Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Zille: ‘Mmusi is aangesê om my te vermorsel’

Mmusi Maimane moes bewys hy’s sy eie mens deur haar te vermorsel, sê die nuwe “toiletskoonmaker” van die DA, Helen Zille, in ’n openhartige onderhoud met Willemien Brümmer.

Helen Zille, die DA se pas verkose voorsitter van die DA se federale raad, beantwoord moeilike vrae in die DA-kantoor in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

“Ek vra regtig om verskoning,” sê Helen Zille, wanneer sy ’n uur en ’n half laat vir ons afspraak by die DA se raadsaal in Mill-straat, Kaapstad, indartel.

Sy lyk strydvaardig in gifappel-geel – die produk van ’n uur se verf, platstryk en regruk deur haar uitvoerende bestuurder en stilis, Janine Schouw.

(Néé, sy’t nie ’n ontrimpelingsoperasie gehad nie: “Dit is die produk van agt ure slaap per nag, maar dít gaan ook gou begin uitrafel.”)

Die DA se kantoor is so chaoties soos die afgelope week en ’n half in die party sedert haar dramatiese terugkeer na die warm stoel en die domino van bedankings wat hierop gevolg het.

Die nuwe voorsitter (“die toiletskoonmaker”) van die DA se federale raad is kalm soos ’n walm en lemmetjieskerp, maar wel ’n bietjie toondoof en aspris. Dié Zillenator oor wie daar onlangs ’n video versprei is (een van vele), ’n gekskeerdery met Michael Jackson se Thriller: “It’s Helen Zille! She’s far right. She said she’s nonracial but just like me she prefers white . . .”

Sy lag. “Zille the thriller, ag whatever! Die mites wat mense oor my versprei is net ongelooflik! Mmusi (Maimane) en Athol (Trollip) se bedanking het nié ’n krisis in die DA veroorsaak nie. Hul bedankings was die gevolg van ’n hersieningspaneel wat die probleme in die DA ondersoek het en tot die gevolgtrekking gekom het dat die leierskap nie in staat daartoe was om ons uit die krisis te lei nie.”

Ek is demokraties verkies, ek is oortuigend verkies.

Die hersieningspaneel het tog nie aanbeveel dat Trollip (voormalige voorsitter van die party) ook loop nie?

Blitsvinnig: “Ja, dit was interessant dat hy ook gegaan het, maar die hersieningspaneel het wel gesê dat sy posisie nie regtig enige gewig in die grondwet van die DA dra nie en hulle het aanbeveel dat dit ingesluk word deur die posisie wat ek nou beklee. Athol was nie in ’n nasionale leierskapsposisie nie. Hy was in die posisie van ’n seremoniële president, as jy dit so wil sien.”

En die feit dat hy (en onder meer die voormalige burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba) geloop het kort ná háár terugkeer?

’n Wenkbrou lig bo die raam van haar skilpaddopraam-bril.

“Ek is demokraties verkies, ek is oortuigend verkies, die statistieke in die Mail & Guardian was hééltemal verkeerd en dit was die uitkoms van die federale raad. As jy dit nie wil aanvaar nie, dwing niemand jou nie. Hy moet gaan as hy moet gaan.”

‘Is jy mal?’

Zille: “Die persoon wat meer as enige iemand anders gedoen het om die DA te diversifiseer was ek.” Foto: Jaco Marais

Haar hertoetrede het só gebeur, verduidelik sy – heeltemal sonder dat sy enigiets beplan het. Die Donderdagaand voor sy haar naam in die hoed gooi om die nuwe voorsitter van die federale raad te word, word sy as voorsitter van die Bloubergstrand-tak van die DA verkies.

’n Ondersteuner bel haar en sê: “Nee, Helen, jy moenie staan as voorsitter van die Bloubergstrand-tak nie, jy moet staan as voorsitter van die federale raad!” – en toe begin lui haar foon.

Haar man, prof. Johann Maree, vra: “Is jy absoluut van jou kop af?”, maar toe drink hulle die volgende oggend tee in die bed en hy sê: “Ek het daaroor gedink, ek dink jy moet jou naam in die hoed gooi. Jy sal nooit kan rus met ’n skoon gemoed as die DA sy afwaartse spiraal voortsit nie.”Sy glimlag.

Wel, ek is nie nou meer ’n politikus nie. Ek gaan die operasie bestuur, ek kom terug in ’n totáál ander kapasiteit.

“Ek het ’n taamlik goeie idee gehad van wat verkeerd was in die DA en terwyl ek beslis nie gedink het ek is die enigste mens wat dit kan regmaak nie, het ek gemeen ek staan ’n beter kans as die ander kandidate (Trollip, Thomas Walters en Mike Waters).”

Sy bel die wyksraadslid Nora Grose, vra haar om haar te benoem, haas haar saam met ’n kommissaris van ede na Nora se kantoor, vra die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, om haar te sekondeer, skandeer die aansoek en stuur dit weg net voor die benoemings sluit.

Dit in weerwil daarvan dat sy in 2015 ná haar uittrede as DA-leier verklaar het daar’s niks so uitgedien soos ’n uitgediende politikus nie?

Sy glimlag diplomaties.

“Wel, ek is nie nou meer ’n politikus nie. Ek gaan die operasie bestuur, ek kom terug in ’n totáál ander kapasiteit. James Selfe (die vorige voorsitter van die federale raad) was terselfdertyd ’n parlementslid. Ek is nie ’n parlementslid nie.”

‘Vermorsel Zille’

Die groot skeuring tussen haar en haar voormalige protégé Mmusi Maimane het plaasgevind toe sy strategiese raadgewer gesê het: ‘Vermorsel Zille, hier is jou kans.’ En dít, sê Helen Zille, nadat sy ‘iets heel onskuldig gesê het in my analise van wat gebeur het in Singapoer’. Foto: Jaco Marais

Dit kos nie veel om haar te laat praat oor die spieël wat tussen haar en haar protégé en opvolger, Mmusi Maimane, gebreek het nie.

“Die eerste ding waarmee ek fundamenteel nie saamgestem het nie, was ons samewerking met die EFF. Ek was op die federale raad in dié tyd en wanneer dit my beurt is, sê ek wat ek dink. Ek doen dit beleefd, maar ek stel my saak. En ek het van Mmusi verskil en ons het daaroor gestem en ek het verloor.”

Sy bedank uit die federale raad – grootliks weens dié meningsverskil – en toe gebeur die berugte kolonialisme-twiet en die Madam word van alle gesag en posisie gestroop.

Hy was met opset brutaal teenoor my, want sy raadgewers het vir hom gesê: ‘Vermorsel Zille'.

In Junie 2017 word Maimane die hoofspeler in die brutale openbare afranseling van Zille – ’n Shakespeariaanse drama in die kleine. Dit was, soos Marida Fitzpatrick destyds geskryf het: “ ’n Koningin wat haar kroonprins gesalf het net om later deur hom onthoof te word.”

Sy leun strategies vorentoe.

“Hy was met opset brutaal teenoor my, want sy raadgewers het vir hom gesê: ‘Vermorsel Zille. Crush Zille. Jy sal bewys jy’s jou eie mens deur haar te vermorsel.’

Helen Zille en Mmusi Maimane nadat hy verlede week aangekondig het hy tree as partyleier uit. Foto: Sarel van der Walt

“Dit was die hele strategie. Die saak sou nooit so opgeblaas geraak het as daar nie sekere mense was wat strategies gesoek het na ’n rede om my te verbrysel nie, want die ANC se hele narratief was Mmusi is ’n handperd vir Zille. Wat totale str*nt was. Maar jy weet, as daar net een wit persoon oor is in die DA sal hulle sê watter swart leier daar ook al is, is ’n handperd van daardie wit persoon. Want hulle het geen ander argument nie! Hulle het slegs ras.”

Sy knik.

“Die groot skeuring het plaasgevind toe sy strategiese raadgewer sê: ‘Vermorsel Zille, hier is jou kans!’ En dít nadat ek iets heel onskuldig gesê het in my analise van wat gebeur het in Singapoer.”

Dink sy werklik dit was so onskuldig – selfs nadat sy in die openbaar om verskoning gevra het en die Openbare Beskermer bevind het dis teenstrydig met die Grondwet?

Verbaas: “Wel, heeltemal! Ek gaan na Singapoer . . . jy weet, die vlak van debatvoering in hierdie land dryf my tot raserny!”

Sy verdedig vir die hoeveelste keer die beweegrede vir die twiet ná haar besoek aan Singapoer. Dinge soos: “Hulle het die insig gehad dat jy nie moet probeer om alles te verwoes aan die erflating van kolonialisme nie. Jy moet probeer om dit wat jy geërf het vir ’n nuwe doel aan te wend en ’n nuwe toekoms daarmee te bou. Dit was een van die kritieke insigte!”

‘Babas vir ontbyt’

Helen Zille en Athol Trollip kort voor sy bedanking as voorsitter van die DA. Foto: Sarel van der Walt

En Trollip se stelling dat daar ’n gekoördineerde aanslag teen Maimane se transformasiepogings was?

’n Dramatiese stilte.

“Die persoon wat meer as enige iemand anders gedoen het om die DA te diversifiseer was ek!”

’n Toegewing: “Maimane was deel daarvan. Ek wil nie in ’n moddergooiery met Athol betrokke raak nie, maar dit wat mense sê wanneer hulle kwaad is omdat hulle ’n verkiesing verloor het moet nooit as die evangelie aanvaar word nie, kom ons stel dit net so.”

En sy klagte dat sommige van die taktieke wat teen Maimane ingespan is vir hom ’n totale gruwel is?“Wel, die enigste vuilspel waarna hy kon verwys was die artikels wat in Rapport was (oor ’n huurhuis in Claremont en ’n Steinhoff-kar). Dis al waaraan ek kan dink en ek het absoluut niks daarmee te doen gehad nie. Ek het geen kennis daarvan nie, ek het self maar net daaroor gelees in die koerant. En ronduit gesê, indien die probleem wankelende leierskap is, dan moet dít die kwessie wees, nie al hierdie side issues nie.”

En die persepsie dat die DA nie meer juis baie beleefd teenoor sy gesalfdes is nie?

Sy lag, antwoord die eerste keer in Afrikaans.

“Nie meer nie? Hulle was nog nooit! Die politiek is ’n rowwe plek, hoor. En veral as jy by jou beginsels hou – wat ek hoop ek gedoen het – word jy aangeval! Vriende kom en gaan, maar vyande hoop op, jy weet. You have no permanent friends in politics, only permanent interests.”

Dis baie eenvoudig, ek’s mal hieroor – ek eet ook babas vir ontbyt!

Weer in suiwer Afrikaans: “Ek probeer altyd gaaf met mense wees. Dís die snaakse ding. Ek het gewoonweg baie goeie menseverhoudinge. Praat met enigiemand wat saam met my gewerk het.”

En die bedanking van Lindiwe Mazibuko, voormalige parlementêre leier en nog een van die swart leiers in die sogenaamde “Zille-doodsakker”?

“Nee, ek het níks met Lindiwe se uittrede te doen gehad nie. Dis baie eenvoudig, ek’s mal hieroor – ek eet ook babas vir ontbyt!”

En néé, Mazibuko het nie in die hospitaal beland weens stres nie.

“Sy’t chirurgie gehad, laat ek dit só stel. Ek het haar in die hospitaal besoek en alles was fine.”

Die begin van die einde: Mmusi Maimane, voormalige partyleier, en Helen Zille op ’n nuuskonferensie waar bekend gemaak is dat sy tot federale voorsitter van die DA verkies is. Foto: Sarel van der Walt

Die streep bedankings in die DA laat haar allermins wakker lê.

“Wat my wakker gehou het, was toe ek die DA sien uitrafel het. Toe die hersieningspaneel se verslag eers uit was en die federale raad dit aanvaar het, het ek geweet ons is op die pad na herstel.”

Sy byt nie aan die vraag of sy terug is as die Groot Wit Hoop vir die DA nie. Wat sy gaan doen is om in haar baan te bly.

“Die nuwe DA-leier sal ’n rol moet speel om die verlore stemme terug te wen. Ek moet net seker maak dat die organisasie wat hom rugsteun weer ’n geoliede blou masjien word. Dís my rol.”

Sy knik.

“Gister het ek die DA se grondwet weer behoorlik bestudeer en ek het die 19 punte waarin my werk beskryf word met ’n fynkam deurgegaan – en ek sal voldoen aan daardie beskrywing.”

En ek kan nie ’n duit omgee oor ’n leier se velkleur nie, maar as hulle nie die eienskappe het om voor te vat nie gaan hul velkleur nie die organisasie red nie.

Is sy spyt oor die groot bedrae geld wat die DA bestee het aan sy skynbaar onsuksesvolle pogings om swart kiesers te wen?“Nee! Ek kan nie (daaroor) jammer wees nie, ek het geen berou nie. Ek kan net doen wat ek vandag moet doen en dan aanbeweeg. Baie dinge het al in my lewe gebeur. Ek het nog nooit ’n wrok gekoester nie en ek haak nie vas in die verlede nie. Ek beweeg aan en dís van kritieke belang.”

Sy spoeg op die gerugte dat haar ondersteuners ’n leliewit oorname van die belangrikste posisies in die party beplan.

“Ag nee, dis totale snert! Ek het een mens aangestel sedert my terugkeer en dis ’n waarnemende hoof van personeel (Ashor Sarupen) en hy’s nie wit nie! Ek het nie die mag om enige iemand anders aan te stel nie!”

Sy aarsel.

“Hy is die rede hoekom ek hierdie veldtog gewen het! Hy’s totaal blerrie briljant! So ek glo in regstel deur geleenthede, maar nie deur uitkomste te manipuleer nie. En ek kan nie ’n duit omgee oor ’n leier se velkleur nie, maar as hulle nie die eienskappe het om voor te vat nie gaan hul velkleur nie die organisasie red nie.”

“Ek probeer altyd gaaf met mense wees. Dís die snaakse ding. Ek het gewoonweg baie goeie menseverhoudings,” sê Zille oor die bewerings dat haar aanstelling tot ’n rits bedankings gelei het. Foto: Jaco Marais

Sy is ewe min gepla deur politieke ontleders wat sê die DA het nou sy kans laat verbyglip om ’n regering in afwagting te word.

“Niks is onverhaalbaar in hierdie wêreld nie. Obama het voorspel dat Trump nooit sou president word nie. Toe P.W. Botha sy Rubicon-toespraak maak in 1985 en iemand sou vir hom sê die NNP sou oor 15 jaar met die ANC saamsmelt, sou hy sê: Is jy van jou kop af? Dinge gebeur in die politiek.”

Sy val byna van haar stoel af toe ek vir haar sê haar teëstanders beskryf haar deesdae as “alt right” – ’n vae modewoord vir ekstreem regses wat uit die hoofstroom gedros het.

Sy hoor eers verkeerd.

“Me? Old right? Dis histeries!

As jy enigiets van my moet sê, is ek die mal lefty in die DA!

“Nee,” help ek reg. “Alt right.”

Haar oë rek.

“My Here, dis daardie mal wit heerssugtiges!”

En toe, stroopsoet: “Kom in liefie,” vir haar geliefde skoondogter Gretl vir wie sy dokumente moet teken.

Nadat sy eers gekoer het oor haar kleinkinders, hervat sy haar verontwaardigde tirade.

“Dis gek! As jy enigiets van my moet sê, is ek die mal lefty in die DA!”

“Die politiek is ’n rowwe plek, hoor,” sê Helen Zille op pad na haar volgende afspraak – ’n onderhoud met Carte Blanche. Foto: Jaco Marais

Ons het vyf minute oor van ons oudiënsie. Ek vra vroom wat haar drie beste en drie swakste eienskappe is.

Sy blom.

“Ek het ongelooflike uithouvermoë, ek kan deurdruk deur enigiets – deur enige teëspoed, deur enige versperring kan ek voortmarsjeer. Maar dis seker ook ’n swakheid, want dan noem mense jou dinge soos die Zillenator en so aan. Ek is ook baie vasberade, en dis seker ook ’n sterk punt én ’n swakheid.”

Maar ’n werklike swak eienskap . . .?

“Ek dink ek luister na mense, ek kan die kern van ’n probleem identifiseer en ’n oplossing vind. Ek dink ek praat die waarheid, wat dalk ook nie so ’n goeie eienskap is nie, want ek is baie reguit. . .”

Waar ek in beheer was, was daar beslis nog nooit ’n giftige omgewing nie.

Het sy regtig (aldus haar) géén slegte eienskappe nie?

“Jy sal regtig vir my teëstanders moet vra, want ek het my hele lewe daaraan gewerk om ’n ordentlike mens te wees. Ek dink ek het integriteit, ek probeer verantwoordelikheid neem, ek probeer totaal verbind tot die waarheid te wees, ek probeer goeie oordeel aan die dag lê in komplekse situasies. . .”

Ná ’n paar minute keer sy terug na my vraag. “Jy weet, jy moet my seuns vra wat my swak punte is. Of my skoondogter. Ons het só ’n goeie verhouding. Sy is só ’n wonderlike meisie en ek het só ’n goeie verhouding met my seuns. En ek en my man is al 38 jaar lank getroud!”

“En,” sê GodZille; dié Zillenator wat soos ’n wegholtrein teruggekeer het na die opposisie: “Waar ek in beheer was, was daar beslis nog nooit ’n giftige omgewing nie. Ek is steeds vriende met almal saam met wie ek tevore gewerk het – behalwe vir diegene wat probeer het om my te manipuleer of om vir my te lieg. Dis regtig baie eenvoudig.”

Meer oor:  Da  |  Johann Maree  |  Mmusi Maimane  |  Helen Zille  |  Lindiwe Mazibuko  |  Nora Grose  |  Athol Trollip  |  Herman Mashaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.