Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Lanie se lewe is nou ‘net mooi fine’

Sy het groot verliese in haar lewe oorkom deur haarself “heel te vertel” en deur pelgrimstogte te onderneem. En nou, sê Lanie van Reenen aan Murray La Vita, is sy “net mooi fine”.

Lanie van Reenen in haar huis in Groenpunt.Foto: Adrian de Kock

“Wanneer ’n mens midde-in ’n krisis is, voel dit vir jou partymaal of jy vir altyd daar gaan wees. En dan op ’n dag . . . Dit kom so ongemerk; heling kom baie ongemerk,” sê Lanie.

Ons sit haar blyplek in Groenpunt en gesels. Dit is die onderste deel van ’n huis wat sy huur, en bestaan hoofsaaklik uit ’n leefvertrek en ’n slaapkamer.

In C’est la Vie skryf Lanie hoe sy haar florerende gastehuis in Kaapstad verkoop en al haar geld en energie gestort het in ’n chateau in die Franse dorp Aubusson, wat sy toe gerestoureer en tot ’n wonderlike boetiekhotel ontwikkel het.

Die projek het egter ontspoor en sy en haar vennote was hul geld kwyt. In Net mooi fine, wat pas by Penguin verskyn het, skryf sy wat in haar lewe gebeur het sedert daardie projek gefaal en ’n liefdesverhouding op die rotse beland het.

“Daai ding wat ek sê dat hierdie gebou [die chateau] en ek ’n sielsverbintenis het, is regtig nie oordrewe nie. Dit was love at first sight. Ek het daardie plek gesien toe ek by vriende gaan kuier het en daar was regtig iets groter as net . . . Natúúrlik was dit ’n heerlike ego-ding dat ek toe geld gehad het ná die verkoop van Welgelegen [haar gastehuis in Kaapstad] om wel so ’n plek te kon koop.

Daar is baie skakerings van verlies, maar een van die skakerings is beslis: Ek het dit verdien.

“Op ’n manier het die uiteindelike stroping van die chateau, wat ek in C’est la Vie beskryf – daardie man wat die plek kom stroop van alles wat hy mag vat en alles wat hy nié mag vat nie – dít het in die mate wat daardie gebou my sielsgenoot is, baie mý proses verbeeld van die een ná die ander ding wat wegval.

“As ek so in die nag wakker lê en ek dink aan daai gebou en ou Jerome [opsigter] sê vir my daar is nou weer ’n klomp dakteëls af en daar groei ’n swam deur die vloer en daar het ’n klomp vandale ’n orgie gehou in een van die kamers en hulle reste daar gelos . . . Dit het elke keer só persoonlik gevoel. Dit het elke keer gevoel dit onderstreep my verlies.

“Daar is baie skakerings van verlies, maar een van die skakerings is beslis: Ek het dit verdien. En dit is dan wanneer ’n mens jouself begin aftakel; wanneer jy nie meer afstand het en besef hierdie dinge gebeur nie.

“Jy dink dan dis jou verdiende loon; jy het dit oor jouself gebring. En ek het dit oor daai gebou gebring.

“En ek dink wanneer jy dan die persoon verloor wat deur daai proses saam met jou was en die heel tyd gesê het: ‘Moenie worry nie; ek is hier.’ As dáái persoon dan wegval, dink jy verál dis oor hy jou onwaardigheid uiteindelik ook besef.

“Vandag weet ek dit was allermins sy bedoeling. Hy moes bloot aanbeweeg. Party verhoudings maak dit en party nie.”

Die gerestoureerde Château Sallandrouze in Aubusson.Foto: Anet Pienaar-Vosloo

’n Draaipunt

Die eerste pelgrimstog wat sy onderneem het ná haar terugslae was die Camino Portuguese.

“Ek was met die manuskrip van Net mooi fine tot op ’n punt waar ek skryf my lewe is nou weer normaal, vervelig normaal, ná daai moeilike tyd waar ek hier in hierdie huis [in Groenpunt] voel daar is nêrens waar ek kan gaan wegkruip nie vir hierdie angs, hierdie donker man. En ek hardloop letterlik hier uit na ’n vriendin se huis toe. Dáár het ’n draaipunt gekom.

“So ná daardie draaipunt het daar baie positiewe goed gebeur en was my lewe weer normaal en dit was nou hardly iets waarmee jy ’n boek kon eindig: Ek wat scatter-kussings en banke en wat ook al maak [sy het weer as binnenshuise ontwerper begin werk].”

’n Vriendin het toe voorgestel dat sy die Camino gaan loop.

“En dan weet ek: Dít is presiés wat ek nou wil doen. Ek het geweet ek moet dit alleen doen want dit sou my uitdaag op ’n ander manier as enige van my ander uitdagings. Dis scary om alleen in die middel van Porto te wees en jy moet nou ’n fiets gaan haal en êrens moet jy ’n geel pyl soek en jy moet agter daardie geel pyl aanry.”

Ék is ’n bietjie só. Ek storm in . . . Ek dink ek het dit gedoen met die chateau; ek doen dit desnoods elke keer.

Sy is iemand wat geneig is om “in te storm”.

“Dit laat my skielik dink aan ’n storie uit my kinderdae van daai kind wat die sjokoladepot kry en dan kook die sjokolade oor want hy het nie al die instruksies gekry nie en naderhand is die hele dorp vol sjokolade want hy weet hoe om dit te begin, maar hy weet nie hoe om dit te stop nie.

“Ék is ’n bietjie só. Ek storm in . . . Ek dink ek het dit gedoen met die chateau; ek doen dit desnoods elke keer. en dis so deel van my dat ek nie weet ek gaan dit nou weer doen totdat ek dit gedoen het nie.”

Sy het die Camino ook “’n bietjie só” aangepak.

“Maar ek kon dit nie beter geplot het nie, want nou is ek weer half oorgelewer aan Lanie wat instorm en hierdie keer moet ek nie emosioneel oorleef nie, ek moet regtig fisiek van een plek tot ’n ander plek kom.”

Sy het tydens die Camino veral besin oor haar kinders en weer besef “wat se bate sy in hulle het”.

“Veiligheid het vir my die plek van weelde ingeneem.”Foto: Adrian de Kock

Merwede se woorde

Die titel van Lanie se jongste boek kom uit die mond van haar ontslape vriendin die sonderlinge Merwede van der Merwe.

“Iets wat Merwede gefassineer het, was dat ek so waagmoedig was in die materiële wêreld; dit was heeltemal buite haar raamwerk dat ’n mens kanse vat met geld en dat ’n mens ’n gebou koop en verkoop en dat jy ’n besigheid op die been bring en dan nog een. Sy het altyd gesê: “Mý proses in die nie-materiële wêreld is ’n spieëlbeeld van jou proses in die materiële wêreld.” En dan het sy gesê: “Maar, Bok, weet maar, ons twee gaan afkak! . . . Maar dit gaan net mooi fine wees.”

Lanie het in 2010 na Suid-Afrika teruggekeer nadat die bedryfsmaatskappy van die hotel wat sy in die chateau geskep het, gelikwideer is.

As ek wakker word, is die chateau in my gedagtes en as ek gaan slaap is dit daar.

“Ek is toe nog regsaanspreeklik vir die chateau en ek is stokalleen met die plek want die meeste van die ander aandeelhouers wat ook hul geld verloor het, het nie met my gepraat nie en wou net aanbeweeg.

“Dit het my nie gelos nie. As ek wakker word, is die chateau in my gedagtes en as ek gaan slaap is dit daar.”

Sy beskryf in Net mooi fine die uitmergelende pogings om die plek te verkoop en hoe sy uiteindelik ’n koper kry wat dit teen ’n baie lae prys koop.”

Net mooi fine het pas by Penguin verskyn.

Ons praat oor die verlies aan materiële dinge en hoe sy dit beleef.

“Daar sal op daardie vraag altyd twee antwoorde wees. Die een antwoord is die net-mooi-fine-antwoord. As ek nie dít daarvan maak nie, gaan dit my . . . die alternatief is te awful. Jy kan dan vir éwig vassit by: Ag, as ek maar net nog weer mý huis gehad het; ’n huis gehad het; as ek weer ’n huis kan bou . . . Jy weet met wie ek bevriend is.”

Sy noem die name van welgestelde mense met lieflike huise en besittings.

Dis flíppen swaar partymaal vir my om die blink kant bo te hou. Dit verg ’n doelbewuste poging.

“En dáái omgewing is nog steeds my omgewing. So, sê nou ek gaan na een van hulle se huis toe en daar is een of ander spectacular do, dán skop die net mooi nié fine in. Ek gaan nóóit heeltemal daarvan ontslae raak nie.

“Dit ís partymaal net mooi nié fine nie. Dis flíppen swaar partymaal vir my om die blink kant bo te hou. Dit verg ’n doelbewuste poging.

“Maar die waarheid is dat dit ’n groot verligting is om nie aan wêreldsgoed jou waarde te meet nie. Ek sou die nie geweet het as ek nog . . . Jy weet dit nie van jouself totdat jy nie daarmee gekonfronteer word nie.

“Hierdie huisie . . . Veiligheid het vir my die plek ingeneem van weelde. As ek hier kom en ek kan my deur toetrek en ek kan in daai kamer lê met my boeke en my ma se kombers en my mooi goed, my pragtige skilderye, dán . . . ’n Mens praat nogal met jouself as jy alleen bly. Partymaal kom ek hier in en dan dink ek dis mý plek; dis lekker; dis mý huis; dis fine.”

Wat sy nie meer kan doen nie, is onthaal.

“Ek het altyd nogal onthaal; ek kan baie goed kook en dit is vir my lekker om ’n langtafel te maak en te onthaal. Maar wat ek nou doen, is ek gaan doen dit by iemand anders se huis of by my Nina-kind wat ’n baie nice huis het net hier bo. Dan nooi ek my vriende en sê: ‘Kom eet by my Nina-kind se huis vanaand en ek maak vir julle kos. So ek kan nog steeds daai vreugde van vir mense kosmaak beleef. Maar as ons hier is – al my kinders en my kleinkinders – dan is dit chaos.”

“Dis flíppen swaar partymaal vir my om die blink kant bo te hou. Dit verg ’n doelbewuste poging.”Foto: Adrian de Kock

Baie minimalisties

Sy is nie seker of sy vrywillig so sou afgeskaal het wat die materiële betref nie.

“Ek het so ’n lêer getiteld Lanie se huis; jy weet: Hoe gaan my volgende huis lyk. En dis baie minimalisties en dis alles wat ek ábsoluut van hou.

Weet jy, ek lewe baie lig en dit is nogal ’n losmaak.

“Ek dink nie ek sal ooit weer kan clutter nie; dis omtrent wat van die clutter oorgebly het en dis vir my verskríklik mooi.” Sy kyk deur die vertrek na die Franse tapisserie teen die een muur, die skilderye, die kas vol wit porselein.

“Weet jy, ek lewe baie lig en dit is nogal ’n losmaak.

Wanneer ek opmerk oor hoe mooi die glasvaas op die tafel tussen ons is waarin rose gerangskik is, straal haar gesig.

“Ek het dit by ’n brocante [’n mark waar tweedehandse goedere verkoop word] in Frankryk gekoop. Dit was darem vir my die lekkerste tyd daai alleen in die oggend; op ’n Sondagoggend het ek vir my personeel gesê ek gaan na ’n brocante toe. Dít was vir my die lekkerste ding van in Frankryk bly wanneer jy in jou karretjie klim en jy gaan koop hierdie ding vir twee euro.”

“Maar die waarheid is dat dit ’n groot verligting is om nie aan wêreldsgoed jou waarde te meet nie.”Foto: Adrian de Kock

Die pendulum swaai

Die ander “pelgrimstog” waaroor sy in Net mooi fine skryf, is die “trek” wat sy na die basiskamp van die berg Everest onderneem het.

“Ek het die besluit verlede Januarie geneem. Sulke goed laat my lewend voel. Wanneer ek my hand opsteek en sê: ‘Ek wil, ja.’ Dis daai instorm. Of ek dit sou kon doen met my knieë, het ek nie geweet nie, maar dis so mogge troffe.”

Daar was uiterstes van “absoluut aaklig” en “absoluut verhewe”.

“Ek het dit nog nooit so ervaar as in die Himalaja nie. Om daai berge te sien uittroon hier bo jou . . . Jy kan nie dit vir iemand beskryf nie. En dit is so onmiddellik; en jy’s so tússen dit dat jy Everest eintlik baie min sien. Hy is so ontwykend. En hoe nader jy kom, hoe meer verdring die ander hoë pieke Everest – dit is dan net so ’n donker driehoekie wat agter hulle uitsteek.

Ek sal gaan sit en skryf hoe die pendulum geswaai het na die verste punte van ervaring – van sowel die landskap buite én binne-in my.

“En dan die konfrontasie met jou fisiologie . . . Jou longe wil nie daar wees nie; jou brein swel; jou maag is ómgekrap . . .”

Sy besin in Net mooi fine, só oor die ervaring:

“Ek weet ek sal nog lank dink oor die trek na Everest Base Camp. Ek sal gaan sit en skryf hoe die pendulum geswaai het na die verste punte van ervaring – van sowel die landskap buite én binne-in my.

“Ek weet dat ek vorentoe soortgelyke avonture wil opsoek wat my gees en my liggaam sal uitdaag, die son wil sien opkom en ondergaan in die ooste en weste van nuwe plekke, onder ’n vreemde sterrehemel wil slaap. Soms in ’n groep, soms alleen.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Lanie Van Reenen  |  Net Mooi Fine  |  Frankryk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.