nie die vermoë om moeilike besluite uit te voer nie. Soveel as wat ek gesê het dit hang van jouself af, hang dit óók van hulle af.”

Ek het baie respek daarvoor as mense ’n baie goeie werkaanbod in die buiteland kry en dan positief soontoe gaan – nie slegpraat van die land nie...

Wat emigrasie betref, moet “elke ou vir homself besluit”.

“Ek dink net enige besluit moet ’n positiewe besluit wees. Ek het baie respek daarvoor as mense ’n baie goeie werkaanbod in die buiteland kry en dan positief soontoe gaan – nie slegpraat van die land nie; hulle belangstelling behou en as Afrikaanses hul Afrikaansheid behou.

“Ja, daar is op die oomblik beslis ’n groter uitvloei van kundige Suid-Afrikaners en dit is een van die dinge waaroor ek skryf.

“As ons sê Suid-Afrika het al sy kinders nodig – maak nie saak watter ras hulle is nie – en ons het al die kundigheid nodig wat ons kan kry, moet ons dit nie vir ons kundige mense moeilik maak om in die land te wees nie.”

“Vir my is dit noodsaaklik om die geskiedenis te verstaan.”Foto: Jaco Marais

Aggressie by swart mense

Hy het begrip daarvoor dat mense meen omdat “ons staat besig is om te misluk” kan dit gevaarlik vir hul kinders wees.

Dit lyk asof die oorgrote meerderheid wit mense wat op sosiale media aan die nasionale diskoers deelneem, amper geen belangstelling het in wat swart mense se ervaring is nie ...

“En baie wit mense wat konvensionele politieke oortuigings het, voel hulle en hul kinders gaan vir altyd geblameer word vir ’n verlede waaraan die kinders in elk geval geen deel gehad het nie; en dat die regering en die nasionale diskoers nie genoegsaam almal se bydrae verreken om pósitief oplossings te vind vir die land nie.

“Aan die swart kant is dit egter dieselfde. Dit lyk asof die oorgrote meerderheid wit mense wat op sosiale media aan die nasionale diskoers deelneem, amper geen belangstelling het in wat swart mense se ervaring is nie en ’n vreeslike afwysende uitkyk op hulle het: Swart mense het nog nooit iets reggekry nie; hulle is net sleg; kyk hoe neuk hulle die land op, tipe van ding.

“Daardie soort ding lei tot gewéldige aggressie by swart mense want daar is baie swart mense wat natuurlik baie positief tot ons land bydra.

“So, dis na alle kante toe wat hierdie negatiewe rassesienings op die oomblik deurkom en ek dink dit het ’n groot invloed op die emigrasie-ding want jy kan nie jou ras verander nie. As jy iets het wat jy nie kan verander of gekies het nie en dit word die heel tyd teen jou gegooi – hetsy jy swart of wit is – dan maak dit jou ’n bietjie depressief.”

“Toe ek gebore is, was ek verskriklik gestremd gewees.”Foto: Jaco Marais

Zille laat gety draai

Gaan Suid-Afrika oukei wees? is voltooi voor die onlangse verwikkelinge in die DA. Hoe sien Joubert die huidige stand van sake in dié party?

“Ek het nie verwag dat Helen Zille gaan terugkeer nie. Dis nog te vroeg om te sê wat die uitwerking van haar terugkeer [as voorsitter van die DA se federale raad] uiteindelik gaan wees. Sy sê sy sal in haar baan bly, maar wie bepaal die grootte van die baan? Ek het ’n spesmaas sý bepaal die grootte van die baan.

Mnr. [Mmusi] Maimane moes die dag ná die verkiesing bedank het; dít is die liberale manier – as jou party agteruitgaan, dan bedank jy.

“Ek dink wat in die afgelope weke in die DA gebeur het, is eintlik maar ’n voortsetting van die afgelope omtrent drie jaar, waar die party baie koersloos en amorf geraak het. Mnr. [Mmusi] Maimane moes die dag ná die verkiesing bedank het; dít is die liberale manier – as jou party agteruitgaan, dan bedank jy.

“Die wyse waarop dit gebeur het, is nie vir die DA goed nie. Maar ’n mens tel hier in die Wes-Kaap op – beide in die geselsdiskoers en in die sosialemedia-diskoers – die terugkeer van Zille het die gety in die Wes-Kaap weer terug na die DA toe gedraai.

“Die moeilike vraag is: Waarheen nou vir die progressiewe vleuel van die DA, die linkerkant? Dit is ’n nierassige groepering, dit is nie net swart mense nie, maar veral ook jong en middeljarige wit mense, wat onseker is oor die huidige toon van die DA. Dit lyk so half hardvogtig, en ek dink dit sal vir hulle baie jammer wees as die DA ’n hardvogtige party word – ’n tipe neokonserwatiewe party wat hom voordoen as liberaal.

“So, die vraag is: Gaan dít die toonaard van die DA wees? Wat vir my opvallend is, is dat sedert die terugkeer van Zille is die swart leierskap van die DA doodstil. Jy hoor níks. Ek gesels met van hulle en my lees van die situasie is dat hulle ontséttend onseker is oor die rigting waarin dinge nou gaan beweeg.”

“As almal hulle gedra en die regte ding doen, dan sal dit nogal goed gaan.” Foto: Jaco Marais

‘Nie skaam vir mag’

Hulle wag om te kyk wat gaan gebeur.

“In hierdie stadium gaan Zille bepaal wat gaan gebeur. Sy het die mag en sy was nog nooit skaam om, wanneer die mag aan haar gegee word, iets daarmee te doen nie.

“Wat ek in die boek sê, is wat in die afgelope vyf of sewe jaar in die DA verkeerd geloop het, is dat die party so ’n bietjie van ’n spietkop-ingesteldheid gekry het. Spietkops is baie belangrik en hulle red lewens, maar niemand is bly om ’n spietkop te sien nie.

Die DA het so half van ’n vermanende vingertjie gekry en sy Alan Paton-liberalisme verloor.

“Die twee dinge wat die Suid-Afrikaanse liberalisme anders maak as liberalisme wêreldwyd, is ‘the attempt to comprehend others’ en ‘the generosity of spirit’. En ek dink die DA het dít ’n bietjie verloor.”

‘Tree ordentlik en beskaafd op’

Joubert verwys dikwels na hoe sy waardes en lewenshouding bepaal word deur hoe hy “grootgemaak is”.

“Ons familie – en ek praat nie net van die gesin nie – baklei eintlik nooit nie, want ons voel die tyd is te kort daarvoor. So, as ons van mekaar verskil, dan sê ons: ‘Ek verskil van jou,’ en dan beweeg ons aan.

Toe ek gebore is, was ek verskriklik gestremd gewees – daar was ernstige breinskade as gevolg van ’n suurstoftekort – en die opinie in Pretoria was dat ek slegs beskermde arbeid sou kon verrig.

“Dit was altyd belangrik vir my voorouers ook. My ouma-hulle was baie sterk daarop dat jy altyd ordentlik en beskaafd probeer optree.

“Toe ek gebore is, was ek verskriklik gestremd gewees – daar was ernstige breinskade as gevolg van ’n suurstoftekort – en die opinie in Pretoria was dat ek slegs beskermde arbeid sou kon verrig. Ek kon níks doen tot op ouderdom drie nie. En toe het my ouers Durban toe verhuis omdat daar ’n uitstekende skool vir gestremdes is – die Brown Skool in Pinetown.

“Ons het toe in die Afrikaanse gemeenskap van Pinetown inbeweeg. Jy weet, hoe jy grootword, is vir jou normaal, want jy ken niks anders nie, maar oor tyd het ek geleer dat daardie waarskynlik die mees liberale Afrikaanse gemeenskap in die wêreld was. Dinge wat vir ons normaal was, sou vir die tagtigerjare-deursnit nié normaal gewees het nie.”

“Dit lyk of ons regering nie eintlik meer idees het nie en hulle het nie die vermoë om moeilike besluite uit te voer nie.”Foto: Jaco Marais

‘Kyk na die kwesbaarstes’

Op hoërskool het mnr. Floors Brand, hoof van die Gelofte Skool, altyd vir hulle gesê: “Jy moet dít doen waaroor ander nog nie gedroom het nie.”

“Hy het ook altyd as jy by die skool begin, gesê: ‘As jy nie in die eerste ses maande in my kantoor was omdat jy die skoolreëls uitgedaag het nie, is jy nie besig om ’n bydrae te lewer nie. Jy móét dink, jy móét ordentlik wees en jy moet áltyd, áltyd eers na die kwesbares kyk.’

“Party mense sien dit as polities korrek, of asof dit iets is wat iemand anders uitdink en jy moet probeer om daarvolgens te leef – dis nie in my geval so nie. Dis maar net ’n kwessie van ordentlikheid en om altyd te kyk na diegene . . . na die ander eerste, en veral na die kwesbaarstes.”

* Joubert se boek, wat ook in Engels verskyn het, word op 21 November om 17:30 in die Book Lounge in Kaapstad bekend gestel. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP en -woordvoerder, sal met hom ’n onderhoud voer.

'Jy leer ander deur geskiedenis ken'

Geskiedenis, waarin hy ’n honneursgraad aan die Vrystaatse Universiteit met lof behaal het, lê Joubert na aan die hart.

“Vir my, en vir ons familie, is geskiedenis absoluut . . . Dis hoe ons gerat is. Toe ek klein was en soggens op hul Bosveldplaas by my oupa en my ouma in die bed geklim het, het hulle nie vir ons stories gelees nie, hulle het vir ons geskiedenis gelees.

“My ouma het vir ons gelees uit ’n bundel van my oupagrootjie Gerard Moerdyk [befaamde argitek] se briewe wat hy aan sy ouers geskryf het toe hy in Brittanje studeer het. En toe ek grootgeword het, het my ma vir ons eerder geskiedenis as fiksie gelees.

“Vir my is dit noodsaaklik om die geskiedenis te verstaan, maar veral die geskiedenis van ánder mense, mense wie se sienings oor die geskiedenis van joune verskil. Só leer jy hulle eintlik ken waar hulle vir jou iets van hulself wys.

“As jy ons land se geskiedenis leer en lees, is daar twee lesse wat ’n mens altyd bybly. Die een is die nodigheid vir deernis – as jy uit ons land se geskiedenis nie deernis geleer het nie, het jy niks geleer nie.

“En tweedens: Dit is nooit te laat nie. Ons land was al soveel keer op die rand van die afgrond en dit is nóóit te laat om die regte ding te doen nie. En dít kan jy net weet as jy ons geskiedenis ken.”


'Ordentlikheid en Afrikaansheid moet saamloop'

Wanneer ek Joubert pols oor een van die 17 “sleutelvrae” in sy boek, naamlik “Wat is Afrikaans se toekoms?”, sê hy sy familie “loop al ’n lang pad met Afrikaans saam” en het baanbrekerswerk gedoen om die taal te vestig. Bou- en tenderterminologie is byvoorbeeld deur sy oupagrootjie Moerdyk geskep en sportterminologie deur Victor Holloway, sy ouma se neef, wat destyds sportredakteur van Die Burger was. Daarby is sy ma die bekende Afrikaanse skrywer Irma Joubert.

Sy boek, sê hy, is trouens “’n liefdesverklaring aan Afrikaans”.

“Ons beskou Afrikaans as ’n voorreg en ’n plesier, en ek dink dít is die manier hoe ons in en vir Afrikaans moet werk.

“My oupa Michael Moerdyk het ’n baie belangrike ding gesê: ‘As jy ’n bate het en jy gebruik dit as ’n wapen, dan verloor dit sy waarde.’ So, as jy die taal as ’n bate beskou, moet jy dit nie as ’n wapen gebruik nie.

“Dit is waar ek nie altyd saamstem met hoe mense vir Afrikaans probeer opkom nie. Ek dink ’n mens moet dit altyd vriendelik doen en sorg dat jý nie een van die redes is waarom mense ’n gly vang in Afrikaans nie. So, ek dink ordentlikheid en Afrikaansheid moet saamloop.”

Hy meen mense oorvereenvoudig die kwessie van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal.

“Die studentekorps van die Universiteit Stellenbosch het byvoorbeeld baie in die afgelope 15 jaar verander. Die debat oor Afrikaans op Stellenbosch neem dus dikwels nie in ag hoe die studente verander het nie. Daar is baie studente wat Afrikaans uit huis uit is en internasionaal wil meeding en wat verkiés om hul klasse in Engels te loop.”

Hy wys in die boek op die “bloeitydperk” wat die taal op baie terreine beleef en kom tot die gevolgtrekking dat dit “buite onderrigverband [. . .] op haas elke terrein floreer”.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Jan-Jan Joubert  |  Suid-Afrika  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.