Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Woede, heimwee en ’n grensoorlog

Hy wonder soms hoekom Afrikaanse gehore verkies om hulself in ’n positiewe lig te sien eerder as ’n eerlike een, vra Christiaan Olwagen, regisseur van die “musikale oorlogdrama” Kanarie. Murray La Vita het met hom gepraat.

Christiaan Olwagen: “En dít is wat vir my die belangrikste ding van Kanarie was – die oorlog wat ’n mens met jouself voer.” Foto: Adrian de Kock

Hy dink nie die karakters in die stories wat hy vertel, is noodwendig slegte mense nie – hulle is régte mense, sê Christiaan.

“En ek dink dit word altyd met deernis gedoen. Ek hou van komplekse, gebreekte, afvlerk-voëltjies. Hulle sorg vir spanning en drama en trauma. Dis nie dat ’n mens sê daar is nie uitgesorteerde Afrikaanse mense nie; ’n mens sê net: Kyk na dié wat sukkel om introspeksie te doen en om trauma te verwerk.

“Ek wonder wat gaan ’n Suid-Afrikaanse gehoor maak van Kanarie? Gaan dit hulle woedend maak? Gaan dit hulle seermaak? Johnny is nie dood nie (sy rolprent oor die Voëlvry-era waarvoor onder andere die Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vereer het) het definitief op ’n paar tone getrap, so ek vermoed hierdie gaan ook.

Ek dink ek probeer maar ook sin maak van ons verlede . . . So dit raak ’n vorm van waarheid en versoening.

“Maar dit is nooit hoekom ek goed doen nie. Ek is nie daarop uit om te ontwrig nie. Ek dink ek probeer maar ook sin maak van ons verlede . . . So dit raak ’n vorm van waarheid en versoening, I suppose. ’n Deurlopende proses.”

Die onderhoud met Christiaan, ’n veelbekroonde akteur en teater- en rolprentregisseur, vind in die binnehof van die produksiemaatskappy Marche Media se kantoor in Kaapstad plaas waar ons oorkant mekaar by ’n lang tafel sit.

Christiaan is ’n skraal en (op die oog af) ingetoë jong man met ’n baard, wat sag praat en waarskynlik nog effens vlugvoos is. Enkele dae gelede het hy van Los Angeles teruggekeer waar Kanarie (Canary) staande toegejuig is op die Outfest-rolprentfees. Die rolprent se wêreldpremière was in Mei in Toronto en die naweek word dit op die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai vertoon. Die Seemeeu (The Seagull), waarvan hy ook die regisseur is en waarvan die première vroeër vanjaar in Moskou was, word ook daar vertoon.

Ek vra hom uit oor die ontstaansgeskiedenis van Kanarie waarvan ek kort tevore ’n voorskou kon beleef en wat ’n groot indruk op my gemaak het: weens die inhoud, maar ook omdat dit so ’n briljante en aangrypende kunswerk is met uitsonderlike musiek, kinematografie, toneelspel en ’n draaiboek.

“Ek was besig met Dogma en ek en Charl-Johan Lingenfelder, my musikale regisseur en collaborator, het gaan kerke kyk in Oudtshoorn.”

(Christiaan het al die bekroonde toneelstuk Dogma as sy ouers se storie beskryf wat “vertel van hul stryd met georganiseerde godsdiens in die tyd toe veelvuldige sklerose by my pa, destyds ’n NG-kerk-predikant, gediagnoseer is”.)

“So ons het ’n roadtrip gedoen en soos ons nou maar ry en praat, en binne die luim van persoonlike bagasie, waaroor Dogma ook gaan, het hy my toe vertel van sy tyd in die army en dat hy in die Kanaries was.

’n Kanarie in ’n steenkoolmyn of iets in ’n hok, en dan Charl se ervarings as ’n jong gay man in die army.

“Ek was baie gefassineerd want ek het nie veel daarvan geweet nie en ek vra toe: ‘Wat is ’n Kanarie?’ En hy verduidelik toe van hierdie konsep van ’n armykoor. Oombliklik het ek gedink aan die metafoor wat alreeds ingebou is: ’n kanarie in ’n steenkoolmyn of iets in ’n hok, en dan Charl se ervarings as ’n jong gay man in die army.

“Dit het toe lank by my gebly, en ’n paar jaar later toe ek nou moes dink: Wat volgende ná Johnny is nie dood nie, toe bel ek hom en ek sê vir hom: ‘Luister hier, ek dink ek wil ’n movie maak met die naam Kanarie. Sal jy bereid wees om jou persoonlike ervarings met my te deel?’

“Toe sê hy ja, en toe het ons ’n lang werkwinkel-proses gehad waar ek basically onderhoude met hom gevoer het en ons het toe besluit op die struktuur en net aanhou skaaf, skaaf, skaaf aan die teks en dit is toe die ontstaan van Kanarie.”

‘ ’n Stil outjie’

Schalk Bezuidenhout wat, hoewel hy drama bestudeer het, meer bekend is as komediant, vertolk die rol van Johan Niemand wat op Villiersdorp woon en vir militêre diensplig opgeroep word. Hy word dan deel van die Lugmag se sanggroep die Kanaries en doen saam met hulle militêre opleiding waarna hulle op ’n landwye toer gaan – ook na die “grens” – en “mense vermaak en geloof in die kerk en weermag versterk”.

Tydens die toer ontwikkel Johan gevoelens vir ’n koormaat en dit veroorsaak dat hy “alles omtrent homself en sy wêreld bevraagteken”.

Hy het homself totaal en al in die oudisie ingegooi en kop en skouers bo die res uitgestaan.

“Ek het nog altyd gedink mense wat komedie doen, is baie goed met drama ook. Ek meen, jy moet ’n deel van jouself nogal expose om komedie te doen. En ek het hom die eerste keer ontmoet by die Silwerskermfees. Ek het hom so dopgehou en ek het gedink: Hy’s eintlik nogal ’n stíl outjie as hy so op sy eie sit en homself eenkant hou.”

Christiaan het hom toe gevra om ’n oudisie te doen.

“Hy het homself totaal en al in die oudisie ingegooi en kop en skouers bo die res uitgestaan.”

Eerlik oor ons geskiedenis

Die Kanaries sing vir die manne op die grens. Foto: Marche Media

Hoewel Kanarie, wat in 1985 afspeel, as ’n “musikale oorlogsdrama” beskryf word, is dit eintlik moeilik om dit binne enige genre te plaas, sê Christiaan.

“Dit is Full Metal Jacket meets As it is in Heaven . . . Dit is hierdie vreemde genre-eksperiment. It begs to not be defined as anything, en dit is wat dit vir my nogal uniek maak . . .

“Op die ou end het dit maar net vir my gegaan oor eerlik wees en om eerlik te kyk na ’n baie spesifieke tydperk in ons geskiedenis . . . Een waarin ek nie was nie; ek was nog nie eens gebore nie. Maar ek onthou waar ék was as ’n 17-, 18-jarige . . .

So jy het amper ’n oorlog wat jy teen jouself voer.

“So dit het vir my grootliks gegaan oor die tipe shame wat ’n mens voel . . . Ek dink binne die meeste kulture voel mense dit oor gay wees, maar spesifiek ook wanneer jy van kleins af binne ’n samelewing is wat so sterk Christelik-Nasionaal is en daar gesê word dat dit onnatuurlik is; dat dit sonde is.

“En ek dink daai shame wat kinders absorbeer en dan op hulleself toepas, maak van hulle hul eie grootste vyand. So jy het amper ’n oorlog wat jy teen jouself voer. En dít is wat vir my die belangrikste ding van Kanarie was – die oorlog wat ’n mens met jouself voer. So die grensoorlog het op ’n vreemde manier ’n metafoor geraak; dit is ’n fisieke ding in die film, maar dit is ook ’n metafoor vir die verwoesting wat ons binne onsself saai.”

Put uit eie wonde

Daar is parallelle tussen Charl-Johan se storie en sy eie, sê Christiaan.

“Ek is as kind op laerskool – voordat ek Pro Arte Alphenpark toe is – baie geboelie. Ek het ook eisteddfod gesing en drama gedoen en was in die koor. Ek was nie groot op sport nie. Ek het meer vriendinne as vriende gehad, so ek dink daai idee van anders wees, weird wees of vreemd wees – veral binne ’n kleiner dorpie; ek het in Pretoria-Noord grootgeword en was geïsoleer – wat dít betref, kon ek definitief uit my eie wonde put.

“Ek moes binne die gegewe van Charl-Johan se storie my eie ondervindings na die tafel toe bring wat my persoonlike ervarings en traumas betref en my eie oorloë wat ek met myself moes fight.”

Tydens die skep van die Kanarie-draaiboek was Christiaan gefrustreerd met hoe passief Johan Niemand is.

Hulle sê iets van die wêreld en hulle sê iets van hóm waar hy nie die agency het om dit te kan doen nie.

“Ek het met Charl-Johan begin baklei en gesê: ‘Hoe moet ons ’n narratief skep uit ’n protagonis wat so passief is – alles gebeur met hom?’ En hy het gesê: ‘Maar dit is hoe dit was. Jy is gesê wat om te doen; jy is gesê waarheen om te gaan – dít is die gegewe.

“Toe het ek ’n teenpool daarvoor geskep – en ek dink daar het ek ’n blaadjie uit Apocalypse Now gevat: Hierdie boot ry by hierdie rivier af en ontmoet al hierdie side-characters en figure wat so ’n groot indruk maak en dan kom en dan gaan. En ek dink ek wou dieselfde gedoen het met die Kanaries wat deur die land toer en optree en dan al hierdie mense ontmoet. En dit was vir my sulke belangrike rolle dat ek eintlik toe gevra het vir van Albert Pretorius tot Anna-Mart tot Tinarie van Wyk-Loots tot Dawid Minnaar tot Laudo Liebenberg en Jennifer Steyn tot Lida en Johan Botha.

“Ek wou regtig hê daardie mense moet ’n indruk maak. En hulle hét hierdie gewéldige indruk gehad op hierdie 18-jarige seun. Hulle sê iets van die wêreld en hulle sê iets van hóm waar hy nie die agency het om dit te kan doen nie.”

Só lyk Afrikaners

Schalk Bezuidenhout as Johan Niemand (aangetrek as Boy George) in die rolprent Kanarie. Foto: Marche Media

Een van die treffende aspekte van Kanarie is ’n sekwens portrette van onder andere dienspligtiges wat in die kameralens inkyk. Dit het ’n soortgelyke tekstuur en intensiteit as Roelof Petrus van Wyk se portrette in Jong Afrikaner: A Self-Portrait.

“Daar is vir my iets baie weerloos wat gebeur wanneer jy ’n kamera aansit en jy vra vir iemand om net in die lens te kyk en jy laat dit net gaan. Daar is ’n oomblik wat jy voel . . . mense sit ’n front op en ’n smile op en dan is daar êrens, ek dink tussen ’n oomblik van ongemak en verveeldheid waar daardie sluier wegval en dis asof jy dan tot binne in die persoon kan sien . . .

“Ons het van die begin af internasionale ambisies gehad met Kanarie en ek dink ek wou op ’n manier vir mense gewys het hoe lyk Afrikanergesigte; hoe lyk outjies van daai ouderdom . . . Ons het die portrette so gedoen omdat die styl van die res van die rolprent dit nie noodwendig altyd toegelaat het [om intens op ander spelers te fokus nie]; ons het nie cut-aways soontoe en cut-aways hiernatoe nie; ons het baie geloofwaardig en subjektief by Johan gebly, want dit was een persoon se subjektiewe ervaring en dít is hoekom die film Kanarie genoem word en nie Kanaries nie. Die koor is maar net die backdrop.

“So dit gaan oor één Kanarie se baie spesifieke ervarings. En dit gaan oor individualiteit en om jou eie stem te vind in ’n koor. Wat dit betref, het die portrette nou maar net amper organies gegroei en elke keer wat ons groot tonele gehad het wou ons . . . Met daardie eerste portretsekwens van die inname, die jong intakes, was dit outjies van daardie actual ouderdom en hulle het sulke interessante gesigte gehad en daar was vir my iets van amper ’n kombinasie van ’n burokratiese proses van mense wat in ’n tou staan en hulle klere moet uittrek en dan ’n foto van geneem word . . . a kind of before, en hoe hulle dan ná dit gaan lyk. Daar was ook net iets so onskuldig daaraan. Maar ook hartverskeurend.”

Johan en Boy George

Die karakter Johan het ’n foto van Boy George voor in sy Bybel.

“Charl-Johan het regtig ’n foto van Boy George in sy Bybel gehad. En op ’n weird manier is dit ook ’n tipe liefdesbrief aan Boy George want ek dink . . . Ek verneem toe televisie in die sewentigs in Suid-Afrika toegelaat is, was dit die begin van die einde want jy kan net soveel informasie ignoreer en al hierdie invloede van buite het ingekom. En ek dink om ’n jong seun te wees van ’n dorpie soos Villiersdorp en dan ’n foto van Boy George te sien die eerste keer, moes nogal lewensveranderend gewees het, want op daai stadium was Boy George en sy Culture Club se invloede alles van die Ooste tot Afrika tot . . . en hy het dit alles geamalgameer in een persona. Tot ’n mate het hy die verpersoonliking van diversiteit geword. En van hoe ryk invloede kan wees wanneer jy dit toelaat en dat ’n homogene identiteit nie noodwendig die enigste identiteit hoef te wees nie.”

Boy George se “Do you really want to hurt me?” staan sentraal in die rolprent.

“Charl-Johan het my vertel op Villiersdorp het hy graag ge-DJ en daai song gespeel en dan het die boerseuns altyd geskreeu: ‘Yes!’ . . . Dit was vreemd hoe dit amper op ’n manier die anthem van die film geraak het.”

‘Ek wou verstaan’

Johan Niemand en sy suster, gespeel deur Tinarie van Wyk-Loots. Foto: Marche Media

Ons praat oor die nostalgiese blik op nasionale diensplig en die grensoorlog en die romantisering daarvan wat toenemend in verskillende gedaantes in ons samelewing aangetref word – hetsy in memoires, romans, kookboeke of rolprente.

“ ’n Mens kan argumenteer dat ék nie ’n storie soos hierdie behoort te vertel nie want ek het dit nie ervaar nie, of ek is te jonk. Maar ek dink ómdat ek dit nié ervaar het nie, kyk ek nie met nostalgie daarna nie. Ek wou verstaan. Die film vra meer vrae as wat dit noodwendig antwoorde het. En ek het ’n fassinasie met die tagtigs omdat ek in daardie era verwek en gebore is. Ek wil verstaan hoe die wêreld in daai tyd gedink en gewerk het.

“Daar is ’n lyn uit die film uit wat ds. Engelbrecht, gespeel deur Jacques Bessinger, vir die Kanaries sê wat verpletter is nadat hulle iets voorstel en dit afgekeur word. Hy sê vir hulle: ‘Onthou hierdie woede, want anders gaan dit in heimwee verander.’

“En ek dink dit is baie belangrik want miskien vergeet party mense, of kies om te vergeet, hoe woedend hulle was en hoe seer hulle was en dan is dit amper makliker om nostalgies te kyk.”

* Kanarie (Canary) is van 19 Oktober af op die Suid-Afrikaanse kringloop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.