Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Levina groet Sus en Daan in Idasvallei

Levina Carstens (63) was haar hele volwasse lewe lank ’n gr. 1-onderwyseres en het nou ná 44 jaar afgetree. Sy deel haar wedervaringe met Murray La Vita.

Levina Carstens omring deur haar laaste gr. 1-klas. Foto: Jaco Marais

“Sy leer ons. Sy maak ons slim. Sy is mooi. Sy laat ons mooi spel. Sy gee vir ons huiswerk. Sy gee altyd vir ons liefde.”

Só klink die getuigskrif vir Levina Carstens van die Idasvallei Primêre Skool in Stellenbosch uit die monde van haar gr. 1-leerlinge wat op ’n snikhete Vrydagmiddag kort voor pouse een ná die ander hul handjies opsteek om oor haar te praat.

’n Harde geluid – iets wat soos ’n sirene klink – weergalm skielik deur die skoolgebou. Dit is pouse. Terwyl die kinders buite baljaar, bly ons saam met Levina in die klaskamer agter en pols haar oor hoe sy in die onderwys beland het.

’n Rooi appel lê op ’n rak agter haar lessenaar. Op die witbord voor in die klas het iemand – waarskynlik Levina – in kokipen geskryf: “Eendag was daar . . .”

Daar was twee opsies: verpleegster of ’n onderwyser.

“Daar was mos nie veel van ’n keuse in die 1970’s nie. Daar was twee opsies: verpleegster of ’n onderwyser. En dan was daar natuurlik die dérde opsie: dat jy in ’n fabriek gaan werk.

“In my hart het ek nogal gevoel ek wil eendag gaan verpleeg, want ek het my altyd verkyk aan die uniform van die verpleegsters en hoe elegant hulle lyk en so.

“En toe ek dit nou aan my pa noem, toe sê hy: ‘Nee, my kind – daai is nie ’n opsie nie.’ Toe sê hy vir my: ‘Die vorms is ingevul. Teken hier op die lyn. Jy gaan ’n onderwyseres word.’

“My mammie was ’n onderwyseres en dit is glad nie asof onderwys nié in my kop was nie. Dit was een of die ander.”

Uitgeskuif na Idasvallei

Levina Carstens as jong onderwyseres tussen haar leerlinge. Foto: Verskaf

Sy was in die Hoërskool Lückhoff in Stellenbosch.

“Hy was mos eers in die dorp, maar as gevolg van die Groepsgebiedewet is ons uitgesit en toe skuif ons Idasvallei toe.

“Weet jy, Ryneveld Lodge was my ouerhuis? In 1968 toe trek ons op Idasvallei toe. Party mense het Cloetesville toe getrek.

“Standerd vier en standerd vyf het ek hier by dié skool [Idasvallei Primêre Skool] gedoen, want ons het mos nou hier in Lückhoffstraat gebly. So dié skool was nie vir my iets nuuts nie.

Levina moes die skool aan die einde van standerd agt verlaat.

“Die staat het dit so bepaal. Jy kon nie ná standerd tien uitgaan en primêreskool-opleiding kry nie. Dis terrible.

“So, ná standerd agt moes ek na Athlone Opleidingskollege in die Paarl gaan. Ek was 16. Ons opleiding was net twee jaar, so ek was 18 toe is ek ’n gekwalifiseerde laerskoolonderwyseres – pure kind moes ek voor ’n klas kom staan.

En ek stap toe hier in in Januarie 1976. En nou verlaat ek die skool in 2019 op 6 Desember.

“Maar toe besluit ek ek gaan my kindertuinjaar doen waar jy net spesialiseer in outydse sub A en sub B. Ek doen toe daai ekstra jaar en ek kom in hierdie skool in op 19 jarige ouderdom.

“Terwyl ek my derde jaar doen, stap ek een aand . . . Ek moes vir my pa winkel toe gaan. Dit reën – daai agtdae-reën wat ons eers gekry het – en met die sambreel loop ek.

“Ek was seker so 20 treë van die huis af. En daar val ’n skaduwee op die sambreel. En al wat ek sien, is swart skoene en ’n swart jas. Ek kyk so op, en toe is dit die hoof van dié skool. En hy vra vir my: Wat doen ek nou? En ek sê vir hom ek is nou besig met my spesiale kindertuinjaar. Hy vra wanneer maak ek klaar en ek sê ek maak die einde van die jaar klaar.

“Hy sê toe vir my: ‘As jy klaar is dan kom jy volgende jaar na my skool toe.’ Vroeër daai week het ek seker vir tien poste aansoek gedoen. En ek sê vir hom: ‘Maar meneer, ek het vir tien poste aansoek gedoen.’

“Hy sê vir my: ‘Kom Januarie na ons skool toe.’ En ek stap toe hier in in Januarie 1976. En nou verlaat ek die skool in 2019 op 6 Desember. En nét graad een al die jare.”

’n Mentor

Levina Carstens op die laaste Vrydag van haar loopbaan as onderwyseres. Foto: Jaco Marais

Die hoof het daai nag in die reën vir haar gevra wat se klas wil sy hê.

“Toe sê ek sub B, want ek sê nog vir myself: Dan kan hulle skrýf. Hulle kan al lees. En ek kom die dag hier in en hulle sê vir my ek moet saam met ’n juffrou gaan. Haar naam was Sophie Daniels en sy het my mentor geword.

“Toe ek vir haar vra: ‘Waar’s my klas?’ toe sê sy vir my: ‘Jy’s sub A, saam met my.’ Ek sê: ‘Maar ek het vir die man gesê ek wil sub B hê.’ Sy sê: ‘Nee,’ en van daai dag af was ons saam; sy’t uitgetree op 65; sy’s al vandag oorlede.

“My opleiding was goed, maar almal daai kléin goedjies het sy my geleer. Ek het my eie klas gehad, maar sy het my aan die hand gevat.

Niémand op dié foto is dan nog by die skool nie. Niemand nie.

“Toe ek hier kom, was ek eintlik ’n bietjie omgekrap, want die hele personeel was óúd in my oë.” Sy wys na ’n swart-wit-foto op haar lessenaar wat in 1979 geneem is. “Hiérdie een wat hier sit langs my en daai ene – hulle was eintlik al oujongnooiens – en hulle was eintlik al jongspan. Nou hiérdie man was my standerdvier-meneer en nou word ons kollegas.

“Toe sê ek vir my ma: ‘Mammie, dis ’n ouetehuis; ek het nie lus vir hierdie skool nie; hulle is al te oud. Maar hierdie ouer mense het my aan die hand gevat. Ek kon baie leer; ek kon vrae vra. En hulle het my aanvaar en hulle het my geleer en ons het die pad saam geloop.

“Ek en dié juffrou, Julia Daniels, sy is 65 gewees in Oktober; ons twee verlaat nou die skool. En dan kan ek só maak met dié foto.” Sy draai die foto om. “Niémand op dié foto is dan nog by die skool nie. Niemand nie.”

‘Niks groei nie’

’n Personeelfoto uit Levina Carstens se derde jaar as onderwyseres.Foto: Verskaf

Wat het haar laat besluit om haar hele lewe lank ’n gr. 1-onderwyseres te bly?

“Ek was gelukkig. Maar ek het wel . . . Een Sondagaand toe is ek besig met my les uitskrywe en my man kom en hy bring vir my tee. Hy vra vir my: ‘Levina, wat maak jy?’ Ek sê: ‘Ek skryf; ek doen my beplanning.’ Hy vra: ‘Nou waaruit skryf jy?’ En ek sê: ‘Ek skryf uit my kop uit.’ Hy sê: ‘Uit jou kop uit?’

“Toe sê ek: ‘Omdat ek die werk kén.’ Hy sê toe: ‘Maar dan is daar mos niks groei nie.’

“Ek het die aand gaan lê en die Maandagoggend toe gaan ek na die hoof toe. En ek sê vir hom: ‘Meneer, is daar nie ’n moontlikheid dat ek na ’n ander klas toe kan gaan nie?’

Die Here het my na dié skool toe gelei om mý gemeenskap te dien.

“Hy het nie vir my ’n goeie antwoord gegee nie. Toe sê ek vir hom: ‘Maar dink maar daaraan as daar ’n geleentheid is; sub B toe of iets.’ Daar het niks van gekom nie. Die hoof wat ek nou het, is my vierde hoof.”

Hoe voel sy daaroor dat sy nou die skool ná 44 jaar verlaat?

“Ek weet nie hoe ek voel nie . . . Ek is nie móég of voel ek het genóég gehad nie. daai is glad nie wat deur my kom nie. Dis tyd om te gaan . . . Maar ek voel góéd! Ek het my gemeenskap gedien en as ek terugkyk op my lewe: Hoekom het dit daai Saterdagaand gebeur? En ek het níks van daai tien poste gehoor nie. Die Here het my na dié skool toe gelei om mý gemeenskap te dien.

“Ek het hierso generasies . . . Daai een seun hier voor . . .” Sy wys na ’n ou foto van haar tussen haar leerlinge. “Ek het sy seun én dogter gehad. Ek het gesinne gehad . . . So. En as ek in die gemeenskap loop, dan groet hulle my.”

Arm kinders

Idasvallei Primêr het “plase bedien”.

“Hierdie plaas hier oorkant, hy’s nou Glenelly, hy’s ’n mooi plaas; plase waar die Hydro nou is . . . die wit huisies . . . Árm, árm kinders.

“Ons het ook nie skoolfooie gehad nie. Die staat het alles vir ons voorsien toe ek hier kom in die sewentigerjare. En toe later, toe meneer Cloete hoof word, toe begin ons met die vrywíllige skoolfonds.

Met gróót afwagting het ek uitgesien na die einde van Januarie. Maar toe sê die hoof vir my daar is niks vir my nie.

“Ek onthou nog so . . . Een dogtertjie het elke Maandag 5c gebring. Dan was daar weer ’n ander ouer wat ’n R1 gestuur het.

“Baie dinge het verander aan die staat se kant. Toe ek hier begin het in 1976 het ek nie eers geweet wat ek pay nie. Met gróót afwagting het ek uitgesien na die einde van Januarie. Maar toe sê die hoof vir my daar is niks vir my nie.

“Ek dink toe dis fine, ek bly by my ma-hulle. Ek gaan toe huis toe en ek sê vir my ma: ‘Ek het nou nie geld gekry nie.’”

‘Kry matriek’

Die kinders bid ná pouse. Foto: Jaco Marais

Hoekom is sy nie betaal nie?

“Kyk, die onderwys was in drie compartments – daar was bantoesake vir die swartes, daar was kleurlingsake vir die kleurlinge en ek weet nie hoe dit gewerk het vir die wittes nie.

“Die tweede maand het gekom – Februarie – níks. Die derde maand is ek eers betaal – R100. My vermoede is – ek is nie heeltemal seker nie – maar omdat dit bantoesake, kleurlingsake en so was, het ons salarisse verskil.

“Onthou, die kleurlinge het die skool verlaat ná standerd agt, waar ons wit peers aan die ander kant matriek klaargemaak het.

Maar daai eerste twee jaar opleiding, gering soos hulle dit sien, het van my ’n teacher gemaak.

“Op ’n dag hier in die tagtigs kom hier ’n brief: Matriek is nou ’n vereiste. Die hele kleurlingkorps onderwysers – nou moet ons gaan leer; ons moet matriek doen. Ons kón matriek gehad het; dis nie dat ons nie verstandelik by magte was nie.

“Toe moet ons matriek deur Success College doen. Nou moet jy afstand – jy kry nou die korrespondensiekursus. Ek het al my tweede kind gehad. Toe op ’n tyd toe sê hulle hierdie kursus wat ons gedoen het, verval nou. Ons moet nou diplomas kry. Nou is ons weer hier deur Bellville toe. En toe besluit ek sommer nou doen ek sommer my hoëronderwysdiploma ook klaar.

“Maar daai eerste twee jaar opleiding, gering soos hulle dit sien, het van my ’n teacher gemaak.”

Sus en Daan

“Dis tyd om te gaan . . . Maar ek voel góéd!” Foto: Jaco Marais

Die sirene loei weer en die kinders keer terug na die klaskamer.

Levina sê: “Sit maar! Maak toe jou ogies!”

Dit is nie vir my duidelik wat nou gebeur nie. Levina verduidelik: “Hulle het geëet, so hulle moet dankie sê.”

Dan aan die klas: “Handjies op die bors! Ogies tóé!”

Sy gaan voor met: “Vir wat . . .” en dan bid die klas: “Vir wat ons geniet, maak ons dankbaar, o Heer. Amen”

Dan word ek weer ’n juffrou . . . Ek word weer ’n juffrou.

Wanneer ons groet, sê Levina haar een dogter het een dag op die strand vir haar gevra: “Hoekom het mammie ’n juffrou geword? En as mammie die kans weer kry?”

“Toe sê ek: ‘Dan word ek weer ’n juffrou . . . Ek word weer ’n juffrou.’ ”

’n Week later bel ek Levina. Sy het toe pas van die skool af teruggekeer waar sy haar kaste gaan leegmaak het.

“Ek het baie teruggedink . . . Ek het vir Sus en Daan ook in die kas gekry,” sê sy met verwysing na die karakters in die Goue Reeks-boeke waardeur sy haar graadeentjies destyds leer lees het.

Meer oor:  Stellenbosch  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.