Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
kykNET: Mondig én bekkig
Karen Meiring by die Silwerskermfees in 2018.

Nie eens ’n pandemie kon ’n demper plaas op die viering van kykNET se 21ste bestaansjaar nie. Hanri Wondergem het met Karen Meiring, direkteur van kykNET se kanale, gesels.

Stella is lewenslustig, blinkoog, opgewonde oor die toekoms en slaggereed vir enige uitdaging. Dié 21-jarige, die gesig van kykNET se mondigwording, het haar verlede jaar tuisgemaak in kykers se sitkamers.

Karen Meiring, direkteur van kykNET se kanale, sê in 2019 is daar “lekker partytjie gehou” om twee dekades van kykNET te vier. Verlede jaar – in pas met die staat van inperking – is besluit om dié Afrikaanse kanaal se mondigwording “met al ons kykers en almal by die huis” te vier.

Meiring sê hulle moes ’n plan maak omdat Covid-19 ’n demper geplaas het op alles, maar die Stella-veldtog het vir hulle gewerk. En daarmee saam ook die leuse van die veldtog waarmee Meiring en haar span bevestig: “kykNET is soveel meer as TV.”

Die kunstenaar Alex Hamilton het die kunswerk van Karen Meiring gemaak.

Kunstenaar en kunste

“Ek is in Greytown in (KwaZulu-)Natal gebore, net ná die republiekwording,” sê Meiring en lag uit haar maag. “Junie 1961.”

Haar ouers, Kallie en Issie, was albei bankamptenare en sy het ’n jonger sussie, Sanet.

“My pa was ook ’n sanger met ’n ongelooflike tenoorstem. Hy het my aangemoedig om my drome na te jaag en ’n liefde vir musiek gekweek. My ma was die een wat ons die lirieke geleer en my voete op die aarde gehou het.”

Uit die aard van haar ouers se werk het die gesin gereeld verhuis. “Dundee, Dannhauser, Escort, Scottburgh, Pretoria . . .”

Meiring het ná skool drama aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO (nou die Noordwes-Universiteit) gestudeer.

“Drie jaar drama, toe ’n honneurs en toe ’n gevorderde diploma in toneelkuns.”

Jannie Moolman, Amanda Strydom, Johannes Kerkorrel en Karen Meiring kuier saam in Bloemfontein in 1989.

Sy het haar loopbaan begin as assistentverhoogbestuurder.

“Wat eintlik maar beteken jy was en vee die vloere en was die akteurs se klere op toer. Ek kon ’n manshemp stryk binne twee minute.” Maar, eie aan haar natuur, het sy haarself mettertyd opgewerk in die teaterbedryf.

Haar sangtalent het vir haar rolle in musiekblyspele besorg en sy het by die destydse Streeksraad vir die Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat (Sukovs) se operageselskap aangesluit.

“Ek kon nie glo ek gaan sit nege uur in die oggend met ’n musiekboek oop voor my nie. Dan sing ons. 11:00 is dit tyd vir tee. En dan sing ons weer. Dit was wonderlik.”

Meiring en Antoinette Kellermann in 1991 in die Staatsteater in Jan en die boontjierank.

In 1989 het sy na Johannesburg verhuis. “Toe beland ek in Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat.”

Dié musiekblyspel se engelekoor het in die kleedkamers begin a capella (onbegeleide koorsang) sing. En daar is die gewilde sanggroep Cutt Glas gebore.

“Dit was ’n absolute voorreg om voor gehore, eers klein en later volgepakte sale, op te tree,” sê Meiring­ oor dié hoofstuk van haar lewe, wat twee dekades geduur het.

Terwyl sy saam met Cutt Glas opgetree het, was sy ook die bestuurder van die groep. Sy het ook opgetree as bestuurder van Johannes Kerkorrel en uit dié geleentheid het sy haar eie agentskap gebou. En toe kom die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

Karen Meiring en Pieter Fourie op Oudtshoorn in die beginjare van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

“Op ’n dag lui my foon. Dit was Pieter Fourie en hy wou weet of ek nie vir hom wil help met die KKNK nie.”

Meiring sê sy was aanvanklik huiwerig en het ’n plaasvervanger gesoek, maar kon niemand kry nie.

“Toe ry ek maar met my karretjie na Oudtshoorn met my eerste selfoon en ’n stokou rekenaar. Dit was in 1994. Dit was die begin van die KKNK en 14 jaar later is ek eers daar weg.”

Daarna het Meiring die Oude Libertas­ Amfiteater in Stellenbosch bestuur en dit in ’n kommersiële teater omskep.

In April 2009 het sy kanaalhoof van kykNET geword en in 2013 direkteur van al die kykNET-kanale.

’n Wenresep

“Ek was nooit voor kykNET in so ’n korporatiewe, kommersiële, winsgedrewe omgewing nie,” sê sy.

Die kanaal het sy buiging in Oktober 1999 op DStv gemaak en kykers van die begin af geboei met vermaak in elke genre, plaaslik vervaardig en alles in Afrikaans.

Meiring sê sy het in haar loopbaan by kykNET baie gegroei.

“Ek is omring deur ongelooflike mense wat my uitdaag en dit lei die heeltyd tot persoonlike groei. ’n Mens dwing jouself om by te hou.”

Sy sê MultiChoice en Naspers het haar waardevolle geleenthede en blootstelling gegee en haar wêreld vergroot. “Die kursusse waarop ek kon gaan, byvoorbeeld in Amsterdam, ’n HBO-konferensie in Los Angeles, internasionale rolprentfeeste en meer. Die groei gebeur organies as gevolg van dit waaraan jy blootgestel word.”

Dis ’n wárm stoel waarin sy sit, maar Meiring sê dis die moeite werd.

“Die uitdagings waarvoor jy te staan kom, sorg dat jy elke dag iets nuuts leer, elke dag gekonfronteer word met iets wat verg dat jy diep moet delf om met oplossings vorendag te kom.”

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale, op die viering van Riaan Cruywagen se 70ste verjaardag in 2015. Foto: GALLO

Wat is kykNET se wenresep?

’n Goeie kok, sê Meiring, ken sy kombuis, ken die mense wat daar kom eet en weet waarvan hulle hou. “Ons doen gereeld navorsing. Die Afrikaanse mark is lojaal, maar hul behoeftes bly verander.”

Sy skryf die sukses van kykNET daaraan toe dat die kanaal in pas bly met sy mark.

“Ons het ’n groot verskeidenheid van kykers en dis ’n uitdaging om almal gelukkig te hou. Maar ek dink ons het iets vir almal in die dinamiese en diverse mark wat ons bedien.”

Meiring sê daar is steeds ’n groot behoefte vir oorspronklike Afrikaanse inhoud en dis nie net Afrikaanse mense wat na dié programme kyk nie. Afrikaanse rolprente word toenemend ook in ander lande vertoon en dit bevestig die behoefte aan oorspronklike inhoud van gehalte – ook internasionaal.

“Deesdae is daar ook groot belangstelling in ons reekse vir oorklanking in byvoorbeeld Spaans. Dis wonderlik. Dis opwindend. Ons inhoud is van ’n gehalte wat goed genoeg is dat dit ook wêreldwyd gewild kan wees.”

Oopskerm-beleid

“Op die oomblik is dit ’n ge-Zoom van die bye,” sê Meiring spottenderwys oor haar besige skedule, wat weens die inperking op ’n rekenaarskerm afspeel.

“Gewoonlik het ek ’n oopdeurbeleid – nou het ek ’n oopskermbeleid.”

Meiring woon in Northcliff, Johannesburg, saam met Willem en Penny, twee Switserse herdershonde.

“Hulle verstaan gelukkig nie Duits nie, net Afrikaans!”

Tussen haar werk deur maak sy tyd vir koffie met kollegas en vriende. En af en toe, wanneer sy tyd het, speel sy graag gholf.

Staatmakers en nuwelinge

“Een van die programme waarna ons baie uitsien, is Op my Eish,” sê Meiring.

In dié splinternuwe werklikheidsprogram, wat in April op kykNET­ begin, gaan die akteur Neels van Jaarsveld kyk of hy op die kassie die liefde van sy lewe kan ontmoet.

Boonop kan kykers ook uitsien na nuwe dramareekse, waaronder Nêrens, Noord-Kaap. Die reeks is gegrond op die gelyknamige teaterstuk van Nico Scheepers wat groot sukses behaal het op kunstefeeste.

“Dis iets waarna mense kan uitsien. Dit lyk regtig belowend,” sê Meiring.

Wat die herhaling van programme betref, sê Meiring dit word selde nou op kykNET (kanaal 144) gedoen. Gewilde programme wat vantevore op kanaal 144 uitgesaai is, word hergebruik op die ander kykNET-kanale, soos kykNET&kie (kanaal 145). Dit sluit reekse in soos Springbok Saga, Amalia, Orion en Dryfsand. “As ’n reël herhaal ons nie programme in spitskyktyd nie, dis ’n uitsondering op die reël en gebeur net as ons nie ’n ander opsie het nie,” sê sy.

“Ons werk hard daaraan om herhalings in die dag ook te verminder, maar dit het sy eie uitdagings. Herhalings is deel van liniêre TV-kanale se sakemodel. Ons skep veral nuwe inhoud vir tydsgleuwe waarop daar ’n premie is, van 17:00 tot 22:00, wat goed vergelyk met internasionale praktyk.”

En die drie gewildste programme tot nog toe op die kanaal? Boer soek ’n vrou, die daaglikse nuusprogram en Binnelanders.

Fiëstas en feeste

“Ek haal my hoed af vir al my voorgangers. Dit was ’n reusetaak om kykNET van die grond af te kry,” sê Meiring.

Toe sy by die kanaal aangesluit het, was dit slegs beskikbaar aan DStv-kykers wat ’n premie betaal het. “Ek wou kykNET en Afrikaanse inhoud vir meer mense bekostigbaar en beskikbaar maak.”

Die skrywer Deon Meyer, Karen Meiring en die historikus en skrywer Hermann Giliomee op ’n Woordfees.

Dit was dalk makliker gesê as gedaan, maar sy het méér as dit reggekry en die kykNET-familie uitgebrei na kykNET&kie, kyk­NETNOU!, kykNETLEKKER! en fliekNET.

Die verskillende kanale onder die kykNET-sambreel is vir haar ’n klinkklare bewys van die geleenthede wat die dinamiese en diverse Afrikaanse gemeenskap bied. “Die kanale groei jaar op jaar steeds. Dis ongelooflik,” sê sy.

Een van die hoogtepunte wat vir haar uitstaan, is die suksesvolle onderhandeling om ’n nuusbulletin te kan uitsaai. En dan was daar die eerste rolprent wat deur kyk­NET vervaardig is: Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom.

“Dit het gelei tot die eerste Silwerskermfees. Dit het ’n groot impak gehad op die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse rolprentbedryf en op die ontwikkeling van nuwe en groot talent.”

Kort daarop het die Fiëstas gevolg waarmee kykNET hulde bring aan presteerders op kunstefeeste. ’n Paneel van 12 besoek die ses groot kunstefeeste en kyk elke liewe nuwe produksie.

“Ek sê jou, daai mense se boude is lam ná elke fees!”

En in 2012 het kykNET vir die eerste keer ’n daaglikse ontbytprogram gekry.

Suidooster in 2015. Ons derde sepie. Eers was daar net Villa Rosa en toe kom Binnelanders en toe kom Suidooster,” tel sy die hoogtepunte af.

In 2016 kom Getroud met rugby by. In 2018 word Arendsvlei eksklusief op kykNET&kie bekend gestel.

“Nou het ons vier daaglikse stories! Ons hoofstroomdramas, komedies, werklikheids- en leefstylprogramme het meer geword.”

Laagtepunte is wanneer ’n program, soos Villa Rosa, beëindig moet word.

“Dit was verskriklik. Veral omdat dit die eerste sepie op kykNET was. Ongelukkig was dit nodig.”

Droom groot

Meiring se droom vir kykNET is “volhoubaarheid en voortdurende groei”. En daarby sluit sy ook die “kreatiewe ekostelsel” in waarvan kykNET onlosmaaklik deel is.

“Ons het ’n fantastiese ekostelsel met aanbiedings en geleenthede soos kunstefeeste, Silwerskerm en skoletoneelkompetisies. Dis ongelooflik om te sien hoe baie van die talent wat deur hierdie ekostelsel kom, op ons skerms en in ons teaters opeindig.”

Meiring glo daar sal nooit ’n tekort aan potensiaal en stories in Afrikaans wees nie en sy hoop dat daardie stories uiteindelik op kyk­NET vertel kan word.

“Ek was baie bevoorreg om soveel geleenthede te hê. Ek is passievol oor Afrikaans, die kunste, rolprente en TV en ek hoop ek kan vorentoe aanhou om geleenthede te skep vir mense in die bedryf.”

Inspirasie

Wie sal sy graag wil nooi vir aandete?

“Pieter Fourie (dramaturg en voormalige hoofdirekteur van die KKNK) en David Piedt (vryheidsvegter, aktivis en stigterslid van die KKNK) by wie ek baie geleer het by die KKNK. Ton Vosloo (voormalige besturende direkteur van Naspers), wat die beskermheer was by die KKNK en vir my regtig ’n inspirasie is. Thuli Madonsela (oud- openbare beskermer), want ek dink haar waardes is amazing. Janice Honeyman (skrywer, regisseur en akteur), want haar manier van dink en doen was nog altyd vir my ongelooflik inspirerend.”

Meiring put ook inspirasie uit gewone mense met alledaagse uitdagings wat lewensbly kan wees. “Veral mense wat swaarkry, maar steeds plesier uit die lewe put. Dit is vir my ’n reuse-inspirasie.”

Wondergem is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Karen Meiring  |  Kyknet  |  Profiel  |  Onderhoud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.