Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Legende van verbruikerswese

Min mense kan as ’n legende in hul veld beskryf word. Ina Wilken (72) is so iemand en is bekend vir die werk wat sy vir verbruikers gedoen het.

Sy het ook pas haar meestersgraad in verbruikerswetenskap aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Die verbruikerslegende Ina Wilken het pas haar meestersgraad by Tukkies gevang. Foto: EYEscape

“Om verbruikers te help en as hul woordvoerder op te tree, het my passie geword,” sê sy. “Daar is heeltemal te veel mense wat nie hul regte verstaan nie of wat nie weet wat hul verantwoordelikhede is nie.

“Toe ek my dag-tot-dag-werk by die kantoor agtergelaat en van die huis af begin werk het, het ek besef ek het die geleentheid om verder te studeer.”

Wilken se studies het gefokus op hoe belangrik dit is om die implikasies te verstaan van die inligting wat op ’n produk se etiket, spesifiek dié van vleis, verskyn. Sy het onder meer bevind dat verbruikers eers na ’n item se prys kyk en dán na die vervaldatum. Voorts sê sy verbruikers is bereid om duurder te betaal om hierdie inligting te kry.

Wilken het haar BCom en BCom (Hons) aan Unisa verwerf. Sy was van 2003 tot 2013 ’n uitvoerende beampte by Finbond Mutual Bank en lewer steeds gereeld praatjies by seminare en werksessies. So het sy in 2007 as spreker by Verbruikers Internasionaal se kongres in Sydney, Australië, opgetree.

In 2005 is sy aangewys as die departement van handel en nywerheid se individuele verbruikerskampvegter en in 2007 was sy die naaswenner van dieselfde prys.

Wilken was van 1989 by die Suid-Afrikaanse Verbruikersraad werksaam tot die sluiting daarvan in 1996. Ook in daardie jaar het sy ’n pad saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Verbruikersunie begin loop. Sy was van 1998 tot 2001, van 2005 tot 2008, en weer van 2016 tot 2017 die voorsitter van hierdie unie.

Voorts was sy oor die jare by die bankwese se ombudsman, die Pretoriase Kamer van Handel en Nywerheid, die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde en die Katoenraad werksaam.

“Dit was ’n lang en interessante reis om my meestersgraad te voltooi, maar as ek dit alles weer oor moes doen, sou ek beslis,” vertel Wilken.

“Hierdie graad het my laat besef daar is nog só baie om te leer. ’n Mens moet nooit ophou leer nie en ook nie ophou om jou lewe ten volle te leef nie.

“Ek wil so gou as moontlik my doktorsgraad aanpak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.