Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Land van 'honger, woede en geweld'

As mense honger is, raak hulle woedend en selfs waansinnig. En dán sien ons die geweld en plundering soos die afgelope ruk in die land, sê die sielkundige en skrywer prof. Lou-Marié Kruger aan Murray La Vita.

Prof. Lou-Marié Kruger in haar huis in Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Op ’n sonnige Kaapse Vrydagoggend om elfuur praat ek op Zoom met Kruger oor honger, woede en geweld.

Die titel van een van die hoofstukke in haar sonderlinge en aangrypende boek Of Motherhood and Melancholia: Notebook of a Psycho-ethnographer, is “Hunger”.

Dié boek is ’n bestekopname van, onder meer, die “langsame geweld” van honger. Dit is ’n besinning oor wat sy in die Dwarsriviervallei buite Stellenbosch in haar werk met hoofsaaklik vroue, veral ma’s, met ’n baie lae inkomste beleef het.

Kruger is hoof van die departement sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch en bedryf ’n privaat praktyk uit haar Stellenbosse huis, wat aan ’n groot park grens.

In die ligdeurstraalde terapievertrek waarin sy sit, is dit stil. Slegs voëlgesang is nou en dan van buite die vertrek hoorbaar.

In Of Motherhood and Melancholia bemoei sy haar ook met die vraag of sy, as bevoorregte wit vrou, oor haar ervarings met hierdie gefolterde vroue kan en mag skryf.

'Of Motherhood and Melancholia' het in 2020 by die University of KwaZulu-Natal Press verskyn.

By haar is daar immer die selfondersoek, selfs -twyfel, oor haar rol en haar stem in dié verband. Ook in dié onderhoud is die versigtigheid (wat wesenlik neerkom op ’n respek en agting vir ander mense) te bespeur.

Sy maak dit byvoorbeeld duidelik dat sy haar nie oor ideologiese kwessies (politiek) kan uitlaat nie. Maar eintlik is sy inderdaad toegerus om dit te doen. Benewens ’n doktorsgraad in kliniese sielkunde (sy het aan Boston en Harvard studeer), het sy aan die Universiteit Stellenbosch politieke filosofie onder proff. Johan Degenaar en André du Toit bestudeer en later ’n meestersgraad in politieke studies aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

Langsame geweld

Wanneer ek haar vra oor die verband tussen honger en woede; oor die aanname dat mense wat honger is en wie se kinders honger is, uiteindelik woedend (en selfs waansinnig) kan raak, sê sy “langsame geweld” is waaroor ons eers moet praat.

Honger beteken altyd daar is pyn, sê Kruger. Foto: Brenton Geach/Gallo Images

“Ons sit almal vasgenael voor ons televisies en ons selfone en ander skerms en kyk na hierdie verskriklike gewelddadige beelde en ons kan dit nie glo nie en ons sê vir mekaar: ‘Wié is hierdie mense? Wié het dit veroorsaak? Wát doen hulle? Hóé kan hulle dit doen?’

“Een van die belangrikste konsepte in my boek is wat die skrywer en akademikus Rob Nixon ‘slow violence’ of langsame geweld noem. Dit is onsigbaar; dit is nie skouspelagtig of dramaties nie; dit is aanhoudend; dit is nie skielik nie, dit is inkrementeel, en die gevolge daarvan is verskríklik, maar ’n mens sien dit eers jare later. So, dit is nie iets wat ons op TV kan sien nie.”

‘Kwaad en verneder’

Langsame geweld is enige maatskaplike krisis.

“Dit is kolonialisme, slawerny, apartheid, huishoudelike geweld, rassisme, hongersnood, armoede, ongelykheid. Hierdie langsame prosesse is iets wat aan mense gedoen word wat hul menswaardigheid aftakel; dit konstant en meedoënloos aftakel. En dit verneder mense natuurlik en as mense verneder word, word hulle kwaad.

“En as hulle lank genoeg kwaad is, dan is daar die uitbarstings wat die voorblaaie haal. Maar die geweld wat mense oor járe aangedoen is, is nié skouspelagtig of dramaties nie; dit is nié nuuswaardig nie.

'En ons voel skaam en as ons skaam voel, dan voel ons kwaad.' Foto: Jaco Marais

“Dít is die eerste geweld wat daar is. Maar daaroor praat ons nie; ons vermy dit en ons onderdruk dit; ons kan dit eintlik nie verduur nie.

“Nixon sê: ‘We are accustomed to conceiving violence as immediate and explosive, erupting into instant concentrated visibility.’ Dit is die soort geweld wat ons nou sien, maar daar is ’n ander geweld wat al lankal aanwesig is in hierdie land. Dit is ’n verdeelde land, so ons behoort nie verras te wees nie.”

‘Vanwaar die honger?’

As ’n sielkundige aanskou sy deurentyd geweld.

“Ek sien al hierdie geweld – ek sien die langsame geweld van dié land, en ek sien dan die uitbarstings van hierdie dramatiese, skielike geweld.

“Wanneer ek geweld sien, weet ek dít is nie waar dit begin het nie. Dan wil ek weet: Waar kom dit vandaan?

“En dit kom van kwaadheid en van woede af. So, ek dink om net die troepe in te stuur of om terug te skiet en te praat daaroor in ons voorkamers, oor hoe verskriklik dit is . . .

“As ons almal kan terugstaan en vra: Hóékom is hierdie mense so kwaad? Ek dink baie mense doen dit wél; ek het die afgelope ruk baie goeie artikels gelees oor waarom mense gewelddadig is.

“Ek het ook in hierdie tyd van Covid bewus geraak van hoe kwáád mense is. Dit is in my middelklas-praktyk; dit is in my navorsing; dit is onder die studente . . . Mense is kwáád. En nou, weens Covid, is hulle meer kwaad as wat hulle nog ooit was.”

Honger as metafoor

Ons gaan nie geweld verstaan indien ons nie verstaan waarom mense woedend is nie.

Langsame geweld is 'kolonialisme, slawerny, apartheid, huishoudelike geweld, rassisme, hongersnood, armoede, ongelykheid'. Foto: Tiro Ramatlhatse/Gallo Images

“Eerder as om te sê: ‘Jou slegte mens! Jý is gewelddadig!’, moet ons onthou die regering is gewelddadig; die ongelykheid is gewelddadig; huishoudings is gewelddadig. Eintlik is alle instellings wat sorg moet gee tans gewelddadig. En ons kan niks aan geweld doen as ons nie verstaan waarom versorgers gewelddadig word nie.

“So, dan kom ek uit by iets soos honger. Ek dink die belangrikste hoofstuk in my boek is die een oor honger, want dit lê aan die wortel van die probleem.

“Ek praat van sowel baie basiese honger, fisieke honger, maar dan ook van honger as ’n metafoor, want honger beteken altyd daar is pyn: Ek kry seer, dis nie lekker nie; maar daar is ook ’n verlange en ’n begeerte na iets wat ek wil hê en nie kan kry nie.

“As mense honger is, is hulle woedend. As hulle pyn het en hulle begeer iets, dan raak hulle kwaad en woedend. En ons leef in ’n samelewing waar mense nie eintlik wil hoor van kwaad en woede nie. Mense word nie die geleentheid gegun om daaroor te praat nie.”

Die woede word dan onderdruk.

'Ek dink die belangrikste hoofstuk in my boek is die een oor honger.' Foto: Jaco Marais

“En as dit onderdruk word, dan gaan dit mos nou in die een of ander stadium tot uitbarsting kom. So, hierdie woede waaroor almal nou so verbaas is, was nog die hele tyd daar. Dit behoort ons nie te verras nie, want mense is woedend. Ons politieke prosesse en selfs ons geestesgesondheid-prosesse maak nie sistematies daarvoor voorsiening nie.”

‘Droom van eet’

Hoewel die geweld en plundertogte van die afgelope dae in hoofsaaklik KwaZulu-Natal en Gauteng volgens aanduidings georkestreer is, is daar ook klaarblyklik behoeftige mense wat die geleentheid gebruik het om kos en ander basiese middele te bekom.

“Die mense wat sogenaamd riot is woedend. Die mense wat op hulle reageer, is óók woedend. Dit is verskríklik hartseer – hierdie woedende land wat ons het . . . ’n Mens hoor deesdae dikwels die titel van Alan Paton se roman Cry, the Beloved Country; as ek ’n titel moet skep vir wat nou aangaan, sal dit wees ‘Ween, woedende land’ . . .

“Álmal is woedend. My generasie se kinders is woedend; hulle sê: ‘Kyk wat erf ons by julle! Wat het julle aangerig met apartheid?’ Mense met lae inkomstes is woedend, want die beloftes wat gemaak is, is nie nagekom nie; daar is geen verdeling van welvaart nie ... tensy jy sinies is en die korrupsie as ’n makabere herverdeling van welvaart beskou.

En dan kom hulle agter: Die sopkombuis was nie oop nie.

“Ek dink as jy nog nie fisiek honger was nie, kan jy nie verstaan wat honger aan jou kan doen nie. Hoe ’n mens voel as jy nie kos in jou maag het nie, maar veral ook as jou kind of kinders honger is. Ek kan nie eens sê ek verstaan dit nie, want daar was nog nooit só ’n krisis in my lewe dat ek of my kind nie iets gehad het om te eet nie.

“Maar as ek kyk na die mense wat ek in my boek aanhaal, die vroue, die moeders van honger kinders. Nathan Trantraal [digter en skrywer] sê byvoorbeeld as jy honger is, wil jy net gaan slaap en jy wil droom van eet en jy wil nie wakker gemaak word nie, want dan is jy weer honger . . . Dit is verskriklik.

“En dan daardie fantastiese antropoloog Nancy Scheper-Hughes wat in haar boek Death without Weeping skryf oor honger wat letterlik tot waansin lei. Mense raak crazy van honger wees.

'Ons gaan nie hierdie krisis wat ons nou beleef, oplos deur net soldate in te stuur nie.' Foto: Jaco Marais

“In my boek skryf ek oor my studente wat gaan groepsterapie doen in ’n lae-inkomste-gemeenskap en hoe hulle terugkom en my vertel hoe lekker hulle met die kinders werk. Dan is daar net hierdie een dag wat die kinders onmoontlik is: Hulle wil nie saamwerk nie; hulle is nie teenwóórdig nie . . . En die terapeute kan nie dink wat gaan aan nie; wat het nóú gebeur?

“En dan kom hulle agter: Die sopkombuis was nie oop nie. Die kinders is hónger. Dít is hoe kinders optree as hulle honger is. Hulle is kwáád en hulle is ontevrede en hulle is in pyn en hulle raak gemeen met mekaar. Scheper-Hughes noem dit ‘the madness of hunger’.”

‘Nasionale skande’

Sy meen iets gebeur in ’n mens se brein wanneer jy honger is.

“Jy verloor inhibisies en jy sal énigiets doen om kos in die hande te kry. So, op daardie basiese vlak kan ek verstaan dat mense gaan plunder as hulle honger is, want jou menslikheid word só ondermyn as jy honger is dat jy nie . . . Wat maak dit dan saak as iemand jou op televisie sien terwyl jy goed vat? Jy voel klaar nie menslik nie; die ander goed is nie belangrik nie en dis nie asof jy jou reputasie moet beskerm nie.

“Dit is ’n beskamende toestand waarin jy verkeer wanneer jy honger is. Ek dink nie ’n mens beséf . . . Ek dink ons is nou almal lus om te sê dis nie honger mense wat aan die oproer deelneem nie, dis ander mense, maar 25% van kinders in hierdie land is honger, heel waarskynlik meer met Covid-19. Dit is ’n nasionale skande. Dít is waar die regering régtig faal.

“Ek kan my nie uitspreek oor die party-politieke aard van hierdie goed nie, maar ek weet net selfs al is politieke opportunisme ter sprake, sou dit nie geslaag het indien daar nie mense was wat ontevrede en kwaad is nie – omdat hulle honger is of behoeftig en akuut bewus is van die verskriklike ongelykheid wat hier nog steeds in ons land is.”

Neute en droëvrugte

Kruger sê wat nou gebeur, is ironies: Middelklasmense is skielik bekommerd dat hulle nie kos en petrol in die hande kan kry nie.

“’n Geliefde familielid van my woon in KwaZulu-Natal en vir die eerste keer in sy lewe is hy bekommerd dat hy nie vir sy seuns sal kan kos gee nie. Hy skarrel rond en gaan koop neute en droëvrugte, want hy weet daar is nie brood en melk nie.

“Dit is só ironies. Daardie vrees van ek kan nie my kinders voed nie, is die vrees waarmee arm mense daagliks leef.”

Sy beklemtoon dat sy absolute deernis het vir waardeur middelklasmense gaan en ook groot begrip het vir dit wat hulle nou beleef. Hulle is ook onseker en bang en kwaad.

‘Soos ek’

Die Waarheids-en-Versoeningskommissie het ons in die steek gelaat deur “nie te erken dat dit nie net oor vergewe en vergeet gaan nie. Daar het slegte goed in ons verlede gebeur en ons moet dit verstaan en ons moet dit herstél [repair]. Dit is nie genoeg om net te sê: Goed, gaan nou maar aan nie.

“Ek dink daardie herstel het nié gebeur nie, so mense het . . . Ék as ’n bevoorregte wit Suid-Afrikaner wat by apartheid baat gevind het, het íntens gehoop dat dinge reggestel kan word en mense nie so kwaad hoef te wees nie. Ons almal voel seker ons het uitgemis op ’n geleentheid om dinge reg te maak. Ons almal is seker op ’n manier aandadig daaraan dat dinge nog nie reggestel is nie. En ons voel skaam en as ons skaam voel, dan voel ons kwaad.”

‘Langsame herstel’

Sy meen álle Suid-Afrikaners moet hul stemme dik maak hieroor.

“Ons gaan nie hierdie krisis wat ons nou beleef, oplos deur net soldate in te stuur nie. Dit is ’n langsame proses. As daar langsame geweld is, dan moet daar langsame herstel wees. En dit het nog nie gebeur nie. Ons mag deur hierdie krisis kom, maar as die strukturele probleme nie aandag geniet nie, gaan ons nog en nog sulke krisisse hê.”

Polisielede in ’n geplunderde supermark in Durban. Foto: Darren Stewart/Gallo Images

Hoe ons op al hierdie dinge kan reageer, word vir Kruger goed onder woorde gebring deur haar geliefde Tony Hoagland se gedig Gorgon.

The world is Gorgon

It presents its thousand ugly heads

It displays its writhing serpent hair

Death to look at it directly for too long

But

Your job is not to conquer it;

not to provide analysis;

not to make a wry remark

Your job is to be kind

Your job is to watch and take notes

Your job is to not be turned into a stone.

“As ons net nie soos klippe word nie. As ons net kan probeer verstaan – ons eie emosionele reaksies en dié van ander,” sê sy.

Meer oor:  Geweld En Plundery  |  Hongersnood  |  Kzn-Herstel  |  Armmoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.