Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Lanoye: ‘Ek háát klein dingetjies’

Tom Lanoye praat met Murray La Vita oor die bron van ’n moedertaal wat verbrokkel en oor sy Koningin Lear wat dink sy is slimmer as die ouderdom en die dood.

Tom Lanoye
“Wat jy sien, is die groot aktrises wat óral bestaan, maar wat nie die parallelle rolle het nie om hul virtuositeit en kennis van teater te bewys nie,"vertel die skrywer Tom Lanoye. Fotograaf: Arthur Los

Die onderhoud met die Vlaamse Lanoye vind plaas op ’n bewolkte middag in die Planet Bar van die Mount Nelson Hotel.

Hy en sy man, René Los, bestee al die afgelope amper 30 jaar ’n aantal maande per jaar in Kaapstad. Hulle “volg die somer”, waarna hulle na Antwerpen terugkeer, na Europa wat hy as ’n “theme park” beskryf. Dit is ’n “dubbele lewe”, sê hy.

’n Rukkie nadat ons by ’n tafel in ’n hoek plaasgeneem het, begin iemand in ’n aangrensende vertrek klavier speel. Wanneer ek my ore spits om hierdie klanke van ’n vergange era te registreer, merk Lanoye droog op dat dit ’n regte klavier (en -speler) is wat ek hoor.

Hy bestel ’n charcuterie-bord bestaande uit verskillende koue vleise, patees en onder meer ook ’n groot oopgekapte been waarin die beenmurg sigbaar is, en ’n glas merlot.

Een van die boeiende mededelings wat Lanoye in die loop van die middag doen, is hoe sy pa, ’n slagter, hom as drie- of vierjarige saamneem na ’n slaghuis.

“Ek staan met my hand in my pa se hand – en ’n bul word geslag. Daar mag mense wees wat dink dit moet traumaties wees, maar ek staan langs my pa en ek vind dit fantásties!

“Vir my was dit fássinérend, ook om die oorgang van sulke kragtige lewe na gevierendeelde dood te sien. Die normaliteit, die bánaliteit daarvan – die mans wat praat en lag met my pa en knipoog na my en die bul wat doodgaan en binne minute in vier dele opgesny word.”

Die gesprek begin by Lanoye (’n internasionaal gevierde skrywer, digter, dramaturg, vertaler, joernalis en kritikus) se Koningin Lear, ’n herverbeelding van Shakespeare se King Lear wat deur Antjie Krog uit die Nederlands in Afrikaans vertaal is.

Ek het al internasionaal met so baie mense saamgewerk en glo vir my: Julle het só baie talent.

“Dit is oorspronklik geskryf vir hierdie wonderlike Vlaamse aktrise Frieda Pittoors om haar vyf-en-sestigste verjaardag te vier. Dit was eintlik haar idee.

“My ma was ’n amateur-aktrise wat altyd gesê het daar is min interessante rolle vir vroue wat ouer as 35 is; beslis nie soveel as vir ouer mans nie. So dis ’n lewenslange opdrag vir my om iets met dié aanklag van my ma te doen . . .

“Wat jy sien, is die groot aktrises wat óral bestaan, maar wat nie die parallelle rolle het nie om hul virtuositeit en kennis van teater te bewys nie . . . Ek hoop mense besef dat Antoinette Kellermann ’n ongelooflike great aktrise is en sy kry nou die geleentheid om soos Laurence Olivier tot Ian McKellen, te toon wat dit [Lear] is; wat dit kan wees.

“So die play is ’n geleentheid vir teaterliefhebbers om ’n groot aktrise en ’n groot regisseur [Marthinus Basson] in aksie te sien. Ek het al internasionaal met so baie mense saamgewerk en glo vir my: Julle het só baie talent.”

Antoinette Kellermann vertolk die rol van Koningin Lear.Foto: Robert A Hamblin

’n Moeder en drie seuns

Koningin Lear vra: Wat beteken die koninkryk nóú? Wat beteken die mag nóú? Wat beteken die storm nóú?

“Vir my as iemand wat ook ’n Freudiaan is, is ’n moeder met drie dogters beslis ’n ander dinamika as ’n moeder met drie seuns; vir my moet dit drie seuns wees. Die gevegte is dan ook anders; dis ’n moeder wat veg met nie net haar seuns nie, maar ook die skoondogters.

“Daar is een seun wat nie getroud is nie, ons het een wat getroud is met ’n vrou wat nie kinders het nie; en daar is een skoondogter wat drie kinders het.

Ek het opgegroei in Europa en daar was die apokaliptiese beeld van die kernoorlog wat sou kom; die bomme; Rusland wat sou inkom.

“Die storm kom by twee dinge uit: Jy het die sakestorm en dan, sonder om dit uit te spel, verwys dit na die wêreldwye finansiële krisis van 2008 waarin groot ondernemings verdwyn het. Dit is ook ’n hedendaagse vertaling van wat die storm by Shakespeare beteken. Die storm is ’n storm in die kop van die ou koning wat dementerend is, maar dit beteken ook ’n Bybelse, apokaliptiese beeld.

“Ek dink ’n samelewing én ’n mens kan nie sonder ’n visie van wat die apokalips is nie, ook as jy nie ’n god ken nie en ’n ateïs is dan het jy dit. Ek het opgegroei in Europa en daar was die apokaliptiese beeld van die kernoorlog wat sou kom; die bomme; Rusland wat sou inkom.

“Nóú is die apokaliptiese visie dat daar ’n groot klimaatstorm kom. Eintlik het die storm my die sleutel gegee om al die ander goed ook te verken. So, die storm wat gebeur, is ’n persoonlike storm in die kop van die koningin; dis ’n storm in die familie; dis ’n storm in die maatskappy Lear Inc.; dis ’n storm in die ekonomie; en dis ook ’n klimaatstorm: Die resultaat van hoe ons omgaan met die wêreld in ’n kapitalistiese bestel.”

Dit het twee jaar van besinning en besprekings en skryf en herskryf geneem om Koningin Lear in 2015 in Nederlands die lig te laat sien. Daarna is dit ook met groot sukses in Duits (2016) en in Frans (2019) opgevoer.

“Dit moet ’n verskriklike straf wees dat jy van die een oomblik na die volgende nie meer kan lees nie; nie meer kan verstaan wat mense sê nie.”

’n Koningin en haar mag

Lanoye se ma het ’n enorme indruk op sy lewe gemaak. In sy roman Sprakeloos beskryf hy die einde van haar lewe toe sy ná ’n beroerte nie meer kon praat nie.

“Sy het gepraat in ’n taal wat nie bestaan nie. Dit moet ’n verskriklike straf wees dat jy van die een oomblik na die volgende nie meer kan lees nie; nie meer kan verstaan wat mense sê nie. Jy dink jy praat jou taal, maar dit is net rubbish . . . Jý hoor nog. Dit moet verskriklik wees.

“Dít is nie wat met Koningin Lear gebeur nie; by haar is dit meer ’n klassieke dementering, maar wat so lekker is van die stuk is die groot koningin gebruik allés wat sy kan gebruik om tog haar mag te behou. Binne die raamwerk van ekonomie en klimaatsverandering en die familie, is daar die groot menslike drama van dat jy oud word . . . Koning Lear en Koningin Lear dink albei dat hulle slimmer is as die ouderdom en die dood.”

Hy praat oor sy “persoonlike mitologie”.

“Sowel in Kartondose as in Sprakeloos, is daar – dis ’n bietjie pateties om dit so te stel – maar dit is ’n private . . . my persoonlike mitologie. Byvoorbeeld hierdie scene uit my jeug: Wat baie kere gebeur het, is dat my ma – ek was die jongste van vyf – wat ook gewerk het in die winkel van my pa, die slagter, stryk en sy wil haar rol in ’n toneelstuk repeteer en sy wil dat ek nog meer leer lees as wat ek al kan, en sy weet ek is mál oor teater.

Dis ’n onwaarskynlike geskenk wat jy kry as ’n skrywer dat jy die bron van jou moedertaal mag korrigeer wanneer sy ’n fout maak in ’n teks van Arthur Miller.

“So ek het nou die . . . Dis stukke van Arthur Miller, dis stukke van Shakespeare, dis stukke van Molière wat ek leer lees het toe ek agt, 10, twaalf jaar oud was.

“My ma stryk en sy rehearse haar rol en ek moet al die ander goed lees en ek moet haar korrigeer. Dis ’n onwaarskynlike geskenk wat jy kry as ’n skrywer dat jy die bron van jou moedertaal mag korrigeer wanneer sy ’n fout maak in ’n teks van Arthur Miller. Isn’t that incredible?

“Die bykomende feit is sy word sprakeloos; sy verloor haar taal. Dis vir iedereen verskriklik as jy die bron van jou moedertaal stukkend sien en hoor gaan . . . Sprakeloos is nie net oor my jeug, oor my ma, oor my pa, oor die slagtery wat my pa gehad het nie, maar dis ook oor táál, oor skryf, oor wat dit beteken.

“Dis ’n klein winkel wat my pa gehad het, maar dis tog die sakelewe. Wat gebeur in Koningin Lear is nie net die sakelewe nie, maar dit is ook ’n vrou wat magtig en belangrik wás en wat haar moontlikhede verloor. So dit is tog ’n parallel met Sprakeloos.”

Hy dink nie dit is ’n foefie dat hulle Koning Lear ’n vrou gemaak het nie.

“Dis nie ’n modieuse gender-ding nie. Vir my is dit ’n parallelle, maar outonome play wat ook nie die bedoeling het om . . . As ’n ma haar seun verloor . . . Aan die einde kry jy ’n klassieke pietà-motief en gebeur daar iets wat ’n pa nooit kan doen nie. Dis verskriklik vir ’n pa om sy seun of sy dogter te verloor, maar ’n má wat ’n kind verloor wat sy self gebaar het – daaraan is daar iets ongelooflik teennatuurliks. Weer eens is daar die Freudiaanse dinamika. Ja, die ma . . . Dit is hier meer teenwoordig as in enige ander stuk wat ek geskryf of bewerk het.”

061014 Aardklop2014 aardklop Spat Skrywer Tom Lano
Tom Lanoye: “Vir my was dit fássinérend, ook om die oorgang van sulke kragtige lewe na gevierendeelde dood te sien." Fotograaf: Arthur Los

Tom die podiumbeest

Sy gewilde optredes voor groot gehore; sy rol as “podiumbeest”, kom ter sprake.

“Dit is nie verstommend dat ek so ’n soul brother van Antjie is nie omdat sy op ’n heel vanselfsprekende manier dit ook het.” Hulle tree dikwels saam op in veral Europa. “Ek dink dit is baie Europees en beperkend om literatuur slegs te sien vanuit bóéke. Ek hou báie van boeke; ek hou van die boekkultuur, maar vir mý is dit te beperkend. En op ’n weird manier het ek my, sonder om dit te weet, voorberei op wat nou aangaan. Die belang van die skrywer wat aanwesig is met sy eie tekste word al hoe groter . . .

Vir my is die beste gedig die een wat jy self lees en dan maak dit ’n indruk of jy hoor iemand wat dit voordra en dit maak ’n indruk.

“As jy kyk na poësie: Dis rym; dis ritme; dis alliterasie – al daardie goed kom van orále literatuur af; orale literatuur is coming back with a vengeance; op ’n nuwe, ander manier; dis nie net slam poetry nie.

“Vir my is die beste gedig die een wat jy self lees en dan maak dit ’n indruk of jy hoor iemand wat dit voordra en dit maak ’n indruk.”

Ek pols Lanoye oor sy verkenning van en herskepping van groot klassieke werke en temas in onder meer Mamma Medea, Mefisto for Ever, Atropa. De wraak van de vrede, Edward II, en natuurlik sy marathonwerk Ten oorlog, wat bestaan uit herverbeeldings van Shakespeare se historiese dramas en wat in 2015 aangewys is as die belangrikste toneelstuk in die Nederlandse teaterliteratuur.

“As daar iets is wat ek as ’n skrywer háát, is dit wanneer mense oor watter kunsvorm ook al sê: Dis die klein dingetjies van die menslike bestaan wat dit waardevol maak . . . Eintlik maak dit my wóédend.

“Ek het niks met die kleine dingetjies van bestaan uit te waai nie; dit gaan oor die groot temas; die groot ambisies; die groot gevoelens . . . Miskien omdat ek so ’n klein persoon is, nè? Uit ’n sekere sielkundige perspektief sou ’n mens kon sê dit is omdat ek ’n Napoleon-kompleks het; iemand wat klein van gestalte is, het altyd . . . Maar ek háát dit! Jy móét ambisie hê,” sê die groot kunstenaar wat inderdaad op Napoleon trek in soverre dit die vorm van sy aantreklike, hoë voorkop betref.

* Koningin Lear is op die KKNK te sien. Besonderhede is by www.kknk.co.za.

* Die teks van Antjie Krog se vertaling van Koningin Lear verskyn as ’n boek by Protea Boekhuis.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Antjie Krog  |  Koningin Lear  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.