Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: ‘Zuma sal nes Winnie tronk vryspring’

Dit moet nie as ’n verrassing kom indien Jacob Zuma nooit die binnekant van ’n sel sien nie, sê Fred Bridgland aan Murray La Vita. Winnie Madikizela Mandela het immers weens politieke opportunisme geen tronkstraf uitgedien nie.

Fred Bridgland in Kaapstad by ’n onderhoud oor sy boek Truth, Lies and Alibis - A Winnie Mandela Story, wat pas by Tafelberg verskyn het. Foto: Adrian de Kock

Ons behoort nie verbaas te wees dat ’n minagting vir die regstelsel ’n kommerwekkende eienskap van die nuwe Suid-Afrika geword het nie, skryf die veteraan-joernalis en skrywer Fred Bridgland aan die einde van sy boek Truth, Lies and Alibis – a Winnie Mandela Story.

“Dit is ’n land waarin gewone mense soos die mynwerkers van Marikana soos vullis behandel word, ’n internasionale misdadiger [pres. Omar al-Bashir van die Soedan] toegelaat word om te ontsnap, en waar ander wette vir die politieke elite geld as vir gewone mense.

“Selfs onder pres. Cyril Ramaphosa, die nuwe besem, is dit nog nie duidelik of Zuma volledig tot verantwoording geroep gaan word vir sy misdade nie,” aldus Bridgland.

Hy herbesoek in sy boek die gebeure rondom die dood van onder andere die 14-jarige aktivis Stompie Seipei Moeketsi wat op Oujaarsaand 1988 sterwend was ná ’n verskriklike aanranding, waarna hy doodgesteek en in ’n stuk veld aan die buitewyke van Soweto gegooi is.

Toe sy liggaam ses weke later ontdek is, het die spoor na Winnie en haar gevreesde Mandela United Football Club gelei.

In ’n tyd waarin die wêreld se oë op Suid-Afrika en die land se oorgang na ’n demokrasie gerig was, het die “ongemaklike” verhaal van Winnie Mandela – vir sommige die Moeder van die Nasie en vir ander die mees gevreesde vrou in Suid-Afrika – aan die lig gekom tydens haar verhoor, appèl en verskyning voor die Waarheid-en-versoeningskommissie.

Dit was ’n verhaal gehul in geheime, leuens, rassespanning en politieke opportunisme.

Hy vra vrae soos: Was Winnie bo die reg verhewe? Hoe het Nelson Mandela haar probeer beskerm? Wat beteken dit vir politici se respek vir die oppergesag van die reg in ’n demokrasie?

Sy ondersoek na die Mandela United Football Club se terreurveldtog laat vrae ontstaan oor die aard van geregtigheid en verantwoordbaarheid en hoe dit op verskillende maniere van toepassing is op “belangrike” en “onbelangrike” mense.

Vrae oor Winnie

Winnie Madikizela Mandela is deur sommige mense as die Moeder van die Nasie beskou terwyl ander haar die mees gevreesde vrou in Suid-Afrika genoem het. Foto: Argief

Bridgland, wat in 1989 as die Londense Sunday Telegraph se Suider-Afrikaanse korrespondent begin werk het en die afgelope jare in Edinburg woon en as skrywer werk, is in Kaapstad om sy boek bekend te stel.

Ons ontmoet op die dakterras van ’n hotel in die stadskom vanwaar ’n mens ’n dramatiese mooi uitsig op die stad en Tafelberg het.

Bridgland is ’n vriendelike en hoflike man. Ondanks die oorloë en ander menslike lyding en vergrype waaroor hierdie bekroonde joernalis sedert die vroeë jare sewentig in plekke soos Indië, die Midde-Ooste en Afrika verslag gedoen het, is daar by hom geen afgestomptheid of sinisme te bespeur nie.

Die boek gaan nie soseer oor Winnie as wat dit ’n boek oor haar slagoffers is nie.

Wat het hom laat besluit om nou hierdie boek te skryf?

“Ek wou twee vrae beantwoord. Hoe was dit moontlik dat Winnie Mandela tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis is [weens onder meer die ontvoering van Stompie] en uiteindelik met ’n boete van R15 000 weggekom het? En dan was daar die eindelose stories oor die klein en onbelangrike mense wie se lewens deur haar sokkerklub beïnvloed is. Dít wou ek ook ondersoek.

“Ek het op my eie onkoste na Suid-Afrika teruggekom en baie navorsing gedoen. Die boek gaan nie soseer oor Winnie as wat dit ’n boek oor haar slagoffers is nie. Ek het baie van daardie mense geken en ek het geweet hoe hul lewens deur die sokkerklub verwoes is.”

‘Ek was bang vir haar’

Winnie aan die sy van Nelson Mandela op die dag van sy vrylating. Foto: Getty Images

Bridgland sê hy dink “Winnie is beslis verantwoordelik vir die dood van Stompie.

“Die inligting wat Katiza Cebekhulu aan my verskaf het nadat ons hom uit die Zambiese tronk gekry het, staan nog vas. Hy het sy aantyging dat hy gesien het hoe sy Stompie steek, al dikwels herhaal. En John Morgan, wat Winnie se drywer was, het in verskeie onderhoude gesê hy is deur Winnie beveel om die liggaam van Stompie te verwyder [van haar huis af].

"Daarby het twee ander lede van die Mandela United Football Club gesê hy was reeds dood toe hy van Winnie Mandela se huis af weggeneem is. Dit is viér mense wat so gesê het.”

Ek het nie verwag om enige waarhede uit haar te kry nie . . .

Het hy ooit met Winnie Mandela ’n onderhoud gevoer?

“Nee . . . Ek dink een rede waarom ek nie met haar ’n onderhoud gevoer het nie, is dat sy net sou voortgaan met haar ontkennings, naamlik dat alles wat oor haar gesê is in verband met die dood van Stompie Moeketsi is leuens; almal wat voor die WVK getuig het en haar weergawe weerspreek het, is leuenaars.

“Ek het nie verwag om enige waarhede uit haar te kry nie . . . Maar miskien moes ek tog met haar gepraat het.” Hy bly ’n oomblik stil en sê dan: “Om eerlik te wees, ek was betreklik bang vir haar . . .”

Nuwe inligting

“Hoe was dit moontlik dat Winnie Mandela tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis is en uiteindelik met ’n boete van R15 000 weggekom het?” Foto: Adrian de Kock

Truth, Lies and Alibis bevat volgens Bridgland heelwat nuwe inligting.

“Sowat vyf jaar gelede is Cyril Mbatha en Thulani Dlamini, die moordenaars van dr. Abubaker Asvat, wat Winnie se dokter was, vrygelaat. Die twee jeugdiges is volgens getuienis deur Winnie gehuur om hom dood te maak. Hulle het om verskeie komplekse redes, wat ek in die boek uiteensit, nie om amnestie aansoek gedoen nie. Hulle is toe ter dood veroordeel, maar hul vonnisse is later na lewenslank omgeskakel.

“Toe hulle ná 23 jaar uit die tronk kom, het ek Dlamini opgespoor en hom gevra: ‘Is die inligting wat jy aan die polisie gegee het toe jy aanvanklik in hegtenis geneem is, naamlik dat Winnie Mandela aan jou ’n wapen gegee het en aan jou R20 000 belowe het om dr. Asvat te vermoor, steeds jou storie?’

“Hy het gesê: ‘Ja, dit is die waarheid.’ Ek het toe vir hom gevra: ‘Wat het van Cyril Mbatha geword?’ Hy het gesê: ‘Toe Cyril uit die tronk kom, het hy selfmoord gepleeg met gif.’”

Dan praat hy oor Lolo Sono en Siboniso Tshabalala.

Die dossier het vir amper ’n kwarteeu in die vervolgingsgesag se kantoor lê en stof vergader.

“Lolo is die laaste keer lewend gesien in die teenwoordigheid van Winnie; hy was erg aangerand. Toe sy pa vra dat sy hom moet laat gaan, het sy gesê nee, sy gaan ‘die hond’ wegneem en die organisasie sal besluit wat om met hom te doen.

“Siboniso het sy ma gebel en gesê hy is by Winnie se huis; hy het soontoe gegaan om sy vriend te gaan soek. Daarna het sy nooit weer van hom gehoor nie. ’n Week nadat die twee seuns deur die sokkerklub vermoor is . . . Die getuienis dui daarop dat hulle in mev. Mandela se garage aangerand is en toe deur lede van die sokkerklub weggeneem en doodgemaak is. Die polisie het binne ’n week ná hul dood geweet hul liggame is op ’n verlate stuk grond in Soweto gevind en hulle is in Avalon-begraafplaas in ’n armmansgraf begrawe.

“Die dossier het vir amper ’n kwarteeu in die vervolgingsgesag se kantoor lê en stof vergader. Iemand het aan my die inhoud van daardie dossier uitgelek en ek het toe ’n storie daaroor geskryf wat oor die wêreld heen gepubliseer is.

“Ek dink die verskriklike ding wat daarna gebeur het, is dat die ANC, wat moes geweet het Winnie is vir hul dood verantwoordelik, toe vir hulle ’n begrafnis gereël het waar hulle saam met twee werklike MK-lede vereer is wat in die jare tagtig gesterf het. Hulle is vereer as individue wat in die stryd teen apartheid gesterf het. Dit was nie waar nie; hulle is deur die Mandela United Football Club vermoor.”

NP en ANC ‘het geheul’

Dit was vir hom baie duidelik dat die reëls vir Winnie Mandela gebuig is en daarna het die Zuma-elite gevoel hulle kan dit ook doen, sê Fred Bridgland. Foto: Felix Dlangamandla

Hy meen hy het bewys “dat daar op die hoogste vlak tussen die NP en die ANC geheul is om druk op hoofregter Michael Corbett toe te pas sodat hy moes sorg dat Winnie Mandela nie tronkstraf kry nie.

“In die tronk sou Winnie ’n martelaar word en dit sou ’n verskriklike las vir die ou man, Mandela, wees en dit sou die onderhandelinge tussen die NP en die ANC op ’n baie kritieke tydstip beïnvloed het.

“Ek kan verstaan waarom diplomate en politici sou redeneer die klein en onbelangrike mense moet opgeoffer word, maar vir mý was dit die klein mense en die onbelangrike mense wat die belangrike mense was want ek het hulle leer ken en ek het hulle stories geken. Ek weet die magteloses word oral in die wêreld verguis en ek het gevoel dit is mý verantwoordelikheid om hul storie te vertel, al gee niemand anders om nie.

Korrupsie is ’n verraderlike ding . . .

“Maar dit is duidelik: Korrupsie is ’n verraderlike ding . . . As jy eers een keer in ’n baie belangrike hofsaak iemand wat straks moord gepleeg het daarmee laat wegkom, skep jy ’n verskriklike presedent. Gaan jy ’n kompromie in één saak aan, word dit aanvaarbaar in eindelose sake.

“Ek dink as ’n mens nou op die Zuma-jare terugkyk, is dit duidelik dat die leiersfigure in die ANC onder Zuma gevoel het enigiets is aanvaarbaar. Hulle het dit onder die NP sien gebeur; hulle het dit in die oorgangsfase gesien hoe Winnie tronkstraf vryspring terwyl ander mense wat veel onskuldiger as sy was tronk toe gestuur is . . . Dit was vir my baie duidelik dat die reëls vir haar gebuig is en daarna het die Zuma-elite gevoel hulle kan dit ook doen.”

Savimbi en Winnie

In sy lang joernalistieke loopbaan het hy agtergekom bevrydingspolitiek is meedoënloos.

“Enigiets is aanvaarbaar. Die enigste etiese riglyn is om die stryd te wen en tydens die stryd gebeur daar allerhande dinge. Ek het dit veral met Jonas Savimbi [Unita-leier] ontdek.”

Wat hy oor Savimbi ontdek het, en waaroor hy nou ’n boek skryf, was die voorspel tot Truth, Lies and Alibis, sê Bridgland.

Savimbi: Die redes vir hierdie en ander moorde sluit in wilde bewerings van heksery, seksuele jaloesie, en magsparanoia.

“My goeie vriend Tito Chingunji, ’n senior Unita-lid, is op Savimbi se bevel in Angola vermoor. Ook sy vrou en die res van sy familie is daarna wreed vermoor totdat daar nie ’n enkele Chingunji in Savimbi se gebied oor was nie.

“Die redes vir hierdie en ander moorde is bisar en kompleks: Dit sluit in wilde bewerings van heksery, seksuele jaloesie, en magsparanoia.”

Een van die dinge wat Winnie Mandela en Jonas Savimbi gemeen gehad het, is leuens, sê hy. Leuens en nogmaals leuens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.